Christelike begrafnisse—Waardig, beskeie en aanneemlik vir God
Christelike begrafnisse—Waardig, beskeie en aanneemlik vir God
DIE lug is gevul met geweeklaag. Roubeklaers in spesiale swart klere kerm en huil terwyl hulle bedroef op die grond neerval. Dansers wieg op die maat van polsende musiek. Nog ander eet en vier fees met harde gelag en gefuif. ’n Paar lê op die grond, dronk van die palmwyn en bier wat vryelik vloei. Wat is die geleentheid? In party wêrelddele is dít tipiese kenmerke van ’n begrafnis waar honderde mense bymekaarkom om van hulle afgestorwenes afskeid te neem.
Baie van Jehovah se Getuies woon in gemeenskappe waar familielede en bure uiters bygelowig is en die dooies vrees. Miljoene mense glo dat iemand wat sterf, ’n voorvaderlike gees word wat die vermoë het om die lewendes te help of leed aan te doen. Baie begrafnisgebruike hou ten nouste verband met hierdie opvatting. Dit is natuurlik normaal om te treur oor iemand wat gesterf het. Jesus en sy dissipels het by tye oor die dood van geliefdes getreur (Joh. 11:33-35, 38; Hand. 8:2; 9:39). Tog het hulle nooit getreur op die buitensporige maniere wat in hulle dag algemeen was nie (Luk. 23:27, 28; 1 Tess. 4:13). Waarom nie? Een rede was dat hulle geweet het wat die waarheid omtrent die dood is.
Die Bybel sê duidelik: “Die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf; maar wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks . . . Hulle liefde en hulle haat en hulle jaloesie het reeds vergaan . . . Daar is geen werk of beplanning of kennis of wysheid in Sjeool [die mensdom se gemeenskaplike graf], die plek waarheen jy gaan nie” (Pred. 9:5, 6, 10). Hierdie geïnspireerde Bybelverse maak dit duidelik dat iemand wat sterf, nie meer van enigiets bewus is nie. Hy kan nie dink, voel, kommunikeer of enigiets verstaan nie. Watter uitwerking moet ’n begrip van hierdie belangrike Bybelwaarheid hê op die manier waarop Christelike begrafnisse gehou word?
“Hou op om wat onrein is, aan te raak”
Ongeag hulle etniese of kulturele agtergrond, sorg Jehovah se Getuies dat hulle enige gebruike vermy wat verband hou met die opvatting dat die dooies in ’n bewuste toestand is en die lewendes kan beïnvloed. Gebruike soos lykwake, begrafnisvierings, begrafnisherdenkings, offerandes vir die dooies en ritusse vir weduwees is alles onrein en mishaag God, want dit hou verband met die onskriftuurlike, demoniese leerstelling dat die siel of gees nie sterf nie (Eseg. 18:4). Ware Christene “kan nie deel hê aan ‘die tafel van Jehovah’ en die tafel van demone nie”, en daarom het hulle niks te doen met hierdie gebruike nie (1 Kor. 10:21). Hulle gehoorsaam die gebod: “Sonder julle af, . . . en hou op om wat onrein is, aan te raak” (2 Kor. 6:17). Dit is egter nie altyd maklik om so ’n standpunt in te neem nie.
In Afrika en elders word daar algemeen geglo dat die geeste van die voorvaders kwaad sal wees as sekere gebruike nie gevolg word nie. ’n Versuim om dit te volg, word as ’n ernstige oortreding beskou wat ’n vloek of teëspoed oor die gemeenskap kan bring. Omdat Jehovah se knegte weier om aan onskriftuurlike begrafnisritusse deel te neem, is baie van hulle al deur hulle gemeenskap of uitgebreide familie gekritiseer, beledig en as uitgeworpenes behandel. Party is daarvan beskuldig dat hulle antisosiaal is en geen respek vir die
dooies het nie. Ongelowiges het soms die reëlings vir ’n Christelike begrafnis met geweld oorgeneem. Hoe kan ons dus konfrontasie vermy met diegene wat sterk daarop aandring om begrafnisgebruike te volg wat God mishaag? Nog belangriker, wat kan ons doen om afgeskeie te bly van onrein ritusse en gebruike wat ons verhouding met Jehovah kan skaad?Maak jou standpunt duidelik
In party wêrelddele is dit gebruiklik dat stamhoofde en familielede ’n sê het in begrafnisreëlings. ’n Getroue Christen moet dit dus duidelik maak dat die begrafnis deur Jehovah se Getuies georganiseer en gehou sal word ooreenkomstig Bybelbeginsels (2 Kor. 6:14-16). Wat by ’n Christelike begrafnis gebeur, moenie die gewete van medegelowiges pla of ander laat struikel wat weet wat ons oor die dooies glo en leer nie.
Wanneer ’n verteenwoordiger van die Christengemeente gevra word om ’n begrafnis te hou, kan die aangestelde ouer manne nuttige wenke en geestelike ondersteuning gee sodat al die reëlings met skriftuurlike riglyne ooreenstem. As mense wat nie Getuies is nie, onrein gebruike wil inbring, is dit baie belangrik om vas te staan en ons Christelike standpunt op ’n moedige dog vriendelike en respekvolle wyse te verduidelik (1 Pet. 3:15). Maar sê nou ongelowige familielede dring steeds daarop aan om onrein ritusse deel van die begrafnis te maak? Dan kan die gelowige familie besluit om hulle aan die begrafnis te onttrek (1 Kor. 10:20). Wanneer dit gebeur, kan ’n eenvoudige gedenkdiens by die plaaslike Koninkryksaal of by ’n ander gepaste plek gehou word om “die vertroosting van die Skrif” met diegene te bespreek wat opreg bedroef is oor die dood van die geliefde (Rom. 15:4). Al is die liggaam van die oorledene nie daar nie, sal so ’n reëling waardig en heeltemal aanvaarbaar wees (Deut. 34:5, 6, 8). Die onbedagsame inmenging van ongelowiges kan die geleentheid nog spanningsvoller en hartseerder maak, maar ons kan vertroosting put uit die wete dat ons vasbeslotenheid om te doen wat reg is, raakgesien word deur God, wat ons “die krag wat bo die normale is”, kan gee.—2 Kor. 4:7.
Stel jou wense op skrif
Wanneer iemand sy persoonlike instruksies aangaande sy begrafnisreëlings op skrif gestel het, is dit baie makliker om te redeneer met familielede wat nie Getuies is nie, aangesien hulle waarskynlik die wense van die oorledene sal respekteer. Belangrike besonderhede wat op skrif gestel moet word, is hoe die begrafnis gehou moet word, waar dit moet plaasvind en wie die uitsluitlike reg het om dit te organiseer en te hou (Gen. 50:5). ’n Dokument wat voor getuies onderteken is, is die doeltreffendste. Dié wat vooruitkyk met insig en wysheid wat op Bybelbeginsels gegrond is, weet dat hulle nie hoef te wag totdat hulle baie oud of terminaal siek is voordat hulle hierdie stap oorweeg nie.—Spr. 22:3; Pred. 9:12.
Party hou nie van die gedagte om sulke instruksies op skrif te stel nie. Maar as iemand dit doen, lewer dit bewys van Christelike volwassenheid en liefdevolle besorgdheid oor ander (Fil. 2:4). Dit is veel beter om hierdie sake self in orde te bring as om sulke reëlings oor te laat aan bedroefde familielede, op wie druk uitgeoefen kan word om onrein gebruike te aanvaar wat die oorledene nie geglo of goedgekeur het nie.
Hou die begrafnis eenvoudig
In baie dele van Afrika is die algemene opvatting dat ’n begrafnis groot en indrukwekkend moet wees om nie die voorvaderlike geeste kwaad te maak nie. Ander gebruik begrafnisse as ’n geleentheid om ’n “spoggerige vertoon” van hulle sosiale en finansiële status te maak (1 Joh. 2:16). Baie tyd, inspanning en geld word daaraan gewy om ’n “behoorlike” begrafnis vir die oorledene te gee. Om soveel mense moontlik te lok, word groot plakkate met ’n foto van die oorledene daarop op verskillende plekke geplaas om die begrafnis te adverteer. T-hemde met ’n prent van die oorledene daarop word gemaak en versprei sodat roubeklaers dit kan dra. Ryk versierde, duur kiste word gekoop om toeskouers te beïndruk. In een Afrikaland maak party selfs kiste wat soos motors, vliegtuie, bote en ander voorwerpe lyk om ’n vertoon van rykdom, vernaamheid en weelde te maak. Die lyk word soms uit die kis gehaal en op ’n spesiaal versierde bed gelê. ’n Vrou word soms in ’n wit trourok geklee en met baie juwele, krale en grimering versier. Is deelname aan sulke gebruike werklik gepas vir enige van God se knegte?
Geestelik volwasse Christene sien die wysheid daarvan in om die uiterstes te vermy waartoe mense gaan wat goddelike beginsels nie ken nie of hulle nie daaraan steur nie. Ons is daarvan bewus dat buitensporige en onskriftuurlike gewoontes en gebruike ‘nie hulle oorsprong by God het nie, maar by die wêreld wat verbygaan’ (1 Joh. 2:15-17). Ons moet baie versigtig wees dat ons nie by ’n onchristelike gees van wedywering betrek word en ander probeer oortref nie (Gal. 5:26). Die ondervinding toon dat begrafnisse op plekke waar vrees vir die dooies die plaaslike kultuur en sosiale lewe oorheers, dikwels groot en moeilik beheerbaar word en gevolglik gou handuit kan ruk. Die verering van die dooies kan ongelowiges maklik opsweep sodat hulle hulle aan onrein gedrag skuldig maak. By sulke begrafnisse sal mense dalk hard en onbeheersd huil, die lyk omhels, regstreeks daarmee praat asof dit lewe en geld en ander artikels aan die liggaam heg. As dit by ’n Christelike begrafnis sou gebeur, sal dit Jehovah se naam en sy volk groot oneer aandoen.—1 Pet. 1:14-16.
Kennis van die ware toestand van die dooies moet ons beslis die moed gee om ons begrafnisse sonder enige spoor van wêreldsheid te hou (Ef. 4:17-19). Hoewel Jesus die grootste en belangrikste mens was wat nog geleef het, is hy op ’n stemmige en beskeie manier begrawe (Joh. 19:40-42). Vir dié wat “die denke van Christus” het, is dit geen skande om só begrawe te word nie (1 Kor. 2:16). Om Christelike begrafnisse eenvoudig en beskeie te hou, is beslis die beste manier om dinge te vermy wat volgens die Skrif onrein is en om ’n kalm atmosfeer te bewaar wat waardig, betaamlik en gepas is vir mense wat God liefhet.
Moet daar feesgevier word?
Ná die begrafnis is dit dalk die gebruik dat familielede, bure en ander in groot getalle bymekaarkom om fees te vier en op luidrugtige musiek te dans. Hierdie begrafnisvierings gaan dikwels gepaard met strawwe drinkery en geslagsonsedelikheid. Party mense redeneer dat sulke feesviering help om die droefheid te verdryf wat deur die dood veroorsaak word. Ander voel dat dit net deel van hulle kultuur is. Maar baie glo dat hierdie gefuif ’n noodsaaklike oorgangsritus is wat uitgevoer moet word om die dooies te eer en te prys en om die siel van die afgestorwene te bevry om by sy voorouers aan te sluit.
Ware Christene sien die wysheid in van die skriftuurlike vermaning: “Verdriet is beter as gelag, want deur die somberheid van die gesig word die hart beter” (Pred. 7:3). Daarbenewens weet hulle watter voordele dit inhou om stil na te dink oor die kortstondigheid van die lewe en die opstandingshoop. Ja, vir dié wat ’n hegte persoonlike verhouding met Jehovah het, ‘is die sterfdag beter as die dag toe hulle gebore is’ (Pred. 7:1). Die wete dat feesviering by begrafnisse verband hou met spiritistiese opvattings en geslagsonsedelikheid, maak dit dus uiters onvanpas vir ware Christene om sulke vierings te organiseer of dit selfs by te woon. Om in die geselskap van begrafnisfuiwers te wees, sal ’n gebrek aan respek vir God en die gewete van medeaanbidders van Jehovah openbaar.
Laat ander die onderskeid sien
Hoe dankbaar is ons tog dat ons vry is van die morbiede vrees vir die dooies wat so algemeen is onder dié wat in geestelike duisternis is! (Joh. 8:32). As “kinders van die lig” gee ons uiting aan ons droefheid en smart op ’n wyse wat van geestelike verligting getuig, op ’n beskeie en respekvolle wyse wat deur die vaste hoop van die opstanding getemper word (Ef. 5:8; Joh. 5:28, 29). Hierdie hoop sal voorkom dat ons meegevoer word deur die oordrewe vertonings van droefheid wat dikwels gesien word onder dié “wat geen hoop het nie” (1 Tess. 4:13). Dit sal ons die moed gee om ’n ferm standpunt vir rein aanbidding in te neem en nie voor mensevrees te swig nie.—1 Pet. 3:13, 14.
Ons getroue gehoorsaamheid aan skriftuurlike beginsels sal mense die geleentheid gee om ‘die onderskeid te sien tussen dié wat God dien en dié wat hom nie dien nie’ (Mal. 3:18). Eendag sal die dood nie meer daar wees nie (Op. 21:4). Mag Jehovah ons, terwyl ons op die verwesenliking van hierdie wonderlike belofte wag, vlekkeloos, smetloos en heeltemal afgeskeie van hierdie goddelose wêreld en sy godonterende gebruike bevind.—2 Pet. 3:14.
[Prent op bladsy 30]
Dit is verstandig om ons persoonlike wense aangaande begrafnisreëlings op skrif te stel
[Prent op bladsy 31]
Christelike begrafnisse moet beskeie en waardig wees