Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is jy ‘gewortel en gegrond op die fondament’?

Is jy ‘gewortel en gegrond op die fondament’?

Is jy ‘gewortel en gegrond op die fondament’?

HET jy al ooit gesien hoe ’n groot boom deur stormsterk winde heen en weer geruk word? Die boom word aan geweldige druk onderwerp, maar dit bly staan. Waarom? Omdat dit ’n sterk wortelstelsel het wat in die grond geanker is. Ons kan soos daardie boom wees. Wanneer ons voor stormagtige beproewinge te staan kom, kan ons ook staande bly, mits ons “gewortel . . . en gegrond op die fondament” bly (Ef. 3:14-17). Wat is hierdie fondament?

God se Woord sê dat “Christus Jesus self die fondamenthoeksteen” van die Christengemeente is (Ef. 2:20; 1 Kor. 3:11). As Christene word ons aangespoor om “[voort te gaan] om in eenheid met hom te wandel, terwyl [ons] in hom gewortel is en opgebou word en in die geloof standvastig gemaak word”. Sodoende sal ons in staat wees om alle aanvalle op ons geloof te weerstaan—insluitende dié in die vorm van “oorredende argumente” wat gebaseer is op die “leë bedrog” van mense.—Kol. 2:4-8.

“Die breedte en lengte en hoogte en diepte”

Maar hoe kan ons “gewortel” en “in die geloof standvastig gemaak” word? Een belangrike manier is om as ’t ware ons wortels diep in die grond af te stuur deur middel van ’n ywerige studie van God se geïnspireerde Woord. Jehovah wil hê dat ons “saam met al die heiliges verstandelik [moet] begryp wat die breedte en lengte en hoogte en diepte” van die waarheid is (Ef. 3:18). Geen Christen moet dus tevrede wees met ’n bloot oppervlakkige begrip, om net “die elementêre dinge” in God se Woord te ken nie (Heb. 5:12; 6:1). Inteendeel, elkeen van ons moet gretig wees om ons begrip van Bybelwaarhede te vergroot.—Spr. 2:1-5.

Dit beteken natuurlik nie dat baie kennis al is wat ons nodig het om ‘gewortel en gegrond’ in die waarheid te wees nie. Satan weet immers ook wat in die Bybel staan. Meer is nodig. Ons moet “die liefde van die Christus . . . ken, wat kennis oortref” (Ef. 3:19). Maar wanneer ons studeer omdat ons Jehovah en die waarheid liefhet, sal die toename in juiste kennis van God se Woord ons geloof versterk.—Kol. 2:2.

Toets jou begrip

Toets gerus sommer nou jou begrip van ’n paar belangrike waarhede wat in die Bybel gevind word. Dit sal jou dalk aanspoor om selfs yweriger te wees in jou persoonlike Bybelstudie. Lees byvoorbeeld die openingsverse van die apostel Paulus se brief aan die Efesiërs. (Sien die venster  “Aan die Efesiërs”.) Nadat jy hierdie verse gelees het, vra jou af: ‘Verstaan ek die betekenis van die skuinsgedrukte frases in die Skrifgedeelte wat in die venster verskyn?’ Kom ons bespreek hulle een vir een.

“Voor die grondlegging van die wêreld” voorbestem

Paulus het aan medegelowiges geskryf: “[God] het ons voorbestem tot die aanneming as kinders vir homself deur middel van Jesus Christus.” Ja, Jehovah het bepaal dat hy party mense sal aanneem om deel van sy eie volmaakte hemelse gesin te word. Hierdie aangenome seuns van God sal as konings en priesters saam met Christus regeer (Rom. 8:19-23; Op. 5:9, 10). Toe Satan Jehovah se soewereiniteit oorspronklik betwis het, het hy geïmpliseer dat daar iets fout was met God se menseskepping. Hoe gepas is dit tog dat Jehovah lede uit hierdie selfde mensegesin gekies het om ’n aandeel daaraan te hê om uiteindelik die heelal van alle boosheid te bevry, insluitende die bron van die kwaad, Satan die Duiwel! Jehovah het egter nie voorbestem watter individue hy as sy seuns sal aanneem nie. God het eerder bepaal dat daar ’n groep, of klas, mense sal wees wat saam met Christus in die hemel sal regeer.—Op. 14:3, 4

Watter “wêreld” het Paulus in gedagte gehad toe hy aan mede-Christene geskryf het dat hulle, as ’n groep, “voor die grondlegging van die wêreld” gekies is? Hy het nie verwys na ’n tyd voordat God die aarde of die mensdom geskep het nie. Dit sou die grondbeginsel van geregtigheid skend. Hoe kon Adam en Eva aanspreeklik gehou word vir hulle dade as God bepaal het dat hulle sou misluk selfs nog voordat hulle geskep is? Wanneer het God dus besluit hoe hy die situasie sou regstel wat ontstaan het toe Adam en Eva by Satan aangesluit het in sy opstand teen God se soewereiniteit? Jehovah het dit eers gedoen nadat ons eerste ouers in opstand gekom het, maar voordat ’n onvolmaakte dog loskoopbare mensdom in aansyn gekom het.

“Volgens die rykdom van sy onverdiende goedhartigheid”

Waarom het Paulus gesê dat die reëlings wat in die openingsverse van Efesiërs bespreek word, “volgens die rykdom van [God se] onverdiende goedhartigheid” tot stand gekom het? Dit is om te beklemtoon dat Jehovah nie verplig was om die gevalle mensdom los te koop nie.

Weens ons sondige natuur verdien nie een van ons verlossing nie. Maar Jehovah se innige liefde vir die mensegesin het hom beweeg om spesiale reëlings te tref om ons te red. Met die oog op ons onvolmaaktheid en sondigheid is ons verlossing waarlik, soos Paulus gesê het, ’n blyk van onverdiende goedhartigheid.

Die heilige geheim van God se voorneme

Aanvanklik het God nie geopenbaar hoe hy die skade wat Satan aangerig het, ongedaan sou maak nie. Dit was ’n “heilige geheim” (Ef. 3:4, 5). Later, met die stigting van die Christengemeente, het Jehovah besonderhede bekend gemaak oor hoe hy sy oorspronklike voorneme vir die mensdom en die aarde sou volbring. “Aan die voleinding van die vasgestelde tye”, het Paulus verduidelik, is “’n administrasie”, ’n stelsel om sake te bestuur wat tot die vereniging van al sy intelligente skepsele sal lei, deur God in werking gestel.

Die eerste stadium van hierdie vereniging het begin toe Jehovah op Pinkster 33 HJ diegene wat saam met Christus in die hemel sal regeer, begin byeenbring het (Hand. 1:13-15; 2:1-4). Die tweede stadium sou wees wanneer dié wat op ’n paradysaarde onder Christus se Messiaanse Koninkryk sal lewe, byeengebring word (Op. 7:14-17; 21:1-5). Die uitdrukking “administrasie” verwys nie na die Messiaanse Koninkryk nie, aangesien daardie Koninkryk eers in 1914 opgerig is. Die uitdrukking verwys eerder na God se hantering, of bestuur, van sake sodat sy voorneme om universele eenheid te herstel, volbring kan word.

Wees “volgroeid in begripsvermoëns”

Goeie persoonlike studiegewoontes sal jou ongetwyfeld help om “die breedte en lengte en hoogte en diepte” van die waarheid ten volle te begryp. Maar die mens se gejaagde lewenswyse maak dit vandag beslis vir Satan maklik om sulke gewoontes te ondermyn—of selfs te vernietig. Moenie toelaat dat hy dit aan jou doen nie. Gebruik die “intellektuele vermoë” wat God jou gegee het om “volgroeid in begripsvermoëns” te word (1 Joh. 5:20; 1 Kor. 14:20). Maak seker dat jy verstaan waarom jy glo wat jy glo en dat jy altyd “’n rede vir die hoop” in jou kan gee.—1 Pet. 3:15.

Stel jou voor dat jy in Efese was toe Paulus se brief die eerste keer gelees is. Sou sy woorde jou nie aangespoor het om “in die juiste kennis van die Seun van God” toe te neem nie? (Ef. 4:13, 14). Beslis! Laat Paulus se geïnspireerde woorde jou vandag dus op dieselfde wyse beweeg. As jy ’n innige liefde vir Jehovah en ’n juiste kennis van sy Woord het, sal dit jou help om stewig “gewortel . . . en gegrond op die fondament”, Christus, te bly. Sodoende sal jy enige stormagtige beproewing kan deurstaan wat Satan dalk nog voor die algehele einde van hierdie goddelose wêreld teen jou sal bring.—Ps. 1:1-3; Jer. 17:7, 8.

[Venster/Prent op bladsy 27]

 “Aan die Efesiërs”

“Mag die God en Vader van ons Here Jesus Christus geloof word, want hy het ons geseën met elke geestelike seën in die hemelse plekke in eenheid met Christus, net soos hy ons in eenheid met hom voor die grondlegging van die wêreld uitgekies het, dat ons heilig en sonder smet voor hom moet wees in liefde. Want hy het ons voorbestem tot die aanneming as kinders vir homself deur middel van Jesus Christus, volgens die welbehae van sy wil, tot lof van sy glorieryke onverdiende goedhartigheid wat hy ons goedgunstig deur middel van sy geliefde geskenk het. Deur middel van hom het ons die bevryding deur ’n losprys deur die bloed van daardie een, ja, die vergifnis van ons oortredings, volgens die rykdom van sy onverdiende goedhartigheid. Dit het hy oorvloedig teenoor ons laat word in alle wysheid en verstandigheid, deurdat hy die heilige geheim van sy wil aan ons bekend gemaak het. Dit is volgens sy welbehae wat hy in homself voorgeneem het om aan die voleinding van die vasgestelde tye ’n administrasie te hê, naamlik om alles weer byeen te bring in die Christus, die dinge in die hemele en die dinge op die aarde.”—Ef. 1:3-10.