Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel bereik die Groot Rooi Eiland

Die Bybel bereik die Groot Rooi Eiland

Die Bybel bereik die Groot Rooi Eiland

MADAGASKAR, wat die vierde grootste eiland op aarde is, is ongeveer 400 kilometer van die suidooskus van Afrika geleë. Die mense van Madagaskar is lank reeds bekend met die naam Jehovah, aangesien Malgassiese vertalings van die Bybel waarin God se naam verskyn, al meer as 170 jaar lank beskikbaar is. Hoe die Malgassiese vertaling die lig gesien het, is ’n verhaal van volharding en toegewydheid.

Pogings om die Bybel in Malgassies te vertaal, het oorspronklik op die nabygeleë eiland Mauritius begin. Reeds in 1813 het sir Robert Farquhar, die Britse goewerneur van Mauritius, die vertaling van die Evangelies in Malgassies aan die gang gesit. Hy het Radama I, die koning van Madagaskar, later aangespoor om onderwysers van die Londense Sendinggenootskap (LMS) te nooi na die Groot Rooi Eiland, soos Madagaskar dikwels genoem word.

Op 18 Augustus 1818 het twee Walliese sendelinge, David Jones en Thomas Bevan, van Mauritius af in die hawestad Toamasina aangekom. Daar het hulle ’n gemeenskap van uiters godsdienstige mense aangetref, onder wie vooroueraanbidding en mondelinge tradisies ’n belangrike deel van hulle daaglikse lewe uitgemaak het. Die Malgasse het ’n kleurryke taal gepraat wat hoofsaaklik van Maleis-Polinesiese oorsprong is.

Kort nadat Jones en Bevan ’n skooltjie geopen het, het hulle hulle vrouens en kinders van Mauritius na Toamasina gebring. Maar ongelukkig het die hele groep malaria opgedoen, en in Desember 1818 is Jones se vrou en kind oorlede. Twee maande later het die siekte die Bevan-gesin uitgewis. David Jones was die enigste oorlewende van die groep.

Jones het nie toegelaat dat tragedie hom afskrik nie. Hy was vasbeslote om God se Woord beskikbaar te stel aan die mense van Madagaskar. Nadat Jones teruggetrek het na Mauritius om daar te gaan herstel, het hy die moeilike taak aangepak om Malgassies te leer. Kort daarna het hy voorbereidingswerk aan die vertaling van Johannes se Evangelie begin doen.

In Oktober 1820 het Jones na Madagaskar teruggekeer. Hy het in die hoofstad, Antananarivo, aangekom en kort daarna ’n nuwe sendingskool begin. Toestande was primitief. Daar was nie handboeke, ’n swartbord of lessenaars beskikbaar nie. Maar die kurrikulum was uitstekend, en die kinders was gretig om te leer.

Nadat Jones omtrent sewe maande alleen gewerk het, het hy ’n nuwe maat gekry om Bevan te vervang, ’n sendeling met die naam David Griffiths. Dié twee het hulle onvermoeid daarop toegespits om die Bybel in Malgassies te vertaal.

Vertaling kom op dreef

In die vroeë 1820’s was die enigste geskrewe vorm van Malgassies sorabe—Malgassiese woorde wat met Arabiese karakters geskryf is. Net ’n handjie vol mense kon dit lees. Nadat die sendelinge koning Radama I gaan spreek het, het die koning dus toestemming gegee dat die Romeinse alfabet in plaas van sorabe gebruik kan word.

Op 10 September 1823 het vertaling begin. Jones het aan Genesis en Matteus gewerk, terwyl Griffiths aan Eksodus en Lukas gewerk het. Albei mans het ongelooflike stamina gehad. Hulle het nie net die meeste van die vertaling self gedoen nie, maar boonop soggens en smiddae skoolgehou. Hulle het ook kerkdienste in drie verskillende tale voorberei en gehou. Vertaling het nietemin voorkeur bo enigiets anders geniet.

Met die hulp van 12 studente het die twee sendelinge die hele Griekse Geskrifte en baie boeke van die Hebreeuse Geskrifte in net 18 maande vertaal. Die volgende jaar is ’n voorlopige vertaling van die hele Bybel voltooi. Verbeteringe en verfynings was natuurlik nodig. Daarom is twee taalkundiges, David Johns en Joseph Freeman, uit Engeland gestuur om te help.

Terugslae

Toe die Malgassiese vertaling voltooi is, het die LMS Charles Hovenden gestuur om Madagaskar se eerste drukpers op te stel. Hovenden het op 21 November 1826 daar aangekom. Hy het egter malaria opgedoen en binne ’n maand ná sy aankoms gesterf, wat beteken het dat daar nou niemand was wat geweet het hoe die pers werk nie. Die volgende jaar het ’n ervare vakman uit Skotland, James Cameron, daarin geslaag om die pers aanmekaar te sit met behulp van ’n handboek wat tussen die masjinerie gevind is. Ná baie probeerslae het Cameron dit reggekry om op 4 Desember 1827 ’n deel van Genesis hoofstuk 1 te druk. a

Nog ’n terugslag het gevolg toe Radama I op 27 Julie 1828 gesterf het. Koning Radama het sy volle steun aan die vertaalprojek gegee. David Jones het op daardie tyd gesê: “Koning Radama is besonder goedhartig en vriendelik. Hy is ’n groot voorstander van opvoeding en ag die onderrigting van sy volk in die fynere punte van die beskawing van groter waarde as goud en silwer.” Maar die koning is deur sy vrou, Ranavalona I, opgevolg, en dit het gou duidelik geword dat sy nie die werk so goed soos haar man sou ondersteun nie.

Kort nadat die koningin die troon bestyg het, het ’n besoeker uit Engeland gevra of hy die vertaalwerk met haar kon bespreek. Sy versoek is geweier. By ’n ander geleentheid, toe die sendelinge vir die koningin vertel het dat hulle nog baie dinge gehad het om die volk te leer, onder andere Grieks en Hebreeus, het sy gesê: “Ek stel nie veel belang in Grieks en Hebreeus nie, maar ek wil graag weet of julle my volk iets nuttigers kan leer, soos hoe om seep te maak.” Cameron het besef dat hulle dalk gedwing sal word om die eiland te verlaat voordat die Malgassiese Bybel voltooi is en het gevra of hy ’n week lank oor die koningin se versoek kon dink.

Die volgende week het Cameron twee klein koekies seep, wat van plaaslike materiale gemaak is, vir die koningin se koninklike boodskappers gegee. Dit en ander openbare werke wat die sendelingvakmanne verrig het, het die koningin lank genoeg tevrede gestel sodat hulle amper al die boeke van die Hebreeuse Geskrifte klaar kon druk.

’n Verrassing, toe teleurstelling

Ten spyte van die koningin se aanvanklike negatiewe reaksie teenoor die sendelinge het sy in Mei 1831 ’n verrassende bevel uitgevaardig. Sy sou toelaat dat haar onderdane as Christene gedoop word! Maar die besluit was van korte duur. Volgens A History of Madagascar het “die aantal mense wat gedoop is, die konserwatiewe elemente aan die koninklike hof geskok, en hulle het die koningin oortuig dat die Nagmaaldiens neergekom het op ’n eed van getrouheid aan die Britte”. Gevolglik is toestemming dat mense as Christene gedoop mag word, teen die einde van 1831 herroep, net ses maande nadat dit toegestaan is.

Die koningin se besluiteloosheid, tesame met die duidelik toenemende invloed van tradisionaliste in die regering, het die sendelinge aangespoor om die Bybel klaar te druk. Die Christelike Griekse Geskrifte was reeds voltooi en duisende eksemplare was in omloop. Maar nog ’n struikelblok het op 1 Maart 1835 gevolg toe koningin Ranavalona I die Christelike godsdiens onwettig verklaar het en beveel het dat alle Christelike boeke aan die owerheid oorhandig moet word.

Die koningin se bevel het ook beteken dat die Malgassiese vakleerlinge nie meer die drukwerk kon doen nie. Daar was dus slegs ’n handjie vol sendelinge wat die werk kon voltooi, en hulle het dag en nag gewerk totdat die hele Bybel uiteindelik in Junie 1835 vrygestel is. Ja, die Malgassiese Bybel het sy verskyning gemaak!

Aangesien die verbod van krag was, is die Bybels gou versprei, en 70 eksemplare van die Skrif is begrawe sodat dit nie vernietig sou word nie. Dit is net betyds gedoen, want binne ’n jaar sou almal behalwe twee sendelinge die eiland verlaat. Maar die woord van God het oor die Groot Rooi Eiland versprei.

Die Malgasse se liefde vir die Bybel

Wat ’n vreugde was dit tog vir die mense van Madagaskar om God se Woord in hulle eie taal te kan lees! Die vertaling bevat onjuisthede, en die taal is nou taamlik verouderd. Nietemin sal ’n mens selde ’n huis sonder ’n Bybel vind, en baie Malgasse lees dit gereeld. Iets merkwaardigs omtrent hierdie vertaling is die oorvloedige gebruik van God se naam, Jehovah, regdeur die Hebreeuse Geskrifte. In die oorspronklike eksemplare word die goddelike naam ook in die Griekse Geskrifte gevind. Gevolglik is die meeste Malgasse bekend met God se naam.

Ja, toe die eerste eksemplare van die Griekse Geskrifte van sy pers afgerol het, het die persoperateur, mnr. Baker, die vreugde van die Malgasse gesien en gesê: “Ek wil nou nie profeteer nie, maar ek kan nie dink dat God se woord ooit uit hierdie land uitgewis sal word nie!” Sy woorde is bewaarheid. Nie malaria of die uitdaging om ’n moeilike taal aan te leer of die ongunstige bevele van ’n heerser kon keer dat God se Woord in Madagaskar beskikbaar word nie.

Die situasie het nou selfs verder verbeter. Hoe so? In 2008 is die volledige Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in Malgassies vrygestel. Hierdie vertaling verteenwoordig ’n groot stap vorentoe omdat dit moderne, maklik verstaanbare taal gebruik. God se Woord is dus nou selfs stewiger gevestig op die Groot Rooi Eiland.—Jes. 40:8.

[Voetnoot]

a Die Tien Gebooie en die Onse Vader, wat omstreeks April/Mei 1826 in Mauritius gedruk is, was die heel eerste dele van die Bybel wat in Malgassies gedruk is. Eksemplare daarvan is egter net aan koning Radama se familie en party regeringsamptenare gegee.

[Prent op bladsy 31]

Die “Nuwe Wêreld-vertaling” in Malgassies vereer God se naam, Jehovah