Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Godsdiens—My keuse of my ouers s’n?

Godsdiens—My keuse of my ouers s’n?

Godsdiens—My keuse of my ouers s’n?

IN Pole sê baie mense vir Jehovah se Getuies: “Ek is in my godsdiens gebore, en ek sal daarin sterf.” Dit impliseer dat godsdiens, na hulle mening, van die een geslag na die ander oorgedra word. Vind jy ’n soortgelyke gesindheid teenoor godsdiens in jou omgewing? Wat het so ’n beskouing dikwels tot gevolg? Godsdiens is geneig om formalisties en bloot ’n familietradisie te word. Kan dit gebeur met diegene onder Jehovah se Getuies wat ’n wonderlike geestelike erfenis van hulle ouers of grootouers ontvang het?

Dit het nie met Timoteus gebeur nie, wat deur sy godvresende ma en ouma gehelp is om in die ware God te glo en hom lief te hê. Timoteus het die heilige geskrifte “van kleintyd af” geken. Mettertyd het hy, sowel as sy ma en ouma, daarvan oortuig geraak dat die Christelike godsdiens die waarheid is. Timoteus is ‘oortuig om te glo’ wat hy uit die Skrif gehoor het aangaande Jesus Christus (2 Tim. 1:5; 3:14, 15). Hoewel Christenouers dus vandag hulle bes doen om hulle kinders te help om knegte van Jehovah te word, moet die kinders self ’n begeerte ontwikkel om dit te doen.—Mark. 8:34.

Elkeen moet deur middel van gegronde redenasies oortuig word om te glo sodat hy Jehovah uit liefde sal dien en sy onkreukbaarheid sal handhaaf ongeag wat gebeur. Dan sal hy ’n vaste en diepgewortelde geloof hê.—Ef. 3:17; Kol. 2:6, 7.

Die kinders se rol

“Ek het nog altyd gemeen dat Jehovah se Getuies die ware godsdiens het”, verduidelik Albert, a wat in ’n Getuiegesin grootgeword het, “maar wat hulle gesê het oor hoe ek moet lewe, was vir my moeilik om te aanvaar.” As jy ’n jong persoon is, voel jy dalk dieselfde. Wend gerus ’n poging aan om te sien wat dit behels om te lewe soos God wil hê ons moet, en skep dan behae daarin om sy wil te doen (Ps. 40:8). “Ek het eenvoudig begin bid”, sê Albert. “Aan die begin was dit vir my moeilik. Ek moes my dwing om dit te doen. Maar kort voor lank het ek gevoel dat ek kosbaar in God se oë kan wees as ek probeer doen wat reg is. Dit het my die krag gegee om die nodige veranderinge aan te bring.” As jy ’n persoonlike verhouding met Jehovah aankweek, kan jy die begeerte ontwikkel om te doen wat hy van ons vereis.—Ps. 25:14; Jak. 4:8.

Dink aan ’n speletjie wat jy al gespeel het, soos ’n bordspel of ’n sekere sportsoort. As jy nie die reëls ken of dit goed kan speel nie, sal dit waarskynlik vervelig wees. Maar sal jy, as jy die reëls geleer het en die spel goed begin speel, nie daarna uitsien om dit te speel en selfs geleenthede skep om dit te doen nie? Dieselfde geld vir Christelike bedrywighede. Neem dus die inisiatief om vir Christelike vergaderinge voor te berei. Raak betrokke. Jy kan dalk selfs, ongeag jou ouderdom, ander deur middel van jou voorbeeld aanmoedig!—Heb. 10:24, 25.

Dieselfde geld wanneer jy ander van jou geloof vertel. Ook dit moet uit liefde gedoen word, nie onder dwang nie. Vra jou af: ‘Waarom wil ek ander van Jehovah vertel? Watter redes het ek om hom lief te hê?’ Jy moet Jehovah as ’n liefdevolle Vader leer ken. Hy het deur Jeremia gesê: “Julle sal my soek en vind, want julle sal my met julle hele hart soek” (Jer. 29:13, 14). Wat sal dit moontlik van jou vereis? “Ek moes my denke verander”, sê Jakub. “Ek het van kleins af vergaderinge toe gegaan en velddiens gedoen, maar dit het half ’n roetine geword. Eers toe ek Jehovah beter leer ken het en ’n persoonlike verhouding met hom ontwikkel het, het ek regtig by die waarheid betrokke geraak.”

Goeie, opbouende assosiasie dra baie by tot jou vreugde in die bediening. “Hy wat met wyses wandel, sal wys word”, sê die geïnspireerde spreuk (Spr. 13:20). Maak dus vriende met diegene wat geestelike doelwitte nastreef en wat gelukkig in Jehovah se diens is. Jola sê: “Ek het die assosiasie met baie geestelikgesinde jongmense aanmoedigend gevind. Ek het gereeld aan die bediening begin deelneem en dit baie geniet.”

Die ouers se rol

“Ek is baie dankbaar teenoor my ouers dat hulle my van Jehovah geleer het”, sê Jola. Ja, ouers kan ’n kragtige invloed op hulle kinders se keuse hê. Die apostel Paulus het geskryf: “Vaders, . . . hou aan om [julle kinders] in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Ef. 6:4). Hierdie geïnspireerde raad toon duidelik dat die ouers se rol behels dat hulle hulle kinders Jehovah se weë leer, nie hulle eie nie. Hoe wonderlik sal dit tog wees as jy jou kinders kan help om eerder daarna te streef om in ooreenstemming met Jehovah se voornemens te lewe, as om hulle aan te spoor om te streef na wat jý dalk graag wou bereik het!

Jy kan Jehovah se woorde by jou kinders inskerp en “daaroor praat wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op die pad loop en wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan” (Deut. 6:6, 7). “Ons het baie gesels oor verskillende vorme van die voltydse bediening”, vertel Ewa en Ryszard, die ouers van drie seuns. Die gevolg? “Die seuns wou al op ’n jong ouderdom by die Teokratiese Bedieningskool aansluit, het verkondigers geword en uiteindelik op hulle eie besluit om gedoop te word. Later het hulle by Bethel of as pioniers begin dien.”

Dit is noodsaaklik dat ouers ’n goeie voorbeeld stel. Ryszard sê: “Ons was vasbeslote om nie ’n dubbele lewe te lei deur by die huis anders op te tree as by die gemeente nie.” Vra jou derhalwe af: ‘Wat sien my kinders in my lewe? Sien hulle ’n ware liefde vir Jehovah? Merk hulle hierdie liefde op in my gebede en my persoonlike studieroetine? Sien hulle dit in my gesindheid teenoor velddiens, vermaak en materiële dinge en in wat ek oor ander lede van die gemeente sê?’ (Luk. 6:40). Kinders sal na jou daaglikse lewe kyk en sien as daar enige verskil is tussen wat jy sê en wat jy doen.

Dissipline speel ’n belangrike rol in die grootmaak van kinders. God se geïnspireerde Woord sê egter vir ons: “Lei ’n seun op volgens die weg vir hom” (Spr. 22:6). Ewa en Ryszard sê: “Ons het tyd gemaak om ’n afsonderlike Bybelstudie met elke kind te hê.” Ouers moet natuurlik self besluit of ’n aparte studie vir elke kind nodig is. Hoe dit ook al sy, ’n kind moet as ’n individu behandel word. Dit vereis aanpasbaarheid en redelikheid. In plaas van net vir jou kinders te sê dat sekere musiek sleg is, kan jy byvoorbeeld vir hulle toon hoe om wyse besluite te neem en hoe Bybelbeginsels daarby betrokke is.

Jou kinders weet dalk presies wat jy van hulle verwag, en dit lyk miskien of hulle doen wat jy sê. Maar jy moet hulle hart bereik. Onthou, “raad in die hart van ’n man is soos diep waters, maar die man met onderskeidingsvermoë sal dit uitskep” (Spr. 20:5). Toon onderskeidingsvermoë en wees op die uitkyk na tekens van enige probleem wat dalk in jou kind se hart skuil, en tree dadelik op. Toon dat jy besorg is en vra gepaste vrae sonder om enige aantygings te maak. Wees nogtans versigtig om nie té nuuskierig te wees nie. Jou opregte besorgdheid sal hulle hart bereik en sal jou help om hulle te help.

Die gemeente se rol

Kan jy as een van God se knegte jongmense in die gemeente help om hulle geestelike erfenis te waardeer? Hoewel ouers die verantwoordelikheid het om hulle kinders op te lei, kan ander gemeentelede, veral ouer manne, hulle pogings ondersteun. Dit is veral belangrik om diegene in godsdienstig verdeelde gesinne te probeer help.

Wat kan die ouer manne doen om jongmense te help om Jehovah lief te hê en om te voel dat hulle nodig is en waardeer word? Mariusz, wat as ’n opsiener in ’n gemeente in Pole dien, sê: “Ouer manne moet met die jongmense kommunikeer, kommunikeer, kommunikeer. Dit moenie net gedoen word wanneer probleme ontstaan nie, maar ook by ander geleenthede—in die bediening, ná die vergaderinge of oor ’n koppie koffie.” Vra gerus vir die jongmense hoe hulle oor die gemeente voel. Sulke openhartige kommunikasie bring jongmense nader aan die gemeente en help hulle om deel daarvan te voel.

Kan jy, as jy ’n ouer man in die gemeente is, die jongmense in jou gemeente beter leer ken? Hoewel Albert, wat vroeër genoem is, nou as ’n ouer man dien, het hy as ’n tiener verskeie beproewinge ondervind. Hy sê: “As ’n jong volwassene het ek ’n persoonlike herdersbesoek nodig gehad.” Ouer manne kan ook persoonlike belangstelling in jongmense toon deur vir hulle geestelike welsyn te bid.—2 Tim. 1:3.

Dit is goed vir jongmense om betrokke te raak by gemeentelike bedrywighede. Anders sal hulle dalk wêreldse doelwitte begin najaag. Kan dié van ons wat ’n bietjie ouer is, saam met hulle velddiens doen en met hulle vriende maak? Bring van jou vrye tyd saam met jongmense deur en skep ’n atmosfeer van vertroue en vriendskap. Jola vertel: “’n Pioniersuster het persoonlike belangstelling in my getoon. Dit was saam met haar dat ek die eerste keer in velddiens uitgegaan het omdat ek wou.”

Jou persoonlike keuse

Jongmense, vra julle af: ‘Wat is my doelwitte? As ek nog nie gedoop is nie, kan ek dit as ’n doelwit stel?’ Die besluit om gedoop te word, moet voortspruit uit ’n hart vol liefde vir Jehovah, nie uit enige verpligting teenoor ’n familietradisie nie.

Ja, mag Jehovah jou ware Vriend wees, en die waarheid jou kosbare skat. Jehovah het deur middel van die profeet Jesaja gesê: “Moenie rondkyk nie, want ek is jou God.” Jehovah sal met jou wees solank jy sy vriend is. Hy sal jou inderdaad versterk en ‘jou stewig vashou met sy regterhand van regverdigheid’.—Jes. 41:10.

[Voetnoot]

a Van die name is verander.

[Prent op bladsy 4]

Probeer onderskei wat in jou kind se hart is

[Prent op bladsy 6]

Die besluit om gedoop te word, spruit voort uit ’n hart vol liefde vir Jehovah