Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bewaar Christus se geestesgesindheid in julle

Bewaar Christus se geestesgesindheid in julle

Bewaar Christus se geestesgesindheid in julle

“Julle [moet] dieselfde geestesgesindheid onder mekaar . . . hê as wat Christus Jesus gehad het.”—ROM. 15:5.

1. Waarom moet ons Christus se geestesgesindheid ons eie probeer maak?

 “KOM na my toe”, het Jesus Christus gesê. “Leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind” (Matt. 11:28, 29). Hierdie hartlike uitnodiging toon duidelik watter liefdevolle geestesgesindheid Jesus gehad het. Geen mens kan ’n beter voorbeeld wees om te volg nie. Hoewel hy die magtige Seun van God was, het Jesus empatie en teerheid aan die dag gelê, veral teenoor dié wat gely het.

2. Watter aspekte van Jesus se gesindheid sal ons ondersoek?

2 In hierdie en die volgende twee artikels sal ons ondersoek hoe ons dieselfde geestesgesindheid as Jesus kan aankweek en behou en “die denke van Christus” in ons lewe kan weerspieël (1 Kor. 2:16). Ons sal hoofsaaklik op vyf aspekte konsentreer: Jesus se sagmoedigheid en nederigheid, sy goedhartigheid, sy gehoorsaamheid aan God, sy moed en sy onfeilbare liefde.

Leer by Christus se sagmoedigheid

3. (a) Wat was een les in nederigheid wat Jesus sy dissipels geleer het? (b) Hoe het Jesus gereageer toe sy dissipels swakhede geopenbaar het?

3 Jesus, die volmaakte Seun van God, het gewillig aarde toe gekom om onder onvolmaakte en sondige mense te dien. Party van hulle sou hom later doodmaak. Tog het Jesus te alle tye sy vreugde en selfbeheersing behou (1 Pet. 2:21-23). As ons “die blik stip gerig hou op” Jesus se voorbeeld, kan dit ons help om dieselfde te doen wanneer ander se foute en onvolmaakthede ons raak (Heb. 12:2). Jesus het sy dissipels genooi om ‘saam met hom onder sy juk te kom’ en so by hom te leer (Matt. 11:29, vtn. in NW). Wat kon hulle leer? Om maar een ding te noem, Jesus was sagmoedig, en hy was geduldig met sy dissipels ten spyte van hulle foute. Op die aand voor sy dood het Jesus hulle voete gewas, waardeur hy hulle ’n onvergeetlike les in ‘nederigheid van hart’ geleer het. (Lees Johannes 13:14-17.) Later, toe Petrus, Jakobus en Johannes versuim het om “aan te hou waak”, het Jesus hulle swakheid simpatiek erken. “Simon, slaap jy?” het hy gevra. “Manne, hou aan waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is natuurlik gretig, maar die vlees is swak.”—Mark. 14:32-38.

4, 5. Hoe kan Jesus se voorbeeld ons help om die foute van ander te hanteer?

4 Hoe reageer ons as ’n medegelowige mededingend is, maklik aanstoot neem of nie gou reageer op raad van die ouer manne of “die getroue en verstandige slaaf” nie? (Matt. 24:45-47). Hoewel ons bereid is om te aanvaar dat vleeslike eienskappe normaal is in Satan se wêreld, kan dit besonder moeilik wees wanneer ons sulke onvolmaakthede onder ons broers sien. As die foute van ander ons maklik irriteer, moet ons ons afvra: ‘Hoe kan ek “die denke van Christus” beter weerspieël?’ Probeer in gedagte hou dat Jesus nie vir sy dissipels kwaad geword het nie, selfs nie toe hulle ’n mate van geestelike swakheid geopenbaar het nie.

5 Beskou die geval van die apostel Petrus. Toe Jesus Petrus genooi het om uit die boot te klim en op die water na Hom toe te loop, het Petrus dit wel ’n rukkie lank gedoen. Toe het Petrus na die windstorm gekyk en begin sink. Het Jesus vir hom kwaad geword en gesê: “Dis jou verdiende loon! Laat dit ’n les vir jou wees”? Nee! “Jesus het onmiddellik sy hand uitgesteek en hom gegryp en vir hom gesê: ‘Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?’” (Matt. 14:28-31). Kan ons, as ons ooit te doen het met ’n broer se skynbare gebrek aan geloof, ons hand figuurlik gesproke uitsteek en hom help om meer geloof op te bou? Dit is ’n les wat beslis duidelik na vore kom in die sagmoedige manier waarop Jesus met Petrus gehandel het.

6. Wat het Jesus sy apostels geleer oor die strewe na vernaamheid?

6 Petrus was ook betrokke by die apostels se voortdurende getwis oor wie onder hulle die grootste is. Jakobus en Johannes wou een aan Jesus se regter- en een aan sy linkerhand in sy Koninkryk sit. Toe Petrus en die ander apostels daarvan hoor, het hulle verontwaardig geword. Jesus het geweet dat hulle hierdie gesindheid waarskynlik aangeleer het in die gemeenskap waarin hulle grootgeword het. Hy het hulle na hom toe geroep en gesê: “Julle weet dat die heersers van die nasies oor hulle baasspeel en die groot manne oor hulle gesag uitoefen. Onder julle is dit nie so nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees, en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees.” Jesus het toe na sy eie voorbeeld gewys en gesê: “Net soos die Seun van die mens gekom het, nie om gedien te word nie, maar om te dien en om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie.”—Matt. 20:20-28.

7. Hoe kan elkeen van ons tot eenheid in die gemeente bydra?

7 As ons oor Jesus se nederige geestesgesindheid nadink, kan dit ons help om ons ‘as ’n mindere te gedra’ onder ons broers (Luk. 9:46-48). Dit dra tot eenheid by. Soos die vader van ’n groot gesin, wil Jehovah hê dat sy kinders “in eenheid saam woon”, dat hulle met mekaar oor die weg kom (Ps. 133:1). Jesus het tot sy Vader gebid dat alle ware Christene verenig sou wees, sodat “die wêreld kan weet dat u my uitgestuur het en dat u hulle liefgehad het net soos u my liefgehad het” (Joh. 17:23). Ons eenheid help dus om ons as Christus se volgelinge te identifiseer. Om hierdie eenheid te geniet, moet ons die onvolmaakthede van ander beskou soos Christus dit beskou het. Jesus was vergewensgesind, en hy het geleer dat ons slegs vergifnis kan ontvang as ons vergewensgesind is.—Lees Matteus 6:14, 15.

8. Wat kan ons leer uit die voorbeeld van diegene wat God al jare lank dien?

8 Ons kan ook baie leer deur die geloof na te volg van diegene wat Christus al jare lank navolg. Soos Jesus, toon hulle gewoonlik begrip vir ander se onvolmaakthede. Hulle het geleer dat die betoning van Christelike medelye ons nie net help om “die swakhede te dra van dié wat nie sterk is nie”, maar dat dit ook tot eenheid bydra. Verder spoor dit die hele gemeente aan om Christus se geestesgesindheid te weerspieël. Hulle wil dieselfde hê vir hulle broers as wat die apostel Paulus vir die Christene in Rome verlang het: “Mag die God wat volharding en vertroosting verskaf, gee dat julle dieselfde geestesgesindheid onder mekaar sal hê as wat Christus Jesus gehad het, sodat julle die God en Vader van ons Here Jesus Christus eendragtig uit een mond kan verheerlik” (Rom. 15:1, 5, 6). Ja, ons verenigde aanbidding bring lof aan Jehovah.

9. Waarom het ons die heilige gees nodig om Jesus se voorbeeld te kan navolg?

9 Jesus het ‘nederigheid van hart’ met sagmoedigheid verbind, wat deel is van die vrug van God se heilige gees. Tesame met ons studie van Jesus se voorbeeld het ons dus ook Jehovah se heilige gees nodig, sodat ons daardie voorbeeld behoorlik kan navolg. Ons moet bid vir God se heilige gees en daarna streef om die vrug daarvan aan te kweek—“liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Gal. 5:22, 23). Deur Jesus se voorbeeld van nederigheid en sagmoedigheid op dié wyse na te volg, sal ons ons hemelse Vader, Jehovah, behaag.

Jesus het ander goedhartig behandel

10. Hoe het Jesus goedhartigheid geopenbaar?

10 Goedhartigheid is ook ’n deel van die vrug van die heilige gees. Jesus het ander te alle tye goedhartig behandel. Almal wat in opregtheid na Jesus toe gekom het, het gevind dat hy “hulle vriendelik ontvang” het. (Lees Lukas 9:11.) Wat kan ons leer uit die goedhartigheid wat Jesus getoon het? ’n Goedhartige persoon is vriendelik, saggeaard, simpatiek en innemend. Jesus was so. Hy het innig jammer gevoel vir die mense, “want hulle was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder”.—Matt. 9:35, 36.

11, 12. (a) Beskryf ’n voorval waar Jesus medelye getoon het. (b) Wat kan jy leer uit die voorbeeld wat hier bespreek word?

11 Jesus het ook sy jammerte en medelye in dade omgesit. Beskou een geval. ’n Vrou het 12 lange jare aan abnormale bloedvloeiing gely. Sy het geweet dat haar toestand haar en enigiemand wat aan haar raak, onder die Mosaïese Wet seremonieel onrein maak (Lev. 15:25-27). Maar Jesus se reputasie en handelswyse het haar ongetwyfeld oortuig dat hy haar kon en sou genees. Sy het bly sê: “As ek net aan sy boklere raak, sal ek gesond word.” Sy het die moed bymekaargeskraap, dit gedoen en onmiddellik agtergekom dat sy genees is.

12 Jesus het geweet dat iemand aan hom geraak het, en hy het rondgekyk om te sien wie dit was. Die vrou, wat waarskynlik bang was dat hy haar gaan bestraf omdat sy die Wet verbreek het, het bewend voor sy voete neergeval en hom die hele waarheid vertel. Het Jesus hierdie arme vrou wat soveel gely het, berispe? Glad nie! “Dogter”, het hy gerusstellend gesê, “jou geloof het jou gesond gemaak. Gaan in vrede” (Mark. 5:25-34). Hoe moes dit haar tog vertroos het om hierdie goedhartige woorde te hoor!

13. (a) Hoe het Jesus se gesindheid van die Fariseërs s’n verskil? (b) Hoe het Jesus kinders behandel?

13 In teenstelling met die hardvogtige Fariseërs het Christus nooit sy gesag gebruik om ander se laste swaarder te maak nie (Matt. 23:4). Inteendeel, hy het ander goedhartig en geduldig van Jehovah se weë geleer. Jesus was ’n aangename metgesel vir sy volgelinge, hy was altyd liefdevol en goedhartig, ’n ware vriend (Spr. 17:17; Joh. 15:11-15). Selfs kinders het op hulle gemak gevoel by Jesus, en hy het ongetwyfeld op sy gemak gevoel by hulle. Hy was nie te besig om te staak wat hy doen en tyd aan kindertjies af te staan nie. By een geleentheid het sy dissipels, wat nog steeds geworstel het met gevoelens van eiebelang soos die godsdiensleiers om hulle, mense probeer keer wat hulle jong kinders na Jesus toe wou bring sodat hy hulle kon aanraak. Jesus was nie beïndruk met sy dissipels nie. Hy het vir hulle gesê: “Laat die jong kinders na my toe kom; moet hulle nie probeer keer nie, want die koninkryk van God behoort aan dié wat soos hulle is.” Toe het hy die kinders gebruik om ’n praktiese les oor te dra en gesê: “Voorwaar, ek sê vir julle: Elkeen wat die koninkryk van God nie soos ’n jong kind ontvang nie, sal hoegenaamd nie daarin ingaan nie.”—Mark. 10:13-15.

14. Watter voordele put kinders uit heilsame belangstelling wat in hulle getoon word?

14 Stel jou vir ’n oomblik voor hoe party van daardie kinders jare later moes gevoel het toe hulle as mans en vroue daaraan teruggedink het dat Jesus Christus ‘hulle in sy arms geneem en geseën het’ (Mark. 10:16). Kinders van vandag sal ook met geneentheid terugdink aan die ouer manne en ander wat heilsame, onselfsugtige belangstelling in hulle toon. Nog belangriker, kinders wat van kleins af sulke opregte belangstelling in die gemeente ontvang, leer dat Jehovah se gees op sy volk rus.

Openbaar goedhartigheid in ’n liefdelose wêreld

15. Waarom moet dit ons nie verbaas wanneer mense vandag ’n gebrek aan goedhartigheid openbaar nie?

15 Baie mense voel vandag dat hulle nie tyd het om goedhartigheid teenoor ander te betoon nie. Jehovah se knegte kom dus elke dag, op skool, by die werk, op reis en in die bediening, voor die gees van die wêreld te staan. Liefdelose gesindhede kan ons teleurstel, maar dit moet ons nie verbaas nie. Jehovah het Paulus geïnspireer om ons te waarsku dat die lewe in hierdie kritieke “laaste dae” ware Christene in aanraking sal bring met diegene wat “liefhebbers van hulleself [is], . . . sonder natuurlike geneentheid”.—2 Tim. 3:1-3.

16. Hoe kan ons Christelike goedhartigheid in die gemeente bevorder?

16 Daarteenoor vorm die atmosfeer in die ware Christengemeente ’n verkwikkende kontras met dié van die liefdelose wêreld. Deur Jesus na te volg, kan elkeen van ons tot hierdie heilsame atmosfeer bydra. Hoe kan ons dit doen? Om mee te begin, baie in die gemeente het ons hulp en aanmoediging nodig omdat hulle met gesondheidsprobleme of ander moeilike omstandighede te kampe het. In hierdie “laaste dae” neem sulke probleme dalk toe, maar dit is beslis nie nuut nie. In Bybeltye het Christene soortgelyke probleme verduur. Gevolglik is behulpsame dade vandag net so gepas as wat dit destyds vir Christene was. Paulus het Christene byvoorbeeld aangespoor: “Praat vertroostend met die terneergedrukte siele, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal” (1 Tess. 5:14). Dit behels dat ons Christelike goedhartigheid aan die dag lê.

17, 18. Op watter maniere kan ons Jesus se goedhartigheid navolg?

17 Christene het die verantwoordelikheid om ‘hulle broers vriendelik te ontvang’, om hulle te behandel soos Jesus hulle sou behandel het deur opregte besorgdheid te betoon teenoor dié wat ons miskien al jare ken en dié wat ons dalk nog nooit ontmoet het nie (3 Joh. 5-8). Soos Jesus die inisiatief geneem het om medelye teenoor ander te betoon, moet ons ook altyd verkwikkend teenoor ander wees.—Jes. 32:2; Matt. 11:28-30.

18 Elkeen van ons kan goedhartigheid openbaar deur daadwerklike belangstelling in die welsyn van ander te toon. Soek na maniere en skep geleenthede om dit te doen. Reik ’n helpende hand! “In broederliefde moet julle tere geneentheid vir mekaar hê”, het Paulus aangespoor en bygevoeg: “Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar” (Rom. 12:10). Dit beteken dat ons Christus se voorbeeld volg en ander liefdevol en goedhartig behandel en leer om “liefde sonder huigelary” te toon (2 Kor. 6:6). Paulus het hierdie Christelike liefde só beskryf: “Die liefde is lankmoedig en goedhartig. Die liefde is nie jaloers nie, dit praat nie groot nie, raak nie opgeblase nie” (1 Kor. 13:4). Ons moenie wrokke teen ons broers en susters koester nie, maar moet eerder ag slaan op dié vermaning: “Word goedhartig teenoor mekaar, vol tere medelye, en vergewe mekaar vryelik net soos God julle ook deur Christus vryelik vergewe het.”—Ef. 4:32.

19. Watter goeie resultate bring dit mee wanneer ons Christelike goedhartigheid openbaar?

19 As ons daarna streef om Christelike goedhartigheid te alle tye en in elke situasie aan te kweek en te openbaar, bring dit ryk seëninge vir ons mee. Jehovah se gees sal vryelik in die gemeente kan werk en die gees se goeie vrug kan voortbring. Wat meer is, wanneer ons die voorbeeld volg wat Jesus nagelaat het en ander help om dieselfde te doen, sal ons gelukkige, verenigde aanbidding selfs God verbly. Laat ons derhalwe altyd daarna streef om Jesus se sagmoedigheid en goedhartigheid in ons handelinge met ander te weerspieël.

Kan jy verduidelik?

• Hoe het Jesus getoon dat hy “saggeaard en nederig van hart” is?

• Hoe het Jesus goedhartigheid betoon?

• Op watter maniere kan ons Christelike sagmoedigheid en goedhartigheid in hierdie onvolmaakte wêreld aan die dag lê?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 8]

Sal ons ’n helpende hand reik na ’n broer wat, soos Petrus, ’n gebrek aan geloof toon?

[Prent op bladsy 10]

Hoe kan jy help om die gemeente ’n hawe van goedhartigheid te maak?