Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waardeer jou plek in die gemeente

Waardeer jou plek in die gemeente

Waardeer jou plek in die gemeente

“God [het] die lede, elkeen van hulle, in die liggaam geplaas net soos dit hom behaag het.”—1 KOR. 12:18.

1, 2. (a) Wat toon dat almal in die gemeente ’n plek kan hê wat hulle kan waardeer? (b) Watter vrae sal in hierdie artikel bespreek word?

 SEDERT die dae van eertydse Israel was die gemeente Jehovah se reëling om sy volk geestelik te voed en hulle van leiding te voorsien. Nadat die Israeliete die stad Ai vernietig het, het Josua byvoorbeeld “al die woorde van die wet voorgelees, die seën en die vloek, volgens alles wat in die wetboek geskrywe staan . . . voor die hele gemeente van Israel”.—Jos. 8:34, 35.

2 In die eerste eeu HJ het die apostel Paulus vir die Christen- ouer man Timoteus gesê dat die Christengemeente “God se huisgesin” en “’n pilaar en stut van die waarheid” is (1 Tim. 3:15). Vandag is God se “huisgesin” die wêreldwye broederskap van ware Christene. In hoofstuk 12 van Paulus se eerste geïnspireerde brief aan die Korintiërs vergelyk hy die gemeente met ’n menseliggaam. Hy sê dat al die lede nodig is, hoewel elkeen ’n ander funksie het. “God [het] die lede, elkeen van hulle, in die liggaam geplaas net soos dit hom behaag het”, skryf Paulus. Hy sê selfs: “Die dele van die liggaam wat ons dink minder eerbaar is, dié omring ons met oorvloediger eer” (1 Kor. 12:18, 23). Die rol van een regskape persoon in God se huisgesin is dus nie beter of slegter as dié van ’n ander getroue Christen nie. Dit is bloot anders. Maar hoe kan ons ons plek in God se reëling vind en dit waardeer, of koester? Watter faktore kan ’n uitwerking hê op die plek wat ons beklee? En hoe kan ons ‘ons vooruitgang vir almal duidelik maak’?—1 Tim. 4:15.

Waardeer ons plek—Hoe?

3. Wat is een manier waarop ons ons plek in die gemeente kan vind en toon dat ons dit waardeer?

3 Een manier om ons plek in die gemeente te vind en te toon dat ons dit waardeer, is deur ten volle met “die getroue en verstandige slaaf” en sy verteenwoordigende Bestuursliggaam saam te werk. (Lees Matteus 24:45-47.) Ons moet ons reaksie op die leiding wat ons van die slaafklas ontvang, ondersoek. Deur die jare heen het ons byvoorbeeld duidelike riglyne oor kleredrag en persoonsversorging, vermaak en die ongepaste gebruik van die Internet ontvang. Slaan ons noukeurig ag op hierdie goeie raad sodat dit ons geestelik kan beskerm? Wat van die vermaning om ’n vaste roetine vir gesinsaanbidding te hê? Het ons die raad ter harte geneem deur ’n aand daarvoor opsy te sit? As ons ongetroud is, maak ons tyd vir persoonlike studie van die Skrif? Jehovah sal ons as individue en as gesinne seën, mits ons die leiding van die slaafklas volg.

4. Wat moet ons in ag neem wanneer ons persoonlike keuses maak?

4 Party redeneer dalk dat dinge soos vermaak en kleredrag en persoonsversorging persoonlike sake is. Maar die toegewyde Christen wat sy plek in die gemeente waardeer, beskou persoonlike voorkeure beslis nie as die enigste belangrike faktor wanneer hy besluite neem nie. Ons moet veral Jehovah se beskouing in ag neem, soos geopenbaar word deur sy Woord, die Bybel. Die boodskap daarin moet ‘’n lamp vir ons voet en ’n lig vir ons pad’ wees (Ps. 119:105). Dit sal ook verstandig van ons wees om te dink aan watter uitwerking ons keuses in persoonlike sake sal hê op ons bediening en op ander mense, binne sowel as buite die gemeente.—Lees 2 Korintiërs 6:3, 4. 

5. Waarom moet ons waak teen ’n onafhanklike gees?

5 “Die gees wat nou in die seuns van die ongehoorsaamheid werk”, is so algemeen soos die lug wat ons inasem (Ef. 2:2). Hierdie gees kan ons laat dink dat ons nie die leiding van Jehovah se organisasie nodig het nie. Ons wil beslis nie soos Diotrefes wees wat ‘niks van die apostel Johannes met respek ontvang het nie’ (3 Joh. 9, 10). Ons moet daarteen waak dat ’n gees van onafhanklikheid in ons posvat. Mag ons die kommunikasiekanaal wat Jehovah vandag gebruik, nooit in woord of daad bevraagteken nie (Num. 16:1-3). Inteendeel, ons moet ons voorreg koester om met die slaafklas saam te werk. En behoort ons nie daarna te streef om gehoorsaam en onderdanig te wees aan dié wat in ons plaaslike gemeente die leiding neem nie?—Lees Hebreërs 13:7, 17.

6. Waarom moet ons ons persoonlike omstandighede ondersoek?

6 Nog ’n manier om te toon dat ons ons plek in die gemeente waardeer, is deur ons persoonlike omstandighede noukeurig te ondersoek en alles in ons vermoë te doen om ‘ons bediening te verheerlik’ en Jehovah te eer (Rom. 11:13). Party kan as gewone pioniers dien. Ander dien in spesiale vorme van voltydse diens as sendelinge, reisende opsieners en lede van Bethelgesinne regoor die wêreld. Baie broers en susters help om Koninkryksale te bou. Die oorgrote meerderheid van Jehovah se volk doen hulle bes om na die geestelike behoeftes van hulle gesin om te sien en elke week ’n volle aandeel aan die bediening te hê. (Lees Kolossense 3:23, 24.) Ons kan vol vertroue wees dat daar altyd ’n plek vir ons in God se reëling sal wees as ons ons gewillig aanbied in sy diens en ons bes doen om hom heelhartig te dien.

Faktore wat ’n verskil maak

7. Verduidelik hoe ons omstandighede ’n uitwerking op ons plek in die gemeente kan hê.

7 Dit is belangrik om ons omstandighede noukeurig te ondersoek omdat ons plek in die gemeente in sekere mate afhang van wat ons kan doen of wat ons omstandighede ons toelaat om te doen. Byvoorbeeld, die plek van ’n broer in die gemeente verskil in sekere opsigte van dié van ’n suster. Ouderdom, gesondheid en ander faktore het ook ’n uitwerking op wat ons in Jehovah se diens kan doen. “Die sieraad van jong manne is hulle krag,” sê Spreuke 20:29, “en die prag van ou manne is hulle grysheid.” Jonger lede van die gemeente kan dalk fisies meer doen weens hulle jeugdige krag, terwyl ouer persone van groot waarde vir die gemeente is weens hulle wysheid en ondervinding. Ons moet ook in gedagte hou dat enigiets wat ons in Jehovah se organisasie kan doen, afhang van God se onverdiende goedhartigheid.—Hand. 14:26; Rom. 12:6-8.

8. Watter uitwerking het ons begeerte op wat ons in die gemeente doen?

8 ’n Illustrasie van twee jong vleeslike susters lig nog ’n faktor toe wat ons plek in die gemeente sal bepaal. Albei voltooi hulle hoërskoolopleiding. Hulle het dieselfde omstandighede. Hulle ouers het hulle bes gedoen om albei aan te spoor om ná skool gewone pioniers te word. Wanneer hulle klaar is met skool, begin die een pionier, terwyl die ander voltyds sekulêr begin werk. Wat het die verskil gemaak? Hulle begeerte. Op die ou end het elkeen gedoen wat sy wou doen. Is dit nie waar van die meeste van ons nie? Ons moet ernstig nadink oor wat ons in God se diens wil doen. Kan ons ons deelname vergroot al beteken dit dat ons ons omstandighede moet aanpas?—2 Kor. 9:7.

9, 10. Wat moet ons doen as ons nie gemotiveerd voel om meer in Jehovah se diens te doen nie?

9 Sê nou ons voel eenvoudig nie gemotiveerd om meer in Jehovah se diens te doen nie en is geneig om ons nie in die gemeente in te span nie? In sy brief aan die Filippense sê Paulus: “Dit is God wat, ter wille van sy welbehae, in julle werk sodat julle kan wil sowel as werk.” Ja, Jehovah kan in ons werk en kan ons wil, of begeertes, beïnvloed.—Fil. 2:13; 4:13.

10 Behoort ons dan nie vir Jehovah te vra om by ons die begeerte te wek om sy wil te doen nie? Dit is juis wat koning Dawid van eertydse Israel gedoen het. Hy het gebid: “Maak u weë aan my bekend, o Jehovah; leer my u paaie. Laat my in u waarheid wandel en leer my, want u is my God van redding. Op u het ek die hele dag gehoop” (Ps. 25:4, 5). Ons kan dieselfde doen deur te bid dat Jehovah by ons die begeerte aanwakker om te doen wat hom behaag. Wanneer ons nadink oor hoe Jehovah God en sy Seun voel oor wat ons doen om hulle belange te bevorder, vervul dit ons hart met waardering vir hulle (Matt. 26:6-10; Luk. 21:1-4). Hierdie gevoel van dankbaarheid kan ons beweeg om Jehovah te smeek om by ons die begeerte te wek om geestelike vooruitgang te maak. Die profeet Jesaja het ’n voorbeeld voorsien van die gesindheid wat ons moet aankweek. Toe hy hoor hoe die stem van Jehovah vra: “Wie sal ek stuur, en wie sal vir ons gaan?” het die profeet geantwoord: “Hier is ek! Stuur my.”—Jes. 6:8.

Maak vooruitgang—Hoe?

11. (a) Watter behoefte is daar aan broers wat verantwoordelikhede in die organisasie nastreef? (b) Hoe kan ’n broer diensvoorregte nastreef?

11 Met 289 678 persone wat gedurende die 2008-diensjaar regoor die wêreld gedoop is, is dit duidelik dat daar ’n groot behoefte is aan broers om die leiding te neem. Hoe moet ’n broer hierop reageer? Eenvoudig gestel, deur daarna te streef om te voldoen aan die vereistes vir bedieningsknegte en ouer manne wat in die Skrif uiteengesit word (1 Tim. 3:1-10, 12, 13; Tit. 1:5-9). Hoe kan ’n broer daarna streef om aan skriftuurlike vereistes te voldoen? Deur ywerig aan die bediening deel te neem, pligsgetrou na sy gemeentelike toewysings om te sien, hom in te span om die gehalte van sy kommentare by Christelike vergaderinge te verbeter en persoonlike belangstelling in medegelowiges te toon. Hy toon sodoende dat hy sy plek in die gemeente waardeer.

12. Hoe kan jongmense hulle ywer vir die waarheid toon?

12 Wat kan jong broers, veral dié in hulle tienerjare, doen om vooruitgang te maak in die gemeente? Hulle kan hulle inspan om in “wysheid en geestelike insig” toe te neem deur kennis van die Skrif op te doen (Kol. 1:9). As hulle ywerige studente van God se Woord is en aan die gemeentelike vergaderinge deelneem, sal dit hulle beslis help om dié doel te bereik. Jong mans kan ook daarna streef om aan die vereistes te voldoen om in te gaan deur die “groot deur wat tot bedrywigheid lei”, wat verskillende aspekte van die voltydse diens insluit (1 Kor. 16:9). ’n Loopbaan in Jehovah se diens is werklik ’n bevredigende lewenswyse en ’n weg wat tot ryk seëninge lei.—Lees Prediker 12:1.

13, 14. Op watter maniere kan susters toon dat hulle hulle rol in die gemeente waardeer?

13 Susters kan ook toon dat hulle hulle voorreg waardeer om persoonlik deel te neem aan die vervulling van Psalm 68:11. Daar lees ons: “Jehovah laat die woord hoor; die vroue wat die goeie nuus verkondig, is ’n groot leër.” Een van die beste maniere waarop susters hulle dankbaarheid vir hulle plek in die gemeente kan toon, is deur aan die dissipelmaakwerk deel te neem (Matt. 28:19, 20). Wanneer susters dus ’n volle aandeel aan die bediening het en gewilliglik opofferings ten behoewe van hierdie werk maak, toon hulle dat hulle hulle rol in die gemeente waardeer.

14 Paulus het aan Titus geskryf en gesê: “Die bejaarde vroue [moet] hulle gedra soos dit die heiliges betaam, . . . onderrigters van wat goed is; dat hulle die jong vroue tot besinning kan bring, om hulle mans lief te hê, om hulle kinders lief te hê, om gesond van verstand te wees, kuis, werkers by die huis, goed, terwyl hulle hulle aan hulle eie mans onderwerp, sodat die woord van God nie gesmaad sal word nie” (Tit. 2:3-5). Wat ’n goeie invloed kan ryp susters tog op die gemeente hê! Deur die broers te respekteer wat die leiding neem en deur wyse besluite te neem op lewensgebiede soos kleredrag, persoonsversorging en vermaak, stel hulle ’n goeie voorbeeld vir ander en toon hulle groot agting vir hulle plek in die gemeente.

15. Wat kan ’n ongetroude suster doen om eensaamheid die hoof te bied?

15 Soms is dit dalk moeilik vir ’n ongetroude suster om haar plek in die gemeente te vind. Een suster wat dit ondervind het, het gesê: “Die lewe as ’n ongetroude persoon kan partykeer eensaam wees.” Toe sy gevra is hoe sy die situasie die hoof bied, het sy gesê: “Gebed en studie help my om weer my plek te vind. Ek doen navorsing oor hoe Jehovah my beskou. Dan probeer ek ook ander in die gemeente help. Dit help my om nie net op myself te konsentreer nie.” Volgens Psalm 32:8 het Jehovah vir Dawid gesê: “Ek sal raad gee met my oog op jou.” Ja, Jehovah toon persoonlike belangstelling in al sy knegte, insluitende ongetroude susters, en hy sal almal help om hulle plek in die gemeente te vind.

Behou jou plek!

16, 17. (a) Waarom is die besluit om Jehovah se uitnodiging te aanvaar om deel van sy organisasie te wees, die beste besluit wat ons kan neem? (b) Hoe kan ons ons plek in Jehovah se organisasie behou?

16 Jehovah het elkeen van sy knegte liefdevol na hom getrek om in ’n verhouding met hom te kom. Jesus het gesê: “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie” (Joh. 6:44). Uit al die miljarde mense op aarde het Jehovah ’n persoonlike uitnodiging aan ons gerig om vandag deel van sy gemeente te wees. Die beste besluit wat ons nog geneem het, was om hierdie uitnodiging te aanvaar. Dit het ons lewe ’n doel en betekenis gegee. En watter vreugde en tevredenheid ondervind ons tog omdat ons ’n plek in die gemeente het!

17 “Jehovah, ek het die woning van u huis liefgehad”, het die psalmis gesê. Hy het ook gesing: “My voet sal beslis op ’n gelykte staan; onder die versamelde menigtes sal ek Jehovah loof” (Ps. 26:8, 12). Die ware God het ’n plek vir elkeen van ons in sy organisasie. Deur aan te hou om teokratiese leiding te volg en deur besig te bly in God se diens, kan ons ons kosbare plek in Jehovah se reëling behou.

Onthou jy?

• Waarom is dit redelik om tot die slotsom te kom dat alle Christene ’n plek in die gemeente het?

• Hoe toon ons dat ons ons plek in God se organisasie waardeer?

• Watter faktore kan ’n uitwerking op ons plek in die gemeente hê?

• Hoe kan Christenjongmense en -volwassenes toon dat hulle hulle plek in God se reëling waardeer?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 16]

Hoe kan broers na voorregte in die gemeente streef?

[Prent op bladsy 17]

Hoe kan susters toon dat hulle hulle plek in die gemeente waardeer?