Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Hou julle in God se liefde’

‘Hou julle in God se liefde’

‘Hou julle in God se liefde’

“[Hou julle] in God se liefde . . . , terwyl julle wag op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus met die ewige lewe in die vooruitsig.”—JUD. 21.

1, 2. Hoe het Jehovah sy liefde vir ons getoon, en hoe weet ons dat hy ons nie outomaties in sy liefde hou nie?

 JEHOVAH GOD toon sy liefde vir ons op tallose maniere. Maar die grootste bewys van Jehovah se liefde is ongetwyfeld die voorsiening van die losprysoffer. Sy liefde vir die mensdom is so groot dat hy selfs sy geliefde Seun hier na die aarde toe gestuur het om ten behoewe van ons te sterf (Joh. 3:16). Jehovah het dit gedoen omdat hy wil hê dat ons vir ewig moet lewe, en hy wil ook hê dat ons vir ewig by sy liefde moet baat vind!

2 Kan ons egter aanneem dat Jehovah ons outomaties in sy liefde sal hou ongeag wat ons besluit om te doen? Nee. Want in Judas vers 21 lees ons hierdie vermaning: “[Hou julle] in God se liefde . . . , terwyl julle wag op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus met die ewige lewe in die vooruitsig.” Die uitdrukking ‘hou julle in God se liefde’ impliseer dat ons iets moet doen. Wat moet ons dus doen om in God se liefde te bly?

Hoe kan ons in God se liefde bly?

3. Wat het Jesus gesê was vir hom noodsaaklik as hy in sy Vader se liefde wou bly?

3 Ons vind die antwoord op hierdie vraag in Jesus se eie woorde, wat hy op die laaste nag van sy lewe hier op die aarde gespreek het. Hy het gesê: “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos ek die gebooie van die Vader bewaar het en in sy liefde bly” (Joh. 15:10). Dit is duidelik dat Jesus besef het dat dit noodsaaklik is om Jehovah se gebooie te bewaar as hy ’n goeie posisie voor sy Vader wou behou. As dit vir die volmaakte Seun van God gegeld het, sal dit dan nie ook vir ons geld nie?

4, 5. (a) Wat is die vernaamste manier waarop ons kan toon dat ons Jehovah liefhet? (b) Waarom het ons geen rede om terug te deins vir die gedagte om Jehovah se gebooie te gehoorsaam nie?

4 Die vernaamste manier waarop ons toon dat ons Jehovah liefhet, is deur aan hom gehoorsaam te wees. Die apostel Johannes het dit so gestel: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar; en tog is sy gebooie nie swaar nie” (1 Joh. 5:3). Die gedagte om gehoorsaam te wees, is weliswaar nie altyd gewild in vandag se wêreld nie. Maar let op die frase: “Tog is sy gebooie nie swaar nie.” Jehovah vra ons nie om iets te doen wat vir ons te moeilik is nie.

5 Ter toeligting: Sou jy ’n dierbare vriend vra om iets te dra wat jy weet vir hom te swaar is om op te tel? Natuurlik nie! Jehovah is baie liefdevoller as ons en weet alte goed wat ons beperkings is. Die Bybel verseker ons dat Jehovah ‘gedagtig is dat ons stof is’ (Ps. 103:14). Hy sal nooit meer van ons verwag as wat ons kan doen nie. Ons het dus geen rede om terug te deins vir die gedagte om Jehovah se gebooie te gehoorsaam nie. Inteendeel, ons beskou gehoorsaamheid as ’n wonderlike geleentheid om aan ons hemelse Vader te toon dat ons hom waarlik liefhet en in sy liefde wil bly.

’n Spesiale gawe van Jehovah af

6, 7. (a) Wat is die gewete? (b) Lig toe hoe die gewete ons kan help om in God se liefde te bly.

6 In die komplekse wêreld waarin ons lewe, moet ons baie besluite neem waarby ons gehoorsaamheid aan God betrokke is. Hoe kan ons seker wees dat hierdie besluite in ooreenstemming met God se wil is? Jehovah het ons ’n gawe gegee wat ons baie kan help in hierdie kwessie van gehoorsaamheid. Dit is die gewete. Wat is die gewete? Dit is ’n spesiale soort bewustheid van onsself. Dit tree op soos ’n innerlike regter en stel ons in staat om te kyk na die keuses wat ons in die lewe moet maak of om na te dink oor die dinge wat ons reeds gedoen het en dit te beoordeel as goed of sleg, reg of verkeerd.—Lees Romeine 2:14, 15.

7 Hoe kan ons die gewete goed gebruik? Dink aan ’n illustrasie. ’n Voetslaner stap deur ’n uitgestrekte wildernis. Daar is geen voetpaadjies, geen paaie, geen tekens nie. En tog kom hy stadig maar seker al hoe nader aan sy bestemming. Hoe? Hy het ’n kompas. Dit het ’n vaste wyserplaat waarop die vier hoofwindrigtings aangedui is en ’n magnetiese naald wat altyd noord wys. Sonder sy kompas sou hierdie voetslaner hopeloos verdwaal. Net so sal iemand sonder ’n gewete dikwels heeltemal verlore wees wanneer hy sedelike, etiese en regverdige keuses in die lewe probeer maak.

8, 9. (a) Watter beperkings van ons gewete moet ons in gedagte hou? (b) Wat kan ons doen om seker te maak dat ons gewete waarlik nuttig vir ons is?

8 Maar soos ’n kompas, het die gewete sy beperkings. As die voetslaner ’n magneet naby sy kompas sit, sal die naald nie meer noord wys nie. As ons eweneens toelaat dat die begeertes van ons hart te sterk word, wat sal dan met ons gebeur? Ons selfsugtige neigings sal heel moontlik die gewete verkeerd beïnvloed. Die Bybel waarsku ons: “Die hart is verraderliker as enigiets anders en is desperaat” (Jer. 17:9; Spr. 4:23). Wat meer is, as die voetslaner nie ’n akkurate, betroubare kaart het nie, sal sy kompas hom nie veel help nie. So ook kan ons gewete byna nutteloos wees as ons nie op die betroubare, onveranderlike leiding van God se Woord, die Bybel, vertrou nie (Ps. 119:105). Ongelukkig laat baie mense in hierdie wêreld toe dat die begeertes van die hart te sterk word terwyl hulle min of geen aandag gee aan die standaarde wat in God se Woord uiteengesit word nie. (Lees Efesiërs 4:17-19.) Dit is waarom soveel mense verskriklike dinge doen, al het hulle die gawe van ’n gewete.—1 Tim. 4:2.

9 Ons moet ons vas voorneem om nooit so te wees nie! Laat ons eerder voortgaan om toe te laat dat God se Woord ons gewete opvoed en oplei sodat dit waarlik nuttig vir ons kan wees. Ons moet na ons Bybelopgeleide gewete luister en nie toelaat dat ons selfsugtige neigings dit oorheers nie. Terselfdertyd moet ons daarna streef om die gewete van ons dierbare geestelike broers en susters te respekteer. Ons doen ons bes om hulle nie te laat struikel nie en hou in gedagte dat ons broer se gewete dalk gevoeliger is of hom dalk minder toelaat as ons s’n.—1 Kor. 8:12; 2 Kor. 4:2; 1 Pet. 3:16.

10. Watter drie lewensgebiede sal ons nou bespreek?

10 Kom ons kyk nou na drie lewensgebiede waarop ons deur gehoorsaamheid ons liefde vir Jehovah kan toon. Die gewete sal natuurlik op elkeen van hierdie gebiede ’n rol speel, maar dit moet allereers deur die Bybel se geïnspireerde gedragstandaarde gerig word. Die drie maniere waarop ons Jehovah uit liefde kan gehoorsaam, is: (1) Ons is lief vir diegene vir wie Jehovah lief is, (2) ons toon respek vir gesag en (3) ons streef daarna om rein in God se oë te bly.

Wees lief vir diegene vir wie Jehovah lief is

11. Waarom moet ons lief wees vir diegene vir wie Jehovah lief is?

11 Eerstens, ons moet lief wees vir diegene vir wie Jehovah lief is. Wanneer dit by assosiasie kom, is mense soos sponse. Ons is geneig om wat ook al om ons is, te absorbeer. Ons Skepper weet goed hoe gevaarlik—en hoe nuttig—assosiasie vir onvolmaakte mense kan wees. Daarom gee hy ons hierdie wyse raad: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan” (Spr. 13:20; 1 Kor. 15:33). Niemand van ons wil hê dat dit met ons moet “sleg gaan” nie. Elkeen van ons wil “wys word”. Jehovah kan geensins wyser word as wat hy is nie, en hy kan ook nie deur enigiemand verderf word nie. En tog stel hy vir ons ’n pragtige voorbeeld wanneer dit by assosiasie kom. Dink ’n bietjie—watter onvolmaakte mense kies Jehovah as sy vriende?

12. Watter soort vriende kies Jehovah?

12 Jehovah het die aartsvader Abraham “my vriend” genoem (Jes. 41:8). Hierdie man was besonder getrou, regverdig en gehoorsaam—’n man van geloof (Jak. 2:21-23). Dit is die soort vriend wat Jehovah kies. Hy kies vandag dieselfde soort mense as sy vriende. As Jehovah sulke vriende kies, is dit dan nie noodsaaklik dat ons ook goed kies, dat ons met wyses wandel en wys word nie?

13. Wat kan ons help om goeie keuses te maak wanneer dit by vriende kom?

13 Wat kan jou help om goeie keuses in dié verband te maak? Dit kan nuttig wees om Bybelvoorbeelde te bestudeer. Dink aan die vriendskap tussen Rut en haar skoonma Naomi, tussen Dawid en Jonatan of tussen Timoteus en Paulus (Rut 1:16, 17; 1 Sam. 23:16-18; Fil. 2:19-22). Die belangrikste rede waarom hierdie vriendskappe gefloreer het, is: Dit was gegrond op opregte liefde vir Jehovah. Kan jy vriende vind wat Jehovah so lief het as wat jy hom het? Wees verseker dat jy hierdie soort vriende in die Christengemeente kan vind. As jy sulke vriende het, sal dit in geestelike sin nie met jou sleg gaan nie. Hulle sal jou eerder help om Jehovah te gehoorsaam, geestelik te groei en met die oog op die gees te saai. (Lees Galasiërs 6:7, 8.) Hulle sal jou help om in God se liefde te bly.

Respekteer gesag

14. Watter faktore maak dit dikwels vir ons moeilik om gesag te respekteer?

14 Die tweede manier waarop ons ons liefde vir Jehovah toon, hou verband met gesag. Ons moet gesag respekteer. Waarom vind ons dit soms so moeilik? Om maar een ding te noem, mense in gesagsposisies is onvolmaak. Daarbenewens is ons self onvolmaak. Ons worstel met ’n ingebore neiging om opstandig te wees.

15, 16. (a) Waarom is dit vir ons belangrik om diegene te respekteer aan wie Jehovah die verantwoordelikheid toevertrou het om vir sy volk te sorg? (b) Watter waardevolle les leer ons uit Jehovah se beskouing van die Israeliete se opstand teen Moses?

15 Daarom wonder jy dalk: ‘As dit dan vir ons so ’n uitdaging is om gesag te respekteer, waarom moet ons dit doen?’ Die antwoord hou verband met die geskil oor soewereiniteit. Wie sal jy as jou soewerein, jou heerser, kies? As ons Jehovah as ons Soewerein kies, moet ons sy gesag respekteer. Kan ons hom werklik ons Heerser noem as ons dit nie doen nie? Daarbenewens oefen Jehovah gewoonlik sy gesag uit deur middel van onvolmaakte mense aan wie hy die verantwoordelikheid toevertrou om vir sy volk te sorg. Hoe sal Jehovah dit beskou as ons teen hierdie persone in opstand kom?—Lees 1 Tessalonisense 5:12, 13.

16 Byvoorbeeld, toe die Israeliete gemurmureer en teen Moses in opstand gekom het, het Jehovah hulle dade as opstand teen hom beskou (Num. 14:26, 27). God het nie verander nie. As ons ooit in opstand sou kom teen diegene wat hy in gesagsposisies aangestel het, sou dit opstand teen hom wees!

17. Wat is die regte gesindheid wat ons moet probeer aankweek teenoor diegene wat gesagsposisies in die gemeente het?

17 Die apostel Paulus openbaar die regte gesindheid wat ons moet aankweek teenoor diegene wat verantwoordelike posisies in die Christengemeente beklee. Hy het geskryf: “Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig, want hulle waak oor julle siel as dié wat rekenskap sal gee; sodat hulle dit met vreugde kan doen en nie met ’n gesug nie, want dit sal vir julle skadelik wees” (Heb. 13:17). Dit verg weliswaar groot inspanning van ons om so ’n gehoorsame, onderdanige gees aan te kweek. Maar onthou dat ons daarna streef om in God se liefde te bly. Is hierdie doelwit nie al ons inspanning werd nie?

Bly rein in Jehovah se oë

18. Waarom wil Jehovah hê dat ons rein moet bly?

18 Die derde manier waarop ons ons liefde vir Jehovah toon, is dat ons daarna streef om rein in sy oë te bly. Ouers werk gewoonlik hard om seker te maak dat hulle kinders skoon is. Waarom? Om maar een ding te noem, om skoon te wees, is noodsaaklik vir die kind se gesondheid en welsyn. Daarbenewens stel ’n skoon kind die gesin in ’n goeie lig, en dit lewer bewys van die liefde en aandag van die ouers. Jehovah wil om soortgelyke redes hê dat ons rein moet wees. Hy weet dat reinheid noodsaaklik is vir ons welsyn. Hy weet ook dat ons reinheid hom, ons hemelse Vader, in ’n goeie lig stel. Dit is baie belangrik, want dit kan mense aantrek tot die God wat ons dien omdat hulle sien dat ons opvallend anders is as die res van die mense in hierdie onrein wêreld.

19. Hoe weet ons dat fisiese reinheid belangrik is?

19 In watter opsigte moet ons rein bly? Om die waarheid te sê, in alle opsigte. In eertydse Israel het Jehovah sy volk duidelik laat verstaan dat fisiese reinheid noodsaaklik is (Lev. 15:31). Die Mosaïese Wet het sake aangeroer soos die verwydering van afval, die was van houers asook van hande, voete en klere (Eks. 30:17-21; Lev. 11:32; Num. 19:17-20; Deut. 23:13, 14). Die Israeliete is daaraan herinner dat hulle God, Jehovah, heilig is—wat “rein”, “suiwer” en “gewyd” beteken. Knegte van die heilige God moet self ook heilig wees.—Lees Levitikus 11:44, 45.

20. In watter opsigte moet ons rein bly?

20 Ons moet dus van binne sowel as van buite rein wees. Ons streef daarna om ons gedagtes rein te hou. Ons bly getrou by Jehovah se standaarde van sedelike reinheid, ondanks die seksuele verdorwenheid van die wêreld om ons. Bowenal is ons vasbeslote om ons aanbidding rein te hou en alle besmetting deur valse godsdiens te vermy. Ons hou te alle tye die geïnspireerde waarskuwing in Jesaja 52:11 in gedagte: “Vertrek, vertrek, gaan daar uit, raak aan niks wat onrein is nie; gaan uit hom uit, hou julle rein.” Vandag bly ons geestelik rein deur nie eens te raak aan wat ons hemelse Vader op godsdiensgebied as onrein beskou nie. Daarom let ons byvoorbeeld daarop om die valse godsdiensvieringe en -vakansiedae wat in vandag se wêreld so gewild is, te vermy. Dit is weliswaar ’n uitdaging om rein te bly. Maar Jehovah se knegte streef daarna om dit te doen omdat dit hulle help om in God se liefde te bly.

21. Hoe kan ons seker wees dat ons in God se liefde sal bly?

21 Jehovah wil hê dat ons vir ewig in sy liefde moet bly. Maar elkeen van ons moet as individue seker maak dat ons ons uiterste bes doen om in God se liefde te bly. Ons kan dit doen deur Jesus se voorbeeld na te volg en ons liefde vir Jehovah te bewys deur Sy gebooie te gehoorsaam. As ons dit doen, kan ons seker wees dat niks “ons sal kan skei van God se liefde wat in Christus Jesus, ons Here, is nie”.—Rom. 8:38, 39.

Onthou jy?

• Hoe kan ons gewete ons help om in God se liefde te bly?

• Waarom moet ons lief wees vir diegene vir wie Jehovah lief is?

• Waarom is dit noodsaaklik om gesag te respekteer?

• Hoe belangrik is reinheid vir God se knegte?

[Studievrae]

[Venster/Prent op bladsy 20]

’N PUBLIKASIE WAT GOEIE GEDRAG BEVORDER

Gedurende die streekbyeenkomsprogram van 2008/2009 is ’n boek met 224 bladsye getiteld ‘Hou julle in God se liefde’ vrygestel. Wat is die doel van hierdie nuwe boek? Dit is saamgestel om Christene te help om Jehovah se standaarde te leer ken en lief te hê deurdat dit die aandag hoofsaaklik op Christelike gedrag vestig. ’n Noukeurige studie van ‘Hou julle in God se liefde’ sal ons oortuiging versterk dat ’n lewe in ooreenstemming met Jehovah se standaarde die beste lewensweg is om nou te volg en dat dit tot die ewige lewe in die toekoms lei.

Wat meer is, hierdie boek is saamgestel om ons te help besef dat gehoorsaamheid aan Jehovah nie ’n las is nie. Inteendeel, dit is ’n manier om vir Jehovah te toon hoe lief ons hom het. Hierdie boek sal ons dus beweeg om ons af te vra: ‘Waarom is ek gehoorsaam aan Jehovah?’

Wanneer party die droewige fout maak om Jehovah se liefde te verlaat, het die probleem oor die algemeen te doen met gedrag, nie leerstellings nie. Hoe noodsaaklik is dit dan tog dat ons ons liefde en waardering opbou vir Jehovah se wette en beginsels wat ons in ons daaglikse lewe rig! Ons is vol vertroue dat hierdie nuwe publikasie Jehovah se skape regoor die wêreld sal help om vas te staan vir wat reg is, om te bewys dat Satan ’n leuenaar is en bowenal om in God se liefde te bly!—Jud. 21.

[Prent op bladsy 18]

“As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos ek die gebooie van die Vader bewaar het en in sy liefde bly”