Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Behou vriendskappe in ’n liefdelose wêreld

Behou vriendskappe in ’n liefdelose wêreld

Behou vriendskappe in ’n liefdelose wêreld

“Hierdie dinge beveel ek julle, dat julle mekaar moet liefhê.”—JOH. 15:17.

1. Waarom moes eerste-eeuse Christene hegte vriende bly?

 GEDURENDE sy laaste aand op aarde het Jesus sy lojale dissipels aangespoor om vriende met mekaar te bly. Vroeër die aand het hy gesê dat die liefde wat hulle aan mekaar betoon, hulle as sy volgelinge sou identifiseer (Joh. 13:35). Die apostels moes hegte vriende bly sodat hulle toekomstige beproewinge kon verduur en die werk kon uitvoer wat Jesus hulle kort daarna sou gee om te doen. Trouens, eerste-eeuse Christene het bekend geword vir hulle onverbreeklike toegewydheid aan God en aan mekaar.

2. (a) Wat is ons vasbeslote om te doen, en waarom? (b) Watter vrae gaan ons bespreek?

2 Hoe wonderlik is dit tog vandag om met ’n wêreldwye organisasie te assosieer waarvan die lede die voorbeeld van daardie eerste-eeuse Christene volg! Ons is vasbeslote om Jesus se opdrag te gehoorsaam om opregte liefde aan mekaar te betoon. Maar gedurende hierdie laaste dae is mense oor die algemeen dislojaal en toon hulle geen natuurlike geneentheid nie (2 Tim. 3:1-3). Die vriendskappe wat hulle aanknoop, is dikwels oppervlakkig en vir eie gewin. Om ons identiteit as ware Christene te behou, moet ons sulke gesindhede vermy. Kom ons bespreek dus die volgende: Wat vorm die grondslag van goeie vriendskappe? Hoe kan ons goeie vriende maak? Wanneer moet ons dalk ’n vriendskap beëindig? En hoe kan ons opbouende vriendskappe behou?

Wat vorm die grondslag van goeie vriendskappe?

3, 4. Wat vorm die grondslag van die sterkste vriendskappe, en waarom?

3 Die sterkste vriendskappe is gegrond op liefde vir Jehovah. Koning Salomo het geskryf: “As iemand een alleen sou kon oorweldig, sou twee saam teen hom kon staande bly. En ’n driedubbele tou kan nie gou in twee gebreek word nie” (Pred. 4:12). Wanneer Jehovah die derde persoon in ’n vriendskap is, sal daardie vriendskap voortduur.

4 Mense wat Jehovah nie liefhet nie, kan weliswaar ook goeie vriendskappe hê. Maar wanneer persone heg saamgebind word deur ’n wedersydse liefde vir God, sal hulle vriendskap onwankelbaar wees. As misverstande ontstaan, sal ware vriende mekaar behandel op ’n manier wat Jehovah behaag. As teenstanders van God verdeeldheid probeer veroorsaak, ontdek hierdie vyande dat vriendskappe onder ware Christene onverbreeklik is. Deur die geskiedenis heen het knegte van Jehovah getoon dat hulle bereid is om eerder te sterf as om mekaar te verraai.—Lees 1 Johannes 3:16.

5. Waarom het Rut en Naomi so ’n blywende vriendskap gehad?

5 Dit ly geen twyfel nie, die bevredigendste vriendskappe wat ons kan geniet, is met persone wat Jehovah liefhet. Dink aan die voorbeeld van Rut en Naomi. Hierdie vroue het een van die bewonderenswaardigste vriendskappe gesmee wat in die Bybel opgeteken is. Waarom het hulle so ’n blywende vriendskap gehad? Rut het die rede gegee toe sy vir Naomi gesê het: “U volk sal my volk wees, en u God my God. . . . Mag Jehovah so aan my doen en daaraan toevoeg as enigiets anders as die dood my en u sou skei” (Rut 1:16, 17). Rut en Naomi het klaarblyklik albei innige liefde vir God gehad, en hulle het toegelaat dat hierdie liefde die manier beïnvloed waarop hulle mekaar behandel. Gevolglik is albei vroue deur Jehovah geseën.

Hoe om goeie vriende te maak

6-8. (a) Wat is nodig om ’n blywende vriendskap te geniet? (b) Hoe kan jy die inisiatief neem om vriende te maak?

6 Die voorbeeld van Rut en Naomi lig toe dat goeie vriendskappe nie bloot toevallig ontstaan nie. Dit word op ’n wedersydse liefde vir Jehovah gebou. Maar inspanning en selfopoffering is nodig as ons blywende vriendskappe wil geniet. Selfs in Christengesinne moet kinders wat Jehovah aanbid, hulle daarop toelê om hegte vriende met mekaar te word. Hoe kan jy dus goeie vriende maak?

7 Neem die inisiatief. Die apostel Paulus het sy vriende in die gemeente in Rome aangespoor om “die weg van gasvryheid” te volg (Rom. 12:13). Om ’n letterlike weg te volg, moet ’n mens ’n reeks stappe, een ná die ander, doen. So ook behels gasvryheid ’n reeks klein, gereelde aksies. Niemand anders kan die weg van gasvryheid vir jou volg nie. (Lees Spreuke 3:27.) Een manier waarop jy gasvry kan wees, is deur verskillende persone in die gemeente vir ’n eenvoudige ete te nooi. Kan jy dit deel van jou roetine maak om gasvryheid aan lede van jou gemeente te betoon?

8 Nog ’n manier waarop jy die inisiatief kan neem om vriende te maak, is deur verskillende persone te nooi om saam met jou aan die predikingswerk deel te neem. Wanneer jy by ’n vreemdeling se deur staan en hoor hoe jou metgesel uit die hart oor sy of haar liefde vir Jehovah praat, kan jy nie anders as om nader aan dié persoon te voel nie.

9, 10. Watter voorbeeld het Paulus gestel, en hoe kan ons hom navolg?

9 Word verruim in jou geneenthede. (Lees 2 Korintiërs 6:12, 13.) Het jy al ooit gevoel dat daar eenvoudig niemand in jou gemeente is met wie jy vriende kan maak nie? Indien wel, kan dit wees dat jou beskouing beperk is van wie ’n vriend kan wees? Die apostel Paulus het ’n goeie voorbeeld gestel deur verruim te word in sy geneenthede. Daar was ’n tyd toe hy dit nooit sou oorweeg het om hegte vriendskapsbande met nie-Jode te smee nie. Maar hy het “’n apostel vir die nasies” geword.—Rom. 11:13.

10 Daarbenewens het Paulus nie sy vriendskappe tot diegene van sy eie ouderdomsgroep beperk nie. Hy en Timoteus het byvoorbeeld goeie vriende geword ondanks ’n verskil in ouderdom en agtergrond. Vandag waardeer baie jongmense hulle vriendskappe met ouer lede van die gemeente. “Ek het ’n baie dierbare vriendin wat in haar 50’s is”, sê Vanessa, wat in haar vroeë 20’s is. “Ek kan haar enigiets vertel wat ek vriende van my eie ouderdom sal vertel. En sy gee soveel om vir my.” Hoe word sulke vriendskappe gesmee? Vanessa sê: “Ek moes die inisiatief neem om hierdie vriendskap aan te knoop en kon nie sit en wag dat dit na my toe kom nie.” Is jy bereid om vriende te maak met persone buite jou ouderdomsgroep? Jehovah sal jou beslis seën vir jou pogings.

11. Wat kan ons leer uit die voorbeeld van Jonatan en Dawid?

11 Wees lojaal. “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is”, het Salomo geskryf (Spr. 17:17). Toe hy hierdie woorde opgeteken het, het Salomo dalk die vriendskap tussen sy vader, Dawid, en Jonatan in gedagte gehad (1 Sam. 18:1). Koning Saul wou hê dat sy seun Jonatan die troon van Israel erf. Maar Jonatan het die feit aanvaar dat Jehovah Dawid gekies het vir hierdie voorreg. In teenstelling met Saul het Jonatan nie afgunstig geword op Dawid nie. Hy was nie gegrief deur die lof wat Dawid ontvang het nie, en hy het ook nie die laster wat Saul oor Dawid versprei het, sommer net geglo nie (1 Sam. 20:24-34). Is ons soos Jonatan? Is ons bly vir ons vriende wanneer hulle voorregte ontvang? Vertroos en ondersteun ons hulle wanneer hulle ontberinge verduur? Glo ons dadelik enige skadelike skinderpraatjies oor ’n vriend? Of verdedig ons ons vriend lojaal, soos Jonatan?

Wanneer vriendskappe beëindig moet word

12-14. Voor watter uitdaging kom party Bybelstudente te staan, en hoe kan ons hulle help?

12 Wanneer ’n Bybelstudent veranderinge in sy lewe begin aanbring, sal die kwessie van vriendskappe dalk ’n ware uitdaging skep. Hy het miskien vriende wie se geselskap hy geniet, maar wat nie volgens die Bybel se sedelike standaarde lewe nie. In die verlede het hy moontlik gereeld met hulle geassosieer. Maar nou besef hy dat die dinge wat hulle doen, ’n slegte invloed op hom kan hê, en hy besef dat hy sy kontak met hierdie vriende moet beperk (1 Kor. 15:33). Nietemin dink hy dalk dat hy dislojaal sal wees as hy nie met hulle assosieer nie.

13 As jy ’n Bybelstudent is wat voor hierdie uitdaging te staan kom, moet jy onthou dat ’n ware vriend bly sal wees dat jy jou lewe probeer verbeter. Hy of sy sal dalk selfs saam met jou van Jehovah wil leer. Aan die ander kant sal valse vriende ‘aanhou om jou te smaad’ omdat jy nie meer saam met hulle tot “dieselfde lae poel van losbandigheid” daal nie (1 Pet. 4:3, 4). Dit is eintlik hierdie vriende wat dislojaal teenoor jou is, nie jy teenoor hulle nie.

14 Wanneer Bybelstudente hulle vriende verloor wat geen liefde vir God het nie, kan lede van die gemeente die leemte vul (Gal. 6:10). Weet jy van sulke Bybelstudente wat julle vergaderinge bywoon? Kan jy hulle soms van opbouende assosiasie voorsien?

15, 16. (a) Hoe moet ons reageer as ’n vriend ophou om Jehovah te dien? (b) Hoe kan ons bewys dat ons God liefhet?

15 Maar sê nou ’n vriend in die gemeente besluit om Jehovah die rug toe te keer en hy of sy moet dalk uitgesit word? So ’n situasie kan baie ontstellend wees. Een suster het haar reaksie beskryf toe ’n intieme vriendin opgehou het om Jehovah te dien en het gesê: “Dit het gevoel of iets in my doodgegaan het. Ek het gedink my vriendin was sterk in die waarheid, maar sy was nie. Ek het gewonder of sy Jehovah bloot gedien het om haar gesin gelukkig te maak. Toe het ek my eie beweegredes begin ondersoek. Dien ek Jehovah om die regte redes?” Hoe het hierdie suster die situasie die hoof gebied? “Ek het my las op Jehovah gewerp”, sê sy. “Ek is vasbeslote om vir Jehovah te toon dat ek hom liefhet weens die soort persoon wat hy is, nie net omdat hy my van vriende in sy organisasie voorsien nie.”

16 Ons kan nie verwag om ’n vriend van God te bly as ons die kant kies van dié wat vriende van die wêreld wil wees nie. Die dissipel Jakobus het geskryf: “Weet julle nie dat die vriendskap met die wêreld vyandskap met God is nie? Elkeen dan wat ’n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ’n vyand van God” (Jak. 4:4). Ons kan bewys dat ons God liefhet deur te vertrou dat Hy ons sal help om die verlies van ’n vriend te verwerk as ons lojaal aan Hom bly. (Lees Psalm 18:25.) Die suster wat vroeër aangehaal is, som die saak so op: “Ek het geleer dat ons niemand kan dwing om vir Jehovah of vir ons lief te wees nie. Dit is op die ou end ’n persoonlike keuse.” Maar wat kan ons doen om opbouende vriendskappe te behou met dié wat in die gemeente bly?

Behou goeie vriendskappe

17. Hoe praat goeie vriende met mekaar?

17 Goeie kommunikasie hou ’n vriendskap lewend. Wanneer jy die Bybelverslae oor Rut en Naomi, Dawid en Jonatan en Paulus en Timoteus lees, sal jy opmerk dat goeie vriende vryelik maar respekvol met mekaar praat. Aangaande die manier waarop ons met ander moet kommunikeer, het Paulus geskryf: “Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout.” Paulus het spesifiek verwys na die manier waarop ons moet praat met mense “wat buite is”, dit wil sê diegene wat nie ons Christenbroers is nie (Kol. 4:5, 6). As ongelowiges dan ons respek verdien wanneer ons met hulle praat, hoeveel te meer verdien ons vriende in die gemeente dit tog!

18, 19. Hoe moet ons die raad beskou wat ons van ’n Christenvriend ontvang, en watter voorbeeld het die ouer manne in Efese vir ons gestel?

18 Goeie vriende waardeer mekaar se menings, en daarom moet kommunikasie tussen hulle aangenaam sowel as openhartig wees. Die wyse koning Salomo het geskryf: “Olie en reukwerk maak die hart bly, ook die soetheid van ’n mens se metgesel weens die raad van die siel” (Spr. 27:9). Is dit hoe jy voel oor die raad wat jy van ’n vriend ontvang? (Lees Psalm 141:5.) Hoe reageer jy as ’n vriend besorgdheid uitspreek oor iets wat jy besig is om te doen? Beskou jy die opmerkings as ’n blyk van liefderyke goedhartigheid of neem jy aanstoot?

19 Die apostel Paulus het ’n hegte verhouding met die ouer manne van die gemeente in Efese geniet. Hy het party van hierdie manne waarskynlik geken vandat hulle gelowiges geword het. Maar gedurende sy laaste vergadering met hulle het hy hulle reguit raad gegee. Hoe het hulle gereageer? Paulus se vriende het nie aanstoot geneem nie. Hulle het eerder sy belangstelling in hulle waardeer, en hulle het selfs gehuil toe hulle hoor dat hulle hom nie weer sou sien nie.—Hand. 20:17, 29, 30, 36-38.

20. Wat sal ’n liefdevolle vriend doen?

20 Goeie vriende aanvaar nie net wyse raad nie, hulle gee dit ook. Ons moet natuurlik onderskei wanneer om ons “met [ons] eie sake te bemoei” (1 Tess. 4:11). En ons moet ook besef dat elkeen van ons “vir homself aan God rekenskap [sal] gee” (Rom. 14:12). Maar wanneer nodig sal ’n liefdevolle vriend ’n metgesel vriendelik aan Jehovah se standaarde herinner (1 Kor. 7:39). Byvoorbeeld, wat sal jy doen as jy opmerk dat ’n ongetroude vriend emosioneel betrokke raak by ’n ongelowige? Sal jy huiwer om jou besorgdheid uit te spreek omdat jy bang is dat dit julle vriendskap sal skaad? Of wat sal jy doen as jou vriend jou raad ignoreer? ’n Goeie vriend sal die hulp van liefdevolle herders inroep om ’n metgesel te help wat ’n misstap begaan het. Dit verg moed om so iets te doen. Maar dit sal ’n vriendskap wat op liefde vir Jehovah gegrond is, geen blywende skade aandoen nie.

21. Wat sal ons almal soms doen, maar waarom is dit belangrik dat ons sterk vriendskappe in die gemeente behou?

21 Lees Kolossense 3:13, 14. Soms sal ons ons vriende “rede tot klagte” teen ons gee, en hulle sal ook dinge doen of sê wat ons irriteer. “Ons almal struikel dikwels”, het Jakobus geskryf (Jak. 3:2). Maar ’n vriendskap word nie gemeet aan hoe dikwels ons teen mekaar sondig nie, maar hoe volkome ons hierdie oortredings vergewe. Hoe belangrik is dit tog dat ons sterk vriendskappe opbou deur openlik met mekaar te kommunikeer en mekaar vryelik te vergewe! As ons sulke liefde openbaar, sal dit “’n volmaakte band van eenheid” word.

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe kan ons goeie vriende maak?

• Wanneer moet ons dalk ’n vriendskap beëindig?

• Wat moet ons doen om sterk vriendskappe te behou?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 18]

Wat was die grondslag van die blywende vriendskap tussen Rut en Naomi?

[Prent op bladsy 19]

Betoon jy gereeld gasvryheid?