Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ek het ’n doel in die lewe gevind

Ek het ’n doel in die lewe gevind

Ek het ’n doel in die lewe gevind

Soos vertel deur Gaspar Martínez

In party opsigte is my verhaal die eenvoudige storie van ’n arm plattelandse seun wat in die stad ryk geword het. Maar jy sal sien dat die rykdom wat ek verkry het, nie heeltemal was wat ek verwag het nie.

EK HET gedurende die 1930’s in ’n dorre plattelandse gebied in die Rioja-streek van Noord-Spanje grootgeword. Toe ek tien was, moes ek die skool verlaat, maar teen daardie tyd het ek al leer lees en skryf. Saam met my ses broers en susters het ek my dae in die veld deurgebring waar ons die skape opgepas of ons klein lappies grond bewerk het.

Armoede het veroorsaak dat ons groot waarde aan materiële dinge geheg het. Ons het diegene beny wat meer as ons gehad het. En tog het die biskop eenkeer gesê dat ons dorpie “die godsdienstigste dorpie in sy bisdom” is. Min het hy geweet dat baie mettertyd die Katolieke Kerk sou verlaat.

’n Soeke na iets beters

Ek het met Mercedes, ’n meisie van dieselfde dorpie, getrou. Kort daarna het ons ’n babaseuntjie gehad om voor te sorg. In 1957 het ons na die nabygeleë stad Logroño getrek, en al my familielede het later dieselfde gedoen. Ek het gou besef dat my kanse om as ’n ongeskoolde werker ’n goeie salaris te verdien, maar skraal is. Ek het gewonder waar ek hulp kon kry. Ek het in die plaaslike biblioteek begin soek, hoewel ek nie werklik geweet het waarna om te soek nie.

Later het ek van ’n radioprogram gehoor wat ’n Bybelstudiekursus deur die pos aanbied. Kort nadat ek dit voltooi het, het ’n paar Evangeliese Protestante met my in aanraking gekom. Nadat ek hulle plek van aanbidding ’n paar keer besoek het, kon ek wedywering onder vooraanstaande lede van die groep sien. Ek het nie teruggegaan nie en tot die slotsom gekom dat alle godsdienste dieselfde moet wees.

My oë gaan oop

In 1964 het ’n jong man met die naam Eugenio ons huis besoek. Hy was een van Jehovah se Getuies, ’n godsdiens waarvan ek nog nooit tevore gehoor het nie. Maar ek was heeltemal bereid om oor die Bybel te gesels. Ek het gedink dat ek ’n goeie kennis van die Skrif het. Ek het tydens die gesprek ’n paar van die Bybeltekste gebruik wat ek in my korrespondensiekursus geleer het. Hoewel ek sekere Protestantse leerstellings probeer verdedig het, het ek in my hart nie werklik daaraan geglo nie.

Ná twee lang gesprekke moes ek erken dat Eugenio die Woord van God soos ’n deskundige hanteer. Dit het my verbaas om te sien hoe hy tekste kon naslaan en oor die toepassing daarvan kon redeneer, hoewel hy nog minder skoolopleiding as ek gehad het. Eugenio het vir my uit die Bybel gewys dat ons in die laaste dae lewe en dat God se Koninkryk binnekort ’n paradys op aarde tot stand gaan bring. Dit het my belangstelling geprikkel.—Ps. 37:11, 29; Jes. 9:6, 7; Matt. 6:9, 10.

Ek het met graagte ’n Bybelstudie aanvaar. Feitlik alles wat ek geleer het, was nuut en het my hart geraak. Iets is vir my in die vooruitsig gestel wat my lewe die moeite werd sou maak. My soeke het tot ’n einde gekom. Nou het my pogings om my sosiale status te verbeter, onbenullig gelyk, en my probleme met werk het minder belangrik geword. As selfs siekte en die dood oorwin sal word, hoeveel te meer ander probleme.—Jes. 33:24; 35:5, 6; Op. 21:4.

Ek het dadelik vir my familielede begin vertel wat ek leer en geesdriftig aan hulle verduidelik dat God belowe om die aarde in ’n paradys te omskep waar getroue mense vir ewig kan lewe.

My familie neem Bybelwaarheid aan

Weldra het ’n stuk of twaalf van ons besluit om elke Sondagmiddag in my oom se huis te vergader om Bybelbeloftes te bespreek. Ons het dit elke week twee of drie uur lank gedoen. Toe Eugenio sien dat soveel van my familielede in die Bybel belangstel, het hy gereël om persoonlike aandag aan elke gesin te skenk.

Ek het ook familielede gehad in Durango, ’n dorpie sowat 120 kilometer van ons af, waar daar geen Getuies was nie. Drie maande later het ek dus ’n paar dae verlof geneem om hulle te besoek sodat ek my nuutgevonde geloof aan hulle kon verduidelik. Gedurende dié tyd het omtrent tien van ons elke aand bymekaargekom, en ek het tot die vroeë oggendure met hulle gepraat. Hulle almal het dit geniet om te luister. Toe my kort besoekie tot ’n einde kom, het ek Bybels en Bybellektuur by hulle gelaat. Daarna het ons met mekaar in aanraking gebly.

Toe die Getuies in Durango aankom—waar niemand anders voorheen gepreek het nie—het hulle 18 mense gevind wat gretig op ’n Bybelstudie gewag het. Die Getuies was bly om te reël dat elke gesin ’n Bybelstudie kry.

Tot op dié stadium het Mercedes nog nie die waarheid aangeneem nie, meer weens mensevrees as teësinnigheid om Bybelleringe te aanvaar. Die werk van Jehovah se Getuies was destyds in Spanje verbied, en daarom het sy gedink dat die owerheid ons twee kinders uit die skool sou sit en dat ons almal uitgeworpenes sou word. Maar toe sy sien dat al ons familielede Bybelwaarheid aanneem, wou sy ook studeer.

Binne twee jaar het 40 van my familielede Getuies geword en is hulle gedoop as ’n simbool van hulle toewyding om God te dien. Ja, my familie het dieselfde doel in die lewe as ek gehad. Ek het gevoel dat ek werklik iets bereik het wat die moeite werd is. Ons is geseën met oorvloedige geestelike rykdom.

’n Ryker lewe namate ek ouer geword het

Ek het my die volgende 20 jaar ingespan om ons twee seuns groot te maak en die plaaslike gemeente te help. Toe ek en Mercedes na Logroño getrek het, was daar net sowat 20 Getuies in dié stad met ongeveer 100 000 inwoners. Ek het kort voor lank baie verantwoordelikhede in die gemeente ontvang.

Toe ek 56 jaar oud was, het my maatskappy die fabriek waar ek gewerk het, onverwags toegemaak, en ek was werkloos. Ek wou nog altyd baie graag in die voltydse bediening wees, en daarom het ek van hierdie nuwe omstandighede gebruik gemaak om ’n pionier te word. Die pensioen wat ek ontvang het, was maar skraps, en dit was nie maklik om daarmee uit te kom nie. Mercedes het gehelp deur skoonmaakwerk te doen. Ons kon die pot aan die kook hou en het nooit die nodige dinge kortgekom nie. Ek pionier nog steeds, en sy dien van tyd tot tyd as ’n hulppionier en geniet die predikingswerk baie.

’n Paar jaar gelede het Mercedes ons tydskrifte gereeld gelaat by ’n jong vrou met die naam Merche wat as kind ’n Bybelstudie gehad het. Merche het ons lektuur aandagtig gelees, en Mercedes het opgelet dat Merche nog steeds in haar hart waardering vir Bybelwaarheid het. Uiteindelik het Merche ’n Bybelstudie aanvaar en goeie vordering begin maak. Maar Vicente, haar man, het baie gedrink en kon nie ’n vaste werk behou nie. As gevolg daarvan het hy haar nie finansieel onderhou nie; sy drankmisbruik het groot druk op hulle huwelik geplaas.

My vrou het aan Merche voorgestel dat Vicente met my praat, en hy het dit uiteindelik gedoen. Ná ’n paar besoeke het hy ’n Bybelstudie aanvaar. Vicente het begin verander en ’n paar dae op ’n slag niks gedrink nie. Daarna het hy ’n week of langer niks gedrink nie. Uiteindelik het hy heeltemal opgehou om alkohol te gebruik. Sy voorkoms het merkbaar verbeter, en sy gesin is verenig. Sy hele familie, insluitende sy vrou en dogter, gee uitstekende ondersteuning aan die klein gemeentetjie in die Kanariese Eilande, waar hulle nou woon.

’n Terugblik op ’n betekenisvolle lewe

Hoewel party van my familielede wat Bybelwaarhede jare gelede geleer het, al oorlede is, het ons uitgebreide familie bly groei, en God het ons ryklik geseën (Spr. 10:22). Hoe bevredigend is dit tog om te sien dat feitlik almal wat die Bybel 40 jaar gelede begin studeer het—tesame met hulle kinders en kleinkinders—Jehovah getrou bly dien het!

Ek het nou tientalle vleeslike familielede wat Getuies is, van wie baie as ouer manne, bedieningsknegte en pioniers dien. My oudste seun en sy vrou dien by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Madrid, Spanje. Toe ek ’n Getuie geword het, was daar omtrent 3 000 van ons in Spanje. Nou is daar meer as 100 000. Ek geniet die voltydse bediening terdeë, en ek is baie dankbaar teenoor God vir ’n wonderlike lewe in sy diens. Al het ek min skoolopleiding gehad, dien ek soms as ’n waarnemende kringopsiener.

’n Paar jaar gelede het ek uitgevind dat die dorpie waar ek grootgeword het, feitlik verlate is. Armoede het al die inwoners uiteindelik gedwing om hulle grond en hulle huise agter te laat in ’n soeke na ’n beter lewe. Gelukkig het baie van daardie mense wat verhuis het—insluitende ek—geestelike skatte gevind. Ons het geleer dat die lewe wel ’n doel het en dat diens aan Jehovah die grootste vreugde meebring wat ’n mens jou kan voorstel.

[Prent op bladsy 32]

Byna al broer Martínez se familielede wat in die waarheid is