Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulle ‘bly die Lam volg’

Hulle ‘bly die Lam volg’

Hulle ‘bly die Lam volg’

“Dit is hulle wat die Lam bly volg ongeag waar hy gaan.”—OP. 14:4.

1. Hoe het ware dissipels van Jesus daaroor gevoel om hom te volg?

 ONGEVEER twee en ’n half jaar nadat Jesus sy bediening begin het, het “hy in ’n openbare vergadering in Kapernaum geleer”. Omdat hulle sy woorde skokkend gevind het, “het baie van sy dissipels teruggegaan na die dinge wat hulle agtergelaat het en nie meer saam met hom gewandel nie”. Toe Jesus sy 12 apostels vra of hulle ook wil gaan, het Simon Petrus geantwoord: “Here, na wie toe sal ons weggaan? U het woorde van die ewige lewe; en ons het geglo en te wete gekom dat u die Heilige van God is” (Joh. 6:48, 59, 60, 66-69). Ware dissipels van Jesus het geweier om op te hou om hom te volg. Nadat hulle met heilige gees gesalf is, het hulle voortgegaan om hulle aan Jesus se leiding te onderwerp.—Hand. 16:7-10.

2. (a) Wie is “die getroue en verstandige slaaf”, of “die getroue bestuurder”? (b) Hoe het die slaaf ’n goeie rekord opgebou dat hulle ‘die Lam volg’?

2 Wat kan gesê word van die gesalfde Christene in hedendaagse tye? In sy profesie oor “die teken van [sy] teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge” het Jesus na die saamgestelde liggaam van sy geesgesalfde volgelinge op die aarde verwys as “die getroue en verstandige slaaf”, of “die getroue bestuurder” (Matt. 24:3, 45; Luk. 12:42). As ’n groep het die slaafklas ’n uitstekende rekord opgebou dat hulle ‘die Lam volg ongeag waar hy gaan’. (Lees Openbaring 14:4, 5.) Die lede daarvan bly in geestelike sin maagde deurdat hulle hulle nie verontreinig met die opvattings en gebruike van “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens nie (Op. 17:5). Geen leerstellige leuens word “in hulle mond gevind nie”, en hulle bly “sonder smet” van Satan se wêreld (Joh. 15:19). In die toekoms sal die oorblywende gesalfdes op die aarde die Lam tot in die hemel “volg”.—Joh. 13:36.

3. Waarom is dit belangrik dat ons die slaafklas vertrou?

3 Jesus het die getroue en verstandige slaaf aangestel “oor sy huisknegte”, dit wil sê die individuele lede van die slaafklas, “om hulle hulle voedsel op die regte tyd te gee”. Hy het ook die slaaf “oor al sy besittings” aangestel (Matt. 24:45-47). Hierdie “besittings” sluit die toenemende “groot menigte” “ander skape” in (Op. 7:9; Joh. 10:16). Moet individuele lede van die gesalfdes en die “ander skape” dan nie die slaaf vertrou wat oor hulle aangestel is nie? Daar is baie redes waarom die slaafklas ons vertroue verdien. Twee uitsonderlike redes is: (1) Jehovah vertrou die slaafklas. (2) Jesus vertrou ook die slaaf. Kom ons ondersoek bewyse dat Jehovah God sowel as Jesus Christus volle vertroue in die getroue en verstandige slaaf het.

Jehovah vertrou die slaaf

4. Waarom kan ons vertroue hê in die geestelike voedsel wat deur die getroue en verstandige slaaf voorsien word?

4 Beskou wat dit vir die getroue en verstandige slaaf moontlik maak om tydige, voedsame geestelike voedsel te voorsien. “Ek sal jou insig gee en jou onderrig in die weg wat jy moet gaan”, sê Jehovah. Hy voeg by: “Ek sal raad gee met my oog op jou” (Ps. 32:8). Ja, Jehovah voorsien leiding aan die slaaf. Ons kan dus volle vertroue hê in die skriftuurlike insig, begrip en leiding wat ons van die slaaf ontvang.

5. Wat toon dat God se gees die slaafklas krag gee?

5 Jehovah seën ook die slaafklas met sy heilige gees. Hoewel Jehovah se gees onsigbaar is, is die vrug wat dit voortbring in diegene in wie dit werksaam is, nie onsigbaar nie. Dink aan wat die getroue en verstandige slaaf al tot stand gebring het deur ’n wêreldwye getuienis oor Jehovah God, sy Seun en die Koninkryk te lewer. Jehovah se aanbidders verkondig die Koninkryksboodskap ywerig in meer as 230 lande en eilandgroepe. Lewer dit nie onweerlegbare bewys dat God se gees die slaaf krag gee nie? (Lees Handelinge 1:8.) Die slaafklas moet uiters belangrike besluite neem om Jehovah se volk regoor die wêreld van tydige geestelike voedsel te voorsien. Wanneer hulle hierdie besluite neem en dit in werking stel, openbaar die slaaf liefde, sagmoedigheid en ander aspekte van die vrug van die gees.—Gal. 5:22, 23.

6, 7. Hoeveel vertroue het Jehovah in die getroue slaaf?

6 Om te besef hoeveel vertroue Jehovah in die getroue slaaf het, kan ons dink aan wat hy die lede daarvan belowe het. “Die trompet sal weerklink”, het die apostel Paulus geskryf, “en die dooies sal onverderflik opgewek word, en ons sal verander word. Want hierdie verderflike moet hom met onverderflikheid beklee, en hierdie sterflike moet hom met onsterflikheid beklee” (1 Kor. 15:52, 53). Die gesalfde volgelinge van Christus, wat God getrou dien en in verderflike menseliggame sterf, word nie net opgewek as geesskepsele met ewige lewe nie. Hulle ontvang onsterflikheid—eindelose en onvernietigbare lewe. Daarbenewens ontvang hulle onverderflikheid deurdat hulle ’n liggaam gegee word wat nie kan agteruitgaan nie en klaarblyklik selfonderhoudend is. Openbaring 4:4 beskryf hierdie verresenes waar hulle op trone sit met goue krone op hulle koppe. Koninklike heerlikheid wag op gesalfde Christene. Maar dit is nie al nie.

7 “Die huwelik van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereedgemaak. Ja, aan haar is dit gegee om geklee te wees in blink, skoon, fyn linne, want die fyn linne beeld die regverdige dade van die heiliges af”, sê Openbaring 19:7, 8. Jehovah het gesalfde Christene gekies om die toekomstige bruid vir sy Seun te wees. Onverderflikheid, onsterflikheid, koningskap, “die huwelik van die Lam”—watter ontsagwekkende gawes is dit tog! Dit is treffende bewys van God se vertroue in die gesalfdes, wat “die Lam bly volg ongeag waar hy gaan”.

Jesus vertrou die slaaf

8. Hoe toon Jesus dat hy vertroue in sy geesgesalfde volgelinge het?

8 Watter bewys is daar dat Jesus sy geesgesalfde volgelinge ten volle vertrou? Op die laaste aand van sy lewe op die aarde het Jesus ’n belofte aan sy 11 getroue apostels gemaak. “Julle is . . . dié wat in my beproewinge altyddeur by my gebly het”, het hy vir hulle gesê, “en ek sluit ’n verbond met julle, net soos my Vader ’n verbond met my gesluit het, vir ’n koninkryk, sodat julle aan my tafel in my koninkryk kan eet en drink en op trone kan sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Luk. 22:28-30). Die verbond wat Jesus destyds met die 11 gesluit het, sal al 144 000 gesalfde Christene insluit (Luk. 12:32; Op. 5:9, 10; 14:1). Sou Jesus, as hy hulle nie vertrou het nie, ’n verbond gesluit het wat beteken dat hy sy Koninkryksmag met hulle sal deel?

9. Wat sluit “al [Christus se] besittings” in?

9 Daarbenewens het Jesus Christus die getroue en verstandige slaaf aangestel “oor al sy besittings”—alle Koninkryksbelange op die aarde (Matt. 24:47). Hierdie besittings sluit die fasiliteite by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies, by takkantore in verskeie lande en by Byeenkomssale en Koninkryksale regoor die wêreld in. Dit sluit ook die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk in. Sal enigiemand ’n persoon wat hy nie vertrou nie, aanstel om sy kosbare dinge te bewaar en te gebruik?

10. Wat toon dat Jesus Christus met sy gesalfde volgelinge is?

10 Kort voordat hy na die hemel opgevaar het, het die verrese Jesus aan sy getroue dissipels verskyn en ’n belofte aan hulle gemaak: “Kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matt. 28:20). Was hierdie belofte betroubaar? In die afgelope 15 jaar het die aantal gemeentes van Jehovah se Getuies regoor die aarde van ongeveer 70 000 tot meer as 100 000 toegeneem—’n vermeerdering van meer as 40 persent. En wat van die nuwe dissipels wat bygevoeg is? Ongeveer 4,5 miljoen dissipels is in die afgelope 15 jaar gedoop—gemiddeld meer as 800 per dag. Hierdie wonderlike vermeerderings is ’n duidelike bewys dat Christus sy gesalfde volgelinge by hulle gemeentelike vergaderinge rig en hulle in hulle dissipelmaakwerk ondersteun.

Die slaaf is getrou en verstandig

11, 12. Hoe het die slaaf getoon dat hulle getrou en verstandig is?

11 Aangesien Jehovah God en Jesus Christus die getroue en verstandige slaaf ten volle vertrou, moet ons dit dan nie ook doen nie? Die slaaf het immers getoon dat hulle hulle toegewese werk getrou uitvoer. Byvoorbeeld, Die Wagtoring word al 130 jaar lank uitgegee. Vergaderinge en byeenkomste van Jehovah se Getuies bou ons nog steeds geestelik op.

12 Die getroue slaaf is ook verstandig in die sin dat hulle nie onbeskeie optree deur Jehovah vooruit te loop nie en ook nie sloer wanneer God se leiding oor ’n saak duidelik is nie. Terwyl valse godsdiensleiers byvoorbeeld die selfsugtige, goddelose gedrag van die mense in die wêreld stilswyend goedkeur of openlik vergoelik as normale gedrag, gee die slaaf waarskuwings teen die valstrikke van Satan se goddelose stelsel. Die slaaf kan wyse en tydige waarskuwings gee omdat Jehovah God en Jesus Christus hulle seën. Die slaaf verdien dus ons volle vertroue. Maar hoe kan ons toon dat ons die getroue en verstandige slaaf vertrou?

‘Gaan saam met’ die gesalfdes terwyl hulle die Lam volg

13. Hoe is dit volgens Sagaria se profesie moontlik om vertroue in die getroue en verstandige slaaf te toon?

13 Die Bybelboek Sagaria praat van “tien man” wat na “’n Joodse man” toe gaan en sê: “Ons sal saam met julle gaan.” (Lees Sagaria 8:23.) Aangesien daar van “’n Joodse man” gepraat word as “julle”, is hy ’n saamgestelde man. In ons tyd stel hy die oorblyfsel van geesgesalfde Christene voor—deel van “die Israel van God” (Gal. 6:16). Die “tien man uit al die tale van die nasies” stel die groot menigte ander skape voor. Net soos die gesalfde Christene Jesus volg ongeag waar hy gaan, gaan die groot menigte “saam met”, of vergesel hulle, die getroue en verstandige slaaf. Die lede van die groot menigte moet hulle nooit skaam om hulle as metgeselle van die “deelgenote van die hemelse roeping” te identifiseer nie (Heb. 3:1). Jesus skaam hom nie om die gesalfdes “broers” te noem nie.—Heb. 2:11.

14. Hoe kan lojale ondersteuning aan Christus se broers gegee word?

14 Jesus Christus beskou die lojale ondersteuning wat aan sy broers gegee word, asof dit aan hom gegee word. (Lees Matteus 25:40.) Hoe kan diegene wat die aardse hoop het, dan Christus se geesgesalfde broers ondersteun? Hoofsaaklik deur hulle met die Koninkrykspredikingswerk te help (Matt. 24:14; Joh. 14:12). Hoewel die getal van die gesalfdes op die aarde oor die dekades afgeneem het, het die getal van die ander skape toegeneem. Wanneer dié met ’n aardse hoop aan die getuieniswerk deelneem, indien moontlik as voltydse evangeliedienaars, help hulle die geesgesalfdes om die toewysing uit te voer om dissipels te maak (Matt. 28:19, 20). Iets wat nie oor die hoof gesien moet word nie, is die geleenthede om hierdie werk te ondersteun deur op verskillende maniere finansiële bydraes te maak.

15. Hoe moet individuele Christene reageer op tydige geestelike voedsel wat die slaaf voorsien en organisatoriese besluite wat die slaaf neem?

15 Hoe beskou ons as individuele Christene die tydige geestelike voedsel wat die getroue slaaf deur middel van Bybelpublikasies en Christelike samekomste voorsien? Maak ons met waardering gebruik daarvan en pas ons geredelik toe wat ons leer? Hoe reageer ons op organisatoriese besluite wat die slaaf neem? Ons gewillige gehoorsaamheid aan die leiding wat voorsien word, lewer bewys van ons geloof in Jehovah se reëling.—Jak. 3:17.

16. Waarom moet alle Christene na Christus se broers luister?

16 “My skape luister na my stem”, het Jesus gesê, “en ek ken hulle, en hulle volg my” (Joh. 10:27). Dit is die geval met die gesalfde Christene. Wat van dié wat “saam met” hulle gaan? Hulle moet na Jesus luister. Hulle moet ook na sy broers luister. Die vernaamste verantwoordelikheid om na die geestelike welsyn van God se volk om te sien, is immers aan hulle toevertrou. Wat behels dit om na die stem van Christus se broers te luister?

17. Wat behels dit om na die slaafklas te luister?

17 Die getroue en verstandige slaaf word vandag verteenwoordig deur die Bestuursliggaam, wat die leiding neem en die Koninkrykspredikingswerk regoor die aarde koördineer. Die lede van die Bestuursliggaam is ervare, geesgesalfde ouer manne. Hulle in die besonder kan beskryf word as ‘dié wat die leiding onder ons neem’ (Heb. 13:7). Hierdie gesalfde opsieners het “baie . . . om in die werk van die Here te doen” terwyl hulle na byna 7 000 000 Koninkryksverkondigers in meer as 100 000 gemeentes regoor die aarde omsien (1 Kor. 15:58). Om na die slaafklas te luister, beteken dat ons ons volle samewerking aan die Bestuursliggaam daarvan gee.

Dié wat na die slaaf luister, is geseënd

18, 19. (a) Hoe is dié wat na die getroue en verstandige slaaf luister, geseënd? (b) Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

18 Sedert die getroue en verstandige slaaf aangestel is, het hulle “baie tot regverdigheid [gebring]” (Dan. 12:3). Dit sluit dié in wat die hoop het om die vernietiging van die teenswoordige goddelose stelsel van dinge te oorleef. Wat ’n seën is hierdie regverdige posisie voor God tog!

19 Wat sal dié wat na die stem van die slaaf luister, in die toekoms ervaar wanneer “die heilige stad, Nuwe Jerusalem [wat uit 144 000 bestaan], van God af uit die hemel . . . neerdaal, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is”? “God self sal by hulle wees”, sê die Bybel. “En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Op. 21:2-4). Laat ons dus na die Christus en sy betroubare geesgesalfde broers luister.

Wat het jy geleer?

• Watter bewyse is daar dat Jehovah die getroue en verstandige slaaf vertrou?

• Wat toon dat Jesus Christus die slaafklas ten volle vertrou?

• Waarom verdien die getroue bestuurder ons vertroue?

• Hoe toon ons dat ons die slaaf vertrou?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 25]

Weet jy wie Jehovah as die toekomstige bruid vir sy Seun gekies het?

[Prente op bladsy 26]

Jesus Christus het sy “besittings” aan die getroue en verstandige slaaf toevertrou

[Prent op bladsy 27]

Wanneer ons aan die getuieniswerk deelneem, ondersteun ons die geesgesalfdes