Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe kan jy in die bediening volhard?

Hoe kan jy in die bediening volhard?

Hoe kan jy in die bediening volhard?

HET jy al ooit so uitgeput en mismoedig gevoel dat jy wou ophou om aan die predikingswerk deel te neem? Hewige teenstand, angstigheid, swak gesondheid, portuurdruk of ’n gebrek aan tasbare resultate kan ons volharding op die proef stel. Maar dink aan Jesus se voorbeeld. Hy het die allermoeilikste toets verduur “vir die vreugde wat hom voorgehou is” (Heb. 12:2). Hy het geweet dat hy Jehovah se hart bly maak deur te bewys dat aantygings wat teen God gemaak is, heeltemal ongegrond is.—Spr. 27:11.

Jy kan ook Jehovah se hart bly maak deur in die bediening te volhard. Maar sê nou dit voel of party struikelblokke jou van jou geestelike krag beroof? Krystyna, wat bejaard is en swak gesondheid het, erken: “Dit is nie vir my ongewoon om moeg en terneergedruk te voel nie. My ouderdomsverwante probleme, soos swak gesondheid en sorge oor die daaglikse lewe, kan soms my ywer tydelik demp.” Hoe kan jy ten spyte van sulke struikelblokke in die bediening volhard?

Volg die profete na

Getroue Koninkryksverkondigers kan in die predikingswerk volhard deur daarna te streef om dieselfde gesindheid as die eertydse profete te hê. Kyk byvoorbeeld na Jeremia. Toe hy geroep is om as profeet te dien, was hy eers huiwerig. Tog was Jeremia in staat om meer as 40 jaar lank in sy moeilike toewysing te volhard omdat hy geleer het om volkome op God te vertrou.—Jer. 1:6; 20:7-11.

Henryk put aanmoediging uit Jeremia se voorbeeld. Hy sê: “In die meer as 70 jaar wat ek al aan die bediening deelneem, het mense se reaksies—hulle vyandigheid of hulle onverskilligheid—my soms ontmoedig. Dan herinner ek my aan Jeremia se voorbeeld. Sy liefde vir Jehovah en sy sterk geestelikheid het hom die krag gegee om aan te hou profeteer” (Jer. 1:17). Rafał word ook deur Jeremia se voorbeeld aangespoor. Hy sê: “Jeremia het eerder op God staatgemaak as om op homself en sy eie gevoelens te konsentreer. Hy het onbevrees voortgegaan ten spyte van wydverspreide vyandigheid. Ek probeer dit in gedagte hou.”

Nog ’n profeet wie se voorbeeld baie mense help om in die bediening te volhard, is Jesaja. God het vir hom gesê dat sy landgenote nie na hom sal luister nie. “Maak die hart van hierdie volk onontvanklik en maak hulle ore ongevoelig”, het Jehovah gesê. Was Jesaja tot mislukking gedoem? Nie vanuit God se oogpunt nie! Toe hy as profeet aangestel is, het hy gesê: “Hier is ek! Stuur my” (Jes. 6:8-10). Jesaja het sy opdrag getrou uitgevoer. Is dit hoe jy reageer op die opdrag om te preek?

As ons, soos Jesaja, in die bediening wil volhard ondanks ’n onontvanklike gehoor, moet ons nie konsentreer op die negatiewe reaksies wat ons teëkom nie. Rafał verwerk ontmoediging soos volg: “Ek probeer om nie oor onvriendelike aanmerkings te tob nie. Mense in my gebied het die reg om te reageer soos hulle wil.” Anna voeg by: “Ek laat nie toe dat my gedagtes draai om enigiets wat onaangenaam of ontmoedigend is nie. Om my hiermee te help, bid ek en lees ek die dagteks voordat ek uitgaan in velddiens. Enige negatiewe gedagtes verdwyn dan vinnig.”

Die profeet Esegiël het onder die hardkoppige Joodse ballinge in Babilon gedien (Eseg. 2:6). As die profeet nie God se woorde aan die volk meegedeel het nie en as ’n goddelose gesterf het sonder om die waarskuwing te hoor, sou Esegiël persoonlik aanspreeklik gewees het. Jehovah het vir Esegiël gesê: “Sy bloed sal ek van jou hand terugeis.”—Eseg. 3:17, 18.

Henryk probeer om dieselfde beskouing as Esegiël te hê: “Ek wil rein wees van die bloed van alle mense. Kosbare menselewens is op die spel” (Hand. 20:26, 27). Zbigniew voel ook so: “Esegiël moes volhard ongeag wat ander gedink het. Dit help my om die predikingswerk vanuit die Skepper se oogpunt te sien.”

Jy is nie alleen nie

Jy is nie alleen wanneer jy aan die predikingswerk deelneem nie. Ons kan net soos die apostel Paulus sê: “Ons is God se medewerkers” (1 Kor. 3:9). Krystyna, wat erken dat sy soms mismoedig word, sê: “Daarom bly ek Jehovah om krag smeek. Hy laat my nooit in die steek nie.” Ja, ons het God se gees nodig om ons in ons bediening te onderskraag!—Sag. 4:6.

Wanneer ons velddiens doen, help die heilige gees ons ook om die eienskappe aan die dag te lê wat ‘die vrug van die gees’ uitmaak (Gal. 5:22, 23). En dít help ons om in die predikingswerk te volhard ongeag wat gebeur. Henryk sê: “Velddiens help my om my persoonlikheid te verbeter. Ek leer om geduldig en bedagsaam te wees en nie maklik tou op te gooi nie.” As jy in die bediening volhard ten spyte van verskeie struikelblokke, kan dit jou help om die vrug van die gees in selfs groter mate aan te kweek.

Jehovah rig hierdie unieke werk deur middel van sy engele (Op. 14:6). Die Bybel toon dat daar “tienduisende van tienduisende en duisende van duisende” van hierdie geesskepsele is (Op. 5:11). Onder leiding van Jesus ondersteun die engele God se knegte op aarde. Hou jy dit in gedagte wanneer jy velddiens doen?

“Dit is vir my aanmoedigend om te peins oor die feit dat die engele saam met ons in die bediening is”, sê Anna. “Ek waardeer die hulp wat hulle onder toesig van Jehovah en Jesus voorsien.” Wat ’n voorreg is dit tog om saam met die getroue engele te werk!

Wat van mede-Koninkryksverkondigers? Dit is vir ons ’n seën om so ’n groot menigte getroue Getuies te leer ken. Jy het ongetwyfeld ondervind hoe waar die Bybelspreuk is: “Deur yster word yster geslyp. So slyp een man die aangesig van ’n ander.”—Spr. 27:17.

Wanneer ons saam met ander in die bediening werk, bied dit ons ’n wonderlike geleentheid om doeltreffende metodes te sien wat dalk vir ons nuut is. Elżbieta sê: “Wanneer ek saam met verskillende verkondigers werk, gee dit my die geleentheid om liefde te betoon aan my medegelowiges sowel as aan die mense wat ons ontmoet.” Probeer om saam met verskillende verkondigers in die bediening te werk. Dit sal jou bediening interessant maak.

Kyk goed na jouself

As ons ons entoesiasme in die bediening wil behou, moet ons goed beplan, ’n goeie roetine van persoonlike studie hê en genoeg rus kry. Met ander woorde, ons moet na ons geestelike sowel as fisiese gesondheid kyk.

Die Bybel sê: “Die planne van die vlytige lei gewis tot voordeel” (Spr. 21:5). Zygmunt, wat nou 88 jaar oud is, sê: “’n Goeie rooster help my om my bediening doelgerig te hou. Ek beplan my tyd noukeurig sodat ek genoeg tyd vir die getuieniswerk het.”

’n Deeglike kennis van die Skrif versterk ons vir die bediening en rus ons daarvoor toe. Net soos ons fisiese voedsel nodig het om aan die gang te bly, moet ons gereeld geestelike voedsel inneem sodat ons kan voortgaan om aan die predikingswerk deel te neem. As ons ons daagliks met God se Woord voed en “voedsel op die regte tyd” inneem, kan dit ons krag gee vir die bediening.—Matt. 24:45-47.

Elżbieta het groot veranderinge in haar lewenstyl aangebring sodat sy haar bediening kon verbeter. Sy sê: “Ek het die tyd wat ek voor die televisie deurbring, aansienlik verminder sodat ek meer tyd het om vir die bediening voor te berei. Wanneer ek elke aand die Bybel lees, dink ek aan die mense wat ek in die gebied ontmoet het. Ek soek na tekste en artikels wat hulle kan help.”

As jy genoeg rus kry, sal dit jou help om jou energievlak hoog te hou en kan dit jou in staat stel om ’n volle aandeel aan die bediening te hê. Daarenteen kan te veel ontspanning ’n negatiewe uitwerking op die gehalte van jou werk hê. Andrzej, ’n ywerige verkondiger, sê: “Te min rus laat ’n mens oormoeg word, en dan raak jy maklik mismoedig. Ek doen alles in my vermoë om dit te vermy.”—Pred. 4:6.

Ten spyte van ons ywerige pogings waardeer betreklik min mense die goeie nuus. Maar Jehovah sal nooit ons werk vergeet nie (Heb. 6:10). Al wil baie nie met ons praat nie, praat hulle moontlik oor ons besoek nadat ons daar weg is. Die gevolg kan soortgelyk wees aan wat ons omtrent Esegiël lees: Mense “sal beslis . . . weet dat daar ’n profeet in hulle midde was” (Eseg. 2:5). Ons bediening is beslis nie maklik nie, maar dit bring tasbare voordele mee vir ons sowel as vir die mense wat luister.

“Velddiens help ons om ons met die nuwe persoonlikheid te beklee en om liefde vir God en ons naaste te toon”, sê Zygmunt. “Dit is ’n voorreg om aan hierdie lewensreddende werk deel te neem. Dit sal nooit weer op hierdie skaal of onder dieselfde omstandighede gedoen word nie”, voeg Andrzej by. Jy kan ook oorvloedige seëninge maai as jy nou in die bediening volhard.—2 Kor. 4:1, 2.

[Prente op bladsy 31]

As ons na ons geestelike en fisiese behoeftes omsien, help dit ons om in die bediening te volhard