Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Negentig jaar gelede het ek begin ‘dink aan my Grootse skepper’

Negentig jaar gelede het ek begin ‘dink aan my Grootse skepper’

Negentig jaar gelede het ek begin ‘dink aan my Grootse skepper’

Soos vertel deur Edwin Ridgwell

OP Wapenstilstandsdag, 11 November 1918, is die kinders by my skool onverwags byeengeroep om die einde van die Groot Oorlog, wat later die Eerste Wêreldoorlog genoem is, te vier. Ek was net vyf jaar oud en het nie heeltemal verstaan wat aangaan nie. Maar weens wat my ouers my oor God geleer het, het ek geweet dat ek nie deel van die plegtigheid wou wees nie. Ek het tot God gebid, maar toe het my emosies die oorhand oor my gekry, en ek het begin huil. Maar ek het nie aan die viering deelgeneem nie. Dit was toe dat ek begin ‘dink het aan my Grootse Skepper’.—Pred. 12:1.

’n Paar maande voor hierdie voorval by die skool het ons gesin verhuis en naby Glasgow in Skotland gaan woon. Omstreeks daardie tyd het my pa die openbare toespraak bygewoon met die titel “Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie”. Dit het sy lewe verander. My pa en ma het die Bybel begin studeer en het dikwels gesels oor God se Koninkryk en die seëninge wat voorlê. Ek dank God dat my ouers my van toe af grootgemaak het om God lief te hê en my vertroue in hom te stel.—Spr. 22:6.

Ek begin met my voltydse bediening

Toe ek 15 was, het ek vir naskoolse opleiding gekwalifiseer, maar ek wou eintlik ’n voltydse bedienaar word. My pa het gemeen dat ek te jonk is, en ek het dus ’n tyd lank in ’n kantoor gewerk. Maar die begeerte om Jehovah voltyds te dien, was so sterk dat ek eendag ’n brief aan J.F. Rutherford geskryf het, wat destyds oor die wêreldwye predikingswerk toesig gehou het. Ek het hom gevra wat hy van my planne dink. Broer Rutherford het teruggeskryf: “As jy oud genoeg is om te werk, is jy oud genoeg om in die Here se diens te wees. . . . Ek glo dat die Here jou sal seën as jy jou inspan om Hom getrou te dien.” Hierdie brief, wat 10 Maart 1928 gedateer was, was ’n aansporing vir ons gesin. Kort voor lank het ek, my pa, my ma en my ouer suster as voltydse bedienaars gedien.

In 1931 het broer Rutherford by ’n streekbyeenkoms in Londen vir vrywilligers gevra om die goeie nuus in die buiteland te gaan verkondig. Ek het aangebied om te gaan en is saam met Andrew Jack na Kaunas, wat destyds die hoofstad van Litaue was, gestuur. Ek was 18 jaar oud.

Ek verkondig die Koninkryksboodskap in die buiteland

Litaue was destyds ’n verarmde landbougemeenskap, en dit was ’n uitdaging om in die landelike gebiede te preek. Dit was moeilik om huisvesting te kry, en ons het party verblyfplekke lank onthou. Ek en Andrew het byvoorbeeld een aand wakker geword omdat ons ongemaklik gevoel het. Nadat ons die olielamp aangesteek het, het ons gesien dat die bed met honderde weeluise oortrek is. Ons was van kop tot tone gebyt! Ek moes ’n week lank elke oggend nekdiep in die koue water van ’n nabygeleë rivier staan om die pyn te verlig. Ons was nogtans vasbeslote om voort te gaan in die bediening. Kort daarna is ons verblyfprobleem opgelos toe ons ’n jong paartjie ontmoet het wat Bybelwaarheid aangeneem het. Hulle het ons in hulle huis ingeneem, wat klein maar skoon was. Ons het glad nie omgegee om op die vloer te slaap nie, en wat ’n verligting was dit tog!

Litaue was destyds deur die Rooms-Katolieke en Russies-Ortodokse geestelikes oorheers. Net die rykes kon ’n Bybel bekostig. Ons hoofdoel was om soveel gebied as moontlik te dek en om soveel Bybellektuur as wat ons kon, by belangstellendes te laat. Ons het eerstens verblyf in ’n dorp gesoek. Daarna het ons versigtig te werk gegaan om die omliggende gebied te dek, en dan het ons die dorp self vinnig gedek. So kon ons gewoonlik ons werk voltooi voordat die plaaslike priesters moeilikheid vir ons kon maak.

Ons veroorsaak ’n opskudding en ontvang publisiteit

In 1934 is Andrew toegewys om in die takkantoor in Kaunas te dien, en John Sempey het my velddiensmaat geword. Ons het ’n paar onvergeetlike ondervindinge gehad. Op ’n dag het ek ’n prokureurskantoor in ’n dorpie besoek. Die man het kwaad geword, ’n pistool uit ’n laai gepluk en my beveel om te loop. Ek het ’n stille gebed gedoen en die Bybel se raad onthou: “’n Sagte antwoord keer woede af” (Spr. 15:1). Toe het ek gesê: “Ek het as ’n vriend met ’n boodskap van goeie nuus gekom en ek bedank u vir u selfbeheersing.” Die man se vinger op die sneller het ontspan, en ek het versigtig agteruitgeloop, uit sy kantoor uit.

Toe ek weer by John kom, het hy my vertel dat hy ook ’n nare ondervinding gehad het. Hy is na die polisiestasie geneem omdat hy valslik daarvan beskuldig is dat hy ’n banknoot van hoë waarde gesteel het by ’n vrou wat hy ontmoet het. By die polisiestasie moes John al sy klere uittrek sodat hy deursoek kon word. Hy het natuurlik nie die banknoot gehad nie. Hulle het later die eintlike dief gevang.

Dié twee voorvalle het ’n groot opskudding in daardie stil gemeenskap veroorsaak en het heelwat gratis publisiteit aan ons werk gegee!

Ondergrondse bedrywighede

’n Gevaarlike toewysing was om Bybellektuur na die naburige Letland te neem, waar ons predikingswerk verbied was. Omtrent een maal ’n maand het ons met ’n aandtrein na Letland gereis. Soms het ons, nadat ons lektuur afgelewer het, na Estland gereis om nog lektuur te kry, wat ons op pad terug in Letland gelaat het.

By een geleentheid is ’n doeanebeampte ingelig oor ons bedrywighede en het hy daarop aangedring dat ons van die trein afklim en die lektuur na sy bevelvoerder neem. Ek en John het albei gebid dat Jehovah ons moet help. Tot ons verbasing het die beampte nie vir sy bevelvoerder gesê wat ons by ons het nie, maar eenvoudig gesê: “Hierdie mans het iets om te verklaar.” Wat ek “verklaar” het, was dat ons lektuur het wat mense op skool en kollege sal help om die betekenis van die gebeure in ons veelbewoë wêreld te verstaan. Die doeanebeampte het ons deurgelaat, en ons het die lektuur ongehinderd afgelewer.

Namate die politieke situasie in die Baltiese State versleg het, het mense meer gekant geraak teen die Getuies, en ons predikingswerk is ook in Litaue verbied. Andrew en John is gedeporteer, en aangesien die Tweede Wêreldoorlog voor die deur was, is alle Britse burgers aangeraai om die land te verlaat. Ek het ook vertrek—met groot hartseer.

Voorregte en seëninge in Noord-Ierland

Teen daardie tyd het my ouers in Noord-Ierland gewoon, en in 1937 het ek by hulle aangesluit. Weens die oorlogshisterie is ons lektuur ook in Noord-Ierland verbied, maar ons het dwarsdeur die oorlog bly preek. Ná die Tweede Wêreldoorlog kon ons ons werk weer sonder wetlike beperkings doen. Harold King, ’n ervare pionier wat later as ’n sendeling in China gedien het, het die leiding daarin geneem om openbare toesprake in die opelug te reël. “Hierdie Saterdag”, het hy gesê, “sal ek die eerste toespraak in die opelug hou.” Hy het na my gekyk en gesê: “Jy sal volgende Saterdag die toespraak hou.” Ek was geskok.

Ek onthou my eerste toespraak nog baie goed. Daar was honderde mense. Ek het dit gehou terwyl ek op ’n kissie gestaan en sonder die hulp van enige klanktoerusting gepraat het. Ná afloop van die toespraak het ’n man my genader, my hand geskud en hom aan my voorgestel as Bill Smith. Hy het gesê dat hy die skare gesien het en kom kyk het wat aan die gang is. Dit het aan die lig gekom dat my pa Bill voorheen besoek het, maar kontak met hom verloor het toe my pa en my stiefma na Dublin getrek het om daar te pionier. Ons het met ’n Bybelstudie begin. Later het nege van Bill se familielede knegte van Jehovah geword.

Ek het later groot villas aan die buitewyke van Belfast besoek, waar ek ’n Russiese vrou ontmoet het wat in Litaue gewoon het. Toe ek vir haar van die lektuur wys, het sy na een boek gewys en gesê: “Ek het dié een. My oom wat ’n professor aan die universiteit in Kaunas is, het dit vir my gegee.” Sy het vir my die boek Skepping in Pools gewys. Die kantruimtes was vol notas. Sy was baie verbaas om te hoor dat ék die boek destyds vir haar oom gegee het toe ek hom in Kaunas ontmoet het!—Pred. 11:1.

Toe John Sempey hoor dat ek na Noord-Ierland gaan, het hy my gevra om sy jonger suster, Nellie, te besoek, aangesien sy belangstelling in Bybelwaarheid getoon het. Ek en my suster Connie het ’n Bybelstudie met haar gehou. Nellie het vinnig vordering gemaak en haar lewe aan Jehovah toegewy. Later het ons mekaar die hof gemaak en is ons getroud.

Ek en Nellie het 56 jaar saam in Jehovah se diens deurgebring en het die voorreg gehad om meer as honderd mense te help om tot ’n kennis van Bybelwaarheid te kom. Ons het gehoop om saam deur Armageddon en tot in Jehovah se nuwe wêreld behoue te bly, maar die wrede vyand, die dood, het haar in 1998 weggeruk. Dit was ’n verpletterende slag—een van die grootste beproewinge in my lewe.

Ek keer terug na die Baltiese State

Omtrent ’n jaar ná Nellie se dood het ek ’n wonderlike seën ontvang. Ek is genooi om die takkantoor in Tallinn, Estland, te besoek. ’n Brief van die broers in Estland het verduidelik: “Uit die tien broers wat in die laat 1920’s en vroeë 1930’s na die Baltiese State toegewys is, is jy die enigste een wat nog leef.” Dit het verder gesê dat die tak ’n geskiedenisverslag van die werk in Estland, Letland en Litaue saamstel en toe gevra: “Kan jy kom?”

Wat ’n voorreg was dit tog om die ondervindinge te vertel wat ek en my metgeselle in daardie vroeë jare gehad het! In Letland kon ek die broers die oorspronklike woonstel wys wat as ’n takkantoor gebruik is, sowel as die dakruimte waar ons ons lektuur weggesteek het, wat nooit deur die polisie gevind is nie. In Litaue is ek na ’n dorpie genaamd Šiauliai geneem, waar ek gepionier het. By ’n samekoms daar het ’n broer vir my gesê: “Baie jare gelede het ek en my ma ’n huis in die dorp gekoop. Ons het die solder skoongemaak, en ek het op die boeke The Divine Plan of the Ages en Die harp van God afgekom. Toe ek dit lees, het ek besef dat ek die waarheid gevind het. Dit was seker jy wat dié boeke jare gelede by daardie huis gelaat het!”

Ek het ook ’n kringbyeenkoms bygewoon in ’n dorp waar ek gepionier het. Ek het 65 jaar vroeër ’n byeenkoms daar bygewoon. Destyds was 35 mense teenwoordig. Maar hoe wonderlik was dit tog om ’n gehoor van 1 500 te sien! Hoe het Jehovah die werk tog geseën!

‘Jehovah het my nie verlaat nie’

Ek het onlangs ’n heeltemal onverwagse seën ontvang toe ’n lieflike Christensuster genaamd Bee ingestem het om my vrou te word. Ons is in November 2006 getroud.

Ek kan enige jong persoon wat wonder wat om met sy lewe te doen, verseker dat dit baie wys is om gehoor te gee aan die geïnspireerde woorde: ‘Dink aan jou Grootse Skepper in die dae van jou jonkheid.’ Ek kan my nou soos die Bybelpsalmis verheug: “God, u het my van my jeug af geleer, en tot nou toe bly ek u wonderlike werke verkondig. En selfs tot die ouderdom en grysheid toe, o God, moet u my nie verlaat nie, totdat ek vir die geslag van u arm kan vertel, vir almal wat sal kom, van u mag.”—Ps. 71:17, 18.

[Kaart op bladsy 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

’n Gevaarlike toewysing was om lektuur na Letland te neem

ESTLAND

TALLINN

Golf van Riga

LETLAND

RIGA

LITAUE

VILNIUS

Kaunas

[Prent op bladsy 26]

Toe ek 15 was, het ek in Skotland as ’n kolporteur (pionier) begin dien

[Prent op bladsy 26]

Saam met Nellie op ons troue, 1942