Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe kan ek Jehovah vergoed?

Hoe kan ek Jehovah vergoed?

Hoe kan ek Jehovah vergoed?

Soos vertel deur Ruth Danner

My ma het dikwels spottenderwys gesê dat 1933 ’n jaar van rampe was: Hitler het aan bewind gekom, die pous het dit ’n Heilige Jaar verklaar, en ek is gebore.

MY OUERS het gewoon in die dorp Yutz, in Lotharinge, ’n geskiedkundige deel van Frankryk naby die grens met Duitsland. In 1921 is my ma, ’n vroom Katoliek, getroud met my pa, ’n Protestant. My ouer suster, Helen, is in 1922 gebore, en my ouers het haar as ’n baba in die Katolieke Kerk laat doop.

Op ’n dag in 1925 het my pa ’n Duitse eksemplaar van die boek Die harp van God ontvang. Toe hy dié boek gelees het, was hy oortuig dat hy die waarheid gevind het. Hy het aan die uitgewers geskryf, en hulle het hom in kontak gebring met die Bibelforscher, soos Jehovah se Getuies destyds in Duitsland bekend gestaan het. My pa het dadelik vir ander begin vertel van wat hy geleer het. My ma het niks hiervan gehou nie. “Doen wat jy wil”, het sy in haar kleurryke Duits uitgeroep, “maar moenie met daardie Bibelforscher deurmekaar raak nie!” My pa het egter voet by stuk gehou, en hy is in 1927 as een van hulle gedoop.

Gevolglik het my ouma aan moederskant my ma begin aanspoor om van my pa te skei. Eendag het die priester by die mis sy gemeentelede gewaarsku om “weg te bly van die valse profeet Danner”. Toe my ouma van hierdie mis af tuiskom, het sy my pa, vanaf ’n boverdieping van ons huis, met ’n blompot gegooi. Die swaar voorwerp het sy kop rakelings gemis en hom teen sy skouer getref. Hierdie voorval het my ma laat dink: ‘’n Godsdiens wat van mense moordenaars maak, kan nie goed wees nie.’ Sy het die publikasies van Jehovah se Getuies begin lees. Sy was weldra oortuig dat sy die waarheid gevind het en is in 1929 gedoop.

My ouers het hulle uiterste bes gedoen om my en my suster te leer dat Jehovah ’n werklike persoon is. Hulle het vir ons Bybelverhale gelees en ons dan gevra waarom Bybelkarakters op ’n sekere manier opgetree het. Gedurende hierdie tyd het my pa geweier om saans of nagskof te werk, al het sy besluit ’n baie kleiner inkomste vir die gesin beteken. Hy wou tyd hê vir Christelike vergaderinge, die bediening en studiesessies met sy kinders.

Onweerswolke pak saam

My ouers het gereeld gasvryheid aan reisende opsieners en Betheliete van Switserland en Frankryk betoon, wat vir ons vertel het van die probleme waarmee ons medegelowiges in Duitsland, net ’n paar kilometer van ons huis af, te kampe het. Die Nazi-regering het Jehovah se Getuies na konsentrasiekampe gestuur en kinders van hulle Getuie-ouers af weggeneem.

My ouers het my en Helen voorberei sodat ons die beproewinge kon verduur wat vir ons voorgelê het. Hulle het ons gehelp om Bybelverse wat vir ons leiding sou gee, te memoriseer. Hulle het byvoorbeeld gesê: “As julle nie weet wat om te doen nie, dink aan Spreuke 3:5, 6. As julle bang is vir beproewinge by die skool, gebruik 1 Korintiërs 10:13. As julle van ons geskei word, sê Spreuke 18:10 op.” Ek het Psalm 23 en 91 uit my kop geleer en het die vertroue opgebou dat Jehovah my altyd sal beskerm.

In 1940 het Nazi-Duitsland Elsas-Lotharinge geannekseer, en die nuwe regime het vereis dat alle volwassenes by die Nazi-party aansluit. My pa het geweier, en die Gestapo het gedreig om hom in hegtenis te neem. Toe my ma nie militêre uniforms wou maak nie, het die Gestapo haar ook begin dreig.

Skool het vir my ’n nagmerrie geword. Ons klas het elke dag begin met ’n gebed vir Hitler, die “Heil Hitler”-saluut en die volkslied met ’n uitgestrekte regterarm. In plaas van my te verbied om Hitler te salueer, het my ouers my gehelp om my gewete op te lei. Ek het dus self besluit om nie die Nazi-saluut te gee nie. Die onderwysers het my geklap en gedreig om my uit die skool te sit. Toe ek sewe jaar oud was, moes ek eenkeer voor al 12 onderwysers van die skool staan. Hulle het my probeer dwing om die Hitler-saluut te gee. Maar met Jehovah se hulp het ek vasgestaan.

Een onderwyseres het op my gevoel begin speel. Sy het vir my gesê dat ek ’n goeie leerder is, dat sy baie van my hou en dat sy spyt sal wees as ek uit die skool gesit word. Sy het gesê: “Jy hoef nie jou arm uit te strek nie. Lig dit net effens op. En jy hoef nie ‘Heil Hitler!’ te sê nie. Beweeg net jou lippe en maak of jy dit sê.”

Toe ek vir my ma vertel wat my onderwyseres doen, het sy my herinner aan die Bybelverslag van die drie jong Hebreërs voor die beeld wat deur die koning van Babilon opgerig is. “Wat moes hulle doen?” het sy gevra. “Neerbuig”, het ek geantwoord. “Sou dit reg gewees het as hulle op die oomblik toe hulle voor die beeld moes buig, gebuk het om hulle skoenveters vas te maak? Jy moet besluit; doen wat jy dink reg is.” Soos Sadrag, Mesag en Abednego het ek besluit om net aan Jehovah getrou te wees.—Dan. 3:1, 13-18.

Die onderwysers het my ’n hele paar keer uit die skool gesit en het gedreig om my van my ouers af weg te neem. Ek was baie bekommerd, maar my ouers het my bly aanmoedig. Wanneer ek skool toe moes gaan, het my ma saam met my gebid en my onder Jehovah se beskerming geplaas. Ek het geweet dat hy my sou versterk om vas te staan vir die waarheid (2 Kor. 4:7). My pa het vir my gesê dat ek nie bang moet wees om huis toe te kom as die druk te erg raak nie. “Ons is lief vir jou. Jy sal altyd ons dogter wees”, het hy gesê. “Die saak is tussen jou en Jehovah.” Hierdie woorde het my begeerte versterk om my onkreukbaarheid te handhaaf.—Job 27:5.

Die Gestapo het dikwels na ons huis toe gekom om na publikasies van die Getuies te soek en om my ouers te ondervra. Soms het hulle my ma vir ure weggeneem en my pa en suster by hulle werksplekke gaan haal. Ek het nooit geweet of my ma by die huis sou wees wanneer ek van die skool af kom nie. Partykeer het een van die bure vir my gesê: “Hulle het jou ma weggeneem.” Dan het ek in die huis weggekruip en gewonder: ‘Martel hulle haar? Sal ek haar ooit weer sien?’

Gedeporteer

Op 28 Januarie 1943 het die Gestapo ons halfvier die oggend wakker gemaak. Hulle het gesê dat ek en my ouers en my suster nie gedeporteer sou word as ons by die Nazi-party aansluit nie. Hulle het ons drie uur gegee om klaar te maak. My ma was voorbereid vir hierdie situasie, en ons rugsakke was reeds gepak met ’n ekstra stel klere en ’n Bybel; ons het dus die tyd gebruik om te bid en mekaar aan te moedig. My pa het ons daaraan herinner dat ‘niks ons van God se liefde kan skei nie’.—Rom. 8:35-39.

Die Gestapo het toe teruggekom. Ek sal nooit vergeet hoe die bejaarde suster Anglade met trane in haar oë vir ons totsiens gewaai het nie. Die Gestapo het ons na die stasie by Metz geneem. Ná ’n treinreis van drie dae het ons in Kochlowice aangekom, ’n satellietkamp van die Auschwitz-kompleks in Pole. Twee maande later is ons verskuif na Gliwice, ’n klooster wat in ’n werkkamp verander is. Die Nazi’s het vir ons gesê dat hulle ons sal vrylaat en ons besittings sal teruggee as elkeen van ons ’n verklaring onderteken waarin ons ons geloof verloën. My pa en ma het geweier, en ons gevangenemers het gesê: “Julle sal nooit teruggaan huis toe nie.”

In Junie is ons na Swietochlowice verskuif, waar ek hoofpyne begin kry het, wat my nog steeds pla. Ek het infeksies in my vingers gekry, en ’n dokter het ’n paar van my vingernaels sonder verdowing verwyder. In ligter luim, dit was my werk om vir die wagte boodskappe te dra, en dit het my dikwels na ’n bakkery geneem. ’n Vrou daar het gewoonlik vir my iets gegee om te eet.

Tot op hierdie stadium het ons as ’n gesin saamgebly, apart van ander gevangenes. In Oktober 1943 is ons verskuif na ’n kamp by Ząbkowice. Ons het op stapelbeddens op ’n solder geslaap, saam met omtrent 60 ander mans, vroue en kinders. Die SS het gesorg dat ons kos walglik en feitlik oneetbaar was.

Ondanks die ontberinge het ons nooit moed opgegee nie. Ons het in Die Wagtoring gelees van die groot predikingswerk wat ná die oorlog gedoen moes word. Ons het dus geweet waarom ons ly en dat ons ontberinge weldra sou eindig.

Berigte van die naderende Geallieerde magte het ons laat besef dat die Nazi’s besig is om die oorlog te verloor. Vroeg in 1945 het die SS besluit om ons kamp te ontruim. Op 19 Februarie het ons ’n gedwonge tog van byna 240 kilometer begin. Ná vier weke het ons in Steinfels, Duitsland, aangekom, waar die wagte die gevangenes in ’n myn ingedwing het. Baie het gedink dat ons doodgemaak sou word. Maar die Geallieerdes het daardie dag daar aangekom, die SS het gevlug, en ons beproewing was verby.

Ek bereik my doelwitte

Op 5 Mei 1945, ná byna twee en ’n half jaar, het ons vuil en vol luise by ons huis in Yutz aangekom. Ons het van Februarie af dieselfde klere gedra en het dus besluit om dié ou klere te verbrand. Ek onthou dat my ma vir ons gesê het: “Laat dit die mooiste dag van julle lewe wees. Ons het niks nie. Selfs die klere wat ons aanhet, is nie ons s’n nie. Maar ons het al vier teruggekom en ons het getrou gebly. Ons het nie ons geloof prysgegee nie.”

Nadat ek drie maande in Switserland aangesterk het, het ek teruggegaan skool toe, sonder enige verdere vrees dat ek uitgesit sou word. Ons kon nou openlik met ons geestelike broers vergader en die predikingswerk doen. Op 28 Augustus 1947 het ek, op 13-jarige ouderdom, die gelofte wat ek jare tevore aan Jehovah gemaak het, in die openbaar gesimboliseer. My pa het my in die Moeselrivier gedoop. Ek wou dadelik ’n pionier word, maar my pa het daarop aangedring dat ek eers ’n vaardigheid aanleer. Ek het dus geleer om ’n naaldwerkster te wees. In 1951 is ek op 17-jarige ouderdom as ’n pionier aangestel en het ek in die nabygeleë Thionville gaan dien.

Ek het daardie jaar ’n byeenkoms in Parys bygewoon en vir sendingdiens aansoek gedoen. Ek was nie oud genoeg nie, maar broer Nathan Knorr het gesê dat hy my aansoek “vir later” sou hou. In Junie 1952 het ek my uitnodiging ontvang om die 21ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead in South Lansing, New York, VSA, by te woon.

Gilead en daarna

Wat ’n ondervinding! Dit was dikwels vir my moeilik om in my eie taal in die openbaar te praat. Nou moes ek Engels praat. Die instrukteurs het my egter liefdevol ondersteun. Een broer het my die bynaam “Kingdom Smile” gegee as gevolg van my glimlag wanneer ek skaam was.

Ons graduering is op 19 Julie 1953 by die Yankee-stadion in New York gehou, en ek is saam met Ida Candusso (later Seignobos) na Parys gestuur. Dit was intimiderend om vir ryk Parysenaars te preek, maar ek het Bybelstudies met talle nederige mense gehou. Ida het getrou en het in 1956 na Afrika verhuis, maar ek het in Parys gebly.

In 1960 het ek met ’n broer van Bethel getrou, en ons het in Chaumont en Vichy as spesiale pioniers gedien. Vyf jaar later het ek tering gekry en moes ek ophou pionier. Dit was vir my vreeslik, want van kleins af was dit my doelwit om die voltydse diens te betree en daarin te bly. ’n Ruk later het my man my vir ’n ander vrou verlaat. Die ondersteuning van my geestelike broers en susters het my gedurende dié donker jare gehelp, en Jehovah het deurentyd my vrag gedra.—Ps. 68:19.

Ek woon nou in Louviers, Normandië, naby die Franse takkantoor. Ondanks gesondheidsprobleme is ek bly dat ek Jehovah se hand in my lewe kon sien. Die opvoeding wat ek as kind ontvang het, help my vandag nog om die regte gesindheid te behou. My ouers het my geleer dat Jehovah ’n werklike Persoon is wat ek kan liefhê, met wie ek kan praat en wat my gebede verhoor. Ja, “wat sal ek Jehovah vergoed vir al sy weldade aan my?”—Ps. 116:12.

[Lokteks op bladsy 6]

‘Ek is bly dat ek Jehovah se hand in my lewe kon sien’

[Prent op bladsy 5]

Met my gasmasker toe ek ses was

[Prent op bladsy 5]

Saam met sendelinge en pioniers in Luxemburg vir ’n spesiale predikingsveldtog toe ek 16 was

[Prent op bladsy 5]

Saam met my pa en ma by ’n streekbyeenkoms in 1953