Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Job het Jehovah se naam hooggehou

Job het Jehovah se naam hooggehou

Job het Jehovah se naam hooggehou

“Laat die naam van Jehovah voortdurend geloof word.”—JOB 1:21.

1. Wie het waarskynlik die boek Job geskryf, en wanneer?

 MOSES was omtrent 40 jaar oud toe hy uit Egipte gevlug het om aan die toorn van Farao te ontkom en in Midian gaan woon het (Hand. 7:23). Gedurende sy verblyf in dié land het hy dalk gehoor van die beproewinge van Job, wat daar naby in die land Us gewoon het. Jare later, toe Moses en die nasie Israel teen die einde van hulle trek deur die wildernis naby Us was, het Moses moontlik van Job se laaste jare te hore gekom. Volgens Joodse oorlewering het Moses die boek Job die een of ander tyd ná Job se dood geskryf.

2. Hoe bemoedig die boek Job Jehovah se knegte in hedendaagse tye?

2 Die boek Job versterk die geloof van God se knegte in hedendaagse tye. Hoe? Die verhaal lig ons in omtrent gebeure van verreikende belang wat in die hemel plaasgevind het en beklemtoon die allerbelangrikste geskil, naamlik God se universele soewereiniteit. Die verslag oor Job vergroot ook ons begrip van wat dit behels om onkreukbaarheid te handhaaf en help ons om te verstaan waarom Jehovah soms toelaat dat sy knegte ly. Verder identifiseer die boek Job Satan die Duiwel as Jehovah se vernaamste Teenstander en die mensdom se vyand. Die boek toon ook dat onvolmaakte mense soos Job ondanks hewige toetse lojaal aan Jehovah kan bly. Kom ons ondersoek ’n paar van die gebeure wat in die boek Job beskryf word.

Job word deur Satan getoets

3. Wat weet ons van Job, en waarom het Satan hom ’n teiken vir sy aanvalle gemaak?

3 Job was ’n welgestelde en invloedryke man, ’n aartsvader van goeie inbors. Hy was klaarblyklik ’n hooggeagte raadgewer wat die behoeftiges gehelp het. Van die allergrootste belang is dat Job God gevrees het. Job word beskryf as ’n man wat ‘onberispelik en regskape was en wat God gevrees het en afgewyk het van die kwaad’. Dit was Job se godvrugtige toegewydheid—nie sy rykdom en invloed nie—wat hom ’n teiken vir Satan die Duiwel se aanvalle gemaak het.—Job 1:1; 29:7-16; 31:1.

4. Wat is onkreukbaarheid?

4 Die inleiding van die boek Job beskryf ’n samekoms in die hemel waar die engele hulle plek voor Jehovah ingeneem het. Satan was ook teenwoordig, en hy het aantygings teen Job gemaak. (Lees Job 1:6-11.) Hoewel Satan Job se besittings gemeld het, het hy hom daarop toegespits om Job se onkreukbaarheid te bevraagteken. Die term “onkreukbaarheid” bevat die gedagte van regskapenheid, onberispelikheid, regverdigheid en vlekkeloosheid. Menslike onkreukbaarheid, soos dit in die Bybel gebruik word, dui op ’n hart wat volkome aan Jehovah toegewy is.

5. Wat het Satan aangaande Job beweer?

5 Satan het beweer dat Job se aanbidding van God op selfsug gegrond is en nie op onkreukbaarheid nie. Satan het aangevoer dat Job net lojaal aan Jehovah sou bly solank God voortgaan om hom te beloon en te beskerm. Om ’n antwoord op Satan se aantyging te voorsien, het Jehovah toegelaat dat Satan hierdie getroue man aanval. Gevolglik het Job in net een dag gehoor dat sy vee gesteel of vernietig is, dat sy dienaars doodgemaak is en dat sy tien kinders hulle lewe verloor het (Job 1:13-19). Het Job voor Satan se aanval geswig? Die geïnspireerde verslag beskryf Job se reaksie op sy teëspoed: “Jehovah het gegee, en Jehovah het weggeneem. Laat die naam van Jehovah voortdurend geloof word.”—Job 1:21.

6. (a) Wat het gedurende nog ’n samekoms in die hemel gebeur? (b) Wie het Satan in gedagte gehad toe hy Job se onkreukbaarheid teenoor Jehovah bevraagteken het?

6 Later was daar nog ’n samekoms in die hemel. Satan het weer eens aantygings teen Job gemaak en gesê: “Vel vir vel, en alles wat ’n mens het, sal hy gee vir sy siel. Steek vir ’n verandering asseblief u hand uit en raak tot sy gebeente en sy vlees aan en kyk of hy u nie in u aangesig sal vervloek nie.” Let daarop dat Satan sy beskuldigings uitgebrei het. Met die woorde: “Alles wat ’n mens het, sal hy gee vir sy siel”, het die Duiwel nie net Job se onkreukbaarheid bevraagteken nie, maar ook dié van enige “mens” wat Jehovah aanbid. Toe het God Satan toegelaat om Job met ’n pynlike siekte te tref (Job 2:1-8). Maar dit was nie die hele omvang van Job se beproewinge nie.

Job se situasie

7. Hoe het Job se vrou en sy besoekers Job onder druk geplaas?

7 Job se vrou het aanvanklik dieselfde terugslae as haar man ondervind. Die verlies van haar kinders en die gesin se rykdom moes vir haar verpletterend gewees het. Dit het haar ongetwyfeld bedroef om haar man aan ’n pynlike siekte te sien ly. Sy het uitgeroep en vir Job gesê: “Hou jy nog vas aan jou onkreukbaarheid? Vervloek God en sterf!” Toe het drie mans opgedaag—Elifas, Bildad en Sofar—oënskynlik om Job te vertroos. Maar in plaas daarvan het hulle bedrieglike redenasies gebruik en was hulle “ellendige vertroosters”. Byvoorbeeld, Bildad het te kenne gegee dat Job se kinders hulle aan oortreding skuldig gemaak het en hulle lot verdien het. Elifas het geïnsinueer dat Job se lyding ’n straf vir vorige sondes is. Hy het selfs bevraagteken of diegene wat onkreukbaarheid handhaaf, vir God van enige waarde is! (Job 2:9, 11; 4:8; 8:4; 16:2; 22:2, 3). Ondanks hierdie groot druk het Job sy onkreukbaarheid gehandhaaf. Hy het weliswaar verkeerd opgetree toe hy “eerder sy eie siel regverdig verklaar het as God” (Job 32:2). Maar hy het deur dit alles heen getrou gebly.

8. Watter goeie voorbeeld het Elihu vir hedendaagse raadgewers gestel?

8 Vervolgens lees ons van Elihu, wat Job ook kom besoek het. Elihu het eers geluister na die argumente wat Job en sy drie metgeselle aangevoer het. Hoewel hy jonger was as die ander vier mans, het Elihu groter wysheid geopenbaar. Hy het Job op bedagsame wyse aangespreek en Job se naam gebruik. Elihu het Job geprys vir sy regskape lewensweg. Maar hy het ook gesê dat Job hom te veel daarop toegespits het om sy eie onberispelikheid te probeer bewys. Toe het Elihu Job verseker dat dit altyd die moeite werd is om God getrou te dien. (Lees Job 36:1, 11.) Wat ’n goeie voorbeeld is dit tog vir diegene wat vandag raad moet gee! Elihu het geduld beoefen, aandagtig geluister, lof uitgespreek waar moontlik en opbouende raad gegee.—Job 32:6; 33:32.

9. Hoe het Jehovah Job gehelp?

9 Laastens het Job ’n waarlik ontsagwekkende besoeker gehad! Die verslag sê: “Jehovah het Job uit die windstorm geantwoord.” Deur middel van ’n reeks vrae het Jehovah Job vriendelik maar ferm gehelp om sy denke reg te stel. Job het die teregwysing gewillig aanvaar en erken: “Ek het onbeduidend geword . . . Ek het berou in stof en as.” Nadat Jehovah met Job gepraat het, het Hy Sy toorn teen die drie metgeselle uitgespreek omdat hulle nie “die waarheid” gepraat het nie. Job moes vir hulle bid. Daarop “het [Jehovah] ’n omkeer in die gevange toestand van Job gebring toe hy vir sy metgeselle gebid het, en Jehovah het boonop alles wat Job voorheen gehad het, in dubbele mate begin gee”.—Job 38:1; 40:4; 42:6-10.

Hoe lief het ons Jehovah?

10. Waarom het Jehovah Satan nie geïgnoreer of vernietig nie?

10 Jehovah is die Skepper van die heelal, die Soewerein van die hele skepping. Waarom het hy nie die Duiwel se aantyging geïgnoreer nie? God het geweet dat dit nie die geskil wat geopper is, sou besleg as hy Satan ignoreer of hom vernietig nie. Die Duiwel het beweer dat Job, ’n uitsonderlike kneg van Jehovah, nie lojaal sou bly as hy sy rykdom verloor nie. Job se lojaliteit het die toets deurstaan. Toe het Satan beweer dat enige mens hom van God sou afkeer as hy fisies ly. Job het gely, maar hy het nie sy onkreukbaarheid prysgegee nie. Daar is dus bewys dat Satan ’n leuenaar was in die geval van hierdie getroue dog onvolmaakte man. Wat van ander aanbidders van God?

11. Hoe het Jesus ’n volledige antwoord op Satan se aantyging verskaf?

11 In werklikheid toon elke kneg van God wat sy onkreukbaarheid handhaaf ondanks enigiets wat Satan oor hom bring dat die beskuldigings van hierdie meedoënlose vyand in sý geval vals is. Jesus het aarde toe gekom en ’n volledige antwoord op Satan se aantyging verskaf. Jesus was ’n volmaakte mens, soos ons eerste vader, Adam. Jesus se getrouheid tot in die dood het onomstootlike bewys gelewer dat Satan ’n leuenaar is en dat sy beskuldigings vals is.—Op. 12:10.

12. Watter geleentheid en verantwoordelikheid het elke kneg van Jehovah?

12 Satan hou nietemin aan om Jehovah se aanbidders te toets. Elkeen van ons het die geleentheid en die verantwoordelikheid om deur ons persoonlike onkreukbaarheid te toon dat ons Jehovah dien omdat ons hom liefhet—nie om selfsugtige redes nie. Hoe beskou ons hierdie verantwoordelikheid? Ons ag dit ’n voorreg om lojaal aan Jehovah te wees. Dit vertroos ons ook om te weet dat Jehovah ons die krag gee om te volhard en dat hy, soos in die geval van Job, perke stel aan die beproewinge wat ons deurmaak.—1 Kor. 10:13.

Satan—’n uitdagende teenstander en afvallige

13. Watter besonderhede oor Satan openbaar die boek Job?

13 Die Hebreeuse Geskrifte voorsien besonderhede oor die skandelike rol wat Satan daarin gespeel het om Jehovah uit te daag en die mensdom te mislei. In die Christelike Griekse Geskrifte vind ons meer inligting oor Satan se teenstand teen Jehovah, en in die boek Openbaring leer ons van die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit en Satan se uiteindelike vernietiging. Die boek Job vertel ons meer van Satan se opstandige weg. Toe Satan die samekomste in die hemel bygewoon het, was hy nie daar met die bedoeling om Jehovah te loof nie. Die Duiwel het ’n kwaadwillige gesindheid en ’n bose oogmerk gehad. Nadat hy Job beskuldig het en toestemming gekry het om hom te toets, “het Satan van die aangesig van Jehovah af weggegaan”.—Job 1:12; 2:7.

14. Watter gesindheid het Satan teenoor Job geopenbaar?

14 Die boek Job identifiseer Satan dus as die mensdom se genadelose vyand. Tussen die samekoms in die hemel wat in Job 1:6 gemeld word en die een wat in Job 2:1 beskryf word, het ’n onbepaalde tydperk verloop, waartydens Job wreed op die proef gestel is. Job se getrouheid het Jehovah in staat gestel om vir Satan te sê: “[Job] hou nog steeds vas aan sy onkreukbaarheid, hoewel jy my teen hom aanhits om hom sonder oorsaak te verswelg.” Maar Satan het nie erken dat sy bewerings verkeerd bewys is nie. Inteendeel, hy het geëis dat Job aan nog ’n swaar toets onderwerp word. Die Duiwel het Job dus getoets toe hy baie gehad het en toe hy niks gehad het. Dit is duidelik dat Satan geen medelye vir die armes of vir slagoffers van rampspoed het nie. Hy haat mense wat onkreukbaarheid handhaaf (Job 2:3-5). Job se getrouheid het nietemin bewys dat Satan ’n leuenaar is.

15. Wat het hedendaagse afvalliges in gemeen met Satan?

15 Satan was die eerste skepsel wat afvallig geword het. Hedendaagse afvalliges openbaar soortgelyke eienskappe as dié van die Duiwel. Hulle verstand is moontlik vergiftig deur ’n kritiese gesindheid teenoor persone in die gemeentes, Christen- ouer manne of die Bestuursliggaam. Party afvalliges is gekant teen die gebruik van die goddelike naam, Jehovah. Hulle stel nie daarin belang om van Jehovah te leer of om hom te dien nie. Soos hulle vader, Satan, spits afvalliges hulle toe op diegene wat onkreukbaarheid handhaaf (Joh. 8:44). Geen wonder dat knegte van Jehovah alle kontak met hulle vermy nie!—2 Joh. 10, 11.

Job het Jehovah se naam hooggehou

16. Watter gesindheid het Job teenoor Jehovah geopenbaar?

16 Job het Jehovah se naam gebruik en geloof. Selfs toe hy verpletter is deur die tyding van sy kinders se dood, het Job niks ongepas aan God toegeskryf nie. Hoewel Job verkeerdelik gemeen het dat God verantwoordelik is vir sy verlies, het hy nietemin Jehovah se naam hooggehou. In een van sy latere spreuke het Job gesê: “Kyk! Die vrees van Jehovah—dit is wysheid, en om van die kwaad af te wyk, is verstand.”—Job 28:28.

17. Wat het Job gehelp om sy onkreukbaarheid te handhaaf?

17 Wat het Job gehelp om sy onkreukbaarheid te handhaaf? Dit is duidelik dat hy reeds ’n hegte verhouding met Jehovah opgebou het voordat die rampspoed hom getref het. Hoewel ons geen bewyse het dat hy geweet het dat Satan Jehovah uitgedaag het nie, was Job vasbeslote om lojaal te bly. Hy het gesê: “Totdat ek sterf, sal ek my onkreukbaarheid nie prysgee nie!” (Job 27:5). Hoe het Job hierdie hegte verhouding opgebou? Hy het ongetwyfeld alles wat hy gehoor het omtrent God se handelinge met Abraham, Isak en Jakob, wat ver langs familie van hom was, gekoester. En deur na die skepping te kyk, kon Job baie van Jehovah se eienskappe onderskei.—Lees Job 12:7-9, 13, 16.

18. (a) Hoe het Job sy toegewydheid aan Jehovah geopenbaar? (b) In watter opsigte volg ons Job se goeie voorbeeld na?

18 Wat Job geleer het, het by hom die begeerte gewek om Jehovah te behaag. Ingeval sy gesinslede iets gedoen het wat God mishaag het of “God in hulle hart vervloek” het, het hy gereeld offerandes gebring (Job 1:5). Selfs toe Job swaar beproef is, het hy nog steeds positiewe dinge oor Jehovah gesê (Job 10:12). Wat ’n goeie voorbeeld! Ons moet ook gereeld juiste kennis van Jehovah en sy voornemens inneem. Ons volg ’n gesonde roetine in geestelike bedrywighede soos studie, vergaderingbywoning, gebed en die verkondiging van die goeie nuus. Daarbenewens doen ons alles in ons vermoë om Jehovah se naam bekend te maak. En net soos Job se onkreukbaarheid Jehovah behaag het, maak die onkreukbaarheid van God se hedendaagse knegte Jehovah se hart bly. Hierdie onderwerp sal in die volgende artikel bespreek word.

Onthou jy?

• Waarom het Job Satan die Duiwel se aandag getrek?

• Watter toetse het Job verduur, en hoe het hy gereageer?

• Wat sal ons help om, soos Job, onkreukbaarheid te handhaaf?

• Wat leer ons oor Satan uit die boek Job?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 4]

Die verhaal van Job vestig ons aandag op die allerbelangrikste geskil, naamlik God se universele soewereiniteit

[Prent op bladsy 6]

Onder watter omstandighede kan jou onkreukbaarheid op die proef gestel word?