Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die ewige lewe op aarde—’n Herontdekte hoop

Die ewige lewe op aarde—’n Herontdekte hoop

Die ewige lewe op aarde—’n Herontdekte hoop

“O Daniël, hou die woorde geheim . . . tot die tyd van die einde toe. Baie sal rondswerf, en die ware kennis sal oorvloedig word.”—DAN. 12:4.

1, 2. Watter vrae sal in hierdie artikel bespreek word?

 DAAR is vandag miljoene mense wat die skriftuurlike grondslag van die hoop om vir ewig in ’n aardse paradys te lewe, duidelik verstaan (Op. 7:9, 17). Aan die begin van die mensegeskiedenis het God geopenbaar dat die mens gemaak is om vir ewig te lewe, nie om net ’n paar jaar te lewe en dan te sterf nie.—Gen. 1:26-28.

2 Die verheffing van die mensdom tot die volmaaktheid wat Adam verloor het, was deel van Israel se hoop. Die Christelike Griekse Geskrifte verduidelik hoe God die ewige lewe in die Paradys op aarde vir die mensdom moontlik sal maak. Waarom moes die mens se hoop dan herontdek word? Hoe is dit aan die lig gebring en aan miljoene bekend gemaak?

’n Versluierde hoop

3. Waarom is dit nie verbasend dat die mensdom se hoop op die ewige lewe op aarde versluier is nie?

3 Jesus het voorspel dat valse profete sy leringe sou verderf en dat die meeste mense mislei sou word (Matt. 24:11). Die apostel Petrus het Christene gewaarsku: “Daar [sal] ook valse onderrigters onder julle . . . wees” (2 Pet. 2:1). Die apostel Paulus het gepraat van “’n tyd . . . wanneer [mense] nie die gesonde leer [sou] verdra nie, maar ooreenkomstig hulle eie begeertes vir hulle onderrigters [sou] versamel sodat hulle ore gestreel [kon] word” (2 Tim. 4:3, 4). Satan mislei mense en het die afvallige Christelike godsdiens gebruik om die hartverblydende waarheid oor God se voorneme vir die mensdom en die aarde te versluier.—Lees 2 Korintiërs 4:3, 4. 

4. Watter hoop vir die mensdom het afvallige godsdiensleiers verwerp?

4 Die Skrif verduidelik dat die Koninkryk van God ’n regering in die hemel is wat alle mensgemaakte heerskappye sal verbrysel en ’n einde daaraan sal maak (Dan. 2:44). Gedurende Christus se heerskappy van duisend jaar sal Satan in die afgrond opgesluit wees, die dooies sal opgewek word en die mensdom sal tot volmaaktheid op die aarde verhef word (Op. 20:1-3, 6, 12; 21:1-4). Maar afvallige godsdiensleiers van die Christendom het ander idees aangeneem. Byvoorbeeld, die derde-eeuse kerkvader Origines van Aleksandrië het mense veroordeel wat geglo het dat die Millennium seëninge op die aarde sou bring. Die Katolieke teoloog Augustinus van Hippo (354-430 HJ) “het die oortuiging gehuldig dat daar geen millennium sal wees nie”, sê The Catholic Encyclopedia. a

5, 6. Waarom het Origines en Augustinus millennialisme teëgestaan?

5 Waarom het Origines en Augustinus millennialisme teëgestaan? Origines was ’n leerling van Klemens van Aleksandrië, wat die opvatting van ’n onsterflike siel aan Griekse oorlewering ontleen het. Onder die sterk invloed van Plato se opvattings oor die siel het Origines “die hele kosmiese drama van die siel, wat hy van Plato gekry het, deel van die Christelike leer gemaak”, sê die teoloog Werner Jaeger. Gevolglik het Origines die aardse seëninge van die Millennium na die geesteryk verskuif.

6 Voordat Augustinus hom op 33-jarige ouderdom tot “die Christelike godsdiens” bekeer het, was hy ’n Neo-Platonis—’n aanhanger van ’n weergawe van Plato se filosofie wat in die derde eeu deur Plotinus ontwikkel is. Ná Augustinus se bekering het hy nog steeds sy Neo-Platoniese denke behou. “Sy verstand was die smeltkroes waarin die godsdiens van die Nuwe Testament heeltemal versmelt is met die Platoniese oorlewering van Griekse filosofie”, sê The New Encyclopædia Britannica. Augustinus het die Duisendjarige Heerskappy wat in Openbaring hoofstuk 20 uitgebeeld word, verklaar deur “’n sinnebeeldige verduideliking [daarvan]” te gee, sê The Catholic Encyclopedia. Dit voeg by: “Hierdie verduideliking . . . is deur latere Westerse teoloë aangeneem, en millennialisme in sy vroeëre vorm het nie meer steun geniet nie.”

7. Watter valse opvatting het die mens se hoop op die ewige lewe op aarde ondermyn, en hoe?

7 Die mensdom se hoop op die ewige lewe op aarde is ondermyn deur ’n opvatting wat algemeen in eertydse Babilon was en regoor die wêreld versprei het—die opvatting dat die mens ’n onsterflike siel of gees het wat bloot in ’n fisiese liggaam woon. Toe die Christendom hierdie opvatting aangeneem het, het teoloë die Skrif verdraai om tekste wat die hemelse hoop beskryf, te laat klink of dit leer dat alle goeie mense hemel toe gaan. Volgens hierdie beskouing is ’n mens se lewe op die aarde veronderstel om tydelik te wees—’n toets om vas te stel of hy lewe in die hemel waardig is. Iets soortgelyks het met die vroeë Joodse hoop op die ewige lewe op aarde gebeur. Omdat die Jode die Griekse opvatting van inherente onsterflikheid geleidelik aangeneem het, het hulle oorspronklike hoop op lewe op die aarde vervaag. Hoe verskil dit tog van die manier waarop die mens in die Bybel uitgebeeld word! Die mens is ’n fisiese wese, nie ’n gees nie. Jehovah het vir die eerste mens gesê: “Stof is jy” (Gen. 3:19). Die aarde, nie die hemel nie, is die mens se ewige tuiste.—Lees Psalm 104:5; 115:16.

Strale van waarheid in die duisternis

8. Wat het party geleerdes van die 1600’s oor die mens se hoop gesê?

8 Hoewel die meeste godsdienste wat beweer dat hulle Christelik is, die hoop op die ewige lewe op aarde ontken, het Satan nie altyd daarin geslaag om die waarheid te versluier nie. Deur die eeue heen het ’n paar noulettende Bybellesers strale van waarheid gesien toe hulle sekere aspekte verstaan het van hoe God die mensdom tot volmaaktheid sal herstel (Ps. 97:11; Matt. 7:13, 14; 13:37-39). Teen die 1600’s het Bybelvertaling en -drukwerk die Heilige Skrif aan meer mense beskikbaar gemaak. In 1651 het een geleerde geskryf dat die mens “die Paradys en die ewige lewe op aarde [weens Adam] verloor het”, en gevolglik sal “alle mense [deur die Christus] op die aarde lewe; want anders sal die vergelyking nie reg wees nie”. (Lees 1 Korintiërs 15:21, 22.) Een van die Engelssprekende wêreld se beroemde digters, John Milton (1608-1674), het Paradise Lost en die vervolgstuk Paradise Regained geskryf. In sy werke het Milton verwys na die beloning wat die gelowiges in ’n aardse paradys sal ontvang. Hoewel Milton ’n groot deel van sy lewe aan Bybelstudie gewy het, het hy besef dat skriftuurlike waarheid nie ten volle begryp sal word tot Christus se teenwoordigheid nie.

9, 10. (a) Wat het Isaac Newton oor die mensdom se hoop geskryf? (b) Waarom het Newton gemeen dat die tyd vir Christus se teenwoordigheid nog ver is?

9 Die beroemde wiskundige sir Isaac Newton (1642-1727) het ook ’n lewendige belangstelling in die Bybel gehad. Hy het verstaan dat die heiliges tot hemelse lewe opgewek sal word en onsigbaar saam met Christus sal heers (Op. 5:9, 10). Wat die onderdane van die Koninkryk betref, het hy geskryf: “Die aarde sal ná die oordeelsdag steeds deur mense bewoon word, en nie net 1 000 jaar lank nie, maar vir ewig.”

10 Newton het gemeen dat Christus se teenwoordigheid eers eeue later sou kom. “Een rede waarom Newton gedink het dat die Koninkryk van God so ver in die toekoms is, is omdat hy baie pessimisties was oor die diepe Trinitariese afvalligheid wat hy om hom gesien het”, het die geskiedkundige Stephen Snobelen gesê. Die goeie nuus was nog versluier. En Newton het geen Christelike beweging gesien wat dit kon verkondig nie. Hy het geskryf: “Hierdie profesieë van Daniël en Johannes [waarvan laasgenoemde in die boek Openbaring opgeteken is] sal eers in die tyd van die einde verstaan word.” Newton het verduidelik: “‘Dan’, sê Daniël, ‘sal baie heen en weer hardloop, en die kennis sal vermeerder.’ Want die Evangelie moet in al die nasies verkondig word voordat die groot verdrukking en die einde van die wêreld aanbreek. Die menigte met palmtakke in hulle hande wat uit hierdie groot verdrukking kom, kan slegs ’n ontelbare groep uit alle nasies word as die Evangelie aan hulle verkondig word voordat [die verdrukking] aanbreek.”—Dan. 12:4; Matt. 24:14; Op. 7:9, 10.

11. Waarom het die mensdom se hoop in die dae van Milton en Newton vir die meeste mense versluier gebly?

11 In die dae van Milton en Newton was dit gevaarlik om idees uit te spreek wat met die amptelike kerkleer gebots het. Daarom is ’n groot deel van hulle geskrifte oor die Bybel eers ná hulle dood gepubliseer. Die Hervorming van die 16de eeu het nie die lering oor inherente onsterflikheid hervorm nie, en die vernaamste Protestantse kerke het voortgegaan om Augustinus se opvatting te leer dat die Millennium verby is en nie in die toekoms lê nie. Het kennis in die tyd van die einde vermeerder?

“Die ware kennis sal oorvloedig word”

12. Wanneer sou die ware kennis oorvloedig word?

12 Wat “die tyd van die einde” betref, het Daniël ’n baie positiewe verwikkeling voorspel. (Lees Daniël 12:3, 4, 9, 10.) “In dié tyd sal die regverdiges so helder soos die son skyn”, het Jesus gesê (Matt. 13:43). Hoe het die ware kennis in die tyd van die einde oorvloedig geword? Kyk na ’n paar geskiedkundige verwikkelinge in die dekades voor 1914, die jaar toe die tyd van die einde begin het.

13. Wat het Charles Taze Russell geskryf nadat hy die onderwerp van herstelling ondersoek het?

13 In die laat 1800’s het ’n aantal opregte persone ’n begrip van “die patroon van gesonde woorde” probeer verkry (2 Tim. 1:13). Een van hulle was Charles Taze Russell. In 1870 het hy en ’n paar ander waarheidsoekers ’n Bybelstudieklas gevorm. In 1872 het hulle die onderwerp van herstelling ondersoek. Later het Russell geskryf: “Tot op daardie stadium kon ons nie die groot onderskeid tussen die beloning van die kerk wat nou beoordeel word en die beloning van die getroues van die wêreld duidelik sien nie.” Die beloning van laasgenoemdes sal “herstel tot die volmaaktheid van die menslike natuur wees wat hulle voorvader en hoof, Adam, vroeër in Eden geniet het”. Russell het erken dat ander hom gehelp het in sy studie van die Bybel. Wie was hulle?

14. (a) Hoe het Henry Dunn Handelinge 3:21 verstaan? (b) Wie sou volgens Dunn vir ewig op die aarde lewe?

14 Henry Dunn was een van hulle. Hy het geskryf oor die “herstel van alles waarvan God deur die mond van sy heilige profete van die ou tyd gespreek het” (Hand. 3:21). Dunn het geweet dat hierdie herstel ingesluit het dat die mens gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus tot volmaaktheid verhef sal word. Dunn het ook ’n vraag ondersoek wat baie mense dronkgeslaan het: Wie sal vir ewig op die aarde lewe? Hy het verduidelik dat miljoene opgewek sal word, die waarheid geleer sal word en die geleentheid sal hê om geloof in Christus te beoefen.

15. Wat het George Storrs in verband met die opstanding onderskei?

15 In 1870 het George Storrs ook tot die slotsom gekom dat die onregverdiges opgewek sal word sodat hulle die geleentheid sal kry om vir ewig te lewe. Hy het ook uit die Skrif onderskei dat iemand wat opgewek word, maar wat nie op hierdie geleentheid reageer nie, “sal sterf, selfs al is ‘die sondaar honderd jaar oud’” (Jes. 65:20). Storrs het in Brooklyn, New York, gewoon en was die redakteur van die tydskrif Bible Examiner.

16. Wat het die Bybelstudente van die Christendom afgeskei?

16 Russell het uit die Bybel onderskei dat die tyd aangebreek het om die goeie nuus wyd en syd te verkondig. In 1879 het hy dus Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence begin uitgee, wat nou Die Wagtoring—Kondig Jehovah se Koninkryk aan genoem word. Voorheen het baie min mense die waarheid omtrent die mensdom se hoop verstaan, maar nou het groepe Bybelstudente in baie lande Die Wagtoring ontvang en bestudeer. Die opvatting dat net ’n paar mense hemel toe sal gaan, terwyl miljoene op die aarde volmaakte menselewe sal ontvang, het die Bybelstudente van die grootste deel van die Christendom afgeskei.

17. Hoe het ware kennis oorvloedig geword?

17 Die voorspelde “tyd van die einde” het in 1914 begin. Het ware kennis oor die mensdom se hoop oorvloedig geword? (Dan. 12:4). Teen 1913 is Russell se preke in 2 000 koerante met ’n gesamentlike leserstal van 15 000 000 gepubliseer. Teen die einde van 1914 het meer as 9 000 000 mense op drie vastelande die “Fotodrama van die Skepping” gesien—’n rolprent- en skyfievertoning wat Christus se Duisendjarige Heerskappy verduidelik het. Van 1918 tot 1925 is die toespraak “Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie”, wat die hoop op die ewige lewe op aarde verduidelik het, wêreldwyd deur Jehovah se knegte in meer as 30 tale aangebied. Teen 1934 het Jehovah se Getuies besef dat diegene wat hoop om vir ewig op die aarde te lewe, gedoop moet word. Hierdie begrip het hulle met hernieude ywer besiel om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig. Vandag vervul die vooruitsig om vir ewig op die aarde te lewe, die harte van miljoene met dankbaarheid teenoor Jehovah.

“Glorieryke vryheid” lê voor!

18, 19. Wat sal die lewensgehalte volgens Jesaja 65:21-25 wees?

18 Die profeet Jesaja is geïnspireer om te skryf oor die soort lewe wat God se volk op die aarde sal geniet. (Lees Jesaja 65:21-25.) Sekere bome wat ongeveer 2 700 jaar gelede bestaan het toe Jesaja hierdie woorde geskryf het, staan blykbaar vandag nog. Kan jy jou indink dat jy so lank vol krag en in goeie gesondheid sal lewe?

19 Die lewe sal nie net ’n kort wandeling van die wieg tot die graf wees nie, maar sal eindelose geleenthede inhou om te bou, te plant en te leer. Dink aan die vriendskappe wat jy sal kan smee. Sulke liefdevolle verhoudings sal tot in ewigheid aanhou groei. Watter “glorieryke vryheid” sal “die kinders van God” dan op die aarde geniet!—Rom. 8:21.

[Voetnoot]

a Augustinus het beweer dat die Duisendjarige Heerskappy van God se Koninkryk nie in die toekoms sal plaasvind nie, maar reeds met die stigting van die kerk begin het.

Kan jy verduidelik?

• Hoe het die mensdom se hoop op lewe op die aarde versluier geraak?

• Watter begrip het party Bybellesers in die 1600’s verkry?

• Hoe het die mensdom se ware hoop duideliker geword namate 1914 nader gekom het?

• Hoe het kennis van die aardse hoop oorvloedig geword?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 13]

Die digter John Milton (links) en die wiskundige Isaac Newton (regs) het geweet van die hoop op die ewige lewe op aarde

[Prente op bladsy 15]

Die vroeë Bybelstudente het uit die Skrif onderskei dat dit tyd was om die mensdom se ware hoop wêreldwyd bekend te maak