Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die ewige lewe op aarde—’n Godgegewe hoop

Die ewige lewe op aarde—’n Godgegewe hoop

Die ewige lewe op aarde—’n Godgegewe hoop

“Die skepping is aan nietigheid onderwerp . . . op grond van hoop.”—ROM. 8:20.

1, 2. (a) Waarom is die hoop op die ewige lewe op aarde vir ons belangrik? (b) Waarom is baie mense skepties oor die ewige lewe op aarde?

 JY ONTHOU dalk nog die vreugde wat jy ervaar het toe jy vir die eerste keer geleer het dat mense in die nabye toekoms nie meer sal oud word en sterf nie, maar vir ewig op die aarde sal lewe (Joh. 17:3; Op. 21:3, 4). Jy geniet dit waarskynlik om ander van hierdie skriftuurlike hoop te vertel. Die hoop op die ewige lewe is immers ’n baie belangrike aspek van die goeie nuus wat ons verkondig. Ons hele uitkyk op die lewe word daardeur gevorm.

2 Die godsdienste van die Christendom het merendeels die hoop op die ewige lewe op aarde geïgnoreer. Hoewel die Bybel leer dat die siel sterf, verkondig die meeste kerke die onskriftuurlike leerstelling dat die mens ’n onsterflike siel het wat ná die dood in die geesteryk voortleef (Eseg. 18:20). Gevolglik is baie mense skepties oor die ewige lewe op aarde. Ons kan derhalwe vra: Staaf die Bybel werklik hierdie hoop? Indien wel, wanneer het God dit vir die eerste keer aan die mens geopenbaar?

“Aan nietigheid onderwerp . . . op grond van hoop”

3. Hoe was God se voorneme vir die mens van die begin van die mensegeskiedenis af duidelik?

3 Jehovah se voorneme vir die mensdom is reg aan die begin van die mensegeskiedenis geopenbaar. God het duidelik getoon dat Adam vir ewig sou lewe as hy gehoorsaam was (Gen. 2:9, 17; 3:22). Adam se vroeë nakomelinge het ongetwyfeld gehoor hoe die mens volmaaktheid verloor het, en daar was sigbare bewyse om dit te bevestig. Die ingang tot die tuin van Eden was versper, en mense het oud geword en gesterf (Gen. 3:23, 24). Met verloop van tyd het die mens se lewensduur afgeneem. Adam het 930 jaar gelewe. Sem, ’n oorlewende van die Vloed, het net 600 jaar gelewe, en sy seun Arpagsad 438 jaar. Abraham se vader, Tera, het 205 jaar gelewe. Die lewensduur van Abraham was 175 jaar, dié van sy seun Isak was 180 jaar, en dié van Jakob 147 jaar (Gen. 5:5; 11:10-13, 32; 25:7; 35:28; 47:28). Baie mense het ongetwyfeld besef wat hierdie afname beteken het—die vooruitsig op die ewige lewe is verloor! Het hulle rede gehad om te hoop dat dit herstel sou word?

4. Op grond waarvan het getroue manne van ouds geglo dat God die seëninge sou herstel wat Adam verloor het?

4 God se Woord sê: “Die [mense]skepping is aan nietigheid onderwerp . . . op grond van hoop” (Rom. 8:20). Watter hoop? Die heel eerste profesie in die Bybel het gewys na ’n “saad” wat ‘die slang se kop sou vermorsel’. (Lees Genesis 3:1-5, 15.) Vir getroue mense het die belofte van hierdie Saad ’n grondslag vir hoop voorsien dat God nie van sy voorneme vir die mensdom sou afsien nie. Dit het manne soos Abel en Noag rede gegee om te glo dat God die seëninge sou herstel wat Adam verloor het. Hierdie manne het dalk besef dat bloed uitgestort sou word wanneer ‘die saad in die hakskeen gewond’ word.—Gen. 4:4; 8:20; Heb. 11:4.

5. Wat toon dat Abraham geloof in die opstanding gehad het?

5 Dink aan Abraham. Toe hy op die proef gestel is, het Abraham “[sy enigverwekte seun] Isak so goed as geoffer” (Heb. 11:17). Waarom was hy gewillig om dit te doen? (Lees Hebreërs 11:19.) Hy het in die opstanding geglo! Abraham het ’n grondslag vir sy geloof in die opstanding gehad. Jehovah het immers Abraham se voortplantingsvermoëns weer lewend gemaak en hom en sy vrou, Sara, in staat gestel om op hulle oudag ’n seun voort te bring (Gen. 18:10-14; 21:1-3; Rom. 4:19-21). Abraham het ook Jehovah se woord gehad. God het vir hom gesê: “Wat jou saad genoem sal word, sal deur middel van Isak wees” (Gen. 21:12). Abraham het dus gegronde redes gehad om te verwag dat God Isak sou opwek.

6, 7. (a) Watter verbond het Jehovah met Abraham gesluit? (b) Hoe het Jehovah se belofte aan Abraham vir die mensdom hoop gegee?

6 Weens Abraham se uitsonderlike geloof het Jehovah ’n verbond met hom gesluit in verband met sy nageslag, of “saad”. (Lees Genesis 22:18.) Die primêre deel van die “saad” was Jesus Christus (Gal. 3:16). Jehovah het vir Abraham gesê dat sy “saad” vermeerder sou word “soos die sterre van die hemel en soos die sandkorrels wat aan die seestrand is”—’n onbekende getal vir Abraham (Gen. 22:17). Maar later is hierdie getal geopenbaar. Jesus Christus en die 144 000, wat saam met hom in sy Koninkryk sal regeer, maak die “saad” uit (Gal. 3:29; Op. 7:4; 14:1). Die Messiaanse Koninkryk is die middel waardeur “al die nasies van die aarde hulleself [sal] seën”.

7 Dit was onmoontlik vir Abraham om die volle betekenis te verstaan van die verbond wat Jehovah met hom gesluit het. Nietemin het hy “gewag op die stad wat ware fondamente het”, sê die Bybel (Heb. 11:10). Hierdie stad is God se Koninkryk. Om seëninge onder hierdie Koninkryk te ontvang, sal Abraham weer moet lewe. Die ewige lewe op aarde sal deur middel van die opstanding vir hom moontlik wees. En die ewige lewe sal moontlik wees vir dié wat Armageddon oorleef of dié wat uit die dood opgewek sal word.—Op. 7:9, 14; 20:12-14.

“Gees het druk op my uitgeoefen”

8, 9. Waarom is die boek Job nie bloot ’n verslag van een man se beproewinge nie?

8 Gedurende die tydperk tussen die lewe van Abraham se agterkleinseun Josef en die profeet Moses het ’n man met die naam Job gelewe. Die Bybelboek Job, wat waarskynlik deur Moses geskryf is, verklaar waarom Jehovah toegelaat het dat Job ly en hoe die saak vir hom afgeloop het. Maar die boek Job is nie bloot ’n verslag van een man se beproewinge nie; dit handel oor geskille wat van universele belang is. Die boek bied insig in die regverdige wyse waarop Jehovah sy soewereiniteit uitoefen, en dit openbaar dat die onkreukbaarheid en lewensvooruitsigte van al God se aardse knegte betrokke is by die geskil wat in Eden geopper is. Hoewel Job hierdie geskil nie verstaan het nie, het hy nie toegelaat dat sy drie metgeselle hom laat dink dat hy as ’n handhawer van onkreukbaarheid gefaal het nie (Job 27:5). Dit behoort ons geloof te versterk en ons te help besef dat ons ons onkreukbaarheid kan handhaaf en Jehovah se soewereiniteit kan verdedig.

9 Nadat Job se drie sogenaamde vertroosters klaar gepraat het, het “Elihu, die seun van Baragel, die Busiet, . . . geantwoord”. Wat het hom beweeg om te praat? “Ek het vol woorde geword”, het hy gesê. “Gees het druk op my uitgeoefen in my buik” (Job 32:5, 6, 18). Hoewel die dinge wat Elihu onder inspirasie gesê het, in Job se herstel vervul is, is sy woorde ook betekenisvol vir ander. Dit bied hoop vir alle handhawers van onkreukbaarheid.

10. Wat toon dat Jehovah se boodskap aan ’n individu soms ’n breër toepassing op die mensdom oor die algemeen het?

10 Jehovah gee soms aan ’n individu ’n boodskap wat ook ’n breër toepassing het op die mensdom oor die algemeen. Dit kan gesien word in Daniël se profesie wat handel oor die Babiloniese koning Nebukadnesar se droom oor ’n yslike boom wat afgekap word (Dan. 4:10-27). Hoewel hierdie droom ’n vervulling in verband met Nebukadnesar gehad het, het dit op iets baie groters gedui. Dit het aangedui dat goddelike soewereiniteit oor die aarde, soos verteenwoordig deur ’n koninkryk in die geslagslyn van koning Dawid, weer ná ’n tydperk van 2 520 jaar, wat in 607 VHJ a begin het, uitgeoefen sou word. b God se soewereiniteit oor ons aarde is opnuut uitgeoefen sedert die jaar 1914, toe Jesus Christus as hemelse Koning gekroon is. Dink net hoe Koninkryksheerskappy binnekort die verwagtinge van gehoorsame mense sal vervul!

“Laat hom nie in die kuil afdaal nie!”

11. Wat het Elihu se woorde aangaande God getoon?

11 In sy antwoord aan Job praat Elihu van “’n boodskapper . . . , ’n woordvoerder, een uit duisend, om aan die mens sy regskapenheid bekend te maak”. Gestel dat hierdie boodskapper “God dringend versoek dat hy behae in hom mag hê”. Elihu sê: “Dan betoon hy [God] guns aan hom en sê: ‘Laat hom nie in die kuil afdaal nie! Ek het ’n losprys gevind! Laat sy vlees frisser word as in die jeug; laat hy terugkeer na die dae van sy jeugdige krag’” (Job 33:23-26). Hierdie woorde het God se gewilligheid getoon om “’n losprys”, of “bedekking”, ten behoewe van berouvolle mense te aanvaar.—Job 33:24, vtn. in NW.

12. Watter hoop bied Elihu se woorde aan die mensdom oor die algemeen?

12 Elihu het moontlik nie die volle betekenis van die losprys verstaan nie, net soos profete nie alles wat hulle geskryf het, heeltemal verstaan het nie (Dan. 12:8; 1 Pet. 1:10-12). Nietemin weerspieël Elihu se woorde die hoop dat God eendag ’n losprys sal aanvaar en die mens van die verouderingsproses en die dood sal bevry. Elihu se woorde het die wonderlike vooruitsig op die ewige lewe gebied. Die boek Job toon ook dat daar ’n opstanding sal wees.—Job 14:14, 15.

13. Watter betekenis het Elihu se woorde vir Christene?

13 Vandag is Elihu se woorde steeds betekenisvol vir miljoene Christene wat hoop om die vernietiging van die teenswoordige stelsel van dinge te oorleef. Bejaardes onder die oorlewendes sal na die dae van hulle jeugdige krag terugkeer (Op. 7:9, 10, 14-17). Verder verbly getroues hulle in die vooruitsig om te sien dat verresenes tot die dae van hulle jeug herstel word. Dit spreek vanself dat onsterflikheid in die hemel vir gesalfde Christene sowel as die ewige lewe op aarde vir Jesus se “ander skape” daarvan afhang dat hulle geloof beoefen in Christus se losprysoffer.—Joh. 10:16; Rom. 6:23.

Die dood word van die aarde af verswelg

14. Wat toon dat iets meer as die Mosaïese Wet nodig was sodat die Israeliete die hoop op die ewige lewe kon hê?

14 Die nakomelinge van Abraham het ’n onafhanklike nasie geword toe hulle in ’n verbondsverhouding met God gekom het. Toe Jehovah hulle die Wet gegee het, het hy gesê: “Julle moet my insettinge en my regterlike beslissings onderhou, en as ’n mens dit nakom, sal hy ook daardeur lewe” (Lev. 18:5). Maar omdat die Israeliete nie die Wet se volmaakte standaarde kon naleef nie, is hulle deur die Wet veroordeel en het hulle bevryding van hierdie veroordeling nodig gehad.—Gal. 3:13.

15. Oor watter toekomstige seën is Dawid geïnspireer om te skryf?

15 Ná Moses het Jehovah ander Bybelskrywers geïnspireer om oor die hoop op die ewige lewe te skryf (Ps. 21:4; 37:29). Die psalmis Dawid het byvoorbeeld ’n psalm oor die eenheid van ware aanbidders in Sion afgesluit met die woorde: “Daar het Jehovah die seën gebied, ja, lewe tot onbepaalde tyd.”—Ps. 133:3.

16. Wat het Jehovah deur Jesaja oor die toekoms van “die hele aarde” belowe?

16 Jehovah het Jesaja geïnspireer om oor die ewige lewe op aarde te profeteer. (Lees Jesaja 25:7, 8.) Soos ’n versmorende “omhulling”—’n kombers—rus sonde en die dood swaar op die mensdom. Jehovah verseker sy knegte dat sonde en die dood “van die hele aarde af” verswelg, of verwyder, sal word.

17. Watter profetiese rol van die Messias maak die ewige lewe moontlik?

17 Beskou ook die prosedure wat in die Mosaïese Wet vasgestel is aangaande die bok vir Asasel. Een keer per jaar, op Versoendag, het die hoëpriester ‘sy twee hande op die kop van die lewende bok gelê en oor hom al die oortredings van die kinders van Israel bely, en hy het dit op die kop van die bok gelê, en die bok het al hulle oortredings op hom gedra na ’n woeste land’ (Lev. 16:7-10, 21, 22). Jesaja het die koms van die Messias voorspel, wat ’n soortgelyke rol sou speel en “siektes”, “pyn” en “die sonde van baie” sou wegdra, en so die ewige lewe moontlik sou maak.—Lees Jesaja 53:4-6, 12.

18, 19. Watter hoop word in Jesaja 26:19 en Daniël 12:13 beklemtoon?

18 Jehovah het deur middel van Jesaja vir sy volk Israel gesê: “U dooies sal lewe. My lyke [“my doodgemaaktes”, vtn. in NW]—hulle sal opstaan. Word wakker en roep met vreugde uit, julle wat in die stof woon! Want u dou is soos die dou van kiesieblare, en die aarde sal selfs dié wat magteloos is in die dood, voortbring soos by ’n geboorte” (Jes. 26:19). Die Hebreeuse Geskrifte sit die hoop op ’n opstanding en lewe op die aarde duidelik uiteen. Byvoorbeeld, toe Daniël byna 100 jaar oud was, het Jehovah hom verseker: “Jy sal rus, maar jy sal opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae.”—Dan. 12:13.

19 Weens die opstandingshoop kon Marta vir Jesus oor haar dooie broer sê: “Ek weet dat hy in die opstanding op die laaste dag sal opstaan” (Joh. 11:24). Het die leringe van Jesus en die geïnspireerde geskrifte van sy dissipels hierdie hoop verander? Is die ewige lewe op aarde nog steeds die hoop wat Jehovah aan die mensdom bied? Ons sal die antwoorde op hierdie vrae in die volgende artikel bespreek.

[Voetnote]

a Daar is verskeie maniere om jaartalle aan te dui. In hierdie tydskrif staan HJ vir “huidige jaartelling”, en VHJ beteken “voor die huidige jaartelling”. Na aanleiding van die gebruik in die jongste Afrikaanse woordeboeke sal hierdie terme voortaan gebruik word in plaas van G.J. (“Gewone Jaartelling”) en v.G.J. (“voor die Gewone Jaartelling”).

b Sien hoofstuk 6 van die boek Gee ag op Daniël se profesie!

Kan jy verduidelik?

• Op grond van watter hoop is die menseskepping “aan nietigheid onderwerp”?

• Wat toon dat Abraham geloof in die opstanding gehad het?

• Watter hoop bied Elihu se woorde aan Job vir die mensdom?

• Hoe beklemtoon die Hebreeuse Geskrifte die hoop op ’n opstanding en die ewige lewe op aarde?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 5]

Elihu se woorde aan Job voorsien hoop dat die mens van die verouderingsproses en die dood bevry sal word

[Prent op bladsy 6]

Daniël is verseker dat ‘hy sal opstaan tot sy bestemming aan die einde van die dae’