Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moet jy aandring op jou persoonlike voorkeure?

Moet jy aandring op jou persoonlike voorkeure?

Moet jy aandring op jou persoonlike voorkeure?

TWEE jong kinders speel saam. Die een kind gryp sy gunstelingspeelding by die ander kind en skreeu: “Dis myne!” Van kleins af openbaar onvolmaakte mense ’n mate van selfsug (Gen. 8:21; Rom. 3:23). Verder bevorder die wêreld oor die algemeen ’n “ek eerste”-gesindheid. As ons hierdie gees wil vermy, moet ons hard stry teen selfsugtige neigings. As ons dit nie doen nie, kan ons ander maklik laat struikel en ons verhouding met Jehovah ondermyn.—Rom. 7:21-23.

Die apostel Paulus het ons aangespoor om te let op die uitwerking wat ons dade op ander het en geskryf: “Alles is geoorloof, maar nie alles is voordelig nie. Alles is geoorloof, maar nie alles bou op nie.” Paulus het ook gesê: “Sorg dat julle nie oorsake van struikeling . . . word nie” (1 Kor. 10:23, 32). In sake waarby persoonlike voorkeure betrokke is, is dit dus verstandig om ons af te vra: ‘Is ek gewillig om van sekere regte afstand te doen wanneer die vrede van die gemeente bedreig word? Is ek bereid om Bybelbeginsels te volg, selfs wanneer dit ongerieflik is?’

In jou keuse van sekulêre werk

Die meeste mense meen dat hulle keuse van werk ’n persoonlike besluit is wat ’n baie geringe—indien enige—uitwerking op ander het. Maar beskou die ondervinding van ’n sakeman in ’n dorpie in Suid-Amerika. Hy was bekend as ’n dobbelaar en ’n dronkaard. Maar hy het die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer en gevolglik geestelike vooruitgang gemaak en sy lewenswyse verander (2 Kor. 7:1). Toe hy gemeld het dat hy graag saam met die gemeente aan die openbare predikingswerk wil deelneem, het ’n ouer man hom taktvol aangemoedig om na te dink oor die soort sekulêre werk wat hy doen. Die man was al ’n geruime tyd die dorp se hoofverspreider van suiwer rietspiritus—’n produk wat baie gebruike het, maar wat in daardie gebied gewoonlik met koeldrank gemeng en gedrink word met die uitsluitlike doel om dronk te word.

Die man het besef dat dit die gemeente in ’n slegte lig sal stel en sy verhouding met God kan skaad as hy die openbare predikingswerk doen terwyl hy nog steeds hierdie produk verkoop. Hoewel hy ’n groot gesin gehad het om te onderhou, het hy opgehou om alkohol te verkoop. Hy onderhou sy gesin nou deur papierprodukte te verkoop. Hierdie man, sy vrou en twee van hulle vyf kinders is nou gedoop. Hulle verkondig die goeie nuus ywerig en met vrymoedigheid van spraak.

In jou keuse van vriende

Is omgang met persone wat nie aan dieselfde godsdiens as ons behoort nie, bloot ’n kwessie van persoonlike voorkeur, of is Bybelbeginsels daarby betrokke? Een suster wou na ’n partytjie toe gaan saam met ’n jong man wat nie ’n ware Christen is nie. Hoewel sy teen die gevare gewaarsku is, het sy gevoel dat sy die reg het om dit te doen, en daarom het sy na die partytjie toe gegaan. Kort nadat sy daar aangekom het, is sy ’n drankie gegee wat ’n sterk kalmeermiddel ingehad het. Sy het ’n paar uur later wakker geword en gevind dat haar sogenaamde vriend haar verkrag het.—Vergelyk Genesis 34:2.

Hoewel omgang met ongelowiges nie altyd sulke tragiese gevolge het nie, waarsku die Bybel: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan” (Spr. 13:20). Dit ly geen twyfel nie—as ons slegte vriende kies, stel dit ons bloot aan gevaar! “Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het”, sê Spreuke 22:3, “maar die onervarenes het verder gegaan en moet die straf ondergaan.” Ons vriende kan ’n uitwerking op ons en op ons verhouding met God hê.—1 Kor. 15:33; Jak. 4:4.

In jou kleredrag en persoonsversorging

Style en modes verander elke seisoen. Maar Bybelbeginsels oor kleredrag en persoonsversorging bly dieselfde. Paulus het Christenvroue aangespoor om “hulle met goed versorgde kleredrag [te] versier, met beskeidenheid en gesonde verstand”—’n beginsel wat net soveel van toepassing is op mans (1 Tim. 2:9). Paulus het nie ’n uiters eenvoudige klerestyl aanbeveel nie, en ook het hy nie gesê dat alle Christene dieselfde smaak moet hê nie. Maar wat van beskeidenheid? Een woordeboek definieer beskeidenheid as die “afwesigheid van verwaandheid of ydelheid . . . , fatsoenlikheid in kleredrag, spraak of gedrag”.

Ons moet ons afvra: ‘Kan ek eerlikwaar sê dat ek beskeie is as ek aandring op my reg om aan te trek op ’n manier wat onnodig aandag op my vestig? Stuur my kleredrag die verkeerde boodskap uit oor wie ek is of die sedes waarvolgens ek lewe?’ Ons kan voorkom dat ons in dié verband “enige rede tot struikeling [gee]” deur “nie uit persoonlike belangstelling ’n oog op net [ons] eie sake [te] hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander”.—2 Kor. 6:3; Fil. 2:4.

In sakeaangeleenthede

Toe ernstige geskille rakende verkeerde of bedrieglike handelinge in die gemeente in Korinte ontstaan het, het Paulus geskryf: “Waarom laat julle julle nie liewer veronreg nie? Waarom laat julle julle nie liewer te kort doen nie?” Paulus het Christene gemaan om eerder bereid te wees om iets prys te gee as om ’n broer hof toe te neem (1 Kor. 6:1-7). ’n Broer in die Verenigde State het hierdie raad ter harte geneem. Hy het ’n meningsverskil met sy werkgewer, ’n mede-Christen, gehad oor lone wat aan hom verskuldig was. Die twee broers het skriftuurlike riglyne gevolg en keer op keer bymekaargekom, maar nie ’n oplossing vir die probleem gevind nie. Hulle het die saak uiteindelik na “die gemeente” geneem, wat deur Christen- ouer manne verteenwoordig word.—Matt. 18:15-17.

Ongelukkig kon die geskil nog steeds nie opgelos word nie. Nadat hy baie oor die saak gebid het, het die werknemer besluit om af te sien van meeste van die geld wat hy gemeen het hom toekom. Waarom? Hy het later gesê: “Hierdie meningsverskil het my van my vreugde beroof en kosbare tyd verspil wat vir geestelike strewes gebruik kon word.” Nadat die broer hierdie besluit geneem het, het hy sy vreugde voel terugkeer en Jehovah se seën op sy diens ervaar.

Selfs in klein dingetjies

Dit bring ook seëninge mee as ons in klein dingetjies nie op ons persoonlike voorkeure aandring nie. Op die eerste dag van ’n streekbyeenkoms het ’n pionieregpaar vroeg gekom en sitplek gekry presies waar hulle dit wou hê. Net toe die program begin, het ’n groot gesin met ’n hele paar kinders haastig by die vol stadion ingekom. Toe die pionieregpaar sien dat die gesin ’n sekere aantal sitplekke soek, het hulle hulle twee sitplekke opgegee. Gevolglik kon die hele gesin saam sit. ’n Paar dae ná die byeenkoms het die pioniers ’n dankiesêbrief van die gesin ontvang. Die brief het verduidelik hoe teleurgesteld hulle was toe hulle laat by die byeenkoms aangekom het. Hierdie gevoel het gou in vreugde en dankbaarheid verander danksy die pionieregpaar se goedhartigheid.

Wanneer ons die geleentheid kry, moet ons gewilliglik ons voorkeure ten behoewe van ander opgee. As ons liefde openbaar wat “nie sy eie belang [soek] nie”, help dit ons om die vrede in die gemeente en met ons naaste te bewaar (1 Kor. 13:5). Maar bowenal behou ons ons vriendskap met Jehovah.

[Prent op bladsy 20]

Is jy bereid om jou persoonlike voorkeure prys te gee in jou keuse van modes?

[Prent op bladsy 20, 21]

Is jy bereid om jou sitplek vir jou broers op te gee?