Vrae van lesers
Vrae van lesers
Die Skrif meld “die boek van Jasar” en “die boek van die Oorloë van Jehovah” (Jos. 10:13; Num. 21:14). Hierdie twee boeke verskyn nie in die Bybelkanon nie. Was dit geïnspireerde geskrifte wat verlore geraak het?
Daar is geen rede om tot die slotsom te kom dat hierdie twee boeke onder inspirasie geskryf is en later verlore geraak het nie. Geïnspireerde Bybelskrywers het na ’n hele aantal ander geskrifte verwys. Party hiervan is dalk wel dele van die Bybel wat bloot beskryf is in terme wat vir hedendaagse lesers onbekend is. Eerste Kronieke 29:29 meld byvoorbeeld “die woorde van die siener Samuel”, “die woorde van die profeet Natan” en “die woorde van die siener Gad”. Al drie verwys moontlik na die boeke wat ons as 1 en 2 Samuel ken, of dalk na die boek Rigters.
Daarenteen slaan sekere verwysings op boeke wat soortgelyke name het as boeke van die Bybel, maar wat in werklikheid nie deel van die Bybel is nie. Ons kan dit toelig met vier eertydse boeke: “die kroniekboek van die konings van Juda”, “die Boek van die konings van Juda en van Israel”, “die Boek van die konings van Israel” en “die Boek van die konings van Israel en van Juda”. Hoewel hierdie name dalk baie dieselfde klink as die name van die Bybelboeke wat ons as 1 Konings en 2 Konings ken, was die vier boeke nie geïnspireer nie, en ook is dié boeke nie deel van die Bybelkanon nie (1 Kon. 14:29; 2 Kron. 16:11; 20:34; 27:7). Dit was waarskynlik maar net geskiedkundige geskrifte wat destyds beskikbaar was toe die profeet Jeremia en Esra die verslae geskryf het wat ons in die Bybel het.
Ja, party Bybelskrywers het wel na bestaande maar ongeïnspireerde geskiedverslae of dokumente verwys of dit geraadpleeg. Ester 10:2 verwys na “die Kroniekboek van die konings van Medië en Persië”. Lukas het eweneens ter voorbereiding van sy Evangelieverslag “alles van die begin af noukeurig nagespeur”. Hy het waarskynlik bedoel dat hy geskrewe bronne wat tot sy beskikking was, geraadpleeg het terwyl hy Jesus se geslagsregister wat ons in sy Evangelie kan lees, saamgestel het (Luk. 1:3; 3:23-38). Hoewel die verslae wat Lukas geraadpleeg het, nie geïnspireer was nie, was sy Evangelie beslis geïnspireer. En hierdie Evangelie is nog steeds vir ons waardevol.
Wat die twee boeke betref wat in die vraag genoem word—“die boek van Jasar” en “die boek van die Oorloë van Jehovah”—dit was blykbaar bestaande dokumente wat nie geïnspireer was nie. Daarom het Jehovah nie toegesien dat dit bewaar word nie. Die Bybelse verwysings na hierdie twee boeke laat geleerdes tot die slotsom kom dat die twee boeke versamelings gedigte of liedere was wat gehandel het oor oorloë tussen Israel en hulle vyande (2 Sam. 1:17-27). ’n Bybelensiklopedie doen aan die hand dat die inhoud van hierdie boeke miskien “die bekende repertoire was van professionele sangers in eertydse Israel wat Israel se volksgedigte en -liedere bewaar het”. Selfs party manne wat God soms as profete of sieners gebruik het, het verslae opgestel wat Jehovah nie geïnspireer het of laat opneem het in die Skrif, wat in ons dag “nuttig [is] om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel” nie.—2 Tim. 3:16; 2 Kron. 9:29; 12:15; 13:22.
Die feit dat sekere boeke in die Bybel genoem word en as bronne gebruik kon word, moet ons nie tot die slotsom laat kom dat dit geïnspireer was nie. Jehovah God het al die geskrifte bewaar wat “die woord van ons God” bevat, en dit “sal tot onbepaalde tyd bly bestaan” (Jes. 40:8). Ja, wat Jehovah besluit het om in te sluit in die 66 Bybelboeke wat ons het, is presies wat ons nodig het sodat ons “volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk”.—2 Tim. 3:16, 17.