Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Christus se liefde beweeg ons om lief te hê

Christus se liefde beweeg ons om lief te hê

Christus se liefde beweeg ons om lief te hê

“[Jesus], wat dié liefgehad het wat syne was en wat in die wêreld was, [het] hulle tot die einde toe liefgehad.”—JOH. 13:1.

1, 2. (a) Waarom was Jesus se liefde so uitsonderlik? (b) Watter fasette van liefde sal ons in hierdie artikel bespreek?

 JESUS het die volmaakte voorbeeld van liefde gestel. Alles omtrent hom—sy spraak, sy gedrag, sy onderrigting en sy offerdood—het sy liefde getoon. Tot reg aan die einde van sy lewe op aarde het Jesus liefde betoon teenoor diegene wat hy teëgekom het en veral teenoor sy dissipels.

2 Jesus se uitsonderlike voorbeeld van liefde stel ’n hoë standaard vir sy volgelinge om te handhaaf. Dit beweeg ons ook om soortgelyke liefde teenoor ons geestelike broers en susters te betoon, sowel as teenoor alle ander mense. In hierdie artikel sal ons bespreek wat gemeentelike ouer manne by Jesus kan leer oor die betoning van liefde teenoor diegene wat foute, selfs ernstige foute, begaan. Ons sal ook bespreek hoe Jesus se liefde Christene tot positiewe optrede beweeg tydens ontberinge, rampspoed en siekte.

3. Hoe het Jesus Petrus beskou, al het hy ernstige foute begaan?

3 Op die nag voor Jesus se dood het selfs sy apostel, Petrus, hom drie keer verloën (Mark. 14:66-72). Maar toe Petrus teruggekeer het, soos Jesus voorspel het hy sou, het Jesus hom vergewe. Jesus het gewigtige verantwoordelikhede aan Petrus toevertrou (Luk. 22:32; Hand. 2:14; 8:14-17; 10:44, 45). Wat leer ons uit Jesus se gesindheid teenoor persone wat ernstige foute begaan?

Openbaar Christus se geestesgesindheid teenoor oortreders

4. In watter situasie is dit veral belangrik om Christus se geestesgesindheid te openbaar?

4 Daar is baie situasies wat vereis dat ons Christus se geestesgesindheid moet openbaar, maar dié waarby ernstige oortreding betrokke is, hetsy in die gesin of in die gemeente, is van die moeilikstes. Namate die laaste dae van Satan se stelsel ’n klimaks bereik, eis die gees van die wêreld ongelukkig ’n al hoe groter sedelike tol. Die wêreld se slegte of onverskillige sedelike gesindheid kan ’n invloed hê op oud sowel as jonk en hulle voorneme ondermyn om op die smal weg te wandel. In die eerste eeu moes party uit die Christengemeente gesit word, en ander is tereggewys. Dit is vandag ook die geval (1 Kor. 5:11-13; 1 Tim. 5:20). Maar wanneer ouer manne wat hierdie sake hanteer, Christelike liefde toon, kan dit ’n kragtige uitwerking op die oortreder hê.

5. Hoe moet ouer manne Christus se gesindheid teenoor oortreders navolg?

5 Soos Jesus, moet ouer manne Jehovah se regverdige standaarde te alle tye handhaaf. Sodoende weerspieël hulle Jehovah se sagmoedigheid, goedhartigheid en liefde. Wanneer iemand waarlik berouvol is, ‘gebroke van hart’ en ‘verbryseld van gees’ weens sy oortreding, sal dit dalk nie vir die ouer manne moeilik wees om “so iemand in ’n gees van sagmoedigheid [reg te help]” nie (Ps. 34:18; Gal. 6:1). Maar sê nou iemand het ’n uitdagende houding en toon min of geen berou nie?

6. Wat moet ouer manne vermy wanneer hulle met oortreders handel, en waarom?

6 Wanneer ’n oortreder skriftuurlike raad verwerp of ander die skuld vir sy oortreding probeer gee, kan dit ouer manne en ander kwaad laat word. Omdat hulle weet watter skade die persoon reeds aangerig het, kom hulle miskien in die versoeking om hulle eie gevoelens oor die persoon se dade en gesindheid uit te spreek. Maar woede is skadelik en weerspieël nie “die denke van Christus” nie. (1 Kor. 2:16; lees Jakobus 1:19, 20.) Jesus het party in sy dag uitdruklik gewaarsku, maar hy het nooit iets gesê wat hatig was of wat bedoel was om pyn te veroorsaak nie (1 Pet. 2:23). Hy het eerder die weg oopgelaat vir oortreders om berou te toon en weer Jehovah se guns te verkry. Ja, een van die hoofredes waarom Jesus in die wêreld ingekom het, was “om sondaars te red”.—1 Tim. 1:15.

7, 8. Waardeur moet ouer manne gerig word wanneer hulle regterlike sake hanteer?

7 Hoe moet Jesus se voorbeeld in dié verband ons gesindheid beïnvloed teenoor diegene wat deur die gemeente gedissiplineer moet word? Onthou dat die skriftuurlike reëling vir regterlike optrede in die gemeente die kudde beskerm en ’n oortreder wat tereggewys is, kan beweeg om berou te toon (2 Kor. 2:6-8). Dit is tragies dat party onberouvol is en uitgesit moet word, maar dit is hartverblydend om te weet dat baie van hulle later na Jehovah en sy gemeente terugkeer. Wanneer ouer manne ’n Christelike gesindheid aan die dag lê, maak hulle dit makliker vir die persoon om sy gesindheid te verander en uiteindelik terug te keer. In die toekoms sal party van hierdie voormalige oortreders dalk nie al die skriftuurlike raad onthou wat die ouer manne hulle gegee het nie, maar hulle sal beslis onthou dat die ouer manne hulle waardigheid gerespekteer het en hulle liefdevol behandel het.

8 Ouer manne moet dus “die [vrug] van die gees” aan die dag lê, veral Christelike liefde, selfs onder beproewende omstandighede (Gal. 5:22, 23). Hulle moet nooit oorhaastig wees om ’n oortreder uit die gemeente te sit nie. Hulle moet toon dat hulle wil hê dat oortreders na Jehovah moet terugkeer. Wanneer ’n sondaar dus later sy gesindheid verander, soos baie doen, kan hy innig dankbaar wees teenoor Jehovah sowel as teenoor die “gawes in die vorm van mense” wat dit vir hom makliker gemaak het om na die gemeente terug te keer.—Ef. 4:8, 11, 12.

Betoon Christelike liefde in die tyd van die einde

9. Meld ’n voorbeeld waar Jesus op ’n praktiese manier liefde aan sy dissipels betoon het.

9 Lukas meld ’n uitsonderlike voorbeeld waar Jesus liefde op ’n praktiese manier getoon het. Omdat Jesus geweet het dat Romeinse soldate die veroordeelde stad Jerusalem mettertyd sou beleër, wat dit onmoontlik sou maak om te vlug, het hy sy dissipels liefdevol gewaarsku: “Wanneer julle Jerusalem deur leërkampe omsingel sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby gekom het.” Wat moes hulle doen? Jesus het vooraf duidelike en spesifieke instruksies gegee. “Laat dié wat in Judea is, dan na die berge begin vlug, en laat dié wat in die stad is, uitgaan, en laat dié wat in die plattelandse plekke is, nie daar ingaan nie; want dit is dae waarin die reg toegepas sal word, sodat alles wat geskrywe staan, vervul kan word” (Luk. 21:20-22). Nadat die Romeinse leërs Jerusalem in 66 HJ omsingel het, het gehoorsames op hierdie instruksies ag geslaan.

10, 11. Hoe kan dit ons help om ons vir die “groot verdrukking” voor te berei as ons nadink oor die vroeë Christene se vlug uit Jerusalem?

10 Toe die Christene uit Jerusalem gevlug het, moes hulle Christelike liefde aan mekaar betoon, net soos Christus liefde aan hulle betoon het. Hulle het sekerlik wat hulle ook al gehad het, met mekaar gedeel. Maar Jesus se profesie het baie verder gestrek as die verwoesting van daardie eertydse stad. Hy het voorspel: “Daar [sal] groot verdrukking wees soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie” (Matt. 24:17, 18, 21). Voor en gedurende hierdie “groot verdrukking” wat nog voorlê, sal ons moontlik ook voor teëspoed en ontberinge te staan kom. As ons Christus se geestesgesindheid het, sal dit ons help om te volhard.

11 Gedurende daardie tyd sal ons Jesus se voorbeeld moet volg en onselfsugtige liefde moet toon. In dié verband het Paulus gemaan: “Laat elkeen van ons sy naaste behaag in wat goed is vir sy opbouing. Want selfs die Christus het homself nie behaag nie . . . Mag die God wat volharding en vertroosting verskaf, gee dat julle dieselfde geestesgesindheid onder mekaar sal hê as wat Christus Jesus gehad het.”—Rom. 15:2, 3, 5.

12. Watter soort liefde moet ons nou opbou, en waarom?

12 Petrus, wat Jesus se liefde ontvang het, het Christene eweneens aangespoor om “ongeveinsde broederlike geneentheid” aan te kweek en om “gehoorsaamheid aan die waarheid” te toon. Hulle moet “mekaar intens liefhê uit die hart” (1 Pet. 1:22). Vandag moet ons meer as ooit tevore hierdie Christelike eienskappe aankweek. Die druk op al God se knegte neem nou reeds toe. Niemand moet sy vertroue in enige element van hierdie ou wêreld stel nie, soos die onlangse beroering in die wêreld se finansiële stelsel baie duidelik toon. (Lees 1 Johannes 2:15-17.) Namate die einde van hierdie stelsel al hoe nader kom, moet ons eerder nader aan Jehovah en aan mekaar kom en hegte vriendskappe in die gemeente opbou. Paulus het gemaan: “In broederliefde moet julle tere geneentheid vir mekaar hê. Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar” (Rom. 12:10). En Petrus het die punt selfs verder beklemtoon en gesê: “Bo alles moet julle intense liefde vir mekaar hê, want die liefde bedek ’n menigte sondes.”—1 Pet. 4:8.

13-15. Hoe het party broers Christelike liefde getoon nadat rampe getref het?

13 Regoor die wêreld is Jehovah se Getuies bekend daarvoor dat hulle hulle Christelike liefde in dade omsit. Beskou die Getuies wat aangebied het om te help nadat storms en orkane groot gebiede in die suidelike deel van die Verenigde State in 2005 verwoes het. Jesus se voorbeeld het meer as 20 000 beweeg om as vrywilligers te dien, en baie het gerieflike huise en vaste betrekkings opgegee om hulle geteisterde broers te help.

14 In een gebied het ’n ontsaglike vloedgolf 80 kilometer ver in die binneland ingestroom, ’n watermuur van tot 10 meter hoog. Toe die water terugtrek, is ’n derde van die huise en ander geboue wat in die pad daarvan was, heeltemal verwoes. Getuievrywilligers uit etlike lande het met hulle vaardighede, gereedskap en boumateriaal na die gebied gekom en was gewillig om enige werk te doen wat nodig was. Twee vleeslike susters, weduwees, het hulle besittings op ’n bakkie gelaai en meer as 3 000 kilometer ver gery om te gaan help. Een van hierdie susters het in die gebied aangebly en help nog steeds die plaaslike noodlenigingskomitee en dien as ’n gewone pionier.

15 Meer as 5 600 huise van Getuies en ander in die gebied is al herbou of herstel. Hoe het die plaaslike Getuies oor hierdie ontsaglike bewys van liefde gevoel? Een suster wie se huis verwoes is, het in ’n klein karavaantjie met ’n lekkende dak en ’n stukkende stoof ingetrek. Die broers het vir haar ’n beskeie dog gerieflike huis gebou. Toe sy voor haar netjiese nuwe huis gestaan het, het sy uit dankbaarheid teenoor Jehovah en haar broers gehuil. In baie ander gevalle het plaaslike Getuies wie se huise verwoes is, ’n jaar of langer in hulle tydelike huisvesting gebly nadat hulle huise herbou is. Waarom? Om hulle nuwe huis aan noodlenigingswerkers beskikbaar te stel. Wat ’n goeie voorbeeld is dit tog van persone wat Christus se geestesgesindheid aan die dag lê!

Openbaar Christus se gesindheid teenoor siekes

16, 17. Op watter maniere kan ons Christus se geestesgesindheid teenoor die siekes weerspieël?

16 Betreklik min van ons het al ’n groot natuurramp ondervind. Maar feitlik almal kom voor gesondheidsprobleme te staan, hetsy ons eie of dié van familielede. Jesus se geestesgesindheid teenoor siekes dien as ’n voorbeeld vir ons. Sy liefde het hom beweeg om innig jammer vir hulle te voel. Toe skares hulle siekes na hom toe gebring het, “het [hy] almal genees met wie dit sleg gegaan het”.—Matt. 8:16; 14:14.

17 Vandag het Christene nie Jesus se wonderdadige krag om mense gesond te maak nie, maar hulle het wel Jesus se medelydende gesindheid teenoor siekes. Hoe word dit geopenbaar? Om maar een ding te noem, ouer manne toon dat hulle Christus se geestesgesindheid het deur reëlings te tref en te koördineer om siekes in die gemeente te help, en hulle volg sodoende in beginsel die handelswyse wat in Matteus 25:39, 40 genoem word. a (Lees.)

18. Hoe het twee susters opregte liefde aan ’n ander suster betoon, en met watter resultate?

18 ’n Mens hoef natuurlik nie ’n ouer man te wees om aan ander goed te doen nie. Beskou die geval van die 44-jarige Charlene, wat kanker gehad het en gehoor het dat sy nog net tien dae oorhet om te lewe. Toe twee geestelike susters, Sharon en Nicolette, besef het dat sy hulp nodig het en gesien het hoeveel druk haar versorging op haar getroue man plaas, het hulle aangebied om haar gedurende haar laaste dae voltyds te versorg. Daardie dae het uiteindelik ses weke geword, maar die twee susters het hulle liefde tot die einde toe getoon. “Dit is moeilik wanneer jy weet dat iemand nie gesond sal word nie”, sê Sharon. “Maar Jehovah het ons sterk gemaak. Die ondervinding het ons nader aan hom en aan mekaar laat kom.” Charlene se man sê: “Ek sal altyd die liefdevolle en praktiese ondersteuning van hierdie twee dierbare susters onthou. Hulle suiwer beweegrede en positiewe gesindheid het hierdie laaste beproewing vir my getroue Charlene makliker gemaak en het vir my die fisiese en emosionele verligting gegee wat ek bitter nodig gehad het. Ek sal hulle ewig dankbaar bly. Hulle selfopoffering het my geloof in Jehovah en my liefde vir ons hele gemeenskap van broers versterk.”

19, 20. (a) Watter vyf aspekte van Christus se geestesgesindheid het ons bespreek? (b) Wat is jy vasbeslote om te doen?

19 In hierdie reeks van drie artikels het ons gekyk na vyf aspekte van Jesus se geestesgesindheid en hoe ons sy denkpatroon en handelswyse kan navolg. Laat ons, soos Jesus, “saggeaard en nederig van hart” wees (Matt. 11:29). Mag ons ook daarna streef om ander goedhartig te behandel, selfs wanneer hulle onvolmaakthede en swakhede na vore kom. Laat ons moedig al Jehovah se vereistes gehoorsaam, selfs tydens beproewinge.

20 Ten slotte, laat ons Christelike liefde “tot die einde toe” aan al ons broers betoon, soos Christus self ook gedoen het. Hierdie liefde identifiseer ons as Jesus se ware volgelinge (Joh. 13:1, 34, 35). Ja, “laat julle broederliefde voortduur” (Heb. 13:1). Moenie terughou nie! Gebruik jou lewe om Jehovah te loof en ander te help! Jehovah sal jou opregte pogings seën.

[Voetnoot]

a Sien die artikel “Doen meer as om net te sê: ‘Word warm, word versadig’” in Die Wagtoring van 15 Oktober 1986.

Kan jy verduidelik?

• Hoe kan ouer manne Christus se geestesgesindheid teenoor oortreders openbaar?

• Waarom is dit veral in hierdie tyd van die einde belangrik om Christus se liefde na te volg?

• Hoe kan ons Christus se geestesgesindheid teenoor siekes weerspieël?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 17]

Ouer manne wil hê dat oortreders na Jehovah terugkeer

[Prent op bladsy 18]

Hoe het Christene wat Jerusalem verlaat het, Christus se geestesgesindheid weerspieël?

[Prent op bladsy 19]

Jehovah se Getuies is bekend daarvoor dat hulle Christelike liefde in dade omsit