Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jongmense—Maak julle vooruitgang duidelik

Jongmense—Maak julle vooruitgang duidelik

Jongmense—Maak julle vooruitgang duidelik

“Peins oor hierdie dinge; wees verdiep daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.”—1 TIM. 4:15.

1. Wat wil God vir jongmense hê?

 “O JONGELING, geniet die lewe terwyl jy jonk is! Laat jou hart jou lei om genot in die dae van jou jeug te vind” (Pred. 11:9, Tanakh—The Holy Scriptures). Dit is wat die wyse koning Salomo van eertydse Israel geskryf het. Die Bron van hierdie boodskap, Jehovah God, wil beslis hê dat julle as jongmense gelukkig moet wees. Wat meer is, Jehovah wil hê dat julle vreugde ná julle jeug moet voortduur. Maar hierdie jeugjare word dikwels bederf deur pynlike foute wat ’n mens se toekomstige geluk kan raak. Selfs die getroue Job het dit betreur dat hy “die gevolge van die oortredings van [sy] jeug” moes dra (Job 13:26). Gedurende adolessensie en die daaropvolgende vroeë jare van die lewe moet ’n jong Christen dikwels gewigtige besluite neem. Swak oordeel kan diep emosionele letsels laat en probleme skep wat die res van sy lewe kan beïnvloed.—Pred. 11:10.

2. Deur watter Bybelraad toe te pas, kan jongmense ernstige foute vermy?

2 Jongmense moet goeie oordeel aan die dag lê. Kyk na die raad wat die apostel Paulus aan die Korintiërs gegee het. Hy het geskryf: “Moenie jong kinders in begripsvermoëns word nie . . . [Word] volgroeid in begripsvermoëns” (1 Kor. 14:20). As jongmense ag slaan op die raad om die vermoë te ontwikkel om soos ’n volwassene te dink en te redeneer, sal dit hulle help om ernstige foute te vermy.

3. Wat kan jy doen om volwasse te word?

3 As jy ’n jongmens is, moet jy in gedagte hou dat dit inspanning verg om volwasse te word. Paulus het vir Timoteus gesê: “Laat geen mens ooit op jou jeug neersien nie. Inteendeel, wees ’n voorbeeld vir die getroues in woord, in gedrag, in liefde, in geloof, in kuisheid. . . . [Gaan voort] om jou toe te lê op openbare voorlesing, op vermaning, op onderrigting. . . . Peins oor hierdie dinge; wees verdiep daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees” (1 Tim. 4:12-15). Jong Christene moet vordering maak en hulle vooruitgang vir ander duidelik maak.

Wat is vooruitgang?

4. Wat behels geestelike vooruitgang?

4 Om vooruitgang te maak, is om “te vorder, om ten goede te verander”. Paulus het Timoteus aangespoor om hom voortdurend daarop toe te lê om vooruitgang te maak in spraak, gedrag, liefde, geloof en kuisheid sowel as in die manier waarop hy sy bediening vervul. Hy moes daarna streef om ’n voorbeeldige lewe te lei. Timoteus moes dus aanhou om geestelike vooruitgang te maak.

5, 6. (a) Wanneer het Timoteus se vooruitgang duidelik begin word? (b) Hoe kan jongmense van vandag Timoteus navolg wat vooruitgang betref?

5 Toe Paulus hierdie raad die een of ander tyd tussen 61 en 64 G.J. neergeskryf het, was Timoteus reeds ’n ervare ouer man. Hy het nie maar net begin om geestelike vooruitgang te maak nie. In 49 of 50 G.J., toe Timoteus waarskynlik in sy laat tienerjare of vroeë twintigerjare was, is hy “gunstig vermeld deur die broers in Listra en Ikonium”, wat sy geestelike vordering gesien het (Hand. 16:1-5). Dit was toe dat Paulus vir Timoteus saamgeneem het op sy sendingreis. Nadat hy Timoteus se verdere vordering ’n paar maande lank waargeneem het, het Paulus hom na Tessalonika gestuur om die Christene in hierdie stad te vertroos en standvastig te maak. (Lees 1 Tessalonisense 3:1-3, 6.) Timoteus het klaarblyklik sy vooruitgang aan ander begin duidelik maak toe hy nog ’n jong persoon was.

6 Jongmense in die gemeente, julle moet julle inspan om nou die nodige geestelike eienskappe aan te kweek sodat julle vooruitgang in die Christelike lewenswyse en julle vermoë om Bybelwaarhede aan ander te leer, duidelik gesien kan word. Jesus het van 12-jarige ouderdom af “deurentyd toegeneem in wysheid” (Luk. 2:52). Kom ons kyk hoe julle julle vooruitgang duidelik kan maak op drie gebiede van julle lewe: (1) wanneer julle met teëspoed te kampe het, (2) terwyl julle julle vir die huwelik voorberei en (3) terwyl julle daarna streef om ‘goeie bedienaars’ te word.—1 Tim. 4:6.

Bied teëspoed die hoof met “gesonde verstand”

7. Watter uitwerking kan teëspoed op jongmense hê?

7 ’n Sewentienjarige Christen genaamd Carol het gesê: “Soms was ek emosioneel, liggaamlik en verstandelik so uitgeput dat ek soggens nie wou wakker word nie.” a Waarom was sy so gespanne? Toe Carol tien jaar oud was, het hulle gesin weens ’n egskeiding verbrokkel, en sy moes by haar ma gaan woon, wat die Bybel se sedelike standaarde verwerp het. Soos Carol, het jy dalk te kampe met uiters stresvolle situasies, met min hoop dat dit sal verbeter.

8. Met watter ongunstige omstandighede het Timoteus te kampe gehad?

8 Terwyl Timoteus geestelike vordering gemaak het, het hy ook met ongunstige omstandighede te kampe gehad. Hy het byvoorbeeld weens maagprobleme “herhaalde gevalle van siekte” ondervind (1 Tim. 5:23). Toe Paulus hom na Korinte gestuur het om sekere probleme te hanteer, wat veroorsaak is deur persone wat die apostel se gesag bevraagteken het, het Paulus die gemeente aangespoor om hulle samewerking te gee, sodat Timoteus “vry van vrees” onder hulle sou wees (1 Kor. 4:17; 16:10, 11). Timoteus was blykbaar skaam, of teruggetrokke.

9. Wat is gesonde verstand, en hoe verskil dit van ’n gees van lafhartigheid?

9 Om Timoteus te help, het Paulus hom later herinner: “God het ons nie ’n gees van lafhartigheid gegee nie, maar van krag en van liefde en van gesonde verstand” (2 Tim. 1:7). “Gesonde verstand” behels die vermoë om verstandig te dink en te redeneer. Dit sluit die vermoë in om dinge te aanvaar soos dit is—nie soos jy wil hê dit moet wees nie. Party onvolwasse jongmense openbaar ’n gees van lafhartigheid en probeer verstandelik ontvlug van stresvolle situasies deur middel van oormatige slaap of TV-kykery, dwelm- of drankmisbruik, die een partytjie ná die ander of geslagsonsedelikheid. Christene word gemaan “om goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp en om met gesonde verstand en regverdigheid en godvrugtige toegewydheid te midde van hierdie teenswoordige stelsel van dinge te lewe”.—Tit. 2:12.

10, 11. Hoe help gesonde verstand ons om geestelike krag op te bou?

10 Die Bybel vermaan “jonger manne . . . om gesond van verstand te wees” (Tit. 2:6). As jy aan hierdie raad gehoor gee, beteken dit dat jy probleme biddend onder die oë sal sien en op godgegewe krag sal staatmaak. (Lees 1 Petrus 4:7.) Jy sal dus hartgrondige vertroue opbou in “die krag wat God verskaf”.—1 Pet. 4:11.

11 Gesonde verstand en gebed het Carol gehelp. “Een van die moeilikste dinge wat ek nog moes doen, was om my standpunt teen my ma se onsedelike lewenswyse in te neem”, het sy gesê. “Maar gebed het regtig gehelp. Ek weet dat Jehovah met my is, en daarom is ek nie meer bang nie.” Onthou, teëspoed kan jou louter en versterk (Ps. 105:17-19; Klaagl. 3:27). Ongeag wat jy deurmaak, God sal jou nooit in die steek laat nie. Hy sal “jou werklik help”.—Jes. 41:10.

Berei voor vir ’n suksesvolle huwelik

12. Waarom moet ’n Christen wat dit oorweeg om te trou, die beginsel in Spreuke 20:25 toepas?

12 Party jong volwassenes het oorhaastig getrou omdat hulle geglo het dat dit die oplossing is vir ongelukkigheid, eensaamheid, verveeldheid en probleme by die huis. Maar om ’n huweliksgelofte af te lê, is ’n ernstige saak. Party in Bybeltye het oorhaastig ’n heilige gelofte afgelê sonder om noukeurig te ontleed wat dit behels. (Lees Spreuke 20:25.) Jong volwassenes dink soms nie ernstig na oor die eise van ’n huwelik nie. Later vind hulle uit dat daar baie meer by betrokke is as wat hulle besef het.

13. Watter vrae moet dié wat ’n romantiese verhouding oorweeg, hulle afvra, en watter nuttige raad is vir hulle beskikbaar?

13 Voordat jy dus by ’n romantiese verhouding betrokke raak, moet jy jou afvra: ‘Waarom wil ek trou? Watter verwagtinge het ek? Is dit die regte persoon vir my? Wat kan ek tot die huwelik bydra?’ Om jou te help om ’n indringende ondersoek te doen, het “die getroue en verstandige slaaf” uiters spesifieke artikels gepubliseer (Matt. 24:45-47). b Beskou hierdie materiaal as raad wat Jehovah jou gee. Oorweeg noukeurig wat dit sê en pas dit toe. Moet nooit toelaat dat jy “soos ’n perd of ’n muil sonder verstand” word nie (Ps. 32:8, 9). Word volgroeid in jou begrip van die eise van die huwelik. As jy voel dat jy gereed is om ’n romantiese verhouding aan te knoop, moet jy altyd onthou om “’n voorbeeld . . . in kuisheid” te wees.—1 Tim. 4:12.

14. Hoe kan geestelike vooruitgang jou help as jy trou?

14 Geestelike volwassenheid lei ook tot sukses die troue. ’n Volgroeide Christen streef daarna om “die mate van die groei wat tot die volheid van die Christus behoort”, te bereik (Ef. 4:11-14). Hy span hom in om ’n Christelike persoonlikheid aan te kweek. As ons Voorbeeld het ‘die Christus homself nie behaag nie’ (Rom. 15:3). Wanneer albei huweliksmaats aanhou om nie hulle eie voordeel te soek nie, maar dié van die ander, sal die gesinslewe ’n hawe van vrede en vertroosting wees (1 Kor. 10:24). ’n Man sal selfopofferende liefde toon, en ’n vrou sal vasbeslote wees om aan haar man onderdanig te wees soos Jesus aan sy Hoof onderdanig is. —1 Kor. 11:3; Ef. 5:25.

“Voer jou bediening ten volle uit”

15, 16. Hoe kan jy jou vooruitgang in die bediening duidelik maak?

15 Paulus het die aandag op Timoteus se belangrike toewysing gevestig en geskryf: “Ek gelas jou plegtig voor God en Christus Jesus, . . . verkondig die woord, bly dringend daarmee besig.” Hy het bygevoeg: “Doen die werk van ’n evangeliedienaar, voer jou bediening ten volle uit” (2 Tim. 4:1, 2, 5). Om hierdie opdrag uit te voer, moes Timoteus “gevoed word met die woorde van die geloof”.—Lees 1 Timoteus 4:6.

16 Hoe kan jy “gevoed word met die woorde van die geloof”? Paulus het geskryf: “[Gaan voort] om jou toe te lê op openbare voorlesing, op vermaning, op onderrigting. Peins oor hierdie dinge; wees verdiep daarin” (1 Tim. 4:13, 15). Verbetering verg ywerige persoonlike studie. Die uitdrukking “wees verdiep” dra die gedagte oor van ten volle betrokke te wees by ’n taak. Wat is jou studiegewoontes? Is jy verdiep in “die diep dinge van God”? (1 Kor. 2:10). Of doen jy net die minimum? Bepeinsing oor wat jy bestudeer, sal jou hart raak.—Lees Spreuke 2:1-5.

17, 18. (a) Watter vermoëns moet jy probeer ontwikkel? (b) Hoe sal dit jou in die bediening help as jy dieselfde gesindheid as Timoteus aankweek?

17 ’n Jong pionier genaamd Michelle het gesê: “Om werklik doeltreffend te wees in die bediening, het ek ’n goeie rooster vir persoonlike studie, en ek is gereeld by die vergaderinge. Gevolglik groei ek voortdurend geestelik.” Pionierdiens sal jou beslis help om die Bybel beter te gebruik in die bediening en om geestelike vooruitgang te maak. Streef daarna om ’n goeie leser te wees en om betekenisvolle kommentare by Christelike vergaderinge te lewer. As ’n geestelik volwasse jongmens sal jy leersame studentetoesprake vir die Teokratiese Bedieningskool wil voorberei, terwyl jy by die toegewese materiaal bly.

18 ‘Om die werk van ’n evangeliedienaar te doen’, beteken dat jy jou bediening doeltreffender sal maak en ander sal help om redding te verkry. Dit vereis dat jy die “onderrigkuns” moet aankweek (2 Tim. 4:2). As jy reël om velddiens te doen saam met diegene wat bedrewe is in hierdie werk, sal jy uit hulle onderrigmetodes kan leer, soos Timoteus geleer het deur saam met Paulus te werk (1 Kor. 4:17). Met verwysing na diegene wat hy gehelp het, het Paulus gesê dat hy nie net die goeie nuus aan hulle meegedeel het nie, maar ook van sy ‘eie siel’ gegee het, oftewel sy lewe gebruik het om hulle te help, omdat hulle by hom gelief geword het (1 Tess. 2:8). As jy Paulus se voorbeeld in die bediening wil navolg, moet jy dieselfde gesindheid as Timoteus hê, wat opreg vir ander omgegee het en “soos ’n slaaf gedien het ter bevordering van die goeie nuus”. (Lees Filippense 2:19-23.) Openbaar jy hierdie selfopofferende gees in jou bediening?

Vooruitgang bring ware tevredenheid mee

19, 20. Waarom bring geestelike vooruitgang vreugde mee?

19 Dit verg inspanning om geestelike vooruitgang te maak. Maar deur geduldig jou onderrigvermoë te ontwikkel, sal jy mettertyd die voorreg hê om ‘talle ryk te maak’ in geestelike sin, en hulle sal jou “vreugde of kroon van verheuging” word (2 Kor. 6:10; 1 Tess. 2:19). “Ek bestee meer tyd as ooit tevore daaraan om ander te help”, het Fred, ’n voltydse bedienaar, verduidelik. “Dit is beslis waar dat dit groter geluk verskaf om te gee as om te ontvang.”

20 Aangaande die vreugde en tevredenheid wat geestelike groei haar verskaf het, het ’n jong pionier genaamd Daphne gesê: “Ek het ’n baie hegter verhouding met Jehovah opgebou namate ek hom as ’n Persoon leer ken het. Wanneer jy jou bes doen om Jehovah te behaag, voel jy baie goed—werklik tevrede!” Hoewel mense nie altyd geestelike vooruitgang raaksien nie, sien en waardeer Jehovah dit altyd (Heb. 4:13). As jong Christene kan julle ongetwyfeld heerlikheid en lof aan ons hemelse Vader bring. Hou aan om sy hart bly te maak terwyl julle julle vooruitgang werklik duidelik maak.—Spr. 27:11.

[Voetnote]

a Van die name is verander.

b “Is hierdie persoon reg vir my?” in die boek Vrae wat jongmense vraAntwoorde wat werk, Deel 2; “Goddelike leiding om ’n huweliksmaat te kies” in Die Wagtoring van 15 Mei 2001; en “Hoe verstandig is ’n tienerhuwelik?” in die Ontwaak! van 22 Januarie 1984.

Wat het jy geleer?

• Wat behels dit om geestelike vooruitgang te maak?

• Hoe kan jy jou vooruitgang duidelik maak . . . 

wanneer jy met teëspoed te kampe het?

terwyl jy jou vir die huwelik voorberei?

in die bediening?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 15]

Gebed kan jou help om teëspoed die hoof te bied

[Prent op bladsy 16]

Hoe kan jong verkondigers doeltreffende onderrigmetodes ontwikkel?