Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ittai—’n Voorbeeld van lojaliteit

Ittai—’n Voorbeeld van lojaliteit

Ittai—’n Voorbeeld van lojaliteit

“GROOT en wonderbaar is u werke, Jehovah God, die Almagtige. Regverdig en waaragtig is u weë, Koning van die ewigheid. Wie sal u nie werklik vrees nie, Jehovah, en u naam nie verheerlik nie, want u alleen is lojaal?” Hierdie lied, wat in die hemel gesing is deur ‘dié wat oor die wilde dier en oor sy beeld geseëvier het’, vestig die aandag op God se lojaliteit (Op. 15:2-4). Jehovah wil hê dat sy aanbidders hom moet navolg deur hierdie begeerlike eienskap te openbaar.—Ef. 4:24.

Satan die Duiwel doen daarenteen alles in sy vermoë om God se aardse knegte te skei van die liefde van die God wat hulle aanbid. Nietemin het baie selfs onder uiters moeilike omstandighede aan God lojaal gebly. Hoe dankbaar kan ons tog wees dat Jehovah sulke toegewydheid hoog op prys stel! Ja, ons word verseker: “Jehovah het geregtigheid lief, en hy sal sy lojales nie verlaat nie” (Ps. 37:28). Om ons te help om lojaal te bly, het hy ’n verslag van die dade van talle lojales in sy Woord ingesluit. Een van hierdie verslae is dié van Ittai, die Gittiet.

‘’n Uitlander en uit sy plek verban’

Ittai was vermoedelik afkomstig van die bekende Filistynse stad Gat, die tuiste van die reus Goliat en ander gedugte vyande van Israel. Die eerste keer dat ons in die Bybel van die ervare krygsman Ittai lees, is tydens Absalom se opstand teen koning Dawid. Ittai en 600 Filistynse manne wat hom gevolg het, het toe as ballinge in die omgewing van Jerusalem gewoon.

Ittai en sy volgelinge se situasie het Dawid dalk laat terugdink aan sy eie dae as ’n uitgeweke vlugteling toe hy en 600 Israelitiese krygsmanne na Filistynse gebied gegaan en in Agis, die koning van Gat, se gebied gaan woon het (1 Sam. 27:2, 3). Wat sou Ittai en sy manne doen terwyl Dawid met sy seun Absalom se opstand te kampe het? Sou hulle hulle by Absalom skaar, neutraal bly of hulle lot inwerp met Dawid en sy manne?

Stel jou die toneel voor: Dawid vlug uit Jerusalem en stop by ’n plek genaamd Bet-Merhak, wat “Die ver huis” beteken. Dit is dalk die laaste huis in Jerusalem in die rigting van die Olyfberg voordat hulle die Kidronvallei oorsteek (2 Sam. 15:17; vtn. in NW). Hier bekyk Dawid sy troepe terwyl hulle verbygaan. Kyk! Daar is nie net lojale Israeliete saam met hom nie, maar ook al die Keretiete en al die Peletiete. Wat meer is, al die Gittiete is daar—Ittai en sy 600 krygsmanne.—2 Sam. 15:18.

Met opregte empatie sê Dawid vir Ittai: “Waarom sou jy ook saam met ons gaan? Gaan terug en woon by die koning [blykbaar met verwysing na Absalom]; want jy is ’n uitlander en jy is buitendien uit jou plek verban. Gister het jy gekom, en sal ek jou vandag saam met ons laat rondswerf, om saam te gaan wanneer ek gaan waarheen ek ook al gaan? Gaan terug en neem jou broers saam met jou terug, en mag Jehovah liefderyke goedhartigheid en trou teenoor jou bewys!”—2 Sam. 15:19, 20.

Ittai verklaar sy onwrikbare lojaliteit. Hy antwoord: “So waar as Jehovah lewe en so waar as my heer die koning lewe, op die plek waar my heer die koning sal wees, hetsy vir dood of vir lewe, daar sal u kneg wees!” (2 Sam. 15:21). Dit het Dawid moontlik herinner aan soortgelyke woorde wat sy oumagrootjie Rut geuiter het (Rut 1:16, 17). Ittai se woorde raak sy hart, en Dawid sê vir hom: “Gaan en trek oor” die Kidronvallei. “Toe het Ittai, die Gittiet, oorgetrek, en ook al sy manne en al die kindertjies wat by hom was.”—2 Sam. 15:22.

“Tot ons onderrigting”

“Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf”, sê Romeine 15:4. Ons kan ons dus gerus afvra: Watter lesse kan ons uit Ittai se voorbeeld leer? Kyk na wat hom moontlik beweeg het om aan Dawid lojaal te wees. Hoewel hy ’n uitlander was en uit Filistea verban is, het Ittai Jehovah as die lewende God en Dawid as Jehovah se gesalfde erken. Ittai kon verder kyk as die vyandigheid wat tussen die Israeliete en die Filistyne bestaan het. Hy het Dawid nie net beskou as iemand wat die Filistynse baasvegter Goliat en baie van Ittai se landgenote doodgemaak het nie (1 Sam. 18:6, 7). Ittai het Dawid beskou as ’n man wat Jehovah liefhet en het ongetwyfeld Dawid se merkwaardige eienskappe raakgesien. Op sy beurt het Dawid hoë agting vir Ittai gehad. Dawid het selfs ’n derde van sy manskappe “onder die hand van Ittai” geplaas in die beslissende geveg teen Absalom se manskappe!—2 Sam. 18:2.

Ons moet ook verder as kultuur-, rasse- of etniese verskille—enige oorblywende vooroordeel en vyandigheid—probeer kyk en die goeie eienskappe in ander raaksien. Die band wat tussen Dawid en Ittai ontstaan het, toon dat ons hierdie struikelblokke kan oorkom as ons Jehovah leer ken en liefhet.

Wanneer ons oor Ittai se voorbeeld nadink, kan ons ons afvra: ‘Openbaar ek sulke lojale gehegtheid aan die Grotere Dawid, Christus Jesus? Toon ek my lojaliteit deur ywerig deel te neem aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk?’ (Matt. 24:14; 28:19, 20). ‘Hoe ver is ek bereid om te gaan om my lojaliteit te bewys?’

Gesinshoofde vind ook baat deur oor Ittai se voorbeeld van lojaliteit te peins. Sy getrouheid aan Dawid en sy besluit om saam met God se gesalfde koning te gaan, het ’n uitwerking op Ittai se manne gehad. Die besluite wat gesinshoofde ter ondersteuning van ware aanbidding neem, het eweneens ’n uitwerking op hulle gesin en kan selfs tydelike ontberinge meebring. Nogtans word ons verseker: “Met iemand wat lojaal is, sal [Jehovah] lojaal handel.”—Ps. 18:25.

Ná Dawid se geveg met Absalom sê die Skrif niks verder oor Ittai nie. Die vlugtige vermelding van hom in God se Woord bied nietemin merkwaardige insig in sy karakter gedurende hierdie moeilike tyd in Dawid se lewe. Die feit dat Ittai in die geïnspireerde verslag genoem word, bewys dat Jehovah sulke lojaliteit erken en beloon.—Heb. 6:10.