Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gesinsaanbidding—Noodsaaklik vir oorlewing!

Gesinsaanbidding—Noodsaaklik vir oorlewing!

Gesinsaanbidding—Noodsaaklik vir oorlewing!

STEL jou voor hoe vreesinboesemend “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige” sal wees! (Op. 16:14). Die profeet Miga het lewendige beeldspraak gebruik toe hy geskryf het: “Die berge sal . . . smelt, en die laagvlaktes sal uitmekaar skeur, soos was as gevolg van die vuur, soos waters wat teen ’n skuinste afgegooi word” (Miga 1:4). Wat sal die rampspoedige gevolg wees vir dié wat Jehovah nie dien nie? God se Woord sê: “Dié wat deur Jehovah omgebring is, sal dié dag beslis van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde lê.”—Jer. 25:33.

Met die oog op dié waarskuwings sal dit goed wees as gesinshoofde—van wie baie enkelouers is—hulle die volgende kan afvra omtrent hulle kinders wat al verstandig genoeg is: ‘Sal hulle hierdie kritieke gebeurtenis oorleef?’ Die Bybel verseker ons dat hulle sal oorleef as hulle geestelik lewend en sterk is, na die mate wat gepas is vir hulle ouderdom.—Matt. 24:21.

Die belangrikheid van ’n vasgestelde tyd vir Gesinsaanbidding

As ’n ouer moet jy seker maak dat jy alles in jou vermoë doen om jou kinders “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” op te voed (Ef. 6:4). Die belangrikheid daarvan om die Bybel met jou kinders te studeer, kan nie oorbeklemtoon word nie. Ons wil hê dat ons jongmense soos die Christene in Filippi moet wees, wat deur Paulus geprys is vir hulle gewillige gehoorsaamheid aan Jehovah. Hy het geskryf: “My geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam was, [moet julle] nie net gedurende my teenwoordigheid nie, maar nou baie geredeliker gedurende my afwesigheid, aanhou om julle eie redding met vrees en bewing te bewerk.”—Fil. 2:12.

Gehoorsaam jou kinders Jehovah se wette wanneer jy nie saam met hulle is nie? Wat van wanneer hulle by die skool is? Hoe kan jy jou kinders help om oortuig te wees van die wysheid van Jehovah se wette sodat hulle daardeur gelei kan word selfs wanneer jy nie daar is nie?

Gesinsaanbidding kan ’n groot rol daarin speel om jou kind se geloof in hierdie verband op te bou. Kom ons bespreek dus drie sleutelelemente wat jou gesinsbybelstudie ’n sukses kan maak.

Hou die studie gereeld

Die Bybel toon dat God se engeleseuns genooi is om op vasgestelde tye voor hom te verskyn (Job 1:6). Doen dieselfde met jou kinders. Sit ’n spesifieke dag en tyd opsy vir julle aand vir Gesinsaanbidding en hou dan daarby. Hou ook ’n alternatiewe tyd in gedagte ingeval ’n onvoorsiene gebeurtenis opduik.

Moenie toelaat dat die studie ná ’n paar maande ongereeld word nie. Onthou, jou kinders is jou belangrikste Bybelstudente. Maar Satan wil hulle graag sy prooi maak (1 Pet. 5:8). As jy hierdie kosbare aand vir Gesinsaanbidding opoffer om ’n aand voor die televisie of aan die een of ander onbelangrike aktiwiteit te bestee, sal Satan oorwin het.—Ef. 5:15, 16; 6:12; Fil. 1:10.

Maak dit prakties

Die aand vir Gesinsaanbidding moenie net ’n akademiese oefening wees nie. Probeer dit prakties maak. Hoe? Kies soms onderwerpe oor dinge waarvoor jou kind te staan sal kom in die dae of weke wat voorlê. Julle kan byvoorbeeld oefensessies vir die veldbediening by julle program inwerk. Jongmense geniet dit om dinge te doen waarin hulle goed is. As julle velddiensaanbiedings oefen en dink aan hoe om besware te bowe te kom, sal dit hulle help om meer vertroue te hê wanneer hulle aan verskillende fasette van die Koninkrykspredikingswerk deelneem.—2 Tim. 2:15.

Julle kan ook oefensessies hou wat julle kinders sal help om portuurdruk die hoof te bied. Hoofstuk 15 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2, kan gebruik word as ’n grondslag vir ’n gesinsbespreking. Die “Portuurdrukplan” op bladsy 132 en 133 voorsien wenke en skep ook geleenthede vir jou kind om antwoorde te formuleer waarmee hy of sy gemaklik voel. ’n Stelling onderaan bladsy 133 moedig jongmense aan: “Oefen jou antwoorde saam met ’n ouer of ’n volwasse vriend.” Maak gerus sulke oefensessies van tyd tot tyd deel van julle aand vir Gesinsaanbidding.

Gesinsaanbidding bied ouers die geleentheid om die voordele van geestelike doelwitte te beklemtoon. In dié verband bevat Jongmense vra, Deel 2, uitstekende inligting in hoofstuk 38, met die titel “Wat sal ek met my lewe doen?” Terwyl julle die hoofstuk bespreek, moet jy jou kind help besef dat ’n lewe wat om Jehovah se diens draai, die beste lewensweg is. Kweek in jou kind se hart die begeerte om te pionier, by Bethel te dien, die Bedieningsopleidingskool by te woon of ’n ander vorm van voltydse diens na te streef.

’n Woordjie van waarskuwing: Party welmenende ouers konsentreer soveel op wat hulle wil hê hulle kind moet word, dat hulle nie erken wat hy of sy reeds doen nie. Dit is natuurlik goed om jou kinders aan te spoor om goeie doelwitte te stel, soos Betheldiens en sendingwerk. Maar wees terselfdertyd versigtig dat jy nie jou kind irriteer deur jou verwagtinge sodat dit hom of haar mismoedig laat word nie (Kol. 3:21). Onthou altyd dat jou seun of dogter Jehovah moet liefhê met sy of haar eie hart—nie joune nie (Matt. 22:37). Wees dus op die uitkyk na maniere om jou kind te prys vir wat hy of sy goed doen, en weerstaan die versoeking om te konsentreer op wat hy of sy nie doen nie. Bou waardering op vir alles wat Jehovah doen. Laat jou kind se hart dan op Jehovah se goedheid reageer.

Maak dit aangenaam

Die derde sleutelelement vir ’n suksesvolle aand vir Gesinsaanbidding is om dit aangenaam te maak. Hoe kan jy dit doen? Dalk kan julle soms na een van die klankdramas luister of na een van die video’s kyk wat deur Jehovah se Getuies vervaardig is, en dit bespreek. Of julle kan saam ’n gedeelte uit die Bybel lees en elke gesinslid ’n deel gee om te lees.

Daar is verskillende rubrieke in Die Wagtoring en Ontwaak! wat ’n uitstekende grondslag vir ’n gesinsbespreking voorsien. Julle kan byvoorbeeld die rubriek in die Ontwaak! op bladsy 31, getiteld “Hoe sal jy antwoord?” gebruik. Elke tweede nommer van die publieke uitgawe van Die Wagtoring bevat die studieprojek “Vir ons jongmense”. Hierdie projekte word afgewissel met ’n reeks vir jonger seuns en meisies getiteld “Leer jou kinders”.

Artikels in die “Jongmense vra”-reeks in die Ontwaak!, sowel as die boek Jongmense vra, Deel 2, sal veral vir ouers van tieners interessant wees. Wanneer hierdie boek gebruik word, moet die venster “Wat dink jy?” aan die einde van elke hoofstuk nie oorgeslaan word nie. Hierdie venster is nie net vir hersiening nie. Die vrae in hierdie venster kan as ’n grondslag vir ’n gesinsbespreking gebruik word.

Wees egter versigtig om nie die gesinstudie in ’n kruisverhoor te laat ontaard nie. Moet byvoorbeeld nie jou kind probeer dwing om hardop te lees wat hy of sy op die bladsye getiteld “My dagboek” of in enige van die ander interaktiewe dele van die boek geskryf het nie. In “’n Woordjie aan ouers” sê die boek op bladsy 3: “Om jou tieners aan te moedig om in hulle boek neer te skryf hoe hulle werklik voel, moet jy hulle ’n mate van privaatheid gee. Later sal hulle jou heel moontlik vertel wat hulle geskryf het.”

As jy seker maak dat julle gesinsaanbidding gereeld, prakties en aangenaam is, sal Jehovah julle pogings ryklik seën. Hierdie spesiale tyd vir die gesin sal jou geliefdes help om geestelik lewend en sterk te bly.

[Venster op bladsy 31]

Wees kreatief

“Wanneer ons met ons jong dogters gestudeer het, het ek en my man saam die materiaal vir ’n gemeentelike vergadering voorberei, en dan het ons ons dogters ’n prentjie laat teken wat die les opsom. Soms het ons Bybeltonele opgevoer of oefensessies vir velddiensaanbiedings gehad. Ons het die studie aangepas by hulle ouderdom en dit interessant, positief en aangenaam gehou.”—J.M., Verenigde State.

“Om my Bybelstudent se seun te help verstaan hoe dit was om ’n boekrol in Bybeltye te gebruik, het ons die boek Jesaja uitgedruk sonder al die nommers van die hoofstukke en die verse. Ons het die bladsye aanmekaargelas en ’n silinder aan elke punt vasgeheg. Die seun het toe probeer doen wat Jesus in die sinagoge in Nasaret gedoen het. Die verslag in Lukas 4:16-21 sê dat Jesus “die boekrol [van Jesaja] oopgemaak en die plek gevind” het waarna hy gesoek het (Jesaja 61:1, 2). Maar toe die seun dieselfde probeer doen het, het hy gesukkel om Jesaja 61 in daardie lang boekrol sonder die hoofstukke en verse te vind. Hy was beïndruk deur die vaardigheid waarmee Jesus die boekrolle hanteer het en het gesê: ‘Jesus was baie slim!’”—J.T., Japan.

[Prent op bladsy 30]

Oefensessies kan jou kinders help om portuurdruk die hoof te bied

[Prent op bladsy 31]

Probeer julle aand vir Gesinsaanbidding aangenaam maak