Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Onthou jy?

Onthou jy?

Onthou jy?

Het jy dit geniet om onlangse nommers van Die Wagtoring te lees? Kyk of jy die volgende vrae kan beantwoord:

• Waarom is dit so belangrik dat ons ons Christelike onkreukbaarheid handhaaf?

As ons ons onkreukbaarheid handhaaf, stel dit ons in staat om ons standpunt vir Jehovah se soewereiniteit in te neem uit liefde vir hom en om te bewys dat Satan ’n leuenaar is. Ons onkreukbaarheid voorsien ook ’n grondslag waarop God ons kan oordeel, en dit is dus noodsaaklik vir ons hoop vir die toekoms.—12/15, bladsye 4-6.

• Wat is ’n paar titels wat Jesus se rol in God se voorneme openbaar?

Die enigverwekte Seun. Die Woord. Die Amen. Die Middelaar van die nuwe verbond. Die Hoëpriester. Die beloofde Saad.—12/15, bladsy 15.

• Waarom is dit betekenisvol dat Elia sy dienaar in die rigting van die see laat kyk het terwyl die profeet vir reën gebid het? (1 Kon. 18:43-45).

Elia het getoon dat hy bewus was van die waterkringloop. Wolke wat oor die see gevorm het, sou oor die land beweeg, waar dit reën kon voorsien.—1/1, bladsye 15-16.

• Hoe kan ons groter vreugde uit ons bediening put?

Ons kan ons hart voorberei en ons toespits op hoeveel ons ander kan help. Ons kan preek met die doel om Bybelstudies te begin. Wanneer die mense in ons gebied nie belangstel nie, kan ons ’n ander benadering gebruik wat hulle belangstelling sal wek.—1/15, bladsye 8-10.

• Was die melaatsheid wat in die Bybel gemeld word, die siekte wat vandag melaatsheid genoem word?

Die bakteriële infeksie wat melaatsheid genoem word, het wel in Bybeltye bestaan (Lev. 13:4, 5). Die Bybel praat ook van melaatsheid wat in klere en huise voorgekom het. Hierdie “melaatsheid” het dalk na ’n soort muf of meeldou verwys (Lev. 13:47-52).—2/1, bladsy 19.

• Hoe moet Bybelleringe ’n Christen se gesindheid en gebruike in verband met begrafnisse beïnvloed?

Al treur ’n Christen oor die dood van geliefdes, weet hy dat die dooies van niks bewus is nie. Selfs as ongelowiges hom kritiseer, vermy hy gebruike wat verband hou met die opvatting dat die dooies die lewendes kan beïnvloed. Om probleme te vermy, stel party Christene hulle instruksies aangaande hulle begrafnisreëlings op skrif.—2/15, bladsye 29-31.

• Watter drie dinge moet ons volgens Psalm 1:1 vermy as ons gelukkig wil wees?

Die vers noem “die raad van die goddeloses”, “die weg van sondaars” en “die sitplek van spotters”. Ja, om gelukkig te wees, moet ons ons afkeer van diegene wat met God se wette die spot dryf of dit ignoreer. Ons moet eerder behae skep in die wet van Jehovah.—3/1, bladsy 17.

• Is “die boek van Jasar” en “die boek van die Oorloë van Jehovah” verlore Bybelboeke? (Jos. 10:13; Num. 21:14).

Nee. Dit was blykbaar ongeïnspireerde dokumente wat in Bybeltye bestaan het en waarna Bybelskrywers verwys het.—3/15, bladsy 32.

• Watter betekenisvolle verandering is aangebring in ’n moderne Bybelvertaling in Latyn?

In 1979 het pous Johannes-Paulus II die Nova Vulgata, ’n nuwe vertaling in Latyn, goedgekeur. Die eerste uitgawe het die goddelike naam, Iahveh, op party plekke bevat (Eks. 3:15; 6:3). Maar toe die tweede amptelike uitgawe in 1986 gepubliseer is, is Iahveh met Dominus [Here] vervang.—4/1, bladsy 22.