Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Lê goeie maniere aan die dag as bedienaars van God

Lê goeie maniere aan die dag as bedienaars van God

Lê goeie maniere aan die dag as bedienaars van God

‘Word navolgers van God.’—EF. 5:1.

1, 2. (a) Waarom is goeie maniere belangrik? (b) Wat gaan ons in hierdie artikel bespreek?

 DIE skryfster Sue Fox sê aangaande respekvolle gedrag: “Daar bestaan nie iets soos ’n vakansie van goeie maniere nie. Hoflikheid werk oral, te alle tye.” Wanneer mense ’n gewoonte daarvan maak om beleefd te wees, word probleme met ander al hoe kleiner en verdwyn dit dikwels. Maar die teenoorgestelde is ook waar. As ander onbeskof behandel word, lei dit tot konflik, kwade gevoelens en hartseer.

2 Oor die algemeen floreer goeie maniere in die ware Christengemeente. Nogtans moet ons versigtig wees dat ons nie die slegte maniere aanneem wat vandag algemeen is in die wêreld nie. Kom ons kyk hoe dit ons kan beskerm en mense na ware aanbidding kan trek as ons Bybelbeginsels in verband met beleefdheid toepas. Om te verstaan wat dit behels om goeie maniere aan die dag te lê, gaan ons die voorbeelde van Jehovah God en sy Seun bespreek.

Jehovah en sy Seun—Voorbeelde van goeie maniere

3. Watter voorbeeld van beleefdheid stel Jehovah God?

3 Jehovah God stel die volmaakte voorbeeld van beleefdheid. Ten spyte van sy hoë posisie as Soewerein van die heelal behandel hy mense met opregte goedhartigheid en respek. Toe Jehovah met Abraham sowel as Moses gepraat het, het hy ’n Hebreeuse woord gebruik wat dikwels met “asseblief” vertaal word (Gen. 13:14; Eks. 4:6). Wanneer sy knegte sondig, is Jehovah “’n barmhartige en genadige God, wat nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid en waaragtigheid” (Ps. 86:15). Hy is baie anders as party mense wat in woede uitbars wanneer ander nie aan hulle verwagtinge voldoen nie.

4. Hoe kan ons Jehovah navolg wanneer ander met ons praat?

4 God se goeie maniere word ook duidelik gesien in die manier waarop hy na mense luister. Toe Abraham vrae gevra het oor die mense van Sodom, het Jehovah elke vraag geduldig beantwoord (Gen. 18:23-32). Hy het nie Abraham se besorgdheid as ’n vermorsing van Sy tyd beskou nie. Jehovah luister na die gebede van sy knegte en na die uitroepe van berouvolle sondaars. (Lees Psalm 51:11, 17.) Behoort ons Jehovah nie na te volg deur te luister wanneer ander met ons praat nie?

5. Hoe kan dit ons verhoudings met ander verbeter as ons Jesus se beleefdheid navolg?

5 Een van die talle dinge wat Jesus Christus by sy Vader geleer het, was om beleefd te wees. Hoewel sy bediening soms baie van sy tyd en energie in beslag geneem het, was Jesus altyd geduldig en vriendelik. Melaatses, blindes wat moes bedel en ander behoeftiges het gevind dat Jesus gereed en gewillig was om hulle te help. Hy het hulle nie geïgnoreer nie, al het hulle na hom toe gekom sonder om ’n afspraak te maak. Hy het dikwels gestaak wat hy gedoen het sodat hy ’n radelose persoon kon help. Jesus was buitengewoon bedagsaam teenoor dié wat geloof in hom gestel het (Mark. 5:30-34; Luk. 18:35-41). As Christene volg ons Jesus se voorbeeld deur vriendelik en behulpsaam te wees. Sulke gedrag gaan nie ongesiens verby ons familielede, bure en ander nie. Wat meer is, sulke gedrag verheerlik Jehovah en verskaf ons geluk.

6. Watter voorbeeld van hartlikheid en vriendelikheid het Jesus gestel?

6 Jesus het ook respek vir mense getoon deur hulle naam te gebruik. Het die Joodse godsdiensleiers op dié manier waardigheid aan ander verleen? Nee. Hulle het dié wat nie die Wet geken het nie as “vervloekte mense” beskou en hulle as sodanig behandel (Joh. 7:49). Dit was nie die geval met die Seun van God nie. Marta, Maria, Saggeus en baie ander het gehoor hoe hy hulle op hulle naam noem (Luk. 10:41, 42; 19:5). Hoewel kulturele norme en omstandighede dalk bepaal hoe ons mense vandag aanspreek, kweek Jehovah se knegte hartlikheid teenoor ander aan. a Hulle laat nie toe dat klasseverskille hulle verhinder om aan medegelowiges en ander die respek te betoon wat hulle verdien nie.—Lees Jakobus 2:1-4.

7. Hoe help Bybelbeginsels ons om beleefd te wees teenoor mense in alle wêrelddele?

7 Die vriendelike manier waarop God en sy Seun mense van alle nasies en etniese groepe behandel, verleen waardigheid aan sulke mense en trek dié met die regte gesindheid teenoor die waarheid aan. Wat as goeie maniere beskou word, verskil natuurlik van plek tot plek. Daarom volg ons nie streng protokol wanneer dit by maniere kom nie. Ons laat eerder toe dat Bybelbeginsels ons rig om aanpasbaar te wees en aan mense in alle wêrelddele waardigheid te verleen. Kom ons kyk hoe ons produktiewer in die Christelike bediening kan wees deur mense beleefd te behandel.

Groet mense en praat met hulle

8, 9. (a) Watter gewoonte kan as swak maniere beskou word? (b) Waarom moet ons toelaat dat Jesus se woorde in Matteus 5:47 die manier beïnvloed waarop ons mense behandel?

8 In die gejaagde lewe wat vandag op baie plekke algemeen is, stap mense dikwels verby mekaar sonder om “hallo” of “hoe gaan dit?” te sê. Daar word natuurlik van niemand verwag om met almal op ’n besige sypaadjie te praat nie. Maar in baie ander situasies is dit gepas en gewens om ander te groet. Het jy die gewoonte om mense te groet? Of loop jy dikwels verby iemand sonder om te glimlag of iets vriendeliks te sê? Sonder dat ’n persoon dit sleg bedoel, kan hy in ’n gewoonte verval wat in werklikheid swak maniere is.

9 Jesus het ons hierdie herinnering gegee: “As julle net julle broers groet, wat doen julle wat buitengewoon is? Doen die mense van die nasies nie ook dieselfde nie?” (Matt. 5:47). In verband hiermee het die adviseur Donald Weiss geskryf: “Mense haat dit wanneer ander deur hulle of verby hulle kyk. Daar is eintlik geen verskoning wat jy kan gee om iemand wat jy geïgnoreer het, beter te laat voel nie. Die oplossing is eenvoudig: Groet mense. Praat met hulle.” Dit sal goeie vrugte afwerp as ons nie toelaat dat ’n afsydige of onvriendelike houding ons kontak met ander bederf nie.

10. Hoe kan goeie maniere ons help om ’n produktiewe bediening te hê? (Sien die venster  “Begin met ’n vriendelike glimlag”.)

10 Beskou die geval van Tom en Carol, ’n Christenegpaar wat in ’n groot Noord-Amerikaanse stad woon. Hulle het dit ’n deel van hulle bediening gemaak om vriendelike gesprekke met hulle bure te voer. Hoe gaan hulle te werk? Tom verwys na Jakobus 3:18 en sê: “Ons probeer vriendelik en vreedsaam met mense wees. Ons praat met dié wat ons buite hulle huise sien en dié wat in die buurt werk. Ons glimlag en groet hulle. Ons praat oor dinge waarin hulle belangstel—hulle kinders, hulle honde, hulle huise, hulle werk. Mettertyd beskou hulle ons as hulle vriende.” Carol voeg by: “Op ’n latere besoek sê ons vir hulle wat ons naam is en vra ons hulle s’n. Ons vertel hulle wat ons in die omgewing doen, maar hou die gesprekke kort. Uiteindelik kan ons vir hulle getuig.” Tom en Carol het baie van hulle bure se vertroue gewen. ’n Hele paar het Bybelpublikasies geneem, en party het groter belangstelling daarin getoon om die waarheid te leer.

Wees beleefd in moeilike omstandighede

11, 12. Waarom moet ons verwag om sleg behandel te word terwyl ons die goeie nuus verkondig, en hoe moet ons daarop reageer?

11 Soms word ons onvriendelik behandel terwyl ons die goeie nuus verkondig. Ons verwag dit, want Christus Jesus het sy dissipels vooraf gewaarsku: “As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg” (Joh. 15:20). Maar om op neerhalende kommentare te reageer met soortgelyke aanmerkings, bring nie goeie resultate mee nie. Hoe moet ons reageer? Die apostel Petrus het geskryf: “Heilig die Christus as Here in julle harte, en wees altyd gereed om julle te verdedig voor elkeen wat van julle ’n rede vir die hoop in julle eis, maar doen dit met sagmoedigheid en diep respek” (1 Pet. 3:15). As ons beleefd is—en sagmoedig en respekvol reageer—kan dit die gesindheid van dié wat ons beledig, versag.—Tit. 2:7, 8.

12 Kan ons ons daarop voorberei om negatiewe kommentare te hanteer op ’n manier wat God se goedkeuring wegdra? Ja. Paulus het aanbeveel: “Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen behoort te antwoord” (Kol. 4:6). As ons ’n gewoonte daarvan maak om beleefd te wees teenoor familielede, skoolmaats, werksmaats, lede van die gemeente en mense in die buurt, sal ons beter daarop voorbereid wees om bespotting en beledigings te hanteer soos dit ’n Christen betaam.—Lees Romeine 12:17-21.

13. Gee ’n voorbeeld om te toon dat beleefdheid die gesindheid van teenstanders kan versag.

13 Dit lewer goeie resultate wanneer ons in moeilike situasies goeie maniere aan die dag lê. Byvoorbeeld, in Japan is ’n sekere Getuie deur ’n huisbewoner en sy kuiergas bespot. Die broer het met ’n beleefde houding daar weggestap. Terwyl hy verder in die gebied getuig het, het hy opgelet dat die kuiergas hom van ’n afstand af dophou. Toe die broer hom nader, het die man gesê: “Ek is jammer oor wat gebeur het. Ek het gesien dat jy bly glimlag het, al het ons onvriendelike dinge vir jou gesê. Wat moet ek doen om ook so te wees?” Omdat hierdie man sy werk verloor het en sy ma kort tevore oorlede is, het hy nie gedink dat hy ooit gelukkig kon wees nie. Die Getuie het vir hom ’n Bybelstudie aangebied, wat die man aanvaar het. Kort voor lank het die man twee keer per week gestudeer.

Die beste manier om beleefdheid aan te kweek

14, 15. Hoe het knegte van Jehovah in Bybeltye hulle kinders opgelei?

14 Godvresende ouers in Bybeltye het seker gemaak dat hulle hulle kinders by die huis leer om beleefd te wees. Beskou die hoflike manier waarop Abraham en sy seun Isak mekaar in Genesis 22:7 aangespreek het. Dit is ook duidelik dat Josef se ouers hom goed opgelei het. Toe hy in die tronk was, was hy selfs beleefd teenoor medegevangenes (Gen. 40:8, 14). Sy woorde aan Farao toon dat hy geleer het wat die gepaste manier is om ’n hooggeplaaste persoon aan te spreek.—Gen. 41:16, 33, 34.

15 Die Tien Gebooie wat aan die kinders van Israel gegee is, het hierdie gebod ingesluit: “Eer jou vader en jou moeder sodat jou dae verleng mag word in die land wat Jehovah jou God aan jou gee” (Eks. 20:12). Een manier waarop kinders hulle ouers geëer het, was deur by die huis goeie maniere aan die dag te lê. Jefta se dogter het uitsonderlike respek vir haar vader getoon deur haar in ’n baie moeilike situasie aan sy gelofte te onderwerp.—Rigt. 11:35-40.

16-18. (a) Wat kan gedoen word om kinders goeie maniere te leer? (b) Watter voordele hou dit in om kinders goeie maniere te leer?

16 Die waarde daarvan om ons kinders te leer om goeie maniere te hê, kan nie oorbeklemtoon word nie. Om as volwassenes goed met ander oor die weg te kom, moet kinders die gepaste manier leer om besoekers te groet, die telefoon te antwoord en ’n maaltyd saam met ander te geniet. Hulle moet gehelp word om te verstaan waarom hulle die deur vir mense moet oophou, vriendelik teenoor bejaardes en siekes moet wees en hulp moet aanbied aan dié wat swaar pakkies dra. Hulle moet verstaan waarom dit belangrik is om opreg “asseblief”, “dankie”, “dit is ’n plesier”, “kan ek help?” en “ek is jammer” te sê.

17 Dit hoef nie moeilik te wees om kinders te leer om beleefd te wees nie. Die beste manier is deur ’n goeie voorbeeld te stel. Die 25-jarige Kurt sê die volgende oor hoe hy en sy drie broers geleer het om hoflik te wees: “Ons het gesien en gehoor hoe ons ma en pa vriendelik met mekaar praat en ander mense geduldig en bedagsaam behandel. By die Koninkryksaal het my pa my voor en ná vergaderinge saam met hom geneem om met die ouer broers en susters te praat. Ek het gehoor hoe hy ander groet en gesien hoeveel respek hy vir hulle het.” Kurt sê verder: “Mettertyd het sý maniere myne geword. Jy begin mense later van nature beleefd behandel. Dit is nie hoe jy jou moet gedra nie, maar hoe jy jou wil gedra.”

18 Wat sal waarskynlik gebeur as ouers hulle kinders goeie maniere leer? Die kinders sal vriende kan maak en sal die vrede met ander kan bewaar. Hulle sal goed toegerus wees om met werkgewers en werksmaats oor die weg te kom. Verder sal kinders wat beleefd, goedgemanierd en regskape is, aan hulle ouers vreugde en bevrediging verskaf.—Lees Spreuke 23:24, 25.

Goeie maniere maak ’n verskil

19, 20. Waarom moet ons vasbeslote wees om ons goedhartige God en sy Seun na te volg?

19 “Word . . . navolgers van God, as geliefde kinders”, het Paulus geskryf (Ef. 5:1). Om Jehovah God en sy Seun na te volg, moet ons Bybelbeginsels, soos dié wat in hierdie artikel bespreek is, toepas. As ons dit doen, sal ons nie skynheilig wees deur slegs beleefd te wees om in ’n meerdere se guns te kom of vir materiële gewin nie.—Jud. 16.

20 In die laaste dae van sy bose heerskappy is Satan daarop uit om die standaarde van respekvolle gedrag wat Jehovah vasgestel het, uit te wis. Maar die Duiwel sal nie die goeie maniere van ware Christene tot niet kan maak nie. Mag elkeen van ons vasbeslote wees om die voorbeelde van ons goedhartige God en sy Seun na te volg. Dan sal ons spraak en gedrag altyd verskil van die dade van dié wat verkies om ongemanierd te wees. Ons sal lof bring aan die naam van ons goedgemanierde God, Jehovah, en sal opregtes van hart na sy ware aanbidding trek.

[Voetnoot]

a In party kulture word dit as swak maniere beskou om ’n ouer persoon op sy naam te noem tensy daardie persoon jou nooi om dit te doen. Dit sal verstandig van Christene wees om sulke gebruike te respekteer.

Onthou jy?

• Wat leer ons by Jehovah en sy Seun oor hoe om goeie maniere aan die dag te lê?

• Hoe kan ons as Christene ’n goeie indruk skep deur mense hartlik te groet?

• Hoe dra beleefdheid by tot ’n produktiewe bediening?

• Watter rol speel ouers daarin om hulle kinders goeie maniere te leer?

[Studievrae]

[Venster op bladsy 27]

 Begin met ’n vriendelike glimlag

Baie mense is huiwerig om ’n gesprek aan te knoop met iemand wat hulle nie ken nie. Maar weens die liefde wat Jehovah se Getuies vir God en hulle naaste het, span hulle hulle ywerig in om te leer hoe om met mense te gesels sodat hulle hulle van Bybelwaarhede kan vertel. Wat kan jou help om op hierdie gebied te verbeter?

’n Waardevolle beginsel word in Filippense 2:4 genoem, wat sê: “Julle [moenie] uit persoonlike belangstelling ’n oog op net julle eie sake hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander.” Dink só aan hierdie woorde: As jy iemand nog nooit ontmoet het nie, beskou hy jou as ’n vreemdeling. Hoe kan jy hom op sy gemak laat voel? ’n Vriendelike glimlag en ’n beleefde groet sal dalk help. Maar dit is nie al nie.

Wanneer jy ’n gesprek met iemand probeer aanknoop, het jy dalk sy gedagtes onderbreek. As jy iets met hom probeer bespreek waaraan jý dink, sonder dat jy in ag neem waaraan hý dink, sal hy dalk nie gunstig reageer nie. As jy dus enigsins kan vasstel waaraan die persoon dalk gedink het, kan jy dit gebruik om ’n gesprek met hom te begin. Dit is wat Jesus gedoen het toe hy ’n vrou by ’n put in Samaria teëgekom het (Joh. 4:7-26). Sy het daaraan gedink om water te skep. Jesus het dit gebruik om sy gesprek met haar te begin, en hy het dit vinnig in ’n lewendige geestelike bespreking verander.

[Prente op bladsy 26]

As ons vriendelik met mense is, kan dit tot ’n goeie getuienis lei

[Prent op bladsy 28]

Goeie maniere is altyd gepas