Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wees ’n ware volgeling van Christus

Wees ’n ware volgeling van Christus

Wees ’n ware volgeling van Christus

“Elke goeie boom [bring] goeie vrugte voort, maar elke slegte boom bring waardelose vrugte voort.”—MATT. 7:17.

1, 2. Hoe word Christus se ware volgelinge van valse volgelinge onderskei, veral gedurende hierdie tyd van die einde?

 JESUS het gesê dat dié wat valslik beweer dat hulle hom dien, van sy ware volgelinge onderskei sou word deur hulle vrugte—hulle leringe en hulle gedrag (Matt. 7:15-17, 20). Ja, mense word uiteraard beïnvloed deur wat hulle in hulle verstand en hart inneem (Matt. 15:18, 19). Dié wat met leuens gevoed word, bring “waardelose vrugte” voort, terwyl dié wat geestelike waarheid geleer word, “goeie vrugte” voortbring.

2 Die twee soorte vrugte kan gedurende hierdie tyd van die einde duidelik gesien word. (Lees Daniël 12:3, 10.) Valse Christene het ’n verwronge beskouing van God en het dikwels ’n huigelagtige vorm van godvrugtige toegewydheid, terwyl dié wat geestelike insig het, God “met gees en waarheid” aanbid (Joh. 4:24; 2 Tim. 3:1-5). Hulle streef daarna om Christelike eienskappe aan die dag te lê. Maar wat van ons as individue? Terwyl jy die volgende vyf kenmerke van die ware Christelike geloof ondersoek, kan jy jou afvra: ‘Is dit duidelik dat my gedrag en wat ek ander leer, in ooreenstemming met God se Woord is? Maak ek die waarheid aantreklik vir dié wat daarna soek?’

Lewe in ooreenstemming met God se Woord

3. Wat behaag Jehovah, en wat behels dit vir ware Christene?

3 “Nie elkeen wat vir my sê: ‘Here, Here’, sal in die koninkryk van die hemele ingaan nie”, het Jesus gesê, “maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Matt. 7:21). Ja, wat Jehovah behaag, is nie dat ’n mens bely dat hy die Christelike geloof aanhang nie, maar dat hy dit beoefen. Vir Christus se ware volgelinge behels dit hulle hele lewenswyse, onder andere hulle gesindheid teenoor geld, sekulêre werk, vermaak, wêreldse gebruike en vierings asook die huwelik en ander menseverhoudings. Valse Christene, daarenteen, neem die denke en weë van die wêreld aan, ’n wêreld wat gedurende hierdie laaste dae al hoe goddeloser word.—Ps. 92:7.

4, 5. Hoe kan ons Jehovah se woorde in Maleagi 3:18 in ons lewe toepas?

4 Die profeet Maleagi het ook geskryf: “Julle sal beslis weer die onderskeid sien tussen ’n regverdige en ’n goddelose, tussen iemand wat God dien en iemand wat hom nie gedien het nie” (Mal. 3:18). Terwyl jy oor hierdie woorde nadink, kan jy jou afvra: ‘Pas ek in by die wêreld, of is ek opvallend anders? Probeer ek altyd inpas by wêreldse persone, soos by die skool of by die werk, of bly ek getrou by Bybelbeginsels en verdedig ek dit selfs wanneer gepas?’ (Lees 1 Petrus 3:16.) Ons wil natuurlik nie eiegeregtig voorkom nie, maar ons moet opvallend anders wees as diegene wat Jehovah nie liefhet en hom nie dien nie.

5 As jy ruimte vir verbetering sien, kan jy gerus oor die saak bid en geestelike krag put uit gereelde Bybelstudie, gebed en vergaderingbywoning. Hoe meer God se Woord deel van jou word, hoe meer sal jy “goeie vrugte” voortbring, waaronder “die vrug van die lippe wat [God se] naam in die openbaar bekend maak”.—Heb. 13:15.

Verkondig God se Koninkryk

6, 7. Watter kontras kan gesien word tussen ware en valse Christene wat die Koninkryksboodskap betref?

6 Jesus het gesê: “Ook aan ander stede moet ek die goeie nuus van die koninkryk van God bekend maak, want hiervoor is ek uitgestuur” (Luk. 4:43). Waarom het Jesus God se Koninkryk die hooftema van sy bediening gemaak? Hy het geweet dat hy as Koning van daardie Koninkryk, saam met sy verrese geesverwekte broers, ’n einde sou maak aan die vernaamste oorsake van die mensdom se ellendes—sonde en die Duiwel (Rom. 5:12; Op. 20:10). Daarom het hy sy volgelinge die opdrag gegee om daardie Koninkryk tot aan die einde van die teenswoordige stelsel van dinge te verkondig (Matt. 24:14). Mense wat bloot beweer dat hulle volgelinge van Christus is, neem nie deel aan hierdie werk nie—trouens, hulle kan nie. Waarom nie? Om ten minste drie redes: Eerstens, hulle kan nie verkondig wat hulle nie verstaan nie. Tweedens, die meeste van hulle het nie die nodige nederigheid en moed om die bespotting en teenstand te verduur wat kan ontstaan wanneer hulle ander mense van die Koninkryksboodskap vertel nie (Matt. 24:9; 1 Pet. 2:23). En derdens, valse Christene het nie God se gees nie.—Joh. 14:16, 17.

7 Christus se ware volgelinge verstaan daarenteen wat God se Koninkryk is en wat dit tot stand gaan bring. Daarbenewens stel hulle die belange van daardie Koninkryk eerste in hulle lewe en verkondig hulle dit wêreldwyd, met behulp van Jehovah se gees (Sag. 4:6). Neem jy gereeld deel aan hierdie werk? Probeer jy om te verbeter as ’n Koninkryksverkondiger, dalk deur meer tyd aan die bediening te wy of bekwamer daarin te word? Party probeer die gehalte van hulle bediening verbeter deur die Bybel meer te gebruik. “Die woord van God is lewend en oefen krag uit”, het die apostel Paulus geskryf, wat ’n gewoonte daarvan gemaak het om uit die Skrif te redeneer.—Heb. 4:12; Hand. 17:2, 3.

8, 9. (a) Watter ondervindinge beklemtoon die waarde daarvan om die Bybel in ons bediening te gebruik? (b) Hoe kan ons meer bedrewe daarin word om God se Woord te gebruik?

8 ’n Broer het tydens die huis-tot-huis-werk vir ’n Katolieke man Daniël 2:44 gelees en verduidelik hoe God se Koninkryk ware vrede en veiligheid sal teweegbring. Die man het geantwoord: “Ek waardeer dit regtig dat jy die Bybel oopgemaak het en vir my gewys het wat dit sê in plaas van dit net aan te haal.” Toe ’n broer ’n teks vir ’n Grieks-Ortodokse vrou gelees het, het sy ’n paar goeie vrae gevra. Ook in hierdie geval het die broer en sy vrou die vrae uit die Bybel beantwoord. Later het die vrou gesê: “Weet julle waarom ek bereid was om met julle te praat? Julle het na my deur toe gekom met die Bybel, en julle het daaruit gelees.”

9 Ons lektuur is natuurlik belangrik en moet in die veld aangebied word. Maar die Bybel is ons vernaamste hulpmiddel. As jy nie in die gewoonte is om dit gereeld in jou bediening te gebruik nie, kan jy jou dus ten doel stel om dit te doen. Jy kan moontlik ’n paar sleuteltekste kies wat verduidelik wat God se Koninkryk is en hoe dit spesifieke probleme waaroor mense in jou omgewing besorg is, uit die weg sal ruim. Wees dan gereed om hierdie tekste te lees wanneer jy van huis tot huis getuig.

Dra God se naam met trots

10, 11. Watter verskil is daar tussen Jesus en baie wat beweer dat hulle hom volg, wanneer dit by die gebruik van God se naam kom?

10 “‘Julle is my getuies’, sê Jehovah, ‘en ek is God’” (Jes. 43:12). Jehovah se vernaamste Getuie, Jesus Christus, het dit as ’n eer beskou om God se naam te dra en dit bekend te maak. (Lees Eksodus 3:15; Johannes 17:6; Hebreërs 2:12.) Trouens, omdat Jesus sy Vader se naam verkondig het, is hy “die Getroue Getuie” genoem.—Op. 1:5; Matt. 6:9.

11 In teenstelling hiermee het baie wat beweer dat hulle God en sy Seun verteenwoordig, ’n skandelike gesindheid teenoor God se naam geopenbaar deur dit selfs uit hulle vertalings van die Bybel te verwyder. ’n Soortgelyke gees is geopenbaar in ’n onlangse opdrag aan Katolieke biskoppe wat gesê het dat “die naam van God in die vorm van die tetragrammaton JHWH nie [gedurende aanbidding] gebruik of uitgespreek moet word nie”. a Hoe laakbaar is sulke denke tog!

12. Hoe het Jehovah se knegte in 1931 hulle verbintenis met Jehovah selfs duideliker gemaak?

12 In navolging van Christus sowel as die groot “wolk van getuies” wat hom voorafgegaan het, gebruik ware Christene God se naam met trots (Heb. 12:1). Trouens, in die jaar 1931 het God se knegte hulle verbintenis met Jehovah selfs duideliker gemaak deur die naam Jehovah se Getuies aan te neem. (Lees Jesaja 43:10-12.) Sodoende het Christus se ware volgelinge in ’n baie spesiale sin “’n volk vir [God se] naam” geword.—Hand. 15:14, 17.

13. Hoe kan ons ons godgegewe naam hooghou?

13 Hoe kan ons persoonlik ons unieke naam hooghou? Om maar een ding te noem, ons moet getrou van God getuig. “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word”, het Paulus geskryf. “Maar hoe sal hulle hom aanroep in wie hulle nie geloof gestel het nie? En hoe sal hulle geloof stel in hom van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe sal hulle hoor sonder dat iemand preek? En hoe sal hulle preek tensy hulle uitgestuur is?” (Rom. 10:13-15). Ons moet ook godsdiensleuens wat ons Skepper oneer aandoen, taktvol blootlê, soos die leerstelling oor die helse vuur, wat in werklikheid die Duiwel se wrede karaktertrekke aan die God van liefde toeskryf.—Jer. 7:31; 1 Joh. 4:8; vergelyk Markus 9:17-27.

14. Hoe het party gereageer toe hulle uitgevind het dat God ’n persoonlike naam het?

14 Is jy trots daarop dat jy die naam van jou hemelse Vader dra? Help jy ander om daardie heilige naam te leer ken? ’n Vrou in Parys, Frankryk, het gehoor dat Jehovah se Getuies weet wat God se naam is. Sy het toe die volgende Getuie wat sy teëgekom het, gevra om vir haar daardie naam in haar Bybel te wys. Toe sy Psalm 83:18 lees, het dit haar diep getref. Sy het die Bybel begin studeer en is nou ’n getroue suster wat in ’n ander land dien. Toe ’n Katolieke vrou wat in Australië woon God se naam vir die eerste keer in die Bybel sien, het sy trane van vreugde gestort. Sy dien nou al jare lank as ’n gewone pionier. In onlangser tye, toe Getuies in Jamaika vir ’n vrou God se naam in haar eie Bybel wys, het sy ook trane van vreugde gestort. Wees dus trots daarop dat jy God se naam dra en, in navolging van Jesus, daardie kosbare naam aan almal bekend maak.

“Moenie die wêreld . . . liefhê nie”

15, 16. Hoe beskou ware Christene die wêreld, en watter vrae moet ons ons afvra?

15 “Moenie die wêreld of die dinge in die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die liefde vir die Vader nie in hom nie” (1 Joh. 2:15). Die wêreld en sy vleeslike gees is in stryd met Jehovah en sy heilige gees. Gevolglik is dit vir Christus se ware volgelinge nie genoeg om bloot geen deel van die wêreld te wees nie. Hulle verwerp dit met hulle hele hart, in die wete dat “vriendskap met die wêreld vyandskap met God is”, soos die dissipel Jakobus geskryf het.—Jak. 4:4.

16 Dit kan ’n uitdaging wees om volgens Jakobus se woorde te lewe in ’n wêreld wat tallose versoekings bied (2 Tim. 4:10). Jesus het dus ten behoewe van sy volgelinge gebid: “Ek versoek u nie om hulle uit die wêreld weg te neem nie, maar om oor hulle te waak weens die bose. Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie” (Joh. 17:15, 16). Vra jou af: ‘Streef ek daarna om geen deel van die wêreld te wees nie? Weet ander wat my standpunt is in verband met onskriftuurlike vierings en gebruike sowel as dié wat dalk nie ’n heidense oorsprong het nie, maar wat die gees van die wêreld duidelik weerspieël?’—2 Kor. 6:17; 1 Pet. 4:3, 4.

17. Wat sal opregtes van hart dalk beweeg om hulle aan Jehovah se kant te skaar?

17 Ons Bybelse standpunt sal ons weliswaar nie die wêreld se guns laat wen nie, maar dit kan opregtes van hart se nuuskierigheid prikkel. Trouens, wanneer sulke persone sien dat ons geloof stewig gegrond is op die Skrif en dat ons hele lewe daarom draai, sal hulle dalk as ’t ware vir die gesalfdes sê: “Ons sal saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is.”—Sag. 8:23.

Betoon ware Christelike liefde

18. Wat behels dit om liefde teenoor Jehovah en ons naaste te betoon?

18 Jesus het gesê: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” en “jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matt. 22:37, 39). Hierdie liefde (a·gaʹpe in Grieks) is ’n morele liefde wat plig, beginsel en gepaste gedrag in ag neem, maar dit sluit dikwels sterk emosie in. Dit kan hartlik en intens wees (1 Pet. 1:22). Dit is presies die teenoorgestelde van selfsug, want dit word weerspieël in onselfsugtige woorde en dade.—Lees 1 Korintiërs 13:4-7.

19, 20. Vertel ’n paar ondervindinge wat die krag van Christelike liefde toon.

19 Omdat liefde ’n produk van God se heilige gees is, stel dit ware Christene in staat om te doen wat ander nie kan doen nie, soos om rasse-, kulturele en politieke skeidsmure te bowe te kom. (Lees Johannes 13:34, 35; Gal. 5:22.) Skaapgeaardes kan nie anders nie as om diep getref te word wanneer hulle sulke liefde sien. Toe ’n jong Joodse man in Israel byvoorbeeld sy eerste Christelike vergadering bygewoon het, was hy verbaas om te sien dat Joodse en Arabiese broers Jehovah sy aan sy aanbid. Gevolglik het hy vergaderinge gereeld begin bywoon en ’n Bybelstudie aanvaar. Betoon jy sulke opregte liefde teenoor jou broers? En lê jy jou daarop toe om nuwelinge by die Koninkryksaal hartlik te verwelkom, ongeag hulle nasionaliteit, velkleur of sosiale status?

20 As ware Christene streef ons daarna om liefde aan almal te betoon. In El Salvador het ’n jong verkondiger ’n Bybelstudie gehou met ’n 87-jarige Katolieke vrou wat baie lief was vir haar kerk. Eendag het die vrou ernstig siek geword en is sy in die hospitaal opgeneem. Toe sy terug by die huis was, het die Getuies haar besoek en seker gemaak dat sy kos het. Hulle het dit omtrent ’n maand lank gedoen. Niemand van die vrou se kerk het vir haar kom kuier nie. Die gevolg? Sy het van haar beelde ontslae geraak, uit haar kerk bedank en haar Bybelstudie hervat. Ja, Christelike liefde het krag! Dit kan harte bereik op maniere wat die gesproke woord nie kan nie.

21. Hoe kan ons ons toekoms verseker?

21 Jesus sal binnekort vir almal wat valslik beweer dat hulle hom dien, sê: “Ek het julle nooit geken nie! Gaan weg van my af, julle werkers van wetteloosheid” (Matt. 7:23). Laat ons dus vrugte voortbring wat die Vader sowel as die Seun tot eer strek. “Elkeen wat hierdie woorde van my hoor en dit doen”, het Jesus gesê, “[sal] vergelyk word met ’n verstandige man, wat sy huis op die rots gebou het” (Matt. 7:24). Ja, as ons bewys dat ons ware volgelinge van Christus is, sal ons God se guns ontvang, en ons toekoms sal verseker wees, asof dit op rots gebou is!

[Voetnoot]

a Party moderne Katolieke publikasies in Engels, insluitende The Jerusalem Bible, gee die tetragrammaton weer as “Yahweh”.

Onthou jy?

• Hoe word Christus se ware volgelinge van valse volgelinge onderskei?

• Noem party van die “vrugte” wat ware Christene identifiseer.

• Watter doelwitte kan jy stel om jou te help om Christelike vrugte voort te bring?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 13]

Is dit jou gewoonte om die Bybel gereeld in jou bediening te gebruik?

[Prent op bladsy 15]

Weet ander wat jou standpunt in verband met onskriftuurlike vierings is?