Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Glanspunte uit die boek Openbaring—II

Glanspunte uit die boek Openbaring—II

Jehovah se Woord is lewend

Glanspunte uit die boek Openbaring—II

WAT lê voor vir diegene wat Jehovah God aanbid en vir diegene wat hom nie aanbid nie? Wat hou die toekoms in vir Satan en sy demone? Watter seëninge sal gehoorsame mense gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus geniet? Die antwoorde op hierdie en ander belangrike vrae word in Openbaring 13:1–22:21 onthul. a Hierdie hoofstukke bevat die laaste 9 van die 16 visioene wat die apostel Johannes teen die einde van die eerste eeu G.J. ontvang het.

“Gelukkig is hy wat die woorde van hierdie profesie hardop lees en dié wat dit hoor”, skryf Johannes, “en wat die dinge onderhou wat daarin geskrywe staan” (Op. 1:3; 22:7). As ons die boek Openbaring lees en toepas wat ons daaruit leer, kan dit ons hart raak, ons geloof in God en sy Seun, Jesus Christus, versterk en ons ’n helder hoop vir die toekoms gee. bHeb. 4:12.

SEWE BAKKE VAN GOD SE TOORN WORD UITGEGOOI

(Op. 13:1–16:21)

“Die nasies se gramskap het ontvlam”, sê Openbaring 11:18, “en [God se] eie gramskap het gekom, en die vasgestelde tyd . . . om die verderwers van die aarde te verderf.” Die agtste visioen voorsien die agtergrond hiervoor deur die bedrywighede te beskryf van “’n wilde dier . . . met tien horings en sewe koppe”.—Op. 13:1.

In die negende visioen sien Johannes ‘die Lam op die berg Sion staan’, en saam met hom “honderd-vier-en-veertigduisend”. Hulle is “uit die mensdom gekoop” (Op. 14:1, 4). Aankondigings deur engele volg hierop. In die volgende visioen sien Johannes “sewe engele met sewe plae”. Klaarblyklik gee Jehovah self vir hierdie engele die bevel om “die sewe bakke van die toorn van God” op verskillende aspekte van Satan se wêreld uit te gooi. Die bakke bevat aankondigings en waarskuwings oor die oordele wat God sal voltrek (Op. 15:1; 16:1). Hierdie twee visioene gee besonderhede oor verdere Koninkryksoordele wat met die derde wee en die sewende trompetstoot verband hou.—Op. 11:14, 15.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

13:8—Wat is “die boekrol van die lewe van die Lam”? Dit is ’n figuurlike boekrol wat net die name bevat van dié wat saam met Jesus Christus in sy hemelse Koninkryk regeer. Dit sluit die name in van gesalfde Christene wat nog op die aarde is en die hoop het om lewe in die hemel te ontvang.

13:11-13—Hoe tree die wilde dier met twee horings soos ’n draak op en laat hy vuur uit die hemel neerdaal? Die feit dat die wilde dier met twee horings—die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid—soos ’n draak praat, dui daarop dat hy dreigemente, druk en geweld gebruik om ander te dwing om sy regeringsvorm te aanvaar. Hy laat vuur uit die hemel neerdaal in die sin dat hy die rol van ’n profeet aanneem deur te beweer dat hy die magte van die bose in die twee wêreldoorloë van die 20ste eeu verslaan het en Kommunisme oorwin het.

16:17—Wat is “die lug” waarop die sewende bak uitgegooi word? “Die lug” stel sataniese denke voor, “die gees [geestesneiging] wat nou in die seuns van die ongehoorsaamheid werk”. Hierdie giftige lug word deur Satan se hele goddelose stelsel van dinge ingeasem.—Ef. 2:2.

Lesse vir ons:

13:1-4, 18. “’n Wilde dier” wat menseregerings voorstel, kom “uit die see” op, dit wil sê uit die onstuimige mensemassa (Jes. 17:12, 13; Dan. 7:2-8, 17). Hierdie dier, wat deur Satan geskep is en deur hom krag gegee word, het die getal 666, wat op uiterste onvolmaaktheid dui. ’n Begrip van wat die dier is, help ons sodat ons dit nie met bewondering volg of dit aanbid soos die mensdom oor die algemeen doen nie.—Joh. 12:31; 15:19.

13:16, 17. Ten spyte van die ontberinge waarmee ons dalk te kampe het terwyl ons besig is met sulke alledaagse bedrywighede soos “koop of verkoop”, moet ons nie voor druk swig en toelaat dat die wilde dier ons lewe beheer nie. As ons ‘die merk van die wilde dier op ons hand of op ons voorkop’ ontvang, sal dit daarop neerkom dat ons die wilde dier toelaat om ons handelinge te beheer of ons denke te beïnvloed.

14:6, 7. Die engel se aankondiging leer ons dat ons die goeie nuus van die opgerigte Koninkryk van God met dringendheid moet verkondig. Ons moet ons Bybelstudente help om ’n heilsame vrees vir God aan te kweek en om heerlikheid aan Jehovah te gee.

14:14-20. Wanneer “die oes van die aarde”, dit wil sê die oes van diegene wat gered sal word, voltooi is, sal die tyd aanbreek vir die engel om die opbrengs van “die wingerdstok van die aarde . . . in die groot wynpers van die toorn van God” te slinger. Hierdie wingerdstok—Satan se verdorwe sigbare stelsel van regerings oor die mensdom met sy “trosse” bose vrugte—sal dan vir ewig vernietig word. Ons moet vasbeslote wees om nie deur die wingerdstok van die aarde beïnvloed te word nie.

16:13-16. “Onrein geïnspireerde uitinge” is ’n simbool van die demoniese propaganda wat bedoel is om te verseker dat die konings van die aarde nie van standpunt verander wanneer die sewe bakke van God se toorn uitgegooi word nie, maar eerder gemanipuleer word om hulle teen Jehovah te verset.—Matt. 24:42, 44.

16:21. Terwyl die einde van hierdie wêreld nader kom, sal die bekendmaking van Jehovah se oordele teen Satan se goddelose stelsel moontlik buitengewoon swaar mondelinge uitinge van God se oordele insluit, wat waarskynlik deur bevrore water afgebeeld word. Die meeste mense sal egter voortgaan om God te laster.

DIE TRIOMFANTLIKE KONING REGEER

(Op. 17:1–22:21)

“Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, is ’n walglike deel van Satan se goddelose wêreld. Die 11de visioen beeld haar uit as ’n “groot hoer”—’n onsedelike vrou—wat “op ’n skarlakenkleurige wilde dier . . . sit”. Sy gaan heeltemal vernietig word deur “die tien horings” van die einste dier wat haar dra (Op. 17:1, 3, 5, 16). Die volgende visioen, wat die hoer met ’n “groot stad” vergelyk, kondig haar val aan en doen ’n dringende beroep op God se volk om ‘uit haar uit te gaan’. Die ondergang van die groot stad word deur baie betreur. Maar daar is vreugde in die hemel as gevolg van “die huwelik van die Lam” (Op. 18:4, 9, 10, 15-19; 19:7). In die 13de visioen voer die ruiter van “’n wit perd” oorlog met die nasies. Hy maak ’n einde aan Satan se goddelose wêreld.—Op. 19:11-16.

Wat van “die oorspronklike slang, wat die Duiwel en Satan is”? Wanneer sal hy “in die poel van vuur en swael geslinger” word? Dit is een van die onderwerpe van die 14de visioen (Op. 20:2, 10). Die laaste twee visioene gee vooruitskouings op die lewe gedurende die Millennium. Wanneer die “openbaring” tot ’n einde kom, sien Johannes ‘’n rivier van water van die lewe wat in die middel van die breë straat afvloei’, en ’n wonderlike uitnodiging word gerig aan “enigeen wat dors is”.—Op. 1:1; 22:1, 2, 17.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

17:16; 18:9, 10—Waarom treur “die konings van die aarde” oor die entiteit wat hulle self verwoes het? Die rede vir hulle droefheid is heeltemal selfsugtig. Ná die vernietiging van Babilon die Grote besef die konings van die aarde blykbaar hoe nuttig sy vir hulle was. Sy het ’n godsdienstige dekmantel vir hulle onderdrukkende dade voorsien. Babilon die Grote het hulle ook gehelp om jong manne vir die slagveld te werf. Daarbenewens het sy ’n belangrike rol daarin gespeel om mense onderworpe te hou.

19:12—Waarom ken niemand behalwe Jesus self sy onvermelde naam nie? Hierdie naam staan blykbaar vir die posisie en voorregte, soos dié wat in Jesaja 9:6 genoem word, wat Jesus gedurende die dag van die Here geniet. Niemand behalwe hy self ken hierdie naam nie in die sin dat sy voorregte uniek is en net hy kan begryp wat dit beteken om so ’n hoë posisie te beklee. Maar Jesus laat die lede van sy bruidsklas in party van hierdie voorregte deel, waardeur hy as ’t ware ‘sy nuwe naam op hulle skryf’.—Op. 3:12.

19:14—Wie sal by Armageddon saam met Jesus uittrek? Engele sowel as die gesalfde oorwinnaars wat reeds hulle hemelse beloning ontvang het, sal ingesluit wees onder ‘die leërs in die hemel’ wat saam met Jesus aan God se oorlog deelneem.—Matt. 25:31, 32; Op. 2:26, 27.

20:11-15—Wie se name word in “die boekrol [of, “die boek”] van die lewe” geskryf? Hierdie boekrol bevat die name van almal wat in aanmerking kom om die ewige lewe te ontvang—die gesalfde Christene, die lede van die groot menigte en die getroue knegte van God wat die “opstanding van die regverdiges” sal ontvang (Hand. 24:15; Op. 2:10; 7:9). Die name van diegene wat in die ‘opstanding van die onregverdiges’ opgewek sal word, sal slegs in “die boekrol van die lewe” geskryf word as hulle optree in ooreenstemming met die ‘dinge wat geskrywe staan in die boekrolle’ met instruksies wat gedurende die Millennium oopgemaak sal word. Maar die name word nie met onuitwisbare ink ingeskryf nie. Die name van die gesalfdes word permanent ingeskryf wanneer hulle tot die dood getrou bly (Op. 3:5). Die name van dié wat lewe op die aarde ontvang, word permanent ingeskryf wanneer hulle die finale toets aan die einde van die duisend jaar slaag.—Op. 20:7, 8.

Lesse vir ons:

17:3, 5, 7, 16. “Die wysheid van bo” help ons om “die verborgenheid . . . van die vrou en van die [skarlakenkleurige] wilde dier wat haar dra”, te verstaan (Jak. 3:17). Hierdie simboliese wilde dier het as die Volkebond begin en het later as die Verenigde Nasies herlewe. Behoort die onthulling van hierdie verborgenheid ons nie te beweeg om die goeie nuus van God se Koninkryk en die dag van Jehovah se oordeel ywerig te verkondig nie?

21:1-6. Ons kan absoluut seker wees dat die voorspelde seëninge onder Koninkryksheerskappy ’n werklikheid sal word. Waarom? Omdat daarvan gesê word: “Dit het geskied!”

22:1, 17. Die “rivier van water van die lewe” stel Jehovah se voorsienings voor om gehoorsame mense van sonde en die dood te red. Van hierdie water is reeds beskikbaar. Mag ons die uitnodiging om te kom en ‘die water van die lewe verniet te neem’, nie net dankbaar aanvaar nie, maar dit ook gretig aan ander rig!

[Voetnote]

b Vir ’n vers-vir-vers-bespreking van die boek Openbaring, sien Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!

[Prent op bladsy 5]

Watter wonderlike seëninge sal gehoorsame mense tog onder Koninkryksheerskappy geniet!