Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die getroue bestuurder en sy Bestuursliggaam

Die getroue bestuurder en sy Bestuursliggaam

Die getroue bestuurder en sy Bestuursliggaam

“Wie is werklik die getroue bestuurder, die verstandige, wat sy heer oor sy liggaam van bediendes sal aanstel om hulle op die regte tyd hulle deel van die voedsel te bly gee?”—LUK. 12:42.

1, 2. Watter belangrike vraag het Jesus geopper terwyl hy die saamgestelde teken van die laaste dae gegee het?

 TERWYL Jesus die saamgestelde teken van die laaste dae gegee het, het hy hierdie vraag geopper: “Wie is werklik die getroue en verstandige slaaf vir wie sy heer oor sy huisknegte aangestel het om hulle hulle voedsel op die regte tyd te gee?” Jesus het toe gesê dat hierdie slaaf vir sy getrouheid beloon sal word deur aangestel te word oor al die Heer se besittings.—Matt. 24:45-47.

2 Jesus het etlike maande tevore ’n soortgelyke vraag gevra. (Lees Lukas 12:42-44.) Hy het die slaaf ’n “bestuurder” genoem en na die “huisknegte” verwys as “sy liggaam van bediendes”. ’n Bestuurder is ’n huisbestuurder wat oor knegte aangestel is. Maar die bestuurder is ook ’n kneg. Wie is hierdie slaaf, of bestuurder, en hoe voorsien hy “voedsel op die regte tyd”? Dit is noodsaaklik dat ons almal die kanaal erken wat gebruik word om geestelike voedsel te voorsien.

3. (a) Hoe het die Christendom se kommentators Jesus se woorde oor die “slaaf” probeer verklaar? (b) Wie is die “bestuurder”, of “slaaf”, en wie is die “bediendes”, of “huisknegte”?

3 Die Christendom se kommentators meen dikwels dat hierdie woorde van Jesus verwys na diegene wat verantwoordelike posisies onder verklaarde Christene beklee. Maar Jesus, die “heer” in die illustrasie, het nie gesê dat daar ’n menigte slawe in al die verskillende sektes van die Christendom sou wees nie. Hy het eerder duidelik te kenne gegee dat daar net een “bestuurder”, of “slaaf”, sou wees, wat hy oor al sy besittings sou aanstel. Soos hierdie tydskrif al dikwels verduidelik het, moet die bestuurder dus die “klein kuddetjie” gesalfde dissipels as ’n saamgestelde liggaam, of groep, voorstel. In die konteks van Lukas se Evangelie het Jesus kort tevore na hulle verwys (Luk. 12:32). Die “liggaam van bediendes”, of “huisknegte”, verwys na hierdie selfde groep, maar beklemtoon hulle rol as individue. ’n Interessante vraag ontstaan: Speel elke individuele lid van hierdie slaafklas ’n rol daarin om geestelike voedsel op die regte tyd te voorsien? Die antwoord word duidelik wanneer ons noukeurig ondersoek wat die Skrif sê.

Jehovah se kneg in die verlede

4. Hoe het Jehovah na die eertydse nasie Israel verwys, en op watter feit omtrent dié nasie is dit belangrik om te let?

4 Jehovah het van sy volk, die eertydse nasie Israel, gepraat as ’n saamgestelde kneg. “‘Julle [meervoud] is my getuies [meervoud]’, sê Jehovah, ‘ja, my kneg [enkelvoud] wat ek uitverkies het’” (Jes. 43:10). Al die lede van die nasie was ingesluit in daardie een knegklas. Dit is egter belangrik om daarop te let dat net die priesters tesame met die niepriesterlike Leviete daarvoor verantwoordelik was om die nasie te onderrig.—2 Kron. 35:3; Mal. 2:7.

5. Watter groot verandering sou volgens Jesus plaasvind?

5 Was die nasie Israel die slaaf van wie Jesus gepraat het? Nee. Ons weet dit as gevolg van wat Jesus vir die Jode van sy dag gesê het: “Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ’n nasie gegee word wat die vrugte daarvan voortbring” (Matt. 21:43). Dit is duidelik dat ’n verandering sou plaasvind. Jehovah sou ’n nuwe nasie gebruik. Maar wat geestelike onderrigting betref, volg die werk van die slaaf in Jesus se illustrasie wel ’n soortgelyke patroon as dié van God se “kneg” in eertydse Israel.

Die getroue slaaf verskyn

6. Watter nuwe nasie het op Pinkster 33 G.J. in aansyn gekom, en wie het deel daarvan geword?

6 Die nuwe nasie, “die Israel van God”, bestaan uit geestelike Israeliete (Gal. 6:16; Rom. 2:28, 29; 9:6). Dit het in aansyn gekom toe God se gees op Pinkster 33 G.J. uitgestort is. Daarna het alle geesgesalfde Christene deel geword van die nasie wat nou gedien het as die slaafklas wat deur die Heer, Jesus Christus, aangestel is. Elke lid van hierdie nasie is die opdrag gegee om die goeie nuus te verkondig en dissipels te maak (Matt. 28:19, 20). Maar sou elke lid van hierdie groep betrokke wees by die voorsiening van geestelike voedsel op die regte tyd? Kom ons kyk hoe die Skrif hierdie vraag beantwoord.

7. Wat was aanvanklik die vernaamste werk van die apostels, en hoe is hierdie werk later uitgebrei?

7 Toe Jesus sy 12 apostels aangestel het, het hulle vernaamste werk behels dat hulle uitgestuur is om die goeie nuus aan ander te verkondig. (Lees Markus 3:13-15.) Hierdie toewysing het ooreengestem met die grondbetekenis van die Griekse woord apostolos, wat afgelei is van ’n werkwoord wat eenvoudig “uitstuur” beteken. Maar ná verloop van tyd en kort voor die stigting van die Christengemeente het die rol van ’n apostel ’n “opsienersamp” geword.—Hand. 1:20-26.

8, 9. (a) Wat was vir die 12 apostels van die grootste belang? (b) Wie anders is bykomende verantwoordelikhede gegee, soos bevestig deur die bestuursliggaam?

8 Wat was vir die 12 apostels van die grootste belang? Die antwoord blyk uit gebeure wat ná Pinksterdag plaasgevind het. Toe ’n geskil oor die daaglikse uitdeling van voedsel aan weduwees ontstaan het, het die 12 apostels die dissipels bymekaargebring en gesê: “Dit behaag ons nie om die woord van God te laat staan om voedsel aan tafels uit te deel nie.” (Lees Handelinge 6:1-6.) Die apostels het toe ander geestelik bekwame broers aangestel om na hierdie “nodige aangeleentheid” om te sien sodat die apostels hulle “aan die bediening van die woord” kon wy. Hierdie reëling het Jehovah se seën geniet, aangesien “die woord van God aangehou groei [het] en die aantal dissipels . . . in Jerusalem geweldig bly toeneem” het (Hand. 6:7). Dit was dus hoofsaaklik die apostels se verantwoordelikheid om geestelike voedsel te voorsien.—Hand. 2:42.

9 Later is gewigtige verantwoordelikhede aan ander toevertrou. Paulus en Barnabas is, onder leiding van die heilige gees, deur die gemeente in Antiogië as sendelinge uitgestuur. Hulle het later ook as apostels bekend gestaan, hoewel hulle nie onder die oorspronklike 12 getel het nie (Hand. 13:1-3; 14:14; Gal. 1:19). Hulle aanstelling is deur die bestuursliggaam in Jerusalem bevestig (Gal. 2:7-10). Kort hierna het Paulus ’n aandeel gehad aan die voorsiening van geestelike voedsel. Hy het sy eerste geïnspireerde brief geskryf.

10. Was alle geesgesalfde Christene in die eerste eeu daarby betrokke om geestelike voedsel voor te berei? Verduidelik.

10 Maar was alle geesgesalfde Christene daarby betrokke om oor die predikingswerk toesig te hou en geestelike voedsel voor te berei? Nee. Die apostel Paulus sê vir ons: “Almal is tog nie apostels nie? Almal is tog nie profete nie? Almal is tog nie onderrigters nie? Almal verrig tog nie kragtige werke nie?” (1 Kor. 12:29). Hoewel alle geesgesalfde Christene aan die predikingswerk deelgeneem het, is net ’n paar—slegs agt manne—gebruik om die 27 boeke van die Christelike Griekse Geskrifte te skryf.

Die getroue slaaf in hedendaagse tye

11. Oor watter “besittings” is die slaaf aangestel?

11 Jesus se woorde in Matteus 24:45 toon duidelik dat daar gedurende die tyd van die einde nog steeds ’n “getroue en verstandige slaaf”-klas op die aarde sou wees. Openbaring 12:17 verwys na hulle as “die oorblywendes” van die saad van die vrou. As ’n groep is hierdie oorblyfsel oor al Christus se besittings hier op die aarde aangestel. Die “besittings” waarna die getroue bestuurder moet omsien, is die Heer se koninklike belange op die aarde, met inbegrip van die Koninkryk se aardse onderdane en die materiële fasiliteite wat in die verkondiging van die goeie nuus gebruik word.

12, 13. Hoe weet ’n Christen dat hy of sy die hemelse roeping het?

12 Hoe weet ’n Christen of hy of sy die hemelse hoop het en deel is van hierdie oorblyfsel van geestelike Israeliete? Die antwoord word gevind in die apostel Paulus se woorde aan diegene wat dieselfde hemelse hoop as hy gehad het: “Almal wat deur God se gees gelei word, dié is God se kinders. Want julle het nie ’n gees van slawerny ontvang wat weer vrees veroorsaak nie, maar julle het ’n gees van aanneming as kinders ontvang, en deur dié gees roep ons uit: ‘Abba, Vader!’ Die gees self getuig met ons gees dat ons God se kinders is. As ons dan kinders is, is ons ook erfgename: ja, erfgename van God, maar mede-erfgename met Christus, mits ons saam ly, sodat ons ook saam verheerlik kan word.”—Rom. 8:14-17.

13 Eenvoudig gestel, hierdie persone word deur God se heilige gees gesalf en ontvang ’n hemelse “roeping”, of “uitnodiging” (Heb. 3:1; vtn. in NW). Hierdie persoonlike uitnodiging kom van God af. Op hulle beurt reageer hulle dadelik sonder teëspraak of twyfel of vrees om hierdie verwekking as God se kinders te aanvaar. (Lees 1 Johannes 2:20, 21.) Hulle kies dus nie self hierdie hoop nie, maar Jehovah druk sy seël, of heilige gees, op hulle.—2 Kor. 1:21, 22; 1 Pet. 1:3, 4.

Die regte beskouing

14. Hoe beskou die gesalfdes hulle roeping?

14 Hoe moet hierdie gesalfdes hulleself beskou terwyl hulle op hulle hemelse beloning wag? Hulle besef dat hulle ’n wonderlike uitnodiging ontvang het, maar dit is al wat dit is—’n uitnodiging. Hulle moet tot die dood toe getrou bly om hierdie prys te verkry. In alle nederigheid beaam hulle Paulus se woorde: “Broers, ek meen nog nie dat ek dit verkry het nie; maar een ding staan vas: Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na die dinge wat voor is, en ek streef na die doel vir die prys van God se roeping na bo deur middel van Christus Jesus” (Fil. 3:13, 14). Die gesalfde oorblyfsel moet hulle uiterste bes doen ‘om te wandel op ’n wyse wat die roeping waarmee hulle geroep is, waardig is, met algehele ootmoed’ en “met vrees en bewing”.—Ef. 4:1, 2; Fil. 2:12; 1 Tess. 2:12.

15. Hoe moet Christene diegene beskou wat by die Gedenkmaal van die embleme gebruik, en hoe beskou gesalfdes hulleself?

15 Maar hoe moet ander Christene ’n persoon beskou wat beweer dat hy of sy hierdie salwing ontvang het en wat by die Gedenkmaal van die embleme begin gebruik? So iemand moenie geoordeel word nie. Dit is ’n saak tussen hierdie persoon en Jehovah (Rom. 14:12). Maar Christene wat werklik hierdie salwing ontvang het, dring nie aan op spesiale aandag nie. Hulle glo nie dat hulle, omdat hulle gesalfdes is, spesiale insig het, meer as wat selfs party ervare lede van die “groot menigte” dalk het nie (Op. 7:9). Hulle glo nie dat hulle noodwendig meer heilige gees as hulle metgeselle, die “ander skape”, het nie (Joh. 10:16). Hulle verwag nie spesiale behandeling nie; en hulle beweer ook nie dat hulle, omdat hulle van die embleme gebruik, verhewe is bo die aangestelde ouer manne in die gemeente nie.

16-18. (a) Is alle gesalfdes daarby betrokke om nuwe geestelike waarhede bekend te maak? Lig toe. (b) Waarom hoef die Bestuursliggaam nie almal te raadpleeg wat sê dat hulle gesalf is nie?

16 Is al hierdie gesalfdes regoor die aarde deel van ’n wêreldwye netwerk wat op die een of ander manier by die openbaring van nuwe geestelike waarhede betrokke is? Nee. Hoewel die slaafklas as ’n groep daarvoor verantwoordelik is om die geestelike huisgesin te voed, het nie al die lede van die slaafklas dieselfde verantwoordelikhede of werkstoewysings nie. (Lees 1 Korintiërs 12:14-18.) Soos vroeër gemeld is, het almal in die eerste eeu aan die lewensbelangrike predikingswerk deelgeneem. Maar net ’n paar is gebruik om die Bybelboeke te skryf en oor die Christengemeente toesig te hou.

17 Ter toeligting: Die Skrif sê soms dat “die gemeente” optree in die hantering van regterlike sake (Matt. 18:17). Maar in werklikheid is dit net die ouer manne wat optree in hulle hoedanigheid as verteenwoordigers van die gemeente. Die ouer manne tree nie met al die gemeentelede in verbinding om hulle mening te vra voordat hulle ’n besluit neem nie. Hulle vervul op teokratiese wyse die rol wat aan hulle toegewys is; hulle tree namens die hele gemeente op.

18 Net so het ’n beperkte aantal gesalfde manne vandag die verantwoordelikheid om die slaafklas te verteenwoordig. Hulle maak die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies uit. Hierdie geesgesalfde manne hou toesig oor die Koninkrykswerk en die geestelike voedingsprogram. Maar soos in die eerste eeu raadpleeg die Bestuursliggaam nie elke individuele lid van die slaafklas voordat hulle besluite neem nie. (Lees Handelinge 16:4, 5.) Alle gesalfde Getuies is egter diep betrokke by die lewensbelangrike oeswerk wat nou plaasvind. As ’n klas is “die getroue en verstandige slaaf” een liggaam, maar as individue het hulle verskillende werkstoewysings.—1 Kor. 12:19-26.

19, 20. Watter gebalanseerde beskouing het die groot menigte van “die getroue en verstandige slaaf” en sy Bestuursliggaam?

19 Watter uitwerking moet die bogenoemde feite hê op die immer toenemende groot menigte wat hoop om vir ewig op die aarde te lewe? As deel van die Koning se besittings gee hulle met graagte hulle volle ondersteuning aan die reëlings van die Bestuursliggaam, wat “die getroue en verstandige slaaf” verteenwoordig. Lede van die groot menigte waardeer die geestelike voedsel wat onder leiding van die Bestuursliggaam beskikbaar gestel word. Maar hoewel hulle die slaaf as ’n klas respekteer, sorg lede van die groot menigte terselfdertyd dat hulle nie enige individue verhef wat beweer dat hulle deel van hierdie slaaf is nie. Geen Christen wat werklik deur God se gees gesalf is, sal sulke behandeling verlang of verwag nie.—Hand. 10:25, 26; 14:14, 15.

20 Hetsy ons “huisknegte” is, wat deel is van die gesalfde oorblyfsel, of lede van die groot menigte, laat ons vasbeslote wees om ten volle met die getroue bestuurder en sy Bestuursliggaam saam te werk. Mag elkeen van ons ‘aanhou waak’ en tot die einde toe getrou bly.—Matt. 24:13, 42.

Onthou jy?

• Wie is “die getroue en verstandige slaaf”, en wie is die huisknegte?

• Hoe weet ’n persoon dat hy of sy die hemelse roeping het?

• Wie se verantwoordelikheid is dit hoofsaaklik om nuwe geestelike voedsel voor te berei?

• Hoe moet ’n gesalfde homself beskou?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 23]

Die Bestuursliggaam verteenwoordig vandag die “getroue en verstandige slaaf”-klas. Daar was ’n soortgelyke reëling in die eerste eeu