Volg Jesus na—Preek met vrymoedigheid
Volg Jesus na—Preek met vrymoedigheid
“Ons [het] die vrymoedigheid bymekaargeskraap [om] die goeie nuus . . . tot julle te spreek.”—1 TESS. 2:2.
1. Waarom is die goeie nuus van die Koninkryk so aantreklik?
HOE aangenaam is dit tog om goeie nuus te hoor! En die heel beste nuus is die goeie nuus van God se Koninkryk. Hierdie goeie nuus verseker ons dat lyding, siekte, pyn, droefheid en die dood tot ’n einde sal kom. Dit baan die weg tot die ewige lewe, openbaar God se voorneme en toon hoe ons ’n liefdevolle verhouding met hom kan geniet. ’n Mens sou dink dat almal bly sou wees om hierdie nuus te hoor wat Jesus aan die mensdom meegedeel het. Maar ongelukkig is dit nie die geval nie.
2. Verduidelik Jesus se stelling: “Ek het gekom om verdeeldheid te veroorsaak.”
2 Jesus het vir sy dissipels gesê: “Moenie dink dat ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie; ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar ’n swaard. Want ek het gekom om verdeeldheid te veroorsaak: ’n man teen sy vader, en ’n dogter teen haar moeder, en ’n jong vrou teen haar skoonmoeder. Ja, ’n mens se eie huisgenote sal sy vyande wees” (Matt. 10:34-36). In plaas van die goeie nuus te aanvaar, verwerp die meeste mense dit. Party maak hulle vyande van dié wat dit verkondig, al is dit hulle eie gesinslede.
3. Wat het ons nodig om ons predikingstoewysing uit te voer?
3 Ons verkondig dieselfde waarhede as Jesus, en wanneer mense dit hoor, reageer hulle vandag teenoor ons net soos baie destyds teenoor hom gereageer het. Dit verbaas ons glad nie. Jesus het vir sy dissipels gesê: “’n Slaaf is nie groter as sy heer nie. As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg” (Joh. 15:20). In baie lande kom ons nie voor direkte vervolging te staan nie, maar ons het wel te kampe met mense se minagtende en onverskillige houding. Gevolglik het ons geloof en moed nodig om te volhard in ons werk om die goeie nuus met vrymoedigheid te verkondig.—Lees 2 Petrus 1:5-8.
4. Waarom moes Paulus ‘die vrymoedigheid bymekaarskraap’ om te preek?
4 Dalk vind jy dit soms moeilik om aan die bediening deel te neem, of ’n sekere aspek daarvan lyk dalk intimiderend. Indien wel, is jy nie alleen nie. Die apostel Paulus was ’n vrymoedige, vreeslose prediker wat ’n uitstekende begrip van die waarheid gehad het, en tog was dit selfs vir hom soms moeilik om te preek. Paulus het aan die Christene in Tessalonika geskryf: “Nadat ons (soos julle weet) eers gely het en minagtend behandel is in Filippi, [het ons] deur middel van ons God die vrymoedigheid bymekaargeskraap . . . om met groot worsteling die goeie nuus van God tot julle te spreek” (1 Tess. 2:2). Die owerheid in Filippi het Paulus en sy metgesel Silas met stokke geslaan, in die tronk gegooi en in die blok gesit (Hand. 16:16-24). Nietemin het Paulus en Silas “die vrymoedigheid bymekaargeskraap” om aan te hou preek. Hoe kan ons dieselfde doen? Om die antwoord hierop te kry, kan ons kyk wat God se knegte in Bybeltye in staat gestel het om die waarheid omtrent Jehovah met vrymoedigheid te verkondig en hoe ons hulle voorbeeld kan volg.
Vrymoedigheid is nodig om vyandigheid die hoof te bied
5. Waarom het dié wat lojaal aan Jehovah is, nog altyd vrymoedigheid nodig gehad?
5 Die beste voorbeeld van moed en vrymoedigheid is natuurlik Jesus Christus. Maar sedert die begin van die mensegeskiedenis het dié wat lojaal is aan Jehovah, nog altyd vrymoedigheid nodig gehad. Hoe so? Ná die opstand in Eden het Jehovah voorspel dat daar vyandskap sou wees tussen dié wat God dien en dié wat Satan dien (Gen. 3:15). Hierdie vyandskap het gou duidelik geword toe Abel, ’n regverdige man, deur sy broer doodgemaak is. Later was vyandskap teen Henog gemik, nog ’n getroue man wat voor die Vloed gelewe het. Hy het geprofeteer dat God met Sy heilige tienduisende sal kom om oordeel aan die goddeloses te voltrek (Jud. 14, 15). Hierdie boodskap was beslis nie gewild nie. Mense het Henog gehaat en sou hom blykbaar vermoor het as Jehovah nie sy lewe kortgeknip het nie. Watter vrymoedigheid het Henog tog getoon!—Gen. 5:21-24.
6. Waarom het Moses vrymoedigheid nodig gehad om met Farao te praat?
6 Dink ook aan die vrymoedigheid wat Moses geopenbaar het toe hy gepraat het met Farao, ’n heerser wat nie as ’n blote verteenwoordiger van die gode beskou is nie, maar as ’n god self, die seun van die songod Ra. Moontlik het hy, soos ander Farao’s, ’n beeld van homself aanbid. Farao se woord was wet; hy het sonder volksverteenwoordiging regeer. Die magtige, verwaande en hardkoppige Farao was nie daaraan gewoond dat ander vir hom sê wat om te doen nie. Dit was voor hierdie man wat Moses, ’n sagmoedige herder, herhaaldelik verskyn het—ongenooid en onwelkom. En wat het Moses voorspel? Verwoestende plae. En wat het hy geëis? Toestemming dat etlike miljoene van Farao se slawe die land verlaat! Het Moses vrymoedigheid nodig gehad? Beslis!—Num. 12:3; Heb. 11:27.
7, 8. (a) Watter beproewinge het oor getroues van die ou tyd gekom? (b) Wat het diegene in voor-Christelike tye in staat gestel om vrymoedigheid aan die dag te lê om ware aanbidding te beoefen en te bevorder?
7 In die daaropvolgende eeue het profete en ander getroue knegte van God steeds ’n moedige standpunt vir ware aanbidding ingeneem. Satan se wêreld was hulle nie goedgesind nie. Paulus sê: “Hulle is gestenig, hulle is beproef, hulle is in stukke gesaag, hulle het gesterf deur slagting met die swaard, hulle het rondgeloop in skaapvelle, in bokvelle, terwyl hulle gebrek gely het, in verdrukking verkeer het, sleg behandel is” (Heb. 11:37). Wat het hierdie lojale knegte van God gehelp om standvastig te bly? ’n Paar verse vroeër het die apostel genoem wat Abel, Abraham, Sara en ander die krag gegee het om te volhard. Hy het gesê: “Hulle [het] nie die vervulling van die beloftes verkry . . . nie, maar hulle het dit [in geloof] van ver gesien en dit verwelkom [“begroet”, vtn. in NW]” (Heb. 11:13). Profete soos Elia, Jeremia en ander getroues van voor-Christelike tye wat moedig ’n standpunt vir ware aanbidding ingeneem het, kon ongetwyfeld ook volhard omdat hulle hulle oë op Jehovah se beloftes gevestig gehou het.—Tit. 1:2.
8 Daardie getroues van voor-Christelike tye het na ’n blink en opwindende toekoms uitgesien. Hulle sal opgewek word, uiteindelik volmaaktheid bereik en deur middel van die priesterlike dienste van Christus Jesus en sy 144 000 onderpriesters “van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak” word (Rom. 8:21). Verder het Jeremia en ander moedige knegte van God in die ou tyd moed geskep weens Jehovah se versekering, wat in sy belofte aan Jeremia weerspieël word: “Hulle sal vir seker teen jou veg, maar hulle sal nie die oorhand oor jou kry nie, want ‘ek is met jou’, is die woord van Jehovah, ‘om jou te verlos’” (Jer. 1:19). Wanneer ons vandag oor God se beloftes vir ons toekoms en sy versekering van geestelike beskerming peins, word ons eweneens versterk.—Spr. 2:7; lees 2 Korintiërs 4:17, 18.
Liefde het Jesus beweeg om met vrymoedigheid te preek
9, 10. Hoe het Jesus vrymoedigheid getoon voor (a) die godsdiensleiers, (b) ’n groep soldate, (c) die hoëpriester, (d) Pilatus?
9 Ons Voorbeeld, Jesus, het sy vrymoedigheid op verskeie maniere getoon. Byvoorbeeld, hoewel dié met mag en invloed Jesus gehaat het, het hy nie God se boodskap aan die mense afgewater nie. Hy het die invloedryke godsdiensleiers vreesloos aan die kaak gestel weens hulle eiegeregtigheid sowel as hulle valse leerstellings. Hierdie manne is veroordeel, en Jesus het dit reguit en duidelik vir hulle gesê. By een geleentheid het hy gesê: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! want julle is soos gewitte grafte, wat wel van buite mooi lyk, maar binne-in vol doodsbeendere en allerhande onreinheid is. So lyk ook julle wel van buite vir die mense regverdig, maar binne-in is julle vol huigelary en wetteloosheid.”—Matt. 23:27, 28.
10 Toe Jesus deur ’n groep soldate in die tuin van Getsemane gekonfronteer is, het hy moedig vir hulle gesê wie hy is (Joh. 18:3-8). Later is hy na die Sanhedrin gelei en deur die hoëpriester ondervra. Hoewel hy geweet het dat die hoëpriester ’n voorwendsel soek om hom dood te maak, het Jesus vreesloos bevestig dat Hy die Christus sowel as die Seun van God is. Hy het bygevoeg dat hulle hom “aan die regterhand van krag [sal] sien sit en met die wolke van die hemel [sal] sien kom” (Mark. 14:53, 57-65). Kort daarna het Jesus geboei voor Pilatus gestaan, wat hom kon vrylaat. Maar Jesus het stilgebly toe daar beskuldigings teen hom ingebring is (Mark. 15:1-5). Dit het alles baie moed geverg.
11. Hoe hou vrymoedigheid verband met liefde?
11 Vir Pilatus het Jesus wel gesê: “Hiervoor is ek gebore en hiervoor het ek in die wêreld ingekom, om van die waarheid te getuig” (Joh. 18:37). Jehovah het Jesus die opdrag gegee om die goeie nuus te verkondig, en Jesus het daarin behae geskep omdat hy lief was vir sy hemelse Vader (Luk. 4:18, 19). Jesus was ook lief vir die volk. Hy het geweet dat hulle lewe moeilik was. Ons getuig ook met vrymoedigheid en sonder vrees weens liefde vir God en liefde vir ons naaste.—Matt. 22:36-40.
Heilige gees gee ons die krag om met vrymoedigheid te preek
12. Wat het die vroeë dissipels vreugde verskaf?
12 In die weke ná Jesus se dood het die dissipels rede tot vreugde gehad, aangesien Jehovah dié wat gered is, by hulle gevoeg het. Dink net, op net een dag is sowat 3 000 Jode en proseliete uit baie lande wat vir die Pinksterfees in Jerusalem was, gedoop! Wat ’n opskudding moes dit tog in daardie Joodse vesting veroorsaak het! Die Bybel sê: “Vrees het op elke siel begin val, en baie voortekens en tekens het deur middel van die apostels begin plaasvind.”—Hand. 2:41, 43.
13. Waarom het die broers vir vrymoedigheid gebid, en met watter gevolg?
13 Die godsdiensleiers was woedend en het Petrus en Johannes in hegtenis geneem, hulle oornag aangehou en hulle beveel om nie oor Jesus te praat nie. Toe hulle vrygelaat is, het die twee manne die broers vertel wat gebeur het, en hulle almal het gebid oor die teenstand wat hulle ondervind en gevra: “Jehovah, . . . gee aan u slawe om u woord met alle vrymoedigheid te bly spreek.” Die gevolg? “Hulle is almal sonder uitsondering met die heilige gees vervul en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.”—Hand. 4:24-31.
14. Hoe help die heilige gees ons in ons predikingswerk?
14 Let op dat dit Jehovah se kragtige heilige gees was wat die dissipels gehelp het om God se woord met vrymoedigheid te spreek. Die moed om ander van die waarheid te vertel, selfs dié wat ons boodskap teëstaan, is nie uit onsself nie. Jehovah kan en sal ons sy heilige gees gee as ons hom vra om dit te doen. Met Jehovah se hulp kan ons ook die nodige vrymoedigheid aan die dag lê om ondanks enige teenstand te seëvier.—Lees Psalm 138:3.
Christene preek vandag met vrymoedigheid
15. Hoe veroorsaak die waarheid vandag verdeeldheid onder mense?
15 In ons dag, soos in die verlede, veroorsaak die waarheid nog steeds verdeeldheid. Party reageer gunstig, terwyl ander nie ons vorm van aanbidding verstaan of respekteer nie. Party kritiseer, spot of haat ons selfs, net soos Jesus voorspel het (Matt. 10:22). Ons is soms die teiken van valse inligting en kwaadwillige propaganda deur die media (Ps. 109:1-3). Nietemin verkondig Jehovah se volk die goeie nuus regoor die aarde met vrymoedigheid.
16. Watter ondervinding toon dat vrymoedigheid die beskouing van dié vir wie ons preek, kan verander?
16 Ons vrymoedigheid laat mense soms hulle beskouing van die Koninkryksboodskap verander. ’n Suster in Kirgistan vertel: “Terwyl ek in die predikingswerk uit was, het ’n huisbewoner vir my gesê: ‘Ek glo in God, maar nie in die God van die Christene nie. As jy weer na hierdie hek toe kom, sal ek my hond op jou loslaat!’ Agter hom was ’n groot bulhond aan ’n ketting. Maar tydens die kampanje om Koninkryksnuus Nr. 37, ‘Die einde van valse godsdiens is op hande!’ te versprei, het ek besluit om na dieselfde huis terug te gaan, in die hoop dat ek ’n ander lid van die man se gesin sou ontmoet. Maar dieselfde man het die deur oopgemaak. Ek het vinnig tot Jehovah gebid en toe gesê: ‘Hallo, ek onthou ons gesprek van drie dae gelede, en ek onthou ook jou hond. Maar ek kon nie verbystap nie omdat ek, net soos jy, in die een ware God glo. God sal binnekort godsdienste straf wat hom tot oneer strek. Jy kan meer hieroor leer deur hierdie traktaat te lees.’ Tot my verbasing het die man die Koninkryksnuus geneem. Toe het ek na ’n ander huis gegaan. ’n Paar minute later het die man agter my aangehardloop gekom met die Koninkryksnuus in sy hand. ‘Ek het dit gelees’, het hy gesê. ‘Wat moet ek doen om God se gramskap vry te spring?’” ’n Studie is met die man begin, en hy het Christelike vergaderinge begin bywoon.
17. Hoe het die vrymoedigheid van ’n suster ’n Bybelstudent versterk wat mensevrees gehad het?
17 Ons vrymoedigheid kan ook ander aanspoor om vrymoedig te wees. In Rusland het ’n suster wat met die bus gery het, ’n tydskrif vir ’n medepassasier aangebied. Daarop het ’n man uit sy sitplek opgespring, die tydskrif uit die suster se hande gegryp, dit opgefrommel en op die vloer gegooi. Hy het die suster hardop gevloek, geëis dat sy hom haar adres gee en haar gewaarsku om nie in die dorpie te preek nie. Die suster het tot Jehovah om hulp gebid en aan Jesus se woorde gedink: “Moenie bevrees word vir dié wat die liggaam doodmaak [nie]” (Matt. 10:28). Sy het kalm opgestaan en vir die man gesê: “Ek sal jou nie my adres gee nie, en ek sal aanhou om in die dorpie te preek.” Toe het sy van die bus afgeklim. Die suster het nie geweet dat een van haar Bybelstudente op dieselfde bus is nie. Hierdie vrou het toegelaat dat mensevrees haar verhinder om Christelike vergaderinge by te woon. Maar nadat sy die vrymoedigheid van ons suster gesien het, het die Bybelstudent besluit dat sy die vergaderinge sou begin bywoon.
18. Wat sal jou help om, soos Jesus, met vrymoedigheid te preek?
18 In hierdie wêreld wat van God vervreemd is, verg dit vrymoedigheid om te preek soos Jesus gepreek het. Wat sal jou help om dit te doen? Hou jou blik op die toekoms gerig. Hou jou liefde vir God en jou naaste sterk. Bid tot Jehovah vir moed. Onthou altyd dat jy nooit alleen is nie, want Jesus is met jou (Matt. 28:20). Heilige gees sal jou versterk. En Jehovah sal jou seën en onderskraag. Laat ons dus goeie moed hou en sê: “Jehovah is my helper; ek sal nie bang wees nie. Wat kan die mens aan my doen?”—Heb. 13:6.
Hoe sal jy antwoord?
• Waarom het God se knegte vrymoedigheid nodig?
• Wat leer ons oor vrymoedigheid by . . .
getroues wat voor Christus gelewe het?
Jesus Christus?
die vroeë Christene?
mede-Christene van vandag?
[Studievrae]
[Prent op bladsy 21]
Jesus het die godsdiensleiers vreesloos aan die kaak gestel
[Prent op bladsy 23]
Jehovah gee ons die moed om te preek