Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Delegeer—Waarom en hoe?

Delegeer—Waarom en hoe?

Delegeer—Waarom en hoe?

DELEGERING het ’n langer geskiedenis as die aarde. Jehovah het sy enigverwekte Seun geskep en toe sy Seun as “’n meesterwerker” gebruik en die heelal gemaak (Spr. 8:22, 23, 30; Joh. 1:3). Toe God die eerste mensepaar geskep het, het hy vir hulle gesê: “Vul die aarde en onderwerp dit” (Gen. 1:28). Die Skepper het die mens die werk gegee om die Paradys van Eden uit te brei om die hele aarde te vul. Ja, van die begin af was delegering ’n kenmerk van Jehovah se organisasie.

Wat behels dit om te delegeer? Waarom moet Christen- ouer manne leer om sekere gemeentelike take aan ander te delegeer, en hoe kan hulle dit doen?

Wat beteken dit om te delegeer?

“Om te delegeer” beteken “om aan iemand toe te vertrou; om as jou verteenwoordiger aan te stel; om verantwoordelikheid of gesag toe te ken” (Merriam-Webster’s Collegiate Dictionary, 11de uitgawe). Delegering beteken dus dat ander betrek word om doelwitte te bereik. Dit lei uiteraard daartoe dat gesag gedeel word.

Daar word van dié aan wie ’n taak in die Christengemeente gegee word, verwag om die toewysing uit te voer, om vorderingsverslae te gee en gewoonlik om die een te raadpleeg wat die taak gedelegeer het. Die eintlike verantwoordelikheid lê egter by die aangestelde broer wat die werk gedelegeer het. Hy moet die vordering monitor en raad gee wanneer nodig. Maar party vra dalk: ‘Waarom sou jy ’n taak delegeer as jy dit self kan doen?’

Waarom delegeer?

Dink aan Jehovah wat sy enigverwekte Seun geskep het en hom toe by die res van die skeppingswerk betrek het. Ja, “deur middel van hom is alle ander dinge in die hemele en op die aarde geskep, die sigbare dinge en die onsigbare dinge” (Kol. 1:16). Die Skepper kon alles self gedoen het, tog het hy besluit om sy Seun te laat deel in die vreugde om produktiewe werk te doen (Spr. 8:31). Dit het die Seun gehelp om meer omtrent God se eienskappe te leer. In sekere sin het die Vader van die geleentheid gebruik gemaak om sy enigverwekte Seun op te lei.

Toe Jesus Christus op die aarde was, het hy sy Vader nagevolg deur verantwoordelikheid te delegeer. Hy het sy dissipels geleidelik opgelei. Hy het die 12 apostels en later 70 ander dissipels voor hom uit gestuur om die voortou in die predikingswerk te neem (Luk. 9:1-6; 10:1-7). Toe Jesus later by dié plekke aangekom het, was ’n goeie grondslag reeds gelê waarop hy kon voortbou. Toe hy die aarde verlaat het, het Jesus groter verantwoordelikhede, insluitende die wêreldwye predikingswerk, aan sy opgeleide dissipels gedelegeer.—Matt. 24:45-47; Hand. 1:8.

Delegering en opleiding het kenmerke van die Christengemeente geword. Die apostel Paulus het vir Timoteus gesê: “Vertrou [hierdie dinge] aan getroue mense toe, wat op hulle beurt voldoende bekwaam sal wees om ander te leer” (2 Tim. 2:2). Ja, ervare persone moet diegene oplei wat op hulle beurt weer ander sal oplei.

As ’n ouer man van sy toegewese werk delegeer, kan hy die vreugde om te onderrig en oor die kudde toesig te hou, met ander deel. Die besef dat menslike vermoëns beperk is, gee ouer manne selfs meer rede om ander te vra om met gemeentelike verantwoordelikhede te help. Die Bybel sê: “Wysheid is by die beskeidenes” (Spr. 11:2). Beskeidenheid sluit ’n bewustheid van jou beperkings in. As jy alles self probeer doen, kan dit jou uitput en jou gesin beroof van die tyd wat jy andersins met hulle sou kon deurbring. Dit is dus beslis verstandig om die verantwoordelikheidslas te deel. Neem byvoorbeeld die broer wat dien as die koördineerder van die liggaam van ouer manne. Hy kan ander ouer manne vra om die gemeente se rekeninge te ouditeer. Deur die verslae na te gaan, kan hierdie ouer manne vertroud raak met die gemeente se finansiële situasie.

Hoewel delegering ander ’n geleentheid gee om die nodige vaardighede en ondervinding op te doen, stel dit ook die een wat die verantwoordelikheid gedelegeer het, in staat om die vermoëns waar te neem van diegene wat die taak ontvang het. Deur gepaste take in die gemeente te delegeer, kan die ouer manne dus voornemende bedieningsknegte op die proef stel “wat hulle geskiktheid betref”.—1 Tim. 3:10.

Laastens, deur te delegeer, toon ouer manne hulle vertroue in ander. Paulus het Timoteus opgelei deur in die sendingdiens saam met hom te werk. ’n Hegte band het tussen die twee mans ontwikkel. Paulus het Timoteus “’n ware kind in die geloof” genoem (1 Tim. 1:2). ’n Hegte band is eweneens tussen Jehovah en Jesus gesmee terwyl hulle saam gewerk het om alle ander dinge te skep. Deur werk aan ander toe te vertrou, kan ouer manne ’n hartlike verhouding met hulle opbou.

Waarom party huiwer

Hoewel hulle bewus is van die voordele, vind party ouer manne dit moeilik om te delegeer en huiwer hulle moontlik omdat hulle voel dat hulle van hulle gesag prysgee. Hulle dink dalk dat hulle altyd self aan die stuur van sake moet wees. Maar onthou dat Jesus voor sy hemelvaart aan sy dissipels die gesag gegee het om ’n gewigtige toewysing uit te voer, in die wete dat hulle groter werke as syne sou doen!—Matt. 28:19, 20; Joh. 14:12.

Ander ouer manne het dalk in die verlede take gedelegeer, maar nie bevredigende resultate gesien nie. Hulle voel moontlik dat hulle die taak self beter en vinniger kan doen. Maar dink aan Paulus se voorbeeld. Hy het geweet hoe voordelig dit is om te delegeer, maar het ook besef dat dié wat opgelei word, nie altyd aan sy verwagtinge sal voldoen nie. Op sy eerste sendingreis het Paulus sy jong reisgenoot, Markus, opgelei. Paulus was baie teleurgesteld toe Markus sy toewysing verlaat het en teruggekeer het huis toe (Hand. 13:13; 15:37, 38). Dit het Paulus nogtans nie verhinder om ander op te lei nie. Soos reeds genoem is, het hy die jong Christen Timoteus genooi om sy reisgenoot te wees. Toe Timoteus gereed was om groter verantwoordelikheid te dra, het Paulus hom in Efese agtergelaat en hom die gesag gegee om gemeentelike opsieners en bedieningsknegte aan te stel.—1 Tim. 1:3; 3:1-10, 12, 13; 5:22.

Hedendaagse ouer manne moet eweneens nie ophou om broers op te lei net omdat een van hulle nie goed reageer nie. Dit is verstandig en belangrik om te leer om ander te vertrou en hulle op te lei. Maar watter faktore moet ouer manne in gedagte hou wanneer hulle delegeer?

Hoe om te delegeer

Wanneer jy verantwoordelikhede delegeer, moet jy die bekwaamhede van die broers wat jy in gedagte het, in ag neem. Toe daar ’n behoefte ontstaan het om na die daaglikse uitdeling van voedsel in Jerusalem om te sien, het die apostels ‘sewe manne van goeie getuienis, vol gees en wysheid’, gekies (Hand. 6:3). As jy ’n onbetroubare persoon vra om ’n taak te verrig, sal hy dit dalk eenvoudig nie doen nie. Delegeer dus eers klein takies. Wanneer ’n persoon getrou is, sal hy moontlik meer verantwoordelikheid kan behartig.

Maar daar is meer by betrokke. Persoonlikhede en vermoëns verskil. Ondervinding verskil ook van persoon tot persoon. ’n Broer met ’n vriendelike, aangename gesindheid doen dalk goed as ’n saalwagter, terwyl een wat ordelik en metodies is, moontlik ’n groot hulp sal wees as ’n assistent vir die gemeentelike sekretaris. ’n Kunstige suster kan gevra word om die blomme vir die Gedenkmaal te rangskik.

Wanneer verantwoordelikhede toegewys word, moet duidelike riglyne gegee word. Voordat Johannes die Doper boodskappers na Jesus toe gestuur het, het hy aan hulle verduidelik wat hy wou weet en hoe om die vraag te bewoord (Luk. 7:18-20). Toe Jesus daarenteen sy dissipels beveel het om die oorskiet bymekaar te maak van die kos wat wonderdadig voorsien is, het hy die besonderhede aan hulle oorgelaat (Joh. 6:12, 13). Baie hang af van die soort taak en die vermoëns van die helper. Die een wat delegeer sowel as die een wat gevra word om die taak te verrig, moet verstaan watter resultate verwag word en hoe dikwels vorderingsverslae gelewer moet word. Albei moet weet in watter mate die persoon wat die taak verrig, sy eie oordeel kan gebruik. As die taak teen ’n sekere datum klaar moet wees, sal dit dalk ’n groter aansporing wees om die sperdatum eerder te bespreek en saam vas te stel as om dit eenvoudig voor te skryf.

Die een wat die taak moet verrig, moet die nodige geld, gereedskap en hulp ontvang. Dit sal dalk help om ander van die reëling te vertel. Toe Jesus “die sleutels van die koninkryk van die hemele” aan Petrus toevertrou het, het hy dit voor die ander dissipels gedoen (Matt. 16:13-19). In party gevalle kan dit eweneens goed wees om die gemeente in te lig oor wie vir ’n sekere taak verantwoordelik is.

Maar wees ook versigtig. As jy steeds beheer probeer uitoefen oor die taak wat jy aan iemand gedelegeer het, sê jy as ’t ware vir hom: “Ek vertrou jou nie werklik nie.” Soms is die resultaat weliswaar nie presies wat jy in gedagte gehad het nie. Maar as die broer aan wie ’n verantwoordelikheid toevertrou is, speling gegee word, sal hy waarskynlik selfvertroue en ondervinding opbou. Dit beteken natuurlik nie dat jy nie moet belangstel in hoe hy die taak verrig nie. Hoewel Jehovah sy Seun by die skeppingsproses betrek het, was Hy nog steeds betrokke by die werk. Hy het vir die Meesterwerker gesê: “Laat ons mense maak na ons beeld” (Gen. 1:26). Ondersteun dus die werk wat gedoen word met woord en daad en prys die persoon vir sy pogings. ’n Kort oorsig van die resultaat kan hom help. As die werk nie behoorlik gedoen word nie, moet jy nie huiwer om bykomende raad of hulp te gee nie. Onthou, die uiteindelike verantwoordelikheid lê by jou as die een wat delegeer.—Luk. 12:48.

Baie het al daarby baat gevind dat gemeentelike take aan hulle gedelegeer is deur ouer manne wat opregte belangstelling in hulle toon. Ja, alle ouer manne moet leer waarom en hoe om te delegeer, in navolging van Jehovah.

[Venster op bladsy 29]

DELEGERING IS

• ’n manier om die vreugde van ’n voltooide taak te deel

• ’n manier om meer uit te rig

• ’n blyk van wysheid en beskeidenheid

• ’n manier om ander op te lei

• ’n manier om vertroue in ander te toon

[Venster op bladsy 30]

HOE OM TE DELEGEER

• Kies gepaste persone vir die taak

• Verduidelik/kommunikeer deeglik

• Sit uiteen presies wat bereik moet word

• Voorsien die nodige middele

• Stel belang in die taak, en spreek jou vertroue uit

• Wees bereid om die uiteindelike verantwoordelikheid te dra

[Prente op bladsy 31]

Delegering sluit in dat ’n taak toegewys en die vordering gemonitor word