Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe drie streekbyeenkomste my lewe gevorm het

Hoe drie streekbyeenkomste my lewe gevorm het

Hoe drie streekbyeenkomste my lewe gevorm het

Soos vertel deur George Warienchuck

HET jy al ooit iets by een van ons streekbyeenkomste gehoor wat jou so geraak het dat jy beweeg is om groot veranderinge in jou lewe aan te bring? Dit het met my gebeur. Wanneer ek terugkyk, besef ek dat drie streekbyeenkomste in die besonder my lewe gevorm het. Die eerste een het my gehelp om minder skaam te wees; die tweede, om meer vergenoeg te wees; die derde, om vrygewiger te wees. Maar voordat ek jou van hierdie veranderinge vertel, wil ek eers ’n paar gebeure beskryf wat jare voor daardie byeenkomste plaasgevind het—gebeure uit my kinderjare.

Ek is in 1928 gebore, die jongste van drie kinders. Ek en my susters, Margie en Olga, het grootgeword in South Bound Brook, New Jersey, VSA, wat destyds ’n dorpie met ongeveer 2 000 inwoners was. Hoewel ons arm was, was my ma vrygewig. Wanneer sy dit kon bekostig om ’n spesiale ete voor te berei, het sy dit met bure gedeel. Toe ek nege jaar oud was, is my ma deur ’n Getuie besoek wat Hongaars, my ma se moedertaal, kon praat, en dit het haar beweeg om na die Bybel se boodskap te luister. Later het Bertha, ’n suster in haar vroeë 20’s, die Bybelstudie voortgesit en my ma gehelp om ’n kneg van Jehovah te word.

Anders as my ma was ek van nature skaam en het ek nie baie selfvertroue gehad nie. Wat sake vererger het, was dat my ma geneig was om my te verkleineer. Toe ek haar met trane in my oë gevra het: “Waarom kritiseer Ma my altyd?” het sy vir my gesê dat sy my liefhet, maar my nie wou bederf nie. My ma het goeie bedoelings gehad, maar omdat sy my nie geprys het nie, het ek minderwaardig gevoel.

Eendag het ’n buurvrou, wat gewoonlik vriendelik met my was, my gevra om saam met haar seuns na hulle kerk se Sondagskool te gaan. Ek het geweet dat dit Jehovah sal mishaag as ek gaan, maar ek was bang dat ek hierdie vriendelike buurvrou aanstoot sou gee. Ek het dus maande lank kerk toe gegaan, al het ek my geskaam. By die skool het mensevrees my ook teen my gewete laat optree. Die skoolhoof, ’n dominerende man, het vir die onderwysers gesê om seker te maak dat al die kinders die vlag salueer. Ek het dit ook gedoen. Dit het omtrent ’n jaar lank aangehou, maar toe het ’n verandering plaasgevind.

’n Les in moed

In 1939 het ’n boekstudiegroep in ons huis begin vergader. Ben Mieszkalski, ’n jong pionierbroer, het die studie gehou. Ons het hom Big Ben genoem—en heel tereg. Vir my het dit gelyk of hy net so lank en breed soos ons voordeur was. Hoewel hy ’n imponerende gestalte gehad het, het hy ’n klein hartjie gehad, en sy vriendelike glimlag het my gou op my gemak laat voel. Toe Ben my dus gevra het om saam met hom velddiens te doen, het ek met graagte ja gesê. Ons het vriende geword. Wanneer ek terneergedruk was, het hy met my gepraat soos ’n liefdevolle ouer broer met sy jonger boetie sou praat. Dit het vir my baie beteken, en ek het baie lief geword vir hom.

In 1941 het Ben ons gesin gevra om saam met hom in sy motor na ’n streekbyeenkoms in St. Louis, Missouri, te ry. Dink net hoe opgewonde ek was! Ek was nog nooit meer as 80 kilometer van die huis af nie, en nou was ek op pad na ’n plek wat meer as 1 500 kilometer ver was! Maar daar was probleme in St. Louis. Die godsdiensleiers het hulle gemeentelede aangesê om alle reëlings om Getuies te huisves, te kanselleer. Baie het gekanselleer. Die gesin by wie ons moes gaan bly, is ook gedreig. Nogtans het hulle ons verwelkom. Hulle het gesê dat hulle nie hulle belofte gaan verbreek om ons te huisves nie. Hulle moed het my beïndruk.

My susters is by daardie byeenkoms gedoop. Dieselfde dag het broer Rutherford, van die Brooklynse Bethel, ’n besielende toespraak gehou waarin hy al die kinders wat die wil van God wou doen, gevra het om te staan. Omtrent 15 000 het opgestaan. Ek het ook. Toe het hy gevra dat diegene wat hulle uiterste bes in die predikingswerk wil doen, “Ja” moet sê. Ek het saam met die ander kinders “Ja!” uitgeroep. Dawerende applous het gevolg. Ek was baie opgewonde.

Ná die byeenkoms het ons ’n broer in Wes-Virginië besoek. Hy het vertel dat hy eenkeer, terwyl hy aan die predikingswerk deelgeneem het, deur ’n woedende skare geslaan en toe geteer en geveer is. Ek het elke woord ingedrink. “Maar ek sal aanhou preek”, het die broer gesê. Toe ons daar weg is, het ek soos Dawid gevoel. Ek was gereed om Goliat—my skoolhoof—aan te durf.

Toe ek terug was by die skool, het ek na die hoof toe gegaan. Hy het my aangegluur. Ek het in my hart gebid dat Jehovah my moet help. Toe het ek sonder enige aarseling gesê: “Ek was by ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies. Ek sal nie meer die vlag salueer nie!” Daar was ’n lang stilte. Die hoof het stadig agter sy lessenaar opgestaan en na my toe gestap. Sy gesig was rooi van woede. Hy het geskreeu: “Salueer die vlag of jy is geskors!” Dié keer het ek nie toegegee nie, en diep binne my het ek ’n ongekende vreugde ervaar.

Ek kon skaars wag om vir Ben te vertel wat gebeur het. Toe ek hom in die Koninkryksaal sien, het ek uitgeroep: “Ek is uit die skool geskors! Ek het nie die vlag gesalueer nie!” Ben het sy arm om my gesit, geglimlag en gesê: “Jehovah is beslis lief vir jou” (Deut. 31:6). Hoe het hierdie woorde my tog gemotiveer! Ek is op 15 Junie 1942 gedoop.

Ek leer om vergenoeg te wees

Ná die Tweede Wêreldoorlog het die land se ekonomie begin floreer, en materialisme het algemeen geword. Ek het ’n goed betaalde werk gehad en kon dinge koop waarvan ek voorheen net kon droom. Party van my vriende het motorfietse gekoop; ander het hulle huise opgeknap. Ek het ’n splinternuwe motor gekoop. Kort voor lank het my begeerte na meer materiële geriewe veroorsaak dat ek Koninkryksbelange op die agtergrond skuif. Ek het geweet dat ek op die verkeerde weg is. Gelukkig het ’n byeenkoms in 1950 in die stad New York my gehelp om weer op die regte weg te kom.

By hierdie byeenkoms het die een spreker ná die ander die gehoor aangespoor om in die predikingswerk te volhard. “Raak ontslae van alles behalwe die allernodigste, en hardloop die wedloop”, het een spreker ons aangespoor. Dit was asof hy net met my gepraat het. Ek was ook by die graduering van ’n Gileadklas, en dit het my laat dink: ‘As hierdie Getuies van my ouderdomsgroep materiële geriewe kon opgee om in ander lande te gaan dien, moet ek bereid wees om dieselfde hier by die huis te doen.’ Teen die einde van die byeenkoms het ek klaar besluit dat ek ’n pionier gaan word.

Intussen het ek met Evelyn Mondak, ’n ywerige suster in ons gemeente, begin uitgaan. Evelyn se ma, wat ses kinders grootgemaak het, was vreesloos. Sy het daarvan gehou om voor ’n groot Rooms-Katolieke Kerk straatwerk te doen. Ongeag hoeveel keer die woedende priester vir haar gesê het om pad te gee, het sy net daar bly staan. Soos haar ma het Evelyn geen mensevrees gehad nie.—Spr. 29:25.

In 1951 is ek en Evelyn getroud en het ons opgehou werk en begin pionier. ’n Kringopsiener het ons aangemoedig om na Amagansett te trek, ’n dorpie op die Atlantiese kus ongeveer 160 kilometer van die stad New York. Toe die gemeente ons laat weet het dat hulle nie vir ons verblyf het nie, het ons ’n karavaan begin soek, maar ons kon nie een kry wat ons kon bekostig nie. Toe het ons ’n karavaan gesien wat baie werk nodig gehad het. Die eienaar het 900 dollar daarvoor gevra—die presiese bedrag wat ons as trougeskenke ontvang het. Ons het dit gekoop, reggemaak en na ons nuwe gebied gesleep. Maar ons het heeltemal platsak daar aangekom en het gewonder hoe ons ons as pioniers sou kon onderhou.

Evelyn het huise skoongemaak, en ek het by ’n Italiaanse restaurant begin werk waar ek snags skoonmaakwerk gedoen het. “Enige oorskietkos”, het die eienaar gesê, “moet jy huis toe neem vir jou vrou.” Wanneer ek dus twee-uur in die oggend by die huis aangekom het, is ons karavaan gevul met die geur van pizzas en pasta. Daardie opgewarmde etes was te heerlik, veral in die winter wanneer ons in die karavaan gebibber het van die koue. Boonop het die broers in die gemeente soms ’n groot vis op die karavaan se trappies gelos. Gedurende die jare dat ons saam met daardie liewe broers in Amagansett gedien het, het ons geleer dat ’n mens ’n bevredigende lewe geniet wanneer jy vergenoeg is met die basiese dinge. Dít was gelukkige jare.

Beweeg om meer van onsself te gee

In Julie 1953 het ons honderde sendelinge verwelkom wat van hulle buitelandse toewysings af gekom het om ’n internasionale byeenkoms in die stad New York by te woon. Hulle het boeiende ondervindinge vertel. Hulle opgewondenheid was aansteeklik. En toe ’n byeenkomsspreker beklemtoon het dat daar baie lande is wat nog nie met die Koninkryksboodskap bereik is nie, het ons geweet wat om te doen—ons moes meer van onsself gee deur ons bediening uit te brei. Daar by die byeenkoms het ons aansoek gedoen om as sendelinge opgelei te word. Daardie selfde jaar is ons genooi om die 23ste klas van die Gileadskool by te woon, wat in Februarie 1954 begin het. Wat ’n voorreg was dit tog!

Ons was verheug toe ons uitgevind het dat ons gevra is om in Brasilië te gaan dien. Voordat ons op ons 14 dae lange reis per stoomboot vertrek het, het ’n verantwoordelike broer by Bethel vir my gesê: “Nege ongetroude sendelingsusters gaan saam met jou en jou vrou na Brasilië reis. Kyk mooi na hulle!” Kan jy jou die geamuseerde uitdrukking op die matrose se gesigte voorstel toe hulle sien hoe ek saam met tien jong vroue aan boord stap? Maar die situasie was glad nie ’n probleem vir die susters nie. Ek was nogtans verlig toe ons veilig in Brasilië aankom.

Nadat ons Portugees geleer het, is ek gevra om kringwerk te doen in Rio Grande do Sul, ’n staat in die suide van Brasilië. Die kringopsiener wat ek vervang het, ’n ongetroude broer, het vir my en my vrou gesê: “Ek is verbaas dat ’n getroude paartjie hierheen gestuur is. Dit is ongetemde gebied.” Gemeentes was verspreid oor ’n uitgestrekte plattelandse gebied en party kon net deur middel van ’n vragmotor bereik word. As jy vir die bestuurder ’n ete gekoop het, het hy jou toegelaat om op sy vragmotor te klim. Ons het soos perderuiters wydsbeen oor die vrag gesit en met albei hande styf vasgehou aan die toue waarmee die vrag vasgebind is. Wanneer die vragmotor om skerp draaie gegaan het, het ons geklou vir ons lewe terwyl die toringhoë vrag oorgehel het en ons in diep valleie afgekyk het. Maar die gelukkige gesigte van ons broers wat gretig op ons gewag het, het sulke daglange reise die moeite werd gemaak.

Ons het in die broers se huise gebly. Hulle was baie arm, maar nog steeds vrygewig. In een afgeleë gebied het al die broers in ’n fabriek gewerk waar vleis verpak is. Met hulle karige salaris kon hulle net een keer per dag eet. As hulle ’n dag nie gewerk het nie, is hulle nie betaal nie. Nogtans het hulle, gedurende ons besoeke, twee dae verlof geneem om gemeentelike bedrywighede te ondersteun. Hulle het op Jehovah vertrou. Hierdie nederige broers het ons geleer wat dit beteken om opofferings te maak ter wille van God se Koninkryk, en ons sal hierdie lesse nooit vergeet nie. Die tyd wat ons saam met hulle deurgebring het, het ons dinge geleer wat ons by geen skool kon leer nie. Elke keer as ek aan hierdie broers dink, kry ek trane van vreugde in my oë.

In 1976 het ons na die Verenigde State teruggekeer om na my siek ma om te sien. Dit was moeilik om Brasilië te verlaat, maar ons is dankbaar dat ons die wonderlike uitbreiding in Koninkryksbelange in daardie land kon sien. Wanneer ons briewe uit Brasilië ontvang, laat dit ons met blydskap terugdink aan daardie wonderlike tyd in ons lewe.

Kosbare reünies

Terwyl ons na my ma omgesien het, het ons gepionier en skoonmaakwerk gedoen. My ma het in 1980 getrou aan Jehovah gesterf. Daarna is ek genooi om kringwerk in die Verenigde State te doen. In 1990 het ek en my vrou ’n gemeente in Connecticut besoek, en daar het ons iemand baie spesiaals ontmoet. Een van die gemeentelike ouer manne was Ben—ja, dieselfde Ben wat my sowat 50 jaar vroeër gehelp het om my standpunt vir Jehovah in te neem. Kan jy jou voorstel met watter vreugde ons mekaar omhels het?

Sedert 1996 dien ek en Evelyn as verswakte spesiale pioniers in die Portugeessprekende gemeente in Elizabeth, New Jersey. Ek sukkel met my gesondheid, maar met die hulp van my dierbare vrou doen ek soveel as moontlik in die bediening. Evelyn help ook ’n swak, bejaarde buurvrou. Haar naam? Bertha—ja, dieselfde Bertha wat vir my ma gehelp het om meer as 70 jaar vroeër ’n kneg van Jehovah te word! Ons is bly dat ons die geleentheid het om ons dankbaarheid teenoor haar te betoon vir alles wat sy gedoen het om ons gesin te help om die waarheid te leer.

Ek is dankbaar dat daardie vroeë streekbyeenkomste my beweeg het om my standpunt vir ware aanbidding in te neem, my lewe te vereenvoudig en my bediening uit te brei. Ja, daardie streekbyeenkomste het my lewe gevorm.

[Prent op bladsy 23]

Evelyn se ma (links) en my ma

[Prent op bladsy 23]

My vriend Ben

[Prent op bladsy 24]

In Brasilië

[Prent op bladsy 25]

Saam met Evelyn vandag