Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Verryk jou gebede deur Bybelstudie

Verryk jou gebede deur Bybelstudie

Verryk jou gebede deur Bybelstudie

“Ag, Jehovah, laat u oor asseblief ag gee op die gebed van u kneg.”—NEH. 1:11.

1, 2. Waarom sal dit nuttig wees om ’n paar gebede in die Bybel te bespreek?

 GEBED en Bybelstudie is noodsaaklike aspekte van ware aanbidding (1 Tess. 5:17; 2 Tim. 3:16, 17). Die Bybel is natuurlik nie ’n gebedeboek nie. Maar dit bevat wel etlike gebede, waarvan baie in die boek Psalms gevind kan word.

2 Terwyl jy die Bybel lees en bestudeer, sal jy waarskynlik gebede vind wat van toepassing is op situasies waarvoor jy te staan kom. Trouens, wanneer jy gedagtes uit gebede in die Skrif gebruik wanneer jy bid, verryk dit jou gebede. Wat kan jy leer by persone wie se smekinge om hulp verhoor is asook uit die inhoud van hulle gebede?

Vra en volg God se leiding

3, 4. Op watter sending was Abraham se kneg, en wat kan ons leer uit hoe Jehovah dit laat afloop het?

3 In jou studie van die Bybel sal jy sien dat ’n mens altyd moet bid vir God se leiding. Dink aan wat gebeur het toe die aartsvader Abraham sy oudste kneg—waarskynlik Eliëser—na Mesopotamië gestuur het om ’n godvresende vrou vir Isak te vind. Terwyl vroue water by ’n sekere put geskep het, het die kneg gebid: “Jehovah . . . , dit moet gebeur dat die jong vrou vir wie ek sal sê: ‘Laat asseblief jou waterkruik sak sodat ek kan drink’, en wat inderdaad sal sê: ‘Drink, en ek sal ook u kamele water gee’, sy is die een wat u vir u kneg, vir Isak, moet bestem; en laat my hieraan weet dat u lojale liefde aan my heer bewys het.”—Gen. 24:12-14.

4 Die gebed van Abraham se kneg is verhoor toe Rebekka vir sy kamele water gegee het. Sy het kort daarna saam met hom na Kanaän gegaan en Isak se geliefde vrou geword. Jy kan natuurlik nie van God verwag om jou ’n spesiale teken te gee nie. Maar hy sal jou van leiding in die lewe voorsien as jy bid en vasbeslote is om jou deur sy gees te laat lei.—Gal. 5:18.

Gebed help om angstigheid te verlig

5, 6. Wat is opmerkenswaardig omtrent Jakob se gebed toe hy op pad was om Esau te ontmoet?

5 Gebed kan angstigheid verminder. Toe Jakob bang was vir sy tweelingbroer, Esau, het hy gebid: “O Jehovah, . . . ek is nie al die liefderyke goedhartighede en al die getrouheid wat u teenoor u kneg bewys het, waardig nie . . . Ek bid u, verlos my uit my broer se hand, uit Esau se hand, want ek is bang vir hom, dat hy sal kom en my beslis sal aanval, die moeder saam met die kinders. En u, u het gesê: ‘Ek sal ongetwyfeld aan jou goed doen en jou saad soos die sandkorrels van die see maak, wat vanweë die menigte nie getel kan word nie.’”—Gen. 32:9-12.

6 Hoewel Jakob voorsorgmaatreëls getref het, is sy gebed verhoor toe hy en Esau herenig is (Gen. 33:1-4). Lees daardie versoek sorgvuldig, en jy sal sien dat Jakob nie net om hulp gesmeek het nie. Hy het geloof in die beloofde Saad en dankbaarheid vir God se liefderyke goedhartigheid uitgespreek. Ondervind jy sekere ‘vrese van binne’? (2 Kor. 7:5). Indien wel, kan Jakob se versoek jou daaraan herinner dat gebed angstigheid kan verlig. Dit moet egter nie net versoeke insluit nie, maar ook betuigings van geloof.

Bid vir wysheid

7. Waarom het Moses vir kennis oor Jehovah se weë gebid?

7 ’n Begeerte om Jehovah te behaag, moet jou beweeg om te bid vir wysheid. Moses het vir kennis oor God se weë gebid. “Kyk”, het hy gepleit, “u [Jehovah] sê vir my: ‘Laat hierdie volk [uit Egipte] optrek‘ . . . En nou, asseblief, as ek guns in u oë gevind het, maak dan asseblief u weë aan my bekend, . . . sodat ek guns in u oë kan vind” (Eks. 33:12, 13). In reaksie hierop het God Moses groter kennis oor Sy weë gegee—iets noodsaakliks vir hom om die leiding onder Jehovah se volk te neem.

8. Hoe kan jy daarby baat vind as jy oor 1 Konings 3:7-14 peins?

8 Dawid het ook gebid: “Maak u weë aan my bekend, o Jehovah” (Ps. 25:4). Dawid se seun Salomo het God gesmeek vir die nodige wysheid om sy pligte as koning van Israel uit te voer. Salomo se gebed het Jehovah behaag, en Hy het nie net sy versoek toegestaan nie, maar hom ook rykdom en heerlikheid gegee. (Lees 1 Konings 3:7-14.) As jy diensvoorregte ontvang wat oorweldigend lyk, moet jy vir wysheid bid en ’n nederige gesindheid openbaar. Dan sal God jou help om die kennis te verkry en die nodige wysheid aan die dag te lê om jou verantwoordelikhede op ’n gepaste en liefdevolle manier na te kom.

Bid uit die hart

9, 10. Wat omtrent Salomo se verwysings na die hart in sy gebed by die tempelinwyding is vir jou betekenisvol?

9 Gebede sal slegs verhoor word as dit uit die hart kom. Salomo het ’n hartgrondige gebed gedoen voor die skares wat in Jerusalem vergader het vir die inwyding van Jehovah se tempel in 1026 VHJ, soos opgeteken in 1 Konings hoofstuk 8. Nadat die verbondsark in die Allerheiligste geplaas is en Jehovah se wolk die tempel gevul het, het Salomo God geloof.

10 Bestudeer Salomo se gebed, en let op sy verwysings na die hart. Salomo het erken dat dit net Jehovah is wat ’n persoon se hart ken (1 Kon. 8:38, 39). Dieselfde gebed toon dat daar hoop is vir ’n sondaar wat ‘met sy hele hart tot God terugkeer’. As ’n vyand God se volk gevange geneem het, sou Jehovah hulle smekinge hoor as hulle hart volkome met hom was (1 Kon. 8:48, 58, 61). Jou gebede moet dus beslis uit die hart kom.

Hoe die Psalms jou gebede kan verryk

11, 12. Wat het jy geleer uit die gebed van ’n sekere Leviet wat ’n tyd lank nie na God se heiligdom kon gaan nie?

11 As jy die Psalms bestudeer, kan dit jou gebede verryk en jou help om te wag dat God dit verhoor. Dink aan die geduld van ’n Leviet wat in ballingskap was. Hoewel hy ’n tyd lank nie na Jehovah se heiligdom kon gaan nie, het hy gesing: “Waarom is jy wanhopig, o my siel, en waarom is jy onstuimig in my? Wag op God, want ek sal hom nog prys as my grootse redding en as my God.”—Ps. 42:5, 11; 43:5.

12 Wat kan jy by daardie Leviet leer? As jy ter wille van regverdigheid in die tronk beland en ’n tyd lank nie saam met medegelowiges by hulle plek van aanbidding kan wees nie, moet jy geduldig wag op God om ten behoewe van jou op te tree (Ps. 37:5). Peins oor vreugdes wat jy voorheen in God se diens gehad het, en bid vir volharding terwyl jy “wag op God” om jou te help om weer noue assosiasie met sy volk te geniet.

Bid in geloof

13. Waarom moet jy, in ooreenstemming met Jakobus 1:5-8, in geloof bid?

13 Ongeag wat jou omstandighede is, bid altyd in geloof. Volg die raad van die dissipel Jakobus as jy voor ’n toets van onkreukbaarheid te staan kom. Nader Jehovah in gebed, en moenie twyfel dat hy jou die nodige wysheid kan gee om jou beproewing te verduur nie. (Lees Jakobus 1:5-8.) God is bewus van enige verontrustende gedagtes wat jy dalk het, en hy kan jou deur middel van sy gees lei en vertroos. Stort jou hart voor hom uit in volkome geloof, “sonder om enigsins te twyfel”, en aanvaar die leiding van sy gees en die raad van sy Woord.

14, 15. Waarom kan daar gesê word dat Hanna in geloof gebid en opgetree het?

14 Hanna, een van die Leviet Elkana se twee vrouens, het in geloof gebid en opgetree. Die kinderlose Hanna is uitgetart deur die ander vrou, Peninna, wat ’n hele paar kinders gehad het. By die tabernakel het Hanna plegtig belowe dat sy, as sy ’n seun baar, hom aan Jehovah sou gee. Omdat haar lippe gebewe het terwyl sy gebid het, het die hoëpriester Eli gedink dat sy dronk is. Toe hy uitvind dat dit nie die geval was nie, het hy gesê: “Mag die God van Israel jou versoek toestaan.” Hoewel Hanna nie presies geweet het wat die afloop sou wees nie, het sy geglo dat haar gebed verhoor sou word. Gevolglik het “haar gesig . . . nie meer besorgdheid oor haar situasie getoon nie”. Sy was nie meer hartseer of terneergedruk nie.—1 Sam. 1:9-18.

15 Nadat Samuel gebore en gespeen is, het Hanna hom aan Jehovah aangebied om heilige diens by die tabernakel te verrig (1 Sam. 1:19-28). As jy die tyd neem om te peins oor haar gebed by daardie geleentheid, sal dit heel waarskynlik jou eie gebede verryk en jou help besef dat selfs hartseer oor ’n ontstellende probleem oorkom kan word as jy bid in die geloof dat Jehovah jou sal verhoor.—1 Sam. 2:1-10.

16, 17. Wat het gebeur omdat Nehemia in geloof gebid en opgetree het?

16 Die regskape man Nehemia van die vyfde eeu VHJ het in geloof gebid en opgetree. Hy het gepleit: “Ag, Jehovah, laat u oor asseblief ag gee op die gebed van u kneg en op die gebed van u knegte wat behae daarin skep om u naam te vrees; en laat u kneg vandag asseblief tog sukses behaal, en maak hom ’n voorwerp van medelye voor hierdie man.” Wie was “hierdie man”? Dit was die Persiese koning Artasasta, vir wie Nehemia as skinker gedien het.—Neh. 1:11.

17 Nehemia het dae lank in geloof gebid nadat hy gehoor het dat die Jode wat uit Babiloniese gevangenskap vrygelaat is, “in ’n uiters benarde toestand en in smaad [verkeer] en [dat] die muur van Jerusalem . . . stukkend [lê]” (Neh. 1:3, 4). Nehemia se gebede is bo sy verwagtinge beantwoord toe koning Artasasta hom toegelaat het om na Jerusalem te gaan en die muur te herbou (Neh. 2:1-8). Kort voor lank is die muur herstel. Nehemia se gebede is verhoor omdat dit met ware aanbidding verband gehou het en in geloof gedoen is. Is dit waar van jou gebede?

Onthou om God te loof en te dank

18, 19. Waarom moet ’n kneg van Jehovah hom loof en dank?

18 Onthou om Jehovah in gebed te loof en te dank. Daar is soveel redes om dit te doen! Dawid was byvoorbeeld gretig om Jehovah se koningskap te verheerlik. (Lees Psalm 145:10-13.) Toon jou gebede dat jy die voorreg waardeer om Jehovah se Koninkryk aan te kondig? Die psalmiste se woorde sal jou dalk ook help om jou waardering vir Christelike vergaderinge en byeenkomste in innige gebed tot God uit te spreek.—Ps. 27:4; 122:1.

19 Dankbaarheid vir jou kosbare verhouding met God sal jou moontlik beweeg om uit die hart te bid met gedagtes soos dié: “Ek sal u prys onder die volke, o Jehovah; ek sal u met melodieë besing onder die volksgroepe. Want u liefderyke goedhartigheid is groot tot aan die hemele, en u waaragtigheid tot aan die hemelruim. Wees tog verhewe bo die hemele, o God; laat u heerlikheid bo die hele aarde wees” (Ps. 57:9-11). Watter pragtige woorde! Stem jy nie saam dat sulke roerende woorde uit die Psalms jou gebede kan beïnvloed en verryk nie?

Smeek God eerbiedig

20. Hoe het Maria haar toegewydheid aan God uitgedruk?

20 Eerbied vir God moet duidelik wees in jou gebede. Die eerbiedige woorde van Maria kort nadat sy uitgevind het dat sy die moeder van die Messias sou wees, is soortgelyk aan dié van Hanna toe sy jong Samuel vir diens by die tabernakel aangebied het. Maria se eerbied vir God blyk duidelik uit haar woorde: “My siel maak Jehovah groot, en my gees kan nie anders nie as om oor te loop van vreugde teenoor God, my Redder” (Luk. 1:46, 47). Kan jy jou gebede verryk deur soortgelyke gevoelens uit te druk? Dit is geen wonder dat godvresende Maria gekies is om die moeder van Jesus, die Messias, te wees nie!

21. Hoe het die gebede van Jesus getuig van eerbied en geloof?

21 Jesus het eerbiedig in vaste geloof gebid. Byvoorbeeld, voordat hy Lasarus opgewek het, “het [Jesus] sy oë na die hemel opgeslaan en gesê: ‘Vader, ek dank u dat u my verhoor het. Ek het weliswaar geweet dat u my altyd verhoor’” (Joh. 11:41, 42). Getuig jou gebede van sulke eerbied en geloof? Bestudeer Jesus se eerbiedige modelgebed, en jy sal sien dat die heiliging van Jehovah se naam, die koms van sy Koninkryk en die uitvoering van sy wil besonder belangrike punte daarin is (Matt. 6:9, 10). Dink aan jou eie gebede. Weerspieël dit jou lewendige belangstelling in Jehovah se Koninkryk, die uitvoering van sy wil en die heiliging van sy naam? Dit behoort.

22. Waarom kan jy seker wees dat Jehovah jou die moed sal gee om die goeie nuus te verkondig?

22 In tye van vervolging of ander beproewinge sluit ons gebede dikwels smekinge in vir hulp om Jehovah moedig te dien. Toe die Sanhedrin Petrus en Johannes beveel het om op te hou om “in die naam van Jesus te . . . leer”, het daardie apostels moedig geweier om op te hou praat (Hand. 4:18-20). Nadat hulle vrygelaat is, het hulle vir hulle medegelowiges vertel wat gebeur het. Toe het almal wat daar was, God gesmeek vir hulp om sy woord met vrymoedigheid te spreek. Hoe wonderlik moes dit tog gewees het toe daardie gebed verhoor is, want hulle is “met die heilige gees vervul en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek”! (Lees Handelinge 4:24-31.) As gevolg daarvan het baie mense aanbidders van Jehovah geword. Gebed kan jou ook versterk om die goeie nuus met vrymoedigheid te verkondig.

Hou aan om jou gebede te verryk

23, 24. (a) Noem ander voorbeelde wat toon hoe Bybelstudie jou gebede kan verryk. (b) Wat gaan jy doen om jou gebede te verryk?

23 Baie ander voorbeelde kan aangehaal word om te toon dat jy jou gebede kan verryk deur die Bybel te lees en te bestudeer. Soos Jona, kan jy byvoorbeeld in gebed erken: “Redding behoort aan Jehovah” (Jona 2:1-10). As jou gewete jou oor ’n ernstige sonde kwel en jy die ouer manne vir hulp gevra het, sal die gebed van Dawid jou dalk help om in jou persoonlike gebede jou berou in woorde uit te druk (Ps. 51:1-12). In sekere gebede kan jy Jehovah loof, soos Jeremia gedoen het (Jer. 32:16-19). As jy na ’n huweliksmaat soek, kan ’n studie van die gebed in Esra hoofstuk 9, tesame met persoonlike smekinge, jou meer vasbeslote maak om God te gehoorsaam deur “net in die Here” te trou.—1 Kor. 7:39; Esra 9:6, 10-15.

24 Hou aan om die Bybel te lees, te bestudeer en noukeurig te ondersoek. Wees op die uitkyk na gedagtes wat jy in jou gebede kan insluit. Jy sal moontlik skriftuurlike gedagtes in jou smekinge en gebede van dank en lof kan invoeg. Jy sal beslis nader aan Jehovah God kom namate jy jou gebede deur Bybelstudie verryk.

Hoe sal jy antwoord?

• Waarom moet ons vir God se leiding vra en dit volg?

• Wat moet ons beweeg om te bid vir wysheid?

• Hoe kan die boek Psalms ons gebede verryk?

• Waarom moet ons in geloof en met eerbied bid?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 8]

Abraham se kneg het vir God se leiding gebid. Doen jy dit?

[Prent op bladsy 10]

Gesinsaanbidding kan jou gebede verryk