Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Saadjies van waarheid bereik afgeleë gebiede

Saadjies van waarheid bereik afgeleë gebiede

Saadjies van waarheid bereik afgeleë gebiede

DIE Republiek Toewa in Rusland is in die suidelikste deel van Siberië geleë, met Mongolië suid en oos daarvan. Baie mense in Toewa woon in afgeleë gemeenskappe wat nie maklik met die Koninkryksboodskap bereik kan word nie. Maar ’n ruk gelede het ’n groep mense uit verskeie afgeleë dele van Toewa na Kizil, die hoofstad, gereis om ’n seminaar by te woon. Maria, ’n pionier in Kizil, het gehoor van hulle aankoms, en sy het besef dat dit ’n seldsame geleentheid bied om hulle van die goeie nuus te vertel.

Maria vertel wat gebeur het: “Die skool waar ek as ’n onderwyseres werk, het ’n seminaar gereël oor die behandeling van dwelm- en alkoholmisbruik. Omtrent 50 mense uit die mees afgeleë gebiede van Toewa sou dit bywoon. Die groep het onderwysers, sielkundiges, kinderwelsynsbeamptes en ander ingesluit.” Vir Maria het hierdie vergadering ’n geleentheid sowel as ’n uitdaging gebied. Sy verduidelik: “Ek is van nature skaam, en dit is vir my moeilik om informeel te getuig. Maar ek het tot Jehovah gebid vir moed om my vrees te oorkom en hierdie geleentheid te gebruik om ’n getuienis te gee.” Het sy hierin geslaag?

Maria vertel verder: “Ek het ’n Ontwaak! gevind wat fobies bespreek. ‘’n Sielkundige sal miskien hierin belangstel’, het ek gedink, en daarom het ek die tydskrif saam met my skool toe geneem. Daardie dag het een van die onderwyseresse wat die seminaar bygewoon het, na my kantoor toe gekom, en ek het die tydskrif vir haar aangebied. Sy het dit met graagte geneem. Trouens, sy het gesê dat sy self ’n fobie het. Die volgende dag het ek vir haar die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1, gebring. Sy het dit ook met graagte geneem. Haar positiewe reaksie het my laat dink dat ander onderwysers dalk ook in hierdie publikasie sou belangstel. Ek het dus ’n boks vol Jongmense vra-boeke en ander publikasies skool toe geneem.” Kort voor lank was die boks leeg. Maria vertel wat gebeur het: “’n Hele paar kollegas van die onderwyseres vir wie ek die Jongmense vra-boek gegee het, het na my kantoor toe gekom en gevra: ‘Waar versprei hulle die boeke?’” Hulle het na die regte plek toe gekom!

Die laaste dag van die seminaar was ’n Saterdag. Dit was Maria se dag af, en daarom het sy lektuur op ’n paar tafels in haar kantoor gesit. Sy het op ’n bord geskryf: “Geagte Onderwysers! Neem gerus lektuur vir julle en julle kennisse. Hierdie uitstekende publikasies sal julle help om suksesvol te wees in julle werk en sal julle gesinne versterk.” Wat was die reaksie? “Ek het daardie dag na my kantoor toe gegaan en gesien dat daar baie min lektuur oor is. Ek het gou nog boeke en tydskrifte gaan haal.” Teen die einde van die seminaar het Maria 380 tydskrifte, 173 boeke en 34 brosjures versprei. Toe diegene wat die seminaar bygewoon het, teruggekeer het na die afgesonderde gebiede waar hulle woon en werk, het die lektuur saam met hulle gegaan. Maria sê: “Ek is so bly dat saadjies van waarheid nou die mees afgeleë dele van Toewa bereik het!”—Pred. 11:6.

[Kaart op bladsy 32]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

RUSLAND

REPUBLIEK TOEWA