Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waardeer jou dowe broers en susters!

Waardeer jou dowe broers en susters!

Waardeer jou dowe broers en susters!

GOD se hedendaagse volk is ’n groot gesin van geestelike broers en susters met ’n erfenis wat teruggevoer kan word tot manne en vroue van die ou tyd. Dit sluit Samuel, Dawid, Simson, Ragab, Moses, Abraham, Sara, Noag en Abel in. Onder Jehovah se lojale knegte is daar baie dowe persone. Byvoorbeeld, die eerste twee persone in Mongolië wat Jehovah se Getuies geword het, was ’n dowe egpaar. En as gevolg van die onkreukbaarheid van ons dowe medegelowiges in Rusland het ons ’n regsoorwinning in die Europese Hof van Menseregte behaal.

In hedendaagse tye het “die getroue en verstandige slaaf” gebaretaalpublikasies voorsien, gebaretaalgemeentes gestig en byeenkomste in gebaretaal gereël (Matt. 24:45). Die dowes het grootliks hierby baat gevind. a Maar het jy al ooit gewonder hoe die dowes gevoel het om sonder hierdie voorsienings die ware God te leer ken en vordering in die waarheid te maak? Het jy al gedink aan wat jy kan doen om die dowes in jou gemeenskap te help?

Voor hedendaagse voorsienings

Vra gerus ’n paar van die ouer dowes hoe hulle God leer ken het. Hulle sal jou moontlik vertel hoe hulle gevoel het toe hulle die eerste keer geleer het dat God ’n naam het—hoe hierdie enkele waarheid hulle lewe verander het en hulle jare lank onderskraag het totdat videoprogramme of DVD’s in gebaretaal beskikbaar geword het om hulle te help om dieper skriftuurlike waarhede te leer. Hulle sal dalk verduidelik hoe dit was toe Christelike vergaderinge nie in gebaretaal gehou of getolk is nie. Iemand het langs hulle gesit en notas gemaak om hulle te help verstaan wat tydens die vergadering gesê is. Een dowe broer het sewe jaar lank op hierdie manier Bybelwaarhede geleer voordat ’n tolk uiteindelik beskikbaar geword het.

Ouer dowe Getuies onthou hoe dit was om aan die “horende” veldbediening deel te neem. In die een hand het hulle ’n indekskaart gehou met ’n eenvoudige huis-tot-huis-aanbieding daarop. En in die ander hand het hulle die jongste Wagtoring en Ontwaak! gehou. Dit was moeilik vir ’n dowe om ’n Bybelstudie met ’n ander dowe persoon te hou deur net die gedrukte publikasies te gebruik, wat nie een van hulle goed kon verstaan nie. Ouer dowe verkondigers onthou waarskynlik hoe gefrustreerd hulle gevoel het wanneer ander hulle nie verstaan het nie en hulle dus nie verder oor geestelike waarhede kon praat nie. Hulle weet ook hoe dit voel om Jehovah innig lief te hê, maar dit nie met vertroue te kan uitleef nie. Waarom nie? Omdat hulle nie seker was dat hulle begrip van ’n spesifieke saak korrek was nie.

Ten spyte van al hierdie struikelblokke het ons dowe broers en susters hulle onkreukbaarheid gehandhaaf (Job 2:3). Hulle het vol verlange op Jehovah gewag (Ps. 37:7). En nou seën hy hulle met meer as wat baie van hulle ooit verwag het.

Kyk na wat ’n dowe broer gedoen het om sy vrou en kinders te help. Voordat gebaretaalvideo’s beskikbaar geword het, het hy getrou die leiding in die gesinstudie geneem. Sy seun vertel: “Die gesinstudie was altyd moeilik vir my pa, omdat hy net gedrukte publikasies gehad het waaruit hy ons moes leer. Hy het dikwels nie die geskrewe teks ten volle verstaan nie. Ons as kinders het ook nie eintlik gehelp nie. Ons het gou vir hom gesê wanneer hy dinge verkeerd verduidelik het. Ondanks dit alles het hy altyd die gesinstudie gehou. Hy het gevoel dat dit belangriker was om ons iets van Jehovah te leer, as om nou en dan verleë te voel omdat hy die Engels nie goed verstaan het nie.”

Daar is ook die voorbeeld van Richard, ’n broer in sy 70’s wat doof sowel as blind is en in Brooklyn, New York, VSA, woon. Richard is bekend vir sy gereelde bywoning van Christelike vergaderinge. Om daar te kom, ry hy op sy eie met die moltrein en tel hy die stasies sodat hy weet wanneer om af te klim. Een winter was daar so ’n kwaai sneeustorm dat die vergadering gekanselleer is. Almal in die gemeente is in kennis gestel, maar om die een of ander rede het Richard nie die boodskap gekry nie. Toe die broers besef wat gebeur het en hom gaan soek het, het hulle Richard gekry waar hy geduldig buite die Koninkryksaal staan en wag dat die deure oopgemaak moet word. Toe hy gevra is waarom hy in die storm uitgegaan het, het hy geantwoord: “Ek is lief vir Jehovah.”

Wat kan jy doen?

Woon daar dowe mense in jou gebied? Kan jy ’n bietjie gebaretaal leer sodat jy met hulle kan kommunikeer? Dowes is gewoonlik baie vriendelik en geduldig wanneer hulle ander mense hulle taal leer. Dalk ontmoet jy ’n dowe persoon informeel of in die bediening. Wat kan jy doen? Probeer kommunikeer. Gebruik gebare, notas, sketse, prente of ’n kombinasie hiervan. Selfs al dui die persoon aan dat hy nie in die waarheid belangstel nie, moet jy vir ’n Getuie wat doof is of iemand wat gebaretaal ken, van jou besoek vertel. Die boodskap vind dalk groter byval by ’n dowe persoon wanneer dit in gebaretaal aangebied word.

Dalk leer jy gebaretaal en is jy in ’n gebaretaalgemeente. Hoe kan jy vaardiger word en jou begrip van gebaretaal verbeter? Hoewel daar dalk ander horende verkondigers in jou gemeente is, kan jy gerus jou stem “afskakel”. Dit sal jou help om in gebaretaal te dink, dit wil sê visueel. Soms kom jy dalk in die versoeking om die maklike uitweg te kies en te praat. Maar soos in die geval van enige taal, moet jy eers die groeipyne verduur voordat jy die taal vlot kan praat.

As ons ons ywerig daarop toelê om gebaretaal te gebruik, toon ons liefde en respek vir ons dowe broers en susters. Stel jou voor hoe gefrustreerd dowes dag na dag moet voel omdat mense by die werk en by die skool hulle nie verstaan nie. “Elke dag praat mense om my”, het een dowe broer gesê. “Baie keer voel ek eensaam en uitgesluit, en ek word geïrriteerd, selfs kwaad. Ek kan nie heeltemal beskryf hoe ek soms voel nie.” Ons vergaderinge moet ’n oase wees waar ons dowe broers en susters geestelike voedsel ontvang en hartlike kommunikasie en assosiasie kan geniet.—Joh. 13:34, 35.

Die talle kleiner groepe dowes wat saam met horende gemeentes vergader, moet ook nie oor die hoof gesien word nie. Die vergaderinge word vir hulle getolk. Om ten volle te verstaan wat oorgedra word, sit die dowe lede van die gemeente voor in die Koninkryksaal. Sodoende kan hulle die tolk sowel as die spreker sien. Ondervinding het getoon dat die res van die gemeente redelik gou hieraan gewoond raak en dat dit nie hulle aandag aftrek nie. Hierdie reëlings geld ook vir byeenkomste waar daar in gebaretaal getolk word. Hardwerkende lede van die gemeente verdien hartlike lof omdat hulle die inligting tolk soos ’n dowe persoon dit sou oordra—betekenisvol en natuurlik.

Dalk is jy in ’n gemeente met ’n gebaretaalgroep of wat ’n paar dowes het vir wie die vergadering getolk word. Wat kan jy doen om persoonlike aandag aan hierdie dowe broers en susters te gee? Nooi hulle na jou huis toe. Leer ’n paar gebare, indien moontlik. Moenie geïntimideerd voel deur die kommunikasieprobleem nie. Jy sal ’n manier vind om te kommunikeer, en dit sal tot aangename herinneringe lei as jy sulke liefde aan die dag lê (1 Joh. 4:8). Ons dowe mede-Getuies het baie om te gee. Hulle is goeie kommunikeerders, het skerp insig en ’n wonderlike sin vir humor. Een broer wie se ouers albei doof is, sê: “My hele lewe lank is ek omring deur dowe mense, en hulle het my baie meer gegee as wat ek ooit sou kon terugbetaal. Ons kan baie by ons dowe broers en susters leer.”

Jehovah is lief vir sy getroue aanbidders, insluitende dié wat doof is. Hulle voorbeeld van geloof en volharding verryk beslis Jehovah se organisasie. Mag ons dus ons dowe broers en susters waardeer!

[Voetnoot]

a Sien die artikel “Jehovah het sy aangesig teenoor hulle laat skyn”, in Die Wagtoring van 15 Augustus 2009.

[Prent op bladsy 31]

Die Koninkryksboodskap sal dalk groter byval by ’n dowe persoon vind wanneer dit in gebaretaal aangebied word

[Prente op bladsy 32]

Ons vergaderinge moet ’n oase wees waar ons dowe broers en susters geestelike aanmoediging ontvang