Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waardeer Jesus—Die Grotere Dawid en eie Grotere Salomo

Waardeer Jesus—Die Grotere Dawid en eie Grotere Salomo

Waardeer Jesus—Die Grotere Dawid en eie Grotere Salomo

“Kyk! iets meer as Salomo is hier.”—MATT. 12:42.

1, 2. Waarom was dit vanuit ’n menslike oogpunt verbasend dat Samuel beveel is om Dawid as koning te salf?

 HY HET nie soos ’n koning gelyk nie. Vir die profeet Samuel het hy eerder maar net soos ’n herderseun gelyk. Boonop was sy tuisdorp, Betlehem, nie ’n baie vername plek nie. Dit is beskryf as “te klein . . . om onder die duisende van Juda te wees” (Miga 5:2). Nietemin sou hierdie oënskynlik onbeduidende jong man uit ’n klein dorpie weldra deur die profeet Samuel as die toekomstige koning van Israel gesalf word.

2 Jong Dawid was nie die eerste seun wat sy vader, Isai, voor Samuel gebring het om gesalf te word nie; hy was ook nie die tweede of derde nie. Dawid, die jongste van agt seuns wat vir Isai gebore is, was nie eers daar toe Samuel na Isai se huisgesin gekom het om een van hierdie getroue man se seuns as die volgende koning van die land te salf nie. Maar Dawid was Jehovah se keuse, en dit is wat belangrik was.—1 Sam. 16:1-10.

3. (a) Wat beskou Jehovah as van die allergrootste belang wanneer hy iemand ondersoek? (b) Wat het oor Dawid werksaam geword toe hy gesalf is?

3 Jehovah het gesien wat Samuel nie kon sien nie. God kon Dawid se hartstoestand sien, en dit het hom behaag. By God is dit nie die uiterlike wat saak maak nie; dit is eerder wat iemand werklik innerlik is. (Lees 1 Samuel 16:7.) Toe Samuel dus verneem dat Jehovah nie een van die sewe ouer seuns van Isai gekies het nie, het hy gevra dat die jongste van die weiveld af ingebring word. Die verslag sê: “Toe het [Isai] gestuur en [Dawid] laat kom. En hy was rooierig, ’n jong man met pragtige oë en ’n aantreklike voorkoms. Toe het Jehovah gesê: ‘Staan op, salf hom, want dit is hy!’ Daarop het Samuel die horing met olie geneem en hom in die midde van sy broers gesalf. En van dié dag af het die gees van Jehovah oor Dawid werksaam geword.”—1 Sam. 16:12, 13.

Dawid het Christus voorafgeskadu

4, 5. (a) Beskryf van die parallelle tussen Dawid en Jesus. (b) Waarom kan Jesus die Grotere Dawid genoem word?

4 Jesus is, soos Dawid, in Betlehem gebore, sowat 1 100 jaar ná Dawid se tyd. Ook Jesus het vir baie mense nie soos ’n koning gelyk nie. Dit wil sê, hy was nie die soort koning waarop baie in Israel gehoop het nie. Maar soos Dawid was hy Jehovah se keuse. Hy was, soos Dawid, geliefd by Jehovah (Luk. 3:22). a Ook in Jesus se geval het ‘die gees van Jehovah oor hom werksaam geword’.

5 Daar is nog parallelle tussen die twee. Byvoorbeeld, Dawid is deur sy raadgewer Agitofel verraai, en Jesus is deur sy apostel Judas Iskariot verraai (Ps. 41:9; Joh. 13:18). Dawid sowel as Jesus het ’n verterende ywer vir Jehovah se plek van aanbidding gehad (Ps. 27:4; 69:9; Joh. 2:17). Jesus was ook Dawid se erfgenaam. Voor Jesus se geboorte het ’n engel vir sy moeder gesê: “Jehovah God sal hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk. 1:32; Matt. 1:1). Maar omdat al die Messiaanse beloftes in Jesus vervul sal word, is hy baie meer as Dawid. Hy is die Grotere Dawid, die langverwagte Messiaanse Koning.—Joh. 7:42.

Volg die Herder-Koning

6. In watter opsigte was Dawid ’n goeie herder?

6 Jesus is ook ’n herder. Wat is die kenmerke van ’n goeie herder? Hy is iemand wat sy kudde getrou en moedig oppas, voed en beskerm (Ps. 23:2-4). As ’n seun was Dawid ’n herder, en hy het baie goed na sy vader se skape omgesien. Hy was moedig toe die kudde bedreig is en het sy lewe gewaag om die skape teen ’n leeu en ’n beer te beskerm.—1 Sam. 17:34, 35.

7. (a) Wat het Dawid voorberei vir sy pligte as koning? (b) Wat toon dat Jesus die Goeie Herder is?

7 Die jare wat Dawid in die veld en op die heuwels deurgebring het terwyl hy skape opgepas het, het hom voorberei vir die veeleisende pligte en verantwoordelikhede om die nasie Israel as herder te lei (Ps. 78:70, 71). b Jesus is ook ’n voorbeeldige herder. Hy ontvang krag en leiding van Jehovah terwyl hy sy “klein kuddetjie” en die “ander skape” as herder lei (Luk. 12:32; Joh. 10:16). Jesus is dus die Goeie Herder. Hy ken sy kudde so goed dat hy elke skaap op sy naam noem. Hy is so lief vir sy skape dat hy ten behoewe van hulle welsyn gewillig van homself gegee het terwyl hy op die aarde was (Joh. 10:3, 11, 14, 15). As die Goeie Herder vermag Jesus iets wat Dawid nooit kon nie. Sy losprysoffer het dit vir die mensdom moontlik gemaak om van die dood gered te word. Niks sal hom keer om as herder sy “klein kuddetjie” tot onsterflike lewe in die hemel en sy “ander skape” tot ewige lewe in ’n regverdige nuwe wêreld vry van wolfagtige vyande te lei nie.—Lees Johannes 10:27-29.

Volg die oorwinnende Koning

8. Hoe was Dawid ’n oorwinnende koning?

8 As koning was Dawid ’n onverskrokke krygsman wat die land van God se volk beskerm het, en “Jehovah het Dawid gered waar hy ook al gegaan het”. Onder Dawid se leierskap is die nasie se grense van die rivier van Egipte tot by die Eufraatrivier uitgebrei (2 Sam. 8:1-14). In Jehovah se krag het hy ’n baie magtige heerser geword. Die Bybel sê: “Dawid se roem het in al die lande begin versprei, en Jehovah het die vrees vir hom oor al die nasies laat kom.”—1 Kron. 14:17.

9. Verduidelik hoe Jesus as die aangewese Koning ’n oorwinnaar was.

9 Soos koning Dawid was die man Jesus onbevrees. As die aangewese Koning het hy sy gesag oor die demone getoon deur slagoffers uit hulle kloue te red (Mark. 5:2, 6-13; Luk. 4:36). Selfs die aartsvyand, Satan die Duiwel, het geen houvas op hom nie. Met Jehovah se ondersteuning het Jesus die wêreld, wat in Satan se mag lê, oorwin.—Joh. 14:30; 16:33; 1 Joh. 5:19.

10, 11. Wat is Jesus se rol as Stryder-Koning in die hemele?

10 Sowat 60 jaar ná Jesus se dood en opstanding tot hemelse lewe het die apostel Johannes ’n profetiese visioen ontvang van Jesus in Sy rol as Stryder-Koning in die hemele. Johannes skryf: “Kyk! ’n wit perd; en die een wat daarop sit, het ’n boog gehad; en ’n kroon is vir hom gegee, en hy het uitgegaan om te oorwin en om sy oorwinning te voltooi” (Op. 6:2). Die ruiter op die wit perd is Jesus. “’n Kroon is vir hom gegee” toe hy in 1914 in die hemelse Koninkryk as Koning op die troon geplaas is. Daarna het hy “uitgegaan om te oorwin”. Ja, soos Dawid is Jesus ’n oorwinnende koning. Kort nadat hy as Koning van God se Koninkryk gekroon is, het hy Satan in ’n geveg oorwin en hom en sy demone na die aarde neergewerp (Op. 12:7-9). Sy seëvierende tog sal voortduur totdat hy ‘sy oorwinning voltooi’ deur Satan se goddelose stelsel heeltemal te vernietig.—Lees Openbaring 19:11, 19-21.

11 Soos Dawid is Jesus egter ’n medelydende koning, en hy sal die “groot menigte” deur Armageddon heen beskerm (Op. 7:9, 14). Wat meer is, onder die heerskappy van Jesus en sy mede-erfgename, die verrese 144 000, sal daar “’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges” wees (Hand. 24:15). Diegene wat op die aarde opgewek word, sal die vooruitsig hê om vir ewig te lewe. Wat ’n wonderlike toekoms wag tog op hulle! Mag ons almal vasbeslote wees om aan te hou om te “doen wat goed is” sodat ons sal lewe wanneer die aarde vol regverdige, gelukkige onderdane van die Grotere Dawid is.—Ps. 37:27-29.

Salomo se gebed om wysheid word verhoor

12. Waarvoor het Salomo gebid?

12 Dawid se seun Salomo het Jesus ook voorafgeskadu. c Toe Salomo koning geword het, het Jehovah in ’n droom aan hom verskyn en gesê dat Hy hom enigiets sou gee waarvoor hy vra. Salomo kon vir groter rykdom, mag of ’n langer lewe gevra het. Maar hy het eerder onselfsugtig vir Jehovah gevra: “Gee my nou wysheid en kennis sodat ek voor hierdie volk kan uitgaan en sodat ek kan inkom, want wie kan hierdie groot volk van u rig?” (2 Kron. 1:7-10). Jehovah het Salomo se gebed verhoor.—Lees 2 Kronieke 1:11, 12.

13. Hoe was Salomo se wysheid ongeëwenaard, en wat was die Bron daarvan?

13 Terwyl Salomo aan Jehovah getrou was, was sy woorde van wysheid ongeëwenaard onder sy tydgenote. Salomo het “drieduisend spreuke” uitgespreek (1 Kon. 4:30, 32, 34). Baie hiervan is neergeskryf en word nog steeds hoog op prys gestel deur diegene wat wysheid soek. Die koningin van Skeba het sowat 2 400 kilometer ver gereis om Salomo se wysheid met “ingewikkelde vrae” op die proef te stel. Sy was beïndruk deur Salomo se woorde en deur die voorspoed van sy koninkryk (1 Kon. 10:1-9). Die Bybel identifiseer die Bron van Salomo se wysheid deur te sê: “Al die mense van die aarde het die aangesig van Salomo gesoek om sy wysheid te hoor wat God in sy hart geplaas het.”—1 Kon. 10:24.

Volg die wyse Koning

14. In watter opsigte was Jesus “iets meer as Salomo”?

14 Net een mens het Salomo onteenseglik in wysheid oortref. Dit was Jesus Christus, wat homself beskryf het as “iets meer as Salomo” (Matt. 12:42). Jesus het “woorde van die ewige lewe” gespreek (Joh. 6:68). Die Bergpredikasie wei byvoorbeeld uit oor die beginsels van party van Salomo se spreuke. Salomo het ’n aantal dinge beskryf wat ’n aanbidder van Jehovah geluk verskaf (Spr. 3:13; 8:32, 33; 14:21; 16:20). Jesus het beklemtoon dat ware geluk voortspruit uit dinge wat met die aanbidding van Jehovah en die vervulling van God se beloftes verband hou. Hy het gesê: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte, want die koninkryk van die hemele behoort aan hulle” (Matt. 5:3). Diegene wat die beginsels in Jesus se leringe toepas, kom nader aan Jehovah, “die bron van die lewe” (Ps. 36:9; Spr. 22:11; Matt. 5:8). Christus is die beliggaming van “die wysheid van God” (1 Kor. 1:24, 30). As die Messiaanse Koning het Jesus Christus “die gees van wysheid”.—Jes. 11:2.

15. Hoe kan ons by goddelike wysheid baat vind?

15 Hoe kan ons, as volgelinge van die Grotere Salomo, by goddelike wysheid baat vind? Aangesien Jehovah se wysheid in sy Woord geopenbaar word, moet ons ons inspan om dit te vind deur die Bybel noukeurig te bestudeer, veral die opgetekende woorde van Jesus, en deur te peins oor wat ons lees (Spr. 2:1-5). Verder moet ons aanhou om God vir wysheid te vra. God se Woord verseker ons dat ons opregte gebede om hulp verhoor sal word (Jak. 1:5). Met behulp van die heilige gees sal ons skatte van wysheid in God se Woord vind wat ons kan help om uitdagings die hoof te bied en wyse besluite te neem (Luk. 11:13). Salomo is ook “die byeenbringer” genoem wat “die volk voortdurend kennis geleer” het (Pred. 12:9, 10). Jesus, as Hoof van die Christengemeente, is ook ’n byeenbringer van sy volk (Joh. 10:16; Kol. 1:18). Daarom is dit verstandig van ons om gemeentelike vergaderinge by te woon, waar ons ‘voortdurend geleer’ word.

16. Watter ooreenkoms is daar tussen Salomo en Jesus?

16 Salomo was ’n baie bedrywige koning. Hy het ’n landwye bouprogram georganiseer en toesig gehou oor die bou van paleise, paaie, waterwerke, voorraadstede, strydwastede en stede vir die ruiters (1 Kon. 9:17-19). Die hele koninkryk het baat gevind by sy bouwerk. Jesus is ook ’n bouer. Hy het sy gemeente op die “rots” gebou (Matt. 16:18). Hy sal ook toesig hou oor die bouwerk wat in die nuwe wêreld gedoen sal word.—Jes. 65:21, 22.

Volg die Koning van vrede

17. (a) Wat was ’n uitsonderlike kenmerk van Salomo se heerskappy? (b) Wat kon Salomo nie doen nie?

17 Die naam Salomo kom van ’n grondwoord wat “vrede” beteken. Koning Salomo het vanuit Jerusalem regeer, waarvan die naam “Besitting van tweevoudige vrede” beteken. Sy 40 jaar lange bewind is gekenmerk deur ongeëwenaarde vrede in die nasie Israel. Die Bybel sê van daardie jare: “Juda en Israel het in veiligheid gewoon, elkeen onder sy eie wingerdstok en onder sy eie vyeboom, van Dan tot Berseba, al die dae van Salomo” (1 Kon. 4:25). Nogtans kon Salomo, met al sy wysheid, nie sy onderdane van die boeie van siekte, sonde en die dood bevry nie. Die Grotere Salomo sal egter sy onderdane van al hierdie dinge bevry.—Lees Romeine 8:19-21.

18. Watter toestande geniet ons in die Christengemeente?

18 Ons geniet nou reeds vreedsame toestande in die Christengemeente. Ja, ons geniet ’n ware geestelike paradys. Ons verkeer in vrede met God en met ons medemens. Let op wat Jesaja geprofeteer het oor die toestande wat ons vandag ondervind: “Hulle sal van hulle swaarde ploegskare moet smee en van hulle spiese snoeimesse. Nasie sal nie teen nasie die swaard ophef nie, en ook sal hulle nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jes. 2:3, 4). Deur in ooreenstemming met God se gees op te tree, dra ons by tot die prag van die geestelike paradys.

19, 20. Watter redes het ons om ons te verbly?

19 Maar die toekoms sal nog beter wees. Terwyl gehoorsame mense vrede op ongeëwenaarde skaal onder Jesus se heerskappy geniet, sal hulle geleidelik “van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak” word totdat hulle menslike volmaaktheid bereik (Rom. 8:21). Nadat hulle die finale toets aan die einde van die Duisendjarige Heerskappy geslaag het, sal “die sagmoediges . . . die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede” (Ps. 37:11; Op. 20:7-10). Ja, Christus Jesus se heerskappy sal Salomo s’n oortref op maniere wat ons ons nog nie eers kan voorstel nie!

20 Soos Israel hulle onder die toesig van Moses, Dawid en Salomo verbly het, sal ons ons nog meer onder Christus se heerskappy verbly (1 Kon. 8:66). Alle dank kom Jehovah toe omdat hy sy enigverwekte Seun—die Grotere Moses, Dawid en Salomo—aan ons voorsien het!

[Voetnote]

a Die naam Dawid beteken waarskynlik “Geliefde”. By Jesus se doop en toe weer by sy gedaanteverandering het Jehovah uit die hemel gepraat en hom “my Seun, die geliefde,” genoem.—Matt. 3:17; 17:5.

b Dawid het terselfdertyd soos ’n vertrouende lam geword. Hy het op die Groot Herder, Jehovah, staatgemaak vir beskerming en leiding. “Jehovah is my Herder”, het hy met volkome vertroue gesê. “Niks sal my ontbreek nie” (Ps. 23:1). Johannes die Doper het Jesus as “die Lam van God” geïdentifiseer.—Joh. 1:29.

c Interessant genoeg, ’n tweede naam vir Salomo was Jedidja, wat “Geliefde van Jah” beteken.—2 Sam. 12:24, 25.

Kan jy verduidelik?

• Hoe is Jesus die Grotere Dawid?

• Hoe is Jesus die Grotere Salomo?

• Wat waardeer jy omtrent die Grotere Dawid, wat ook die Grotere Salomo is?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 31]

Salomo se godgegewe wysheid het die Grotere Salomo se wysheid voorafgeskadu

[Prent op bladsy 32]

Jesus se heerskappy sal Salomo en Dawid se heerskappy oortref op maniere wat ons ons nog nie eers kan voorstel nie!