Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Beskou jy Jehovah as jou Vader?

Beskou jy Jehovah as jou Vader?

Beskou jy Jehovah as jou Vader?

“HERE, leer ons hoe om te bid.” Toe een van sy dissipels hierdie versoek gerig het, het Jesus geantwoord: “Wanneer julle bid, sê: ‘Vader, laat u naam geheilig word’” (Luk. 11:1, 2). Jesus kon na Jehovah verwys het deur indrukwekkende titels te gebruik soos “die Almagtige”, die “Grootse Onderrigter”, “die Skepper”, “die Oue van Dae” en “die Koning van die ewigheid” (Gen. 49:25; Jes. 30:20; 40:28; Dan. 7:9; 1 Tim. 1:17). Maar Jesus het die term “Vader” gekies. Waarom? Moontlik omdat hy wou hê dat ons die hoogste Persoon in die heelal moet nader soos ’n nederige kind ’n liefdevolle vader nader.

Party vind dit egter moeilik om aan God te dink as hulle Vader. ’n Christen met die naam Atsuko a erken: “Jare nadat ek gedoop is, was dit nog vir my moeilik om nader aan Jehovah te kom en tot hom te bid soos tot ’n Vader.” Sy gee ’n rede waarom sy hiermee gesukkel het en sê: “Ek kan nie aan ’n enkele keer dink dat my biologiese pa aan my liefde betoon het nie.”

In hierdie kritieke laaste dae is daar ’n groot gebrek aan die “natuurlike geneentheid” wat ’n mens sou verwag om van ’n vader te ontvang (2 Tim. 3:1, 3). Dit is dus nie ongewoon dat mense soos Atsuko voel nie. Maar ons kan moed skep omdat ons grondige redes het om Jehovah as ons liefdevolle Vader te beskou.

Jehovah—’n Liefdevolle Voorsiener

As ons Jehovah as ons Vader wil beskou, moet ons hom goed leer ken. “Niemand ken die Seun ten volle nie, behalwe die Vader”, het Jesus gesê, “en ook ken niemand die Vader ten volle nie, behalwe die Seun en enigeen aan wie die Seun bereid is om hom te openbaar” (Matt. 11:27). ’n Uitstekende manier om uit te vind watter soort Vader Jehovah is, is om te peins oor wat Jesus omtrent die ware God geopenbaar het. Wat het Jesus dan oor die Vader bekend gemaak?

Jesus het erken dat Jehovah die Bron van sy lewe is en gesê dat hy “weens die Vader lewe” (Joh. 6:57). Ook ons het ons bestaan aan die Vader te danke (Ps. 36:9; Hand. 17:28). Wat het Jehovah beweeg om lewe aan ander te gee? Was dit nie liefde nie? Vir hierdie gawe moet ons op ons beurt beslis ons hemelse Vader se liefde beantwoord.

Die grootste blyk van God se liefde vir die mensdom was sy voorsiening van Jesus se losprysoffer. Hierdie daad van liefde maak dit vir sondige mense moontlik om ’n hegte verhouding met Jehovah te hê deur middel van sy geliefde Seun (Rom. 5:12; 1 Joh. 4:9, 10). En omdat ons hemelse Vader die Vervuller van sy beloftes is, kan ons seker wees dat almal wat hom liefhet en gehoorsaam, uiteindelik “die glorieryke vryheid van die kinders van God” sal geniet.—Rom. 8:21.

Ons hemelse Vader laat ook daagliks ‘sy son oor ons opgaan’ (Matt. 5:45). Ons dink heel moontlik nie dat dit nodig is om te bid dat die son moet opkom nie. Maar ons het die warm strale daarvan nodig, en dit is iets wat ons werklik geniet! Wat meer is, ons Vader is die weergalose Voorsiener, wat weet wat ons materiële behoeftes is nog voordat ons hom vra. Moet ons dan nie die tyd neem om met waardering te kyk en te peins oor hoe ons hemelse Vader vir sy skepping sorg nie?—Matt. 6:8, 26.

Ons Vader—Die “tere beskermer”

Jesaja se profesie het God se eertydse volk verseker: “Die berge sal verwyder word en die heuwels sal wankel, maar my vriendskap sal nooit van jou verwyder word en my vredesverbond sal nooit wankel nie, sê jou tere beskermer Jehovah” (Jes. 54:10, The Bible in Living English). Hierdie punt is bevestig toe Jesus in sy gebed op die laaste aand van sy aardse lewe getoon het dat Jehovah inderdaad ’n “tere beskermer” is. Jesus het aangaande sy dissipels gebid: “Hulle is in die wêreld en ek kom na u toe. Heilige Vader, waak oor hulle weens u naam” (Joh. 17:11, 14). Jehovah het oor Jesus se volgelinge gewaak en hulle beskerm.

Een manier waarop God ons vandag teen Satan se liste beskerm, is deur tydige geestelike voedsel deur middel van “die getroue en verstandige slaaf” te voorsien (Matt. 24:45). Dit is noodsaaklik dat ons hierdie versterkende voedsel inneem as ons “die volle wapenrusting van God” wil aantrek. Dink byvoorbeeld aan “die groot skild van geloof” waarmee ons “al die brandende pyle van die bose sal kan blus” (Ef. 6:11, 16). Die geloof wat ons beoefen, beskerm ons teen geestelike skade en is ’n bewys van ons Vader se beskermende krag.

Ons kan verdere insig in die teerheid van ons hemelse Vader verkry as ons noukeurig let op hoe die Seun van God opgetree het toe hy op die aarde was. Kyk na die verslag wat in Markus 10:13-16 opgeteken staan. Daar word Jesus se woorde aan sy dissipels soos volg aangehaal: “Laat die jong kinders na my toe kom.” Toe daardie kindertjies om Jesus versamel het, het hy hulle teer omhels en hulle geseën. Hoe moes hulle gesigte tog van vreugde gestraal het! En aangesien Jesus gesê het: “Hy wat my gesien het, het ook die Vader gesien”, weet ons dat die ware God wil hê dat ons na hom toe moet kom.—Joh. 14:9.

Jehovah God is die onbeperkte Bron van liefde. Hy is die weergalose Voorsiener en die onvergelyklike Beskermer, wat wil hê dat ons nader aan hom moet kom (Jak. 4:8). Jehovah is dus sonder enige twyfel die beste Vader denkbaar!

Ons vind grootliks baat!

Ons vind grootliks daarby baat wanneer ons ons vertroue in Jehovah stel as ons liefdevolle en tere hemelse Vader (Spr. 3:5, 6). Jesus het daarby baat gevind om sy Vader ten volle te vertrou. “Ek [is] nie alleen . . . nie”, het Christus vir sy dissipels gesê, “maar die Vader wat my gestuur het, [is] met my” (Joh. 8:16). Jesus was altyd seker van Jehovah se steun. By sy doop het hy byvoorbeeld liefdevolle versekering ontvang van die Vader, wat gesê het: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het” (Matt. 3:15-17). En net oomblikke voor sy dood het Jesus uitgeroep: “Vader, in u hande vertrou ek my gees toe” (Luk. 23:46). Jesus se vertroue in sy Vader was nog net so sterk soos altyd.

Dieselfde kan vir ons geld. Wat het ons om te vrees as Jehovah aan ons kant is? (Ps. 118:6). Atsuko, wat aan die begin genoem is, was gewoond daaraan om op haar eie krag te steun wanneer sy voor probleme te staan gekom het. Maar toe het sy ’n studie van Jesus se lewe en bediening gemaak en veral op sy hegte verhouding met sy hemelse Vader gekonsentreer. Die gevolg? “Ek het geleer wat dit beteken om ’n Vader te hê en op hom te vertrou”, sê Atsuko. Sy voeg by: “Ek het ware vrede en geluk ondervind. Ons het werklik geen rede om ons oor enigiets te bekommer nie.”

Hoe vind ons verder daarby baat om Jehovah as ons Vader te beskou? Kinders het gewoonlik hulle ouers lief en wil hulle behaag. Uit liefde het God se Seun ‘altyd die dinge gedoen wat sy Vader behaag’ (Joh. 8:29). Net so kan liefde vir ons hemelse Vader ons beweeg om verstandig op te tree en hom ‘in die openbaar te loof’.—Matt. 11:25; Joh. 5:19.

Ons Vader ‘gryp ons regterhand vas’

Ons hemelse Vader het ook ’n “helper”—sy heilige gees—voorsien. Dit sal “julle in die hele waarheid inlei”, het Jesus gesê (Joh. 14:15-17; 16:12, 13). God se heilige gees kan ons help om ’n beter begrip van ons Vader te verkry. Dit kan ons help om “sterk verskanste dinge”, dit wil sê vooropgesette menings, verkeerde idees of verwronge beskouings, omver te werp en sodoende “elke gedagte in gevangenskap [te bring] om dit aan die Christus gehoorsaam te maak” (2 Kor. 10:4, 5). Laat ons dus tot Jehovah bid vir die beloofde “helper”, vol vertroue dat “die Vader in die hemel heilige gees [sal] gee aan dié wat hom vra” (Luk. 11:13). Dit is ook gepas om te bid dat die heilige gees ons help om al hoe nader aan Jehovah te kom.

’n Jong kind voel veilig, geborge en onbevrees wanneer hy hand aan hand saam met sy vader stap. As jy Jehovah waarlik as jou Vader beskou, kan jy hierdie vertroostende woorde ter harte neem: “Ek, Jehovah jou God, gryp jou regterhand vas, ek wat vir jou sê: ‘Moenie bang wees nie. Ek sal jou help’” (Jes. 41:13). Jy kan die wonderlike voorreg hê om vir ewig met God te “wandel” (Miga 6:8). Hou aan om sy wil te doen, en jy sal die liefde, vreugde en gevoel van geborgenheid ervaar wat daaruit voortspruit wanneer ’n mens Jehovah as jou hemelse Vader beskou.

[Voetnoot]

a Naam is verander.