Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Watter les bevat Spreuke 24:27?

Die skrywer van Spreuke gee raad aan ’n jong man en sê: “Maak jou werk buitenshuis klaar, en maak dit vir jou op die land gereed. Daarna moet jy ook jou huisgesin opbou.” Wat beteken hierdie geïnspireerde spreuk? Dat ’n man hom behoorlik moet voorberei voordat hy trou en met ’n gesin begin, in die besef van die verantwoordelikhede wat met so ’n verbintenis gepaardgaan.

In die verlede is hierdie vers soms gebruik om te verduidelik dat ’n getroude man en vader nie net sekulêre werk moet doen nie, maar ook moet werk om sy gesin op te bou, of aan te moedig, byvoorbeeld deur middel van geestelike onderrigting. Hoewel hierdie gedagte beslis waar en skriftuurlik is, is dit blykbaar nie die kerngedagte van hierdie vers nie. Waarom nie? Kyk na twee redes.

Eerstens, die vers praat nie van opbou in die sin van ’n bestaande gesin aanmoedig, of versterk, nie. Die gedagte is eerder die bou van ’n letterlike huis. Die woord wat met “opbou” vertaal word, kan ook figuurlik gebruik word, soos om ’n huisgesin te bou, of te vestig—dit wil sê om te trou en kinders te hê.

Tweedens, die vers beklemtoon dat dinge in die regte volgorde moet geskied, dit sê as ’t ware: “Doen eers dít, dan dat.” Gee die spreuk dan te kenne dat sekulêre verantwoordelikhede voor geestelike verantwoordelikhede gestel moet word? Beslis nie!

As ’n man in Bybeltye sy “huisgesin [wou] opbou”, of wou trou en met ’n gesin begin, moes hy hom afvra: ‘Is ek gereed om te sorg vir ’n vrou en vir kinders wat ons dalk later sal hê?’ Voordat hy met ’n gesin kon begin, moes hy werk en na sy landerye en gesaaides omsien. Today’s English Version stel hierdie vers dus as volg: “Moenie jou huis bou en met ’n gesin begin voordat jou landerye gereed is en jy seker is dat jy ’n bestaan kan maak nie.” Geld dieselfde beginsel vandag?

Ja. ’n Man wat wil trou, moet hom behoorlik voorberei vir hierdie verantwoordelikheid. As hy fisies daartoe in staat is, moet hy werk. ’n Man se harde werk om na sy gesin om te sien, moet natuurlik nie tot fisiese dinge beperk word nie. God se Woord toon dat ’n man wat nie na die fisiese, emosionele en geestelike behoeftes van sy gesin omsien nie, erger as ’n ongelowige is! (1 Tim. 5:8). Wanneer ’n jong man hom vir die huwelik en gesinslewe voorberei, moet hy hom dus vrae soos die volgende afvra: ‘Is ek redelik voorbereid om materieel vir ’n gesin te sorg? Is ek gereed om die geestelike hoof van ’n gesin te wees? Sal ek die verantwoordelikheid nakom om ’n gereelde Bybelstudie met my vrou en kinders te hou?’ God se Woord beklemtoon beslis hierdie noodsaaklike verantwoordelikhede.—Deut. 6:6-8; Ef. 6:4.

’n Jong man wat wil trou, moet dus goed nadink oor die beginsel in Spreuke 24:27. ’n Jong vrou moet haar eweneens afvra of sy gereed is vir die verantwoordelikhede van ’n getroude vrou en moeder. ’n Jong egpaar kan hulle soortgelyke vrae afvra wanneer hulle daaraan dink om kinders te hê (Luk. 14:28). As God se knegte hierdie geïnspireerde leiding volg, kan dit hulle help om baie hartseer te vermy en ’n bevredigende gesinslewe te geniet.

[Lokteks op bladsy 12]

Watter vrae oor die huwelik moet ’n jong man hom afvra?