Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vind skatte wat ‘sorgvuldig verborge is in hom’

Vind skatte wat ‘sorgvuldig verborge is in hom’

Vind skatte wat ‘sorgvuldig verborge is in hom’

“In hom is al die skatte van wysheid en van kennis sorgvuldig verborge.”—KOL. 2:3.

1, 2. (a) Watter artefakte is in 1922 ontdek, en waar het dit beland? (b) Watter uitnodiging rig God se Woord aan almal?

 ONTDEKKINGS van verborge skatte het dikwels groot opslae in die nuus gemaak. Byvoorbeeld, in 1922 het die Britse argeoloog Howard Carter, ná dekades se vermoeiende werk in ’n onherbergsame omgewing, ’n dramatiese ontdekking gedoen. Hy het die feitlik ongeskonde koninklike grafkelder van farao Toetankamen gevind, waarin byna 5 000 voorwerpe was.

2 Hoewel Carter se ontdekking opspraakwekkend was, het die meeste van die artefakte wat hy gevind het, in museums of in privaat versamelings beland. Dit het dalk geskiedkundige of kunswaarde, maar dit het geen of min uitwerking op ons daaglikse lewe. God se Woord nooi ons egter om na skatte te soek wat werklik vir ons van belang is. Die uitnodiging word aan almal gerig, en die beloning is van veel groter waarde as enige materiële skat.—Lees Spreuke 2:1-6.

3. In watter opsigte is die skatte wat Jehovah sy aanbidders aanspoor om te soek, nuttig?

3 Beskou die waarde van die skatte wat Jehovah sy aanbidders aanspoor om te soek. Onder hierdie skatte is “die vrees van Jehovah”, wat ons in hierdie gevaarlike tye kan beskerm en bewaar (Ps. 19:9). As ons “die kennis van God” vind, kan dit tot die grootste eer lei wat enige mens kan ontvang—’n hegte persoonlike verhouding met die Allerhoogste. En met die skatte van godgegewe wysheid, kennis en onderskeidingsvermoë sal ons probleme en kwellinge in ons daaglikse lewe suksesvol die hoof kan bied (Spr. 9:10, 11). Hoe kan ons hierdie kosbare skatte vind?

Vind geestelike skatte

4. Watter aanwysings na geestelike skatte het ons?

4 In teenstelling met argeoloë en ander ontdekkers wat dikwels wyd en syd na hulle skatte moet soek, weet ons presies waar geestelike skatte gevind kan word. Soos ’n kaart wat aandui waar ’n skat is, toon God se Woord vir ons presies waar ons die skatte sal kan vind wat God belowe het. Die apostel Paulus het met verwysing na die Christus geskryf: “In hom is al die skatte van wysheid en van kennis sorgvuldig verborge” (Kol. 2:3). Terwyl ons hierdie woorde lees, vra ons miskien: ‘Waarom moet ons na hierdie skatte soek? Hoe is dit “verborge in” Christus? En hoe kan ons dit vind?’ Kom ons beskou die apostel se woorde van naderby om die antwoorde te kry.

5. Waarom het Paulus oor geestelike skatte geskryf?

5 Paulus het hierdie woorde aan sy mede-Christene in Kolosse geskryf. Hy het vir hulle gesê dat hy ’n worstelstryd ten behoewe van hulle het sodat ‘hulle harte vertroos kon word en hulle harmonies saamgevoeg kon wees in liefde’. (Lees Kolossense 2:1, 2.) Waarom was hy so besorg? Klaarblyklik was Paulus bewus daarvan dat die broers daar moontlik beïnvloed is deur party onder hulle wat sekere Griekse filosofieë bevorder het of wat wou hê dat die Mosaïese Wet weer onderhou moes word. Hy het die broers ernstig gewaarsku: “Pas op: miskien is daar iemand wat julle as sy prooi sal wegvoer deur die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense, volgens die elementêre dinge van die wêreld en nie volgens Christus nie.”—Kol. 2:8.

6. Waarom moet ons in Paulus se raad belangstel?

6 Ons het vandag te kampe met soortgelyke invloede van Satan en sy goddelose stelsel. Wêreldse filosofie, insluitende sekulêre humanisme en die evolusieteorie, vorm mense se denke, sedes, doelwitte en lewenstyl. Valse godsdiens speel ’n groot rol in talle gewilde feesdagvierings. Die vermaaklikheidsbedryf spits hom toe op die verdorwe neigings van die gevalle vlees, en baie van die dinge wat op die Internet gevind word, hou ’n wesenlike gevaar in vir jonk sowel as oud. Voortdurende blootstelling aan hierdie en ander wêreldse neigings kan ons gevoelens en gesindheid teenoor die leiding wat Jehovah voorsien, maklik beïnvloed en kan maak dat ons ons stewige houvas op die werklike lewe verslap. (Lees 1 Timoteus 6:17-19.) Dit is duidelik dat ons die betekenis van Paulus se woorde aan die Kolossense moet snap en sy raad ter harte moet neem as ons nie voor Satan se listige planne wil swig nie.

7. Watter twee dinge het Paulus gesê sou die Kolossense help?

7 As ons weer kyk na Paulus se woorde aan die Kolossense, sien ons dat hy, nadat hy sy besorgdheid uitgespreek het, twee dinge gemeld het wat hulle sou help om vertroos te word en om in liefde verenig te word. Hy het eerstens “die volle versekerdheid van hulle begrip” genoem. Hulle moes ten volle oortuig wees dat hulle ’n juiste begrip van die Skrif het, sodat hulle geloof ’n vaste grondslag kon hê (Heb. 11:1). Daarna het hy “juiste kennis van die heilige geheim van God” genoem. Hulle moes nie net ’n basiese kennis van die waarheid hê nie, maar moes ’n duidelike begrip van die dieper dinge van God verkry (Heb. 5:13, 14). Inderdaad goeie raad vir die Kolossense en vir ons wat vandag lewe! Maar hoe kan ons sulke versekerdheid en juiste kennis verkry? Paulus het die sleutel voorsien in sy betekenisvolle stelling oor Jesus Christus: “In hom is al die skatte van wysheid en van kennis sorgvuldig verborge.”

Skatte wat ‘verborge is in’ Christus

8. Verduidelik die betekenis van die uitdrukking ‘verborge in’ Christus.

8 Om te sê dat al die skatte van wysheid en van kennis ‘verborge is in’ Christus, beteken nie dat dit weggesluit en buite enigeen se bereik is nie. Dit beteken eerder net dat ons ons kragtig moet inspan om die skatte te vind en dat ons aandag op Jesus Christus gerig moet wees. Dit stem ooreen met wat Jesus van homself gesê het: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie” (Joh. 14:6). Ja, om die kennis van God te vind, moet ons gebruik maak van die hulp en leiding wat Jesus voorsien.

9. Watter rolle is aan Jesus toegewys?

9 Jesus het nie net gesê dat hy “die weg” is nie, maar ook dat hy “die waarheid en die lewe” is. Dit dui aan dat sy rol veel meer behels as net dat hy die middel is waardeur die Vader genader word. Jesus vervul ook rolle wat noodsaaklik is om Bybelwaarheid te verstaan en die ewige lewe te verkry. Ja, geestelike juwele van onvergelyklike waarde is verborge in Jesus en kan deur noulettende studente van die Bybel ontdek word. Kom ons ondersoek party van die juwele wat regstreeks verband hou met ons toekomsvooruitsigte en ons verhouding met God.

10. Wat kan ons uit Kolossense 1:19 en 2:9 omtrent Jesus leer?

10 “In hom woon die hele volheid van die goddelike hoedanigheid liggaamlik” (Kol. 1:19; 2:9). Omdat Jesus ontelbare eeue saam met sy hemelse Vader deurgebring het, ken hy die persoonlikheid en wil van God beter as enigiemand anders. Jesus het ander dwarsdeur sy aardse bediening geleer wat sy Vader hom geleer het en het die eienskappe wat sy Vader by hom ingeskerp het, in sy dade weerspieël. Daarom kon Jesus sê: “Hy wat my gesien het, het ook die Vader gesien” (Joh. 14:9). Al die wysheid en kennis van God is verborge, of woon, in Christus, en die allerbeste manier om omtrent Jehovah te leer, is om ons daarop toe te lê om alles wat ons kan omtrent Jesus te leer.

11. Watter verband is daar tussen Jesus en Bybelprofesieë?

11 “Dit is die aflegging van getuienis omtrent Jesus wat profesie inspireer” (Op. 19:10). Hierdie woorde dui aan dat Jesus die sleutelfiguur is in die verwesenliking van die talle profesieë in die Bybel. Van Jehovah se eerste profetiese verklaring, wat in Genesis 3:15 opgeteken is, tot die glorieryke visioene in die boek Openbaring, kan Bybelprofesieë alleenlik reg verstaan word wanneer Jesus se rol in verband met die Messiaanse Koninkryk in ag geneem word. Dit verklaar waarom baie van die profesieë in die Hebreeuse Geskrifte verwarrend is vir dié wat Jesus nie as die beloofde Messias aanvaar nie. Dit verklaar ook waarom Jesus bloot as ’n vername man beskou word deur diegene wat geen waarde heg aan die Hebreeuse Geskrifte, waarin baie Messiaanse profesieë voorkom nie. Kennis van Jesus gee God se volk die sleutel om die betekenis van Bybelprofesieë wat nog nie vervul is nie, te ontsluit.—2 Kor. 1:20.

12, 13. (a) Hoe is Jesus “die lig van die wêreld”? (b) Onder watter verpligting is Christus se volgelinge, aangesien hulle van godsdiensduisternis bevry is?

12 “Ek is die lig van die wêreld.” (Lees Johannes 8:12; 9:5.) Lank voordat Jesus op die aarde gebore is, het die profeet Jesaja voorspel: “Die volk wat in die duisternis gewandel het, het ’n groot lig gesien. Dié wat in die land van diep skaduwee gewoon het, oor hulle het lig geskyn” (Jes. 9:2). Die apostel Matteus het verduidelik dat Jesus hierdie profesie vervul het toe Hy begin preek en gesê het: “Toon berou, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matt. 4:16, 17). Jesus se bediening het geestelike verligting en vryheid van slawerny aan valse godsdiensleringe aan die volk voorsien. “Ek het as ’n lig in die wêreld ingekom”, het Jesus gesê, “sodat elkeen wat geloof in my stel, nie in die duisternis sal bly nie.”—Joh. 1:3-5; 12:46.

13 Jare later het die apostel Paulus vir sy mede-Christene gesê: “Julle was eens duisternis, maar julle is nou lig in verband met die Here. Gaan voort om as kinders van die lig te wandel” (Ef. 5:8). Aangesien Christene van slawerny aan godsdiensduisternis bevry is, is hulle onder verpligting om as kinders van die lig te wandel. Dit is in ooreenstemming met wat Jesus vir sy volgelinge in die Bergpredikasie gesê het: “Laat julle lig . . . voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en heerlikheid kan gee aan julle Vader wat in die hemele is” (Matt. 5:16). Het jy soveel waardering vir die geestelike skatte wat jy in Jesus gevind het dat jy dit deur jou woorde sowel as deur jou goeie Christelike gedrag by ander sal aanbeveel?

14, 15. (a) Watter rol het skape en ander diere in Bybeltye in ware aanbidding gespeel? (b) Waarom is Jesus ’n onvergelyklike skat in sy rol as “die Lam van God”?

14 Jesus is “die Lam van God” (Joh. 1:29, 36). Dwarsdeur die Bybel het skape ’n vername rol gespeel in die vergifnis van sondes en die voorreg om God te nader. Byvoorbeeld, nadat Abraham getoon het dat hy gewillig is om sy seun Isak te offer, is daar vir hom gesê om Isak geen leed aan te doen nie en is ’n ram, of manlike skaap, as ’n plaasvervanger aan hom voorsien (Gen. 22:12, 13). Toe die Israeliete uit Egipte verlos is, het skape weer eens ’n belangrike rol gespeel, hierdie keer as deel van “die pasga van Jehovah” (Eks. 12:1-13). En die Mosaïese Wet het voorsiening gemaak vir verskillende diereoffers, met inbegrip van skape en bokke.—Eks. 29:38-42; Lev. 5:6, 7.

15 Geeneen van hierdie offerandes—trouens, geen offerande wat deur mense gebring is—kon permanente bevryding van sonde en die dood meebring nie (Heb. 10:1-4). Jesus is daarenteen “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem”. Hierdie feit alleen maak Jesus ’n skat wat enige materiële skat oortref wat nog ooit gevind is. Daarom sal dit verstandig van ons wees om tyd in te ruim om die onderwerp van die losprys sorgvuldig te bestudeer en geloof in hierdie wonderlike voorsiening te beoefen. As ons dit doen, sal ons die hoop hê om ’n groot seën en beloning te ontvang—heerlikheid en eer saam met Christus in die hemel vir die “klein kuddetjie” en ewige lewe in die Paradys op aarde vir die “ander skape”.—Luk. 12:32; Joh. 6:40, 47; 10:16.

16, 17. Waarom is dit belangrik dat ons Jesus se rol as “die Hoofbewerker en Vervolmaker van ons geloof” verstaan?

16 Jesus is “die Hoofbewerker en Vervolmaker van ons geloof”. (Lees Hebreërs 12:1, 2.) In Hebreërs hoofstuk 11 vind ons Paulus se meesterlike bespreking van geloof, wat ’n kort definisie van geloof en ’n lys van voorbeeldige manne en vroue van geloof, soos Noag, Abraham, Sara en Ragab, insluit. Met dit alles in gedagte het Paulus sy mede-Christene aangespoor om “die blik stip gerig [te] hou op die Hoofbewerker en Vervolmaker van ons geloof, Jesus”. Waarom?

17 Hoewel die getroue manne en vroue wat in Hebreërs hoofstuk 11 genoem word, sterk geloof in God se belofte gehad het, het hulle nie al die besonderhede geken van hoe God sy voorneme deur die Messias en die Koninkryk sou vervul nie. In dié sin was hulle geloof onvolledig. Trouens, selfs diegene wat deur Jehovah gebruik is om die talle Messiaanse profesieë op te teken, het nie die betekenis van wat hulle geskryf het, ten volle begryp nie (1 Pet. 1:10-12). Geloof kan slegs deur Jesus vervolmaak, of volledig gemaak, word. Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons Jesus se rol as “die Hoofbewerker en Vervolmaker van ons geloof” goed verstaan en erken!

Hou aan soek

18, 19. (a) Meld ander geestelike juwele wat verborge is in Christus. (b) Waarom moet ons aanhou om na geestelike skatte in Jesus te soek?

18 Ons het net ’n paar van Jesus se kosbare rolle in God se voorneme vir die mensdom se redding ondersoek. Daar is nog ander geestelike juwele wat verborge is in Christus. Dit sal ons genot verskaf en vir ons voordele inhou om dit te vind. Byvoorbeeld, die apostel Petrus het Jesus “die Hoofbewerker van die lewe” en “’n dagster” wat opgaan, genoem (Hand. 3:15; 5:31; 2 Pet. 1:19). En die Bybel het die woord “Amen” op Jesus toegepas (Op. 3:14). Weet jy wat hierdie rolle beteken en waarom dit van belang is? Soos Jesus gesê het: “Hou aan soek, en julle sal vind.”—Matt. 7:7.

19 Die lewe van niemand in die geskiedenis was so betekenisvol en so nou verbonde aan ons ewige welsyn soos Jesus s’n nie. In hom is geestelike skatte wat maklik gevind kan word deur enigiemand wat dit heelhartig soek. Mag jy die vreugde en seën ervaar om die skatte te vind wat ‘sorgvuldig verborge is in hom’.

Onthou jy?

• Watter skatte word Christene aangespoor om te soek?

• Waarom is Paulus se raad aan die Kolossense nog steeds gepas vir ons wat vandag lewe?

• Meld en gee ’n verduideliking van party van die geestelike skatte wat ‘verborge is in’ Christus.

[Studievrae]

[Prente op bladsy 5]

Die Bybel is soos ’n kaart wat aandui waar ’n skat is, want dit lei ons na die rykdom wat ‘sorgvuldig verborge is’ in Christus