Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Julle is my vriende”

“Julle is my vriende”

“Julle is my vriende”

“Julle is my vriende as julle doen wat ek julle beveel.”—JOH. 15:14.

1, 2. (a) Uit watter verskillende agtergronde het Jesus se vriende gekom? (b) Waarom is dit vir ons noodsaaklik om vriende van Jesus te wees?

 DIE manne wat saam met Jesus in die bovertrek sit, kom uit verskillende agtergronde. Die broers Petrus en Andreas was vissermanne. Matteus was voorheen ’n belastinggaarder—’n lid van ’n beroep wat deur die Jode verag is. Party, soos Jakobus en Johannes, het Jesus waarskynlik van kleins af geken. Ander, soos Natanael, het hom dalk net ’n paar jaar geken (Joh. 1:43-50). En tog was almal wat op hierdie betekenisvolle Pasganag in Jerusalem teenwoordig was, oortuig dat Jesus die beloofde Messias, die Seun van die lewende God, is (Joh. 6:68, 69). Dit moes sekerlik hulle harte geroer het om hom te hoor sê: “Ek het julle vriende genoem, omdat ek alles wat ek by my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.”—Joh. 15:15.

2 Hierdie woorde van Jesus aan sy getroue apostels geld in beginsel vir alle gesalfde Christene van vandag en, by uitbreiding, vir hulle metgeselle, die “ander skape” (Joh. 10:16). Ongeag wat ons agtergrond is, ons kan die voorreg geniet om vriende van Jesus te wees. Ons vriendskap met hom is van die allergrootste belang omdat diegene wat sy vriende is, ook vriende van Jehovah word. Trouens, dit is onmoontlik om nader aan Jehovah te kom sonder om eers nader aan Christus te kom. (Lees Johannes 14:6, 21.) Wat moet ons dan doen om vriende van Jesus te word en te bly? Voordat ons hierdie belangrike onderwerp bespreek, gaan ons eers kyk na Jesus se eie voorbeeld as ’n goeie vriend en sien wat ons kan leer uit hoe sy dissipels op sy vriendskap gereageer het.

Jesus se voorbeeld as ’n goeie vriend

3. Waarvoor was Jesus bekend?

3 “Die vriende van die ryke is baie”, het die wyse koning Salomo geskryf (Spr. 14:20). Hierdie waarneming som die neiging op van onvolmaakte mense om vriendskappe aan te knoop op grond van wat hulle kan kry in plaas van wat hulle kan gee. Jesus het nie hierdie swakheid geopenbaar nie. Hy is nie deur mense se finansiële of sosiale status beïnvloed nie. Jesus het wel ’n ryk jong heerser liefgekry en hom genooi om sy volgeling te word. Maar Jesus het hierdie man beveel om te verkoop wat hy gehad het en dit aan die armes te gee (Mark. 10:17-22; Luk. 18:18, 23). Jesus was bekend, nie vir sy bande met die rykes en vooraanstaandes nie, maar vir sy vriendskappe met die nederiges en veragtes.—Matt. 11:19.

4. Waarom kan daar gesê word dat Jesus se vriende tekortkominge gehad het?

4 Jesus se vriende was beslis mense met tekortkominge. Petrus het sake soms nie uit ’n geestelike oogpunt beskou nie (Matt. 16:21-23). Jakobus en Johannes het ’n ambisieuse gees geopenbaar toe hulle Jesus gevra het om hulle vername posisies in die Koninkryk te gee. Wat hulle gedoen het, het die ander apostels vertoorn, en die kwessie van vernaamheid het ’n twispunt gebly. Maar Jesus het die denke van sy vriende geduldig probeer regstel en het nie maklik geïrriteerd met hulle geraak nie.—Matt. 20:20-28.

5, 6. (a) Waarom het Jesus vriende gebly met die meeste van die apostels? (b) Waarom het Jesus sy vriendskap met Judas beëindig?

5 Jesus het nie vriende met hierdie onvolmaakte manne gebly omdat hy te toegeeflik of blind vir hulle onvolmaakthede was nie. Hy het eerder verkies om op hulle goeie bedoelings en positiewe eienskappe te konsentreer. Byvoorbeeld, Petrus, Jakobus en Johannes het aan die slaap geraak in plaas van Jesus tydens sy moeilikste uur te ondersteun. Jesus was begryplikerwys teleurgesteld in hulle. Nietemin het hy gesien dat hulle beweegredes goed is en gesê: “Die gees is natuurlik gretig, maar die vlees is swak.”—Matt. 26:41.

6 In teenstelling hiermee het Jesus sy vriendskap met Judas Iskariot beëindig. Hoewel Judas voorgegee het dat hy nog steeds ’n vriend van Jesus was, het Jesus agtergekom dat hierdie voormalige intieme vriend toegelaat het dat sy hart verderf word. Omdat Judas ’n vriend van die wêreld geword het, het hy homself ’n vyand van God gemaak (Jak. 4:4). Daarom het Jesus eers vir Judas uitgestuur voordat Hy Sy vriendskap met die oorblywende 11 getroue apostels verklaar het.—Joh. 13:21-35.

7, 8. Hoe het Jesus sy liefde vir sy vriende getoon?

7 Jesus het die foute van sy lojale vriende oorgesien en in hulle belang opgetree. Hy het byvoorbeeld gebid dat sy Vader hulle gedurende hulle beproewinge moet beskerm. (Lees Johannes 17:11.) Jesus het hulle fisiese beperkings in ag geneem (Mark. 6:30-32). En hy het nie net daarin belanggestel om vir hulle sê wat hy dink nie, maar om ook te hoor en te verstaan wat hulle dink en hoe hulle voel.—Matt. 16:13-16; 17:24-26.

8 Jesus het vir sy vriende gelewe én gesterf. Hy het weliswaar geweet dat hy sy lewe moet offer, aangesien dit ’n wetlike vereiste was om sy Vader se standaard van geregtigheid te bevredig (Matt. 26:27, 28; Heb. 9:22, 28). Maar Jesus het sy lewe as ’n blyk van liefde afgelê. “Niemand het groter liefde as dít nie”, het Jesus gesê, “dat iemand van sy siel afstand doen ten behoewe van sy vriende.”—Joh. 15:13.

Hoe het die dissipels op Jesus se vriendskap gereageer?

9, 10. Hoe het mense op Jesus se vrygewigheid gereageer?

9 Jesus het mildelik van sy tyd, liefde en middele gegee. Gevolglik het mense aangetrokke tot hom gevoel en was hulle bly om op hulle beurt vir hom te gee (Luk. 8:1-3). Uit persoonlike ondervinding kon Jesus sê: “Gee altyddeur, en mense sal vir julle gee. Hulle sal ’n goeie maat, ingestamp, geskud en oorlopend, in julle skoot stort. Want met die maat waarmee julle uitmeet, sal hulle weer vir julle uitmeet.”—Luk. 6:38.

10 Party het natuurlik met Jesus probeer assosieer bloot vir wat hulle daaruit kon kry. Hierdie valse vriende het Jesus verlaat toe hulle iets wat hy gesê het, verkeerd verstaan het. Hulle het Jesus nie die voordeel van die twyfel gegee nie, maar tot die verkeerde gevolgtrekking gekom en hulle rug op hom gedraai. Die apostels daarenteen was lojaal. Hulle vriendskap met Christus is dikwels op die proef gestel, maar hulle het hulle bes gedoen om hom in tye van voorspoed en teëspoed te ondersteun. (Lees Johannes 6:26, 56, 60, 66-68.) Gedurende sy laaste aand as ’n mens op aarde het Jesus sy waardering vir sy vriende uitgespreek en gesê: “Julle is . . . dié wat in my beproewinge altyddeur by my gebly het.”—Luk. 22:28.

11, 12. Hoe het Jesus die dissipels gerusgestel, en hoe het hulle gereageer?

11 Kort nadat Jesus sy dissipels vir hulle lojaliteit geprys het, het hierdie selfde manne hom verlaat. Hulle het toegelaat dat mensevrees hulle liefde vir Christus tydelik oorweldig. Weer eens het Jesus hulle vergewe. Ná sy dood en opstanding het hy aan hulle verskyn en hulle weer verseker van sy vriendskap. Wat meer is, hy het hulle ’n heilige opdrag gegee—om dissipels te maak “van mense van al die nasies” en om getuies van hom te wees “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Matt. 28:19; Hand. 1:8). Hoe het die dissipels gereageer?

12 Die dissipels het die Koninkryksboodskap met hart en siel versprei. Met die ondersteuning van Jehovah se heilige gees het hulle kort voor lank Jerusalem met hulle leer vervul (Hand. 5:27-29). Nie eens doodsdreigemente het hulle verhinder om Jesus se opdrag om dissipels te maak, te gehoorsaam nie. Binne ’n paar dekades nadat hulle Jesus se opdrag ontvang het, kon die apostel Paulus skryf dat die goeie nuus verkondig is “in die hele skepping wat onder die hemel is” (Kol. 1:23). Hierdie dissipels het beslis bewys dat hulle hulle vriendskap met Jesus waardeer het!

13. Watter uitwerking het Jesus se leringe op sy dissipels gehad?

13 Diegene wat dissipels geword het, het ook toegelaat dat Jesus se leringe ’n uitwerking op hulle persoonlike lewe het. Vir baie het dit beteken dat hulle groot veranderinge in hulle gedrag en persoonlikheid moes aanbring. Party nuwe dissipels was voorheen homoseksuele, egbrekers, dronkaards of diewe (1 Kor. 6:9-11). Ander moes hulle gesindheid teenoor mense van ’n ander ras verander (Hand. 10:25-28). En tog het hulle Jesus gehoorsaam. Hulle het hulle ou persoonlikheid afgelê en hulle met die nuwe persoonlikheid beklee (Ef. 4:20-24). Hulle het vertroud geraak met “die denke van Christus” en sy denk- en handelswyse verstaan en nagevolg.—1 Kor. 2:16.

Vriendskap met Christus vandag

14. Wat het Jesus belowe om gedurende “die voleinding van die stelsel van dinge” te doen?

14 Baie van daardie eerste-eeuse Christene het Jesus persoonlik geken of het hom ná sy opstanding gesien. Ons het natuurlik nie dié voorreg gehad nie. Hoe kan ons dan vriende van Christus wees? Een manier is deur die leiding te gehoorsaam wat voorsien word deur die “getroue en verstandige slaaf”-klas, wat bestaan uit Jesus se geesgesalfde broers wat nog op die aarde is. Jesus het belowe dat hy gedurende “die voleinding van die stelsel van dinge” hierdie slaaf “oor al sy besittings” sou aanstel (Matt. 24:3, 45-47). Vandag is die meeste mense wat vriende van Christus wil word, nie lede van hierdie slaafklas nie. Hoe word hulle vriendskap met Christus beïnvloed deur hulle reaksie op die leiding van die ‘getroue slaaf’-klas?

15. Wat bepaal of iemand as ’n skaap of ’n bok geklassifiseer sal word?

15 Lees Matteus 25:31-40. Jesus het diegene wat die ‘getroue slaaf’-klas sou uitmaak, sy broers genoem. In die illustrasie oor die skeiding van die skape en die bokke sê Jesus uitdruklik dat die manier waarop sy broers behandel word, hom persoonlik raak. Trouens, hy het gesê dat die manier waarop iemand selfs “die geringste van [sy] broers” behandel, sou bepaal of hy ’n skaap of ’n bok is. Die vernaamste manier waarop diegene met die aardse hoop dus toon dat hulle vriende van Christus wil wees, is deur die ‘getroue slaaf’-klas te ondersteun.

16, 17. Hoe kan ons toon dat ons vriende van Christus se broers is?

16 Hoe kan jy, as jy hoop om vir ewig op die aarde onder God se Koninkryk te lewe, toon dat jy ’n vriend van Christus se broers is? Kom ons kyk na net drie maniere. Eerstens, deur heelhartig aan die predikingswerk deel te neem. Christus het sy broers die opdrag gegee om die goeie nuus wêreldwyd te verkondig (Matt. 24:14). Maar die oorblywendes van Christus se broers wat vandag op die aarde is, sou nouliks hierdie verantwoordelikheid kon nakom sonder die hulp van hulle metgeselle, die ander skape. Elke keer wanneer lede van die ander skape aan die predikingswerk deelneem, help hulle in werklikheid Christus se broers om húlle heilige opdrag uit te voer. Die “getroue en verstandige slaaf”-klas waardeer werklik hierdie blyk van vriendskap, en Christus ook.

17 ’n Tweede manier waarop lede van die ander skape Christus se broers kan help, is deur die predikingswerk geldelik te ondersteun. Jesus het sy volgelinge aangespoor om vir hulle vriende te maak deur middel van “die onregverdige rykdom” (Luk. 16:9). Dit beteken nie dat ons vriendskap met Jesus of Jehovah kan koop nie. Maar deur ons materiële bates te gebruik om Koninkryksbelange te bevorder, bewys ons ons vriendskap en liefde, nie net in woord nie, maar ook “met dade en in waarheid” (1 Joh. 3:16-18). Ons gee sulke finansiële ondersteuning wanneer ons aan die predikingswerk deelneem, wanneer ons geld bydra vir die oprigting en instandhouding van ons vergaderplekke en wanneer ons bydraes gee vir die wêreldwye predikingswerk. Ongeag of die bydrae klein of groot is, Jehovah en Jesus waardeer beslis die blymoedige gees waarmee ons gee.—2 Kor. 9:7.

18. Waarom moet ons gehoorsaam wees aan die Bybelse riglyne wat die gemeentelike ouer manne voorsien?

18 ’n Derde manier waarop ons almal bewys dat ons vriende van Christus is, is deur die leiding te volg wat die gemeentelike ouer manne voorsien. Hierdie manne is onder die leiding van Christus deur heilige gees aangestel (Ef. 5:23). “Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig”, het die apostel Paulus geskryf (Heb. 13:17). Soms vind ons dit dalk moeilik om gehoorsaam te wees aan die Bybelse riglyne wat die plaaslike ouer manne voorsien. Ons is waarskynlik bewus van hulle onvolmaakthede, en dit kan ons beskouing van hulle raad vertroebel. Nietemin behaag dit Christus, die Hoof van die gemeente, om hierdie onvolmaakte manne te gebruik. Die manier waarop ons op hulle gesag reageer, het dus ’n direkte uitwerking op ons vriendskap met Christus. Wanneer ons die foute van die ouer manne oorsien en hulle leiding vreugdevol volg, lewer ons bewys van ons liefde vir Christus.

Waar ons goeie vriende kan vind

19, 20. Wat kan ons in die gemeente vind, en wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

19 Jesus sorg steeds vir ons, nie net deur die toesig van liefdevolle herders nie, maar ook deur ons van geestelike moeders en broers en susters in die gemeente te voorsien. (Lees Markus 10:29, 30.) Hoe het jou familielede gereageer toe jy met Jehovah se organisasie begin assosieer het? Hopelik het hulle jou pogings ondersteun om nader aan God en Christus te kom. Maar soms, het Jesus gewaarsku, sal “’n mens se eie huisgenote . . . sy vyande wees” (Matt. 10:36). Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat ons in die gemeente persone kan vind wat ons sterker sal aanhang as ’n vleeslike broer!—Spr. 18:24.

20 Soos blyk uit die persoonlike groete wat Paulus aan die einde van sy brief aan die gemeente in Rome oorgedra het, het Paulus baie intieme vriendskappe gesmee (Rom. 16:8-16). Die apostel Johannes het sy derde brief afgesluit met die woorde: “Dra my groete oor aan die vriende by name” (3 Joh. 14). Hy het ook klaarblyklik talle blywende vriendskappe opgebou. Hoe kan ons die voorbeeld van Jesus en die vroeë dissipels volg deur goeie vriendskappe met ons geestelike broers en susters te smee en te behou? In ons volgende artikel sal ons die antwoord op hierdie vraag bespreek.

Hoe sal jy antwoord?

• Watter voorbeeld het Jesus as ’n goeie vriend gestel?

• Hoe het die dissipels op Jesus se vriendskap gereageer?

• Hoe kan ons bewys dat ons vriende van Christus is?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 14]

Jesus het belanggestel in wat sy vriende dink en hoe hulle voel

[Prente op bladsy 16]

Hoe kan ons toon dat ons vriende van Christus wil wees?