Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waardeer jy wat Jehovah gedoen het om jou te verlos?

Waardeer jy wat Jehovah gedoen het om jou te verlos?

Waardeer jy wat Jehovah gedoen het om jou te verlos?

“Mag Jehovah, die God van Israel, geloof word, want hy het sy aandag op sy volk gerig en vir hulle verlossing bewerk.”—LUK. 1:68.

1, 2. Hoe kan die erns van ons huidige toestand toegelig word, en watter vrae sal ons bespreek?

 STEL jou voor jy lê in ’n hospitaalbed. Jy is in ’n saal waar almal aan dieselfde siekte ly, ’n dodelike siekte waarvoor daar nog geen geneesmiddel is nie. Wanneer jy hoor dat ’n dokter aan die spits staan van ’n poging om ’n geneesmiddel te vind, gee dit jou hoop. Jy wag gretig op nuus van enige verwikkelinge. Op ’n dag hoor jy dat ’n geneesmiddel gevind is! Die dokter wat die deurbraak gemaak het, het ontsaglike opofferings gemaak om die geneesmiddel te ontwikkel. Hoe sou jy reageer? Jou hart sal ongetwyfeld oorloop van respek en waardering vir die man wat dit vir jou en baie ander mense moontlik gemaak het om van die dood verlos te word.

2 Hierdie scenario klink dalk dramaties, maar dit stem ooreen met ’n werklikheid wat ons almal in die gesig staar. Elkeen van ons bevind ons in ’n toestand wat baie ernstiger is as die een wat hier beskryf word. Ons het ’n verlosser dringend nodig. (Lees Romeine 7:24.) Jehovah het groot moeite gedoen om ons te verlos. Sy Seun het ook merkwaardige opofferings gemaak. Kom ons bespreek dus vier basiese vrae. Waarom het ons verlossing nodig? Wat het ons verlossing Jesus gekos? Wat het dit Jehovah gekos? En hoe kan ons toon dat ons goddelike verlossing waardeer?

Waarom ons verlossing nodig het

3. Hoe kom sonde ooreen met ’n pandemie?

3 Volgens ’n onlangse skatting was een van die ergste pandemies in die mensegeskiedenis die Spaanse griep van 1918, wat tienmiljoene lewens geëis het. Ander siektes is in sekere sin dodeliker. Hoewel dit moontlik minder mense besmet, sterf ’n groter persentasie van die mense wat wel besmet word. a Maar gestel ons vergelyk sonde met so ’n pandemie. Dink aan die woorde van Romeine 5:12 wat sê dat “die sonde [deur een mens] in die wêreld ingekom het en die dood deur die sonde en die dood . . . só tot alle mense deurgedring het omdat hulle almal gesondig het”. Die besmettingsyfer van sonde is 100 persent, aangesien alle onvolmaakte mense sondig. (Lees Romeine 3:23.) En wat is die sterftesyfer? Paulus het geskryf dat sonde tot die dood van “alle mense” lei.

4. Wat is Jehovah se beskouing van ons lewensduur, en hoe verskil sy beskouing van dié van baie mense wat vandag lewe?

4 Vandag beskou baie mense sonde en die dood nie in so ’n ernstige lig nie. Hulle is bekommerd oor wat hulle ’n ontydige dood noem, maar hulle beskou die dood wat die mens weens die verouderingsproses bekruip, as “natuurlik”. Mense vergeet alte maklik die Skepper se beskouing. Ons lewensduur is oneindig korter as wat hy in gedagte gehad het. Eintlik het geen mens vanuit Jehovah se oogpunt selfs net “een dag” gelewe nie (2 Pet. 3:8). God se Woord sê dus dat ons lewens so verganklik is soos die gras wat in een seisoen groei of soos asem wat uitgeblaas word (Ps. 39:5; 1 Pet. 1:24). Ons moet hierdie beskouing in gedagte hou. Waarom? As ons die erns besef van die “siekte” wat ons teister, sal ons ’n beter begrip hê van die waarde van die “geneesmiddel”—ons verlossing.

5. Wat het sonde elkeen van ons gekos?

5 Om die erns van sonde en die gevolge daarvan te begryp, moet ons probeer bepaal wat dit ons gekos het. Dit sal aan die begin dalk moeilik wees omdat sonde ons iets gekos het wat ons nog nooit ondervind het nie. Adam en Eva het oorspronklik volmaakte menselewe geniet. Met ’n volmaakte verstand en liggaam kon hulle kies om hulle gedagtes, gevoelens en dade te beheer. Dit het hulle dus vrygestaan om as knegte van Jehovah God te groei en om die ontsaglike potensiaal in hulle te bereik. In plaas daarvan het hulle hierdie kosbare gawe weggegooi. Deur te kies om teen Jehovah te sondig, het hulle die soort lewe wat Jehovah vir hulle en hulle nageslag in gedagte gehad het, verbeur (Gen. 3:16-19). Terselfdertyd het hulle hulleself en ons besmet met die verskriklike “siekte” wat ons bespreek het. Jehovah het hulle tereg veroordeel. Maar vir ons hou hy die hoop op verlossing voor.—Ps. 103:10.

Wat ons verlossing Jesus gekos het

6, 7. (a) Hoe het Jehovah aanvanklik getoon dat ons verlossing baie sou kos? (b) Wat kan ons leer uit die offerandes wat gebring is deur Abel en die aartsvaders wat voor die Wet gelewe het?

6 Jehovah het geweet dat dit baie sou kos om Adam en Eva se nageslag te verlos. In die profesie wat in Genesis 3:15 opgeteken is, leer ons iets omtrent die koste van verlossing. Jehovah sou ’n “saad”, ’n verlosser, voorsien wat Satan eendag sal vernietig, hom sal verbrysel. Maar hierdie verlosser sou moes ly en ’n figuurlike wond in die hakskeen ontvang. Dit klink pynlik en ernstig, maar wat beteken dit? Presies wat sou Jehovah se Uitverkorene moes verduur?

7 Om die mensdom van sonde te red, sou die verlosser ’n versoeningsmiddel moes voorsien, ’n manier om die mens met God te versoen deur die gevolge van sonde ongedaan te maak. Wat sou dit behels? Daar was vroeë aanduidings dat ’n offerande nodig sou wees. Toe die eerste getroue mens, Abel, diereoffers aan Jehovah gebring het, het hy God se goedkeuring ontvang. Later het godvresende aartsvaders soos Noag, Abraham, Jakob en Job soortgelyke offerandes gebring, wat God behaag het (Gen. 4:4; 8:20, 21; 22:13; 31:54; Job 1:5). Eeue later het die Mosaïese Wet meer lig op offerandes gewerp.

8. Wat het die hoëpriester op die jaarlikse Versoendag gedoen?

8 Van die belangrikste offerandes wat deur die Wet vereis is, was dié wat op die jaarlikse Versoendag gebring is. Op hierdie dag het die hoëpriester ’n reeks simboliese dade uitgevoer. Hy het offerandes aan Jehovah gebring om versoening vir sondes te doen—eers vir dié van die priesterlike klas en dan vir dié van die niepriesterlike stamme. Die hoëpriester het in die Allerheiligste van die tabernakel of die tempel ingegaan, waarin net hy kon gaan en ook net op hierdie een dag van die jaar. Daar het hy die bloed van die offerandes voor die verbondsark gesprinkel. Bokant hierdie heilige kis het ’n helder, glinsterende wolk soms verskyn, wat Jehovah God se teenwoordigheid voorgestel het.—Eks. 25:22; Lev. 16:1-30.

9. (a) Wie is deur die hoëpriester op die Versoendag voorafgeskadu, en wat het die offerandes wat hy gebring het, beteken? (b) Wat het die feit dat die hoëpriester in die Allerheiligste ingegaan het, voorgestel?

9 Die apostel Paulus is geïnspireer om die betekenis van hierdie simboliese dade te openbaar. Hy het getoon dat die hoëpriester die Messias, Jesus Christus, voorafgeskadu het, terwyl die offerandes wat gebring is, Christus se offerdood voorgestel het (Heb. 9:11-14). Hierdie volmaakte offerande sou ware versoening bring vir twee groepe mense—die priesterlike klas van Christus se 144 000 geesgesalfde broers en die “ander skape” (Joh. 10:16). Wanneer die hoëpriester in die Allerheiligste ingegaan het, het hy Jesus voorafgeskadu wat in die hemel self sou ingaan om die waarde van die losprysoffer voor Jehovah God aan te bied.—Heb. 9:24, 25.

10. Wat sou die Messias volgens Bybelprofesieë ondervind?

10 Dit is duidelik dat die verlossing van Adam en Eva se nageslag ’n groot opoffering sou verg. Die Messias sou sy lewe moes opoffer! Die profete van die Hebreeuse Geskrifte het hierdie waarheid duidelik beskryf. Byvoorbeeld, die profeet Daniël het reguit gesê dat “Messias die Leier” “uitgeroei”, of tereggestel, sou word “om vir die ongeregtigheid versoening te doen” (Dan. 9:24-26). Jesaja het voorspel dat die Messias verwerp, vervolg en tereggestel, of deurboor, sou word om die sondes van onvolmaakte mense te dra.—Jes. 53:4, 5, 7

11. In watter opsigte het Jehovah se Seun getoon dat hy gewillig is om homself ter wille van ons verlossing op te offer?

11 Voordat God se enigverwekte Seun na die aarde toe gekom het, was hy bewus van wat ons verlossing hom sou kos. Hy sou verskriklik moes ly en dan doodgemaak word. Het hy teruggedeins of opstandig geraak toe sy Vader hom hierdie waarhede geleer het? Inteendeel, hy het hom gewillig aan sy Vader se onderrigting onderwerp (Jes. 50:4-6). Ook toe Jesus op die aarde was, het hy sy Vader se wil gehoorsaam uitgevoer. Waarom? Hy het met hierdie woorde een antwoord voorsien: ‘Ek het die Vader lief.’ Hy het nog ’n rede gegee: “Niemand het groter liefde as dít nie, dat iemand van sy siel afstand doen ten behoewe van sy vriende” (Joh. 14:31; 15:13). Ons verlossing is dus grotendeels te danke aan die liefde van Jehovah se Seun. Hoewel dit hom sy volmaakte menselewe gekos het, het hy dit blymoedig ter wille van ons verlossing gedoen.

Wat ons verlossing Jehovah gekos het

12. Weens wie se wil is die losprys voorsien, en waarom het hy dit gedoen?

12 Jesus was nie die Insteller of Voornemer van die losprysoffer nie. Hierdie middel tot verlossing was eerder ’n sleutelaspek van Jehovah se wil. Die apostel Paulus het getoon dat die altaar by die tempel, waarop die offerandes gebring is, Jehovah se wil voorgestel het (Heb. 10:10). Die verlossing wat ons deur middel van Christus se offerande ontvang, is dus iets wat ons bowenal aan Jehovah te danke het (Luk. 1:68). Dit is ’n bewys van sy volmaakte wil en van sy groot liefde vir mense.—Lees Johannes 3:16.

13, 14. Hoe kan Abraham se voorbeeld ons help om te waardeer wat Jehovah ten behoewe van ons gedoen het?

13 Wat het dit Jehovah gekos om sy liefde vir ons op hierdie manier te toon? Dit is moeilik om ons dit in te dink. Maar daar is ’n Bybelverslag wat ons kan help om die saak duideliker te sien. Jehovah het die getroue man Abraham gevra om iets te doen wat uiters moeilik was—om sy seun Isak as ’n offerande te bring. Abraham was ’n liefdevolle vader. Toe Jehovah met hom gepraat het, het hy na Isak verwys as “jou enigste seun wat jy só liefhet” (Gen. 22:2). Nogtans het Abraham besef dat die uitvoering van Jehovah se wil selfs belangriker is as sy liefde vir Isak. Abraham was gehoorsaam. Maar Jehovah het Abraham nie toegelaat om te doen wat Hy eendag self sou doen nie. God het ’n engel gestuur om Abraham te keer net voordat hy sy seun geoffer het. Abraham was so vasbeslote om sy God in hierdie moeilike toets te gehoorsaam, dat hy seker was dat hy die jong man slegs deur middel van ’n opstanding weer lewend sou sien. Maar hy het volkome geloof gehad dat God so ’n opstanding sou uitvoer. Ja, Paulus het gesê dat Abraham Isak wel “by wyse van illustrasie” deur ’n opstanding terugontvang het.—Heb. 11:19.

14 Kan jy jou Abraham se pyn voorstel terwyl hy gereedgemaak het om sy seun te offer? In sekere sin help Abraham se ondervinding om toe te lig hoe Jehovah gevoel het toe hy die een geoffer het wat hy “my Seun, die geliefde,” genoem het (Matt. 3:17). Onthou egter dat Jehovah se pyn waarskynlik intenser was. Hy en sy Seun het tallose miljoene, dalk selfs miljarde, jare mekaar se assosiasie geniet. Die Seun het vreugdevol saam met die Vader gewerk as sy geliefde “meesterwerker” en as sy Woordvoerder, “die Woord” (Spr. 8:22, 30, 31; Joh. 1:1). Wat Jehovah verduur het terwyl sy Seun gemartel, bespot en toe as ’n misdadiger tereggestel is, is baie erger as wat ons ons kan voorstel. Ons verlossing het Jehovah baie gekos! Maar hoe kan ons dan toon dat ons hierdie verlossing waardeer?

Hoe kan jy toon dat jy verlossing waardeer?

15. Hoe het Jesus die groot versoeningsdaad voltooi, en wat is daardeur moontlik gemaak?

15 Jesus het die groot versoeningsdaad voltooi nadat hy tot hemelse lewe opgewek is. Toe hy met sy geliefde Vader herenig is, het hy die waarde van sy offer vir Hom aangebied. Groot seëninge het gevolg. Volkome vergifnis was toe moontlik, eers vir die sondes van Christus se gesalfde broers en daarna vir dié van “die hele wêreld”. Danksy hierdie offerande kan almal wat vandag opreg berou het oor hulle sondes en ware volgelinge van Christus word, ’n rein posisie voor Jehovah God geniet (1 Joh. 2:2). Hoe raak dit jou?

16. Hoe kan ons toelig waarom ons die verlossing moet waardeer wat Jehovah vir ons moontlik gemaak het?

16 Kom ons gaan terug na die illustrasie wat aan die begin genoem is. Gestel die dokter wat die geneesmiddel vir die siekte vind, kom na die pasiënte in jou saal met hierdie aanbod: Enige pasiënt wat die behandeling aanvaar en die voorgeskrewe leefwyse volg, sal sonder twyfel genees word. Sê nou die meeste van jou medepasiënte weier om die dokter se riglyne te volg omdat hulle meen dat dit te veel moeite sal wees om die medisyne te neem of die voorgeskrewe leefwyse te volg? Sal jy dieselfde doen selfs al het jy oortuigende bewyse dat die geneesmiddel regtig werk? Natuurlik nie! Jy sal ongetwyfeld jou dank uitspreek vir die geneesmiddel, die dokter se instruksies noukeurig volg en dalk selfs vir ander van jou besluit vertel. In ’n baie groter sin moet elkeen van ons gretig wees om vir Jehovah te toon presies hoeveel ons die verlossing waardeer wat hy deur die losprysoffer van sy Seun moontlik gemaak het.—Lees Romeine 6:17, 18.

17. Op watter maniere kan jy jou waardering toon vir wat Jehovah gedoen het om jou te verlos?

17 As ons waardeer wat Jehovah en sy Seun gedoen het om ons van sonde en die dood te verlos, sal ons dit toon (1 Joh. 5:3). Ons sal stry teen ons neiging om te sondig. Ons sal nooit sonde opsetlik beoefen en die huigelagtige dubbele lewe lei wat dikwels daarmee gepaardgaan nie. So ’n weg sal aandui dat ons die losprys glad nie waardeer nie. Ons sal eerder ons waardering toon deur ons in te span om rein in God se oë te bly (2 Pet. 3:14). Ons sal dit toon deur ander van ons wonderlike hoop op verlossing te vertel sodat hulle ook ’n rein posisie voor Jehovah kan geniet en die hoop op ’n ewige toekoms kan hê (1 Tim. 4:16). Jehovah en sy Seun verdien beslis elke bietjie tyd en energie wat ons kan gebruik om hulle te loof! (Mark. 12:28-30). Dink net! Ons kan uitsien na die tyd wanneer ons heeltemal genees sal wees van sonde. Ons kan lewe soos God oorspronklik in gedagte gehad het, in volmaaktheid, vir ewig—dit alles weens wat Jehovah gedoen het om ons te verlos!—Rom. 8:21.

[Voetnoot]

a Die Spaanse griep het destyds na bewering tussen ’n vyfde en meer as die helfte van die wêreld se bevolking besmet. Die virus het moontlik tussen 1 en 10 persent van die besmette mense se dood veroorsaak. In teenstelling hiermee is die Ebolavirus baie seldsamer, maar van die kere dat dit uitgebreek het, het dit die dood veroorsaak van ongeveer 90 persent van dié wat besmet is.

Hoe sal jy antwoord?

• Waarom het jy verlossing dringend nodig?

• Hoe raak Jesus se selfopofferende daad jou?

• Hoe voel jy oor Jehovah se gawe van die losprys?

• Wat beweeg Jehovah se voorsienings vir jou verlossing jou om te doen?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 27]

Op die Versoendag het Israel se hoëpriester ’n lewende afbeelding van die Messias geword

[Prent op bladsy 28]

Abraham se gewilligheid om sy seun te offer, leer ons baie oor Jehovah se veel groter opoffering