Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Die gees en die bruid hou aan om te sê: ‘Kom!’”

“Die gees en die bruid hou aan om te sê: ‘Kom!’”

“Die gees en die bruid hou aan om te sê: ‘Kom!’”

“Die gees en die bruid hou aan om te sê: ‘Kom!‘ . . . Laat enigeen wat dors is, kom; laat enigeen wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”—OP. 22:17.

1, 2. Watter plek moet Koninkryksbelange in ons lewe beklee, en waarom?

 WATTER plek moet Koninkryksbelange in ons lewe beklee? Jesus het sy volgelinge aangespoor om ‘aan te hou om eers die koninkryk te soek’ en het hulle verseker dat God aan hulle sal voorsien wat hulle nodig het as hulle dit doen (Matt. 6:25-33). Hy het die Koninkryk van God vergelyk met ’n pêrel wat so waardevol is dat ’n reisende koopman, toe hy dit gevind het, ‘alles verkoop het wat hy gehad het en dit gekoop het’ (Matt. 13:45, 46). Moet ons dan nie die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk as uiters belangrik beskou nie?

2 Soos ons in die vorige twee artikels gesien het, toon die feit dat ons met vrymoedigheid spreek en die Woord van God op vaardige wyse in die bediening gebruik, dat ons deur God se gees gelei word. Hierdie gees speel ook ’n belangrike rol in ons gereelde deelname aan die Koninkrykspredikingswerk. Kom ons kyk hoe.

’n Uitnodiging aan almal!

3. Na watter soort water word alle mense genooi om te “kom”?

3 ’n Uitnodiging word deur middel van heilige gees aan alle mense gerig. (Lees Openbaring 22:17.) Die uitnodiging is om te “kom” en jou dors te les met ’n baie spesiale soort water. Dit is nie gewone water wat uit twee dele waterstof en een deel suurstof bestaan nie. Hoewel letterlike water noodsaaklik is om lewe op aarde te onderhou, het Jesus ’n ander soort water in gedagte gehad toe hy vir ’n Samaritaanse vrou by ’n put gesê het: “Wie ook al van die water drink wat ek hom sal gee, sal nóóit dors word nie, maar die water wat ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein van water word wat opborrel om die ewige lewe te gee” (Joh. 4:14). Die buitengewone water wat mense genooi word om te drink, gee hulle die ewige lewe.

4. Hoe het die behoefte aan die water van die lewe ontstaan, en wat stel hierdie water voor?

4 Die behoefte aan hierdie water van die lewe het ontstaan toe die eerste mens, Adam, hom by sy vrou, Eva, geskaar het en ongehoorsaam was aan die een wat hulle geskep het—Jehovah God (Gen. 2:16, 17; 3:1-6). Die eerste mensepaar is uit hulle tuintuiste verdryf “sodat [Adam] nie sy hand uitsteek en werklik ook vrugte van die boom van die lewe neem en eet en tot onbepaalde tyd lewe nie” (Gen. 3:22). As voorvader van die mensdom het Adam gevolglik die dood aan die hele mensegeslag oorgedra (Rom. 5:12). Die water van die lewe stel al God se voorsienings voor om gehoorsame mense van sonde en die dood te red en om hulle eindelose volmaakte lewe in die Paradys op aarde te gee. Hierdie voorsienings is moontlik gemaak deur die losprysoffer van Jesus Christus.—Matt. 20:28; Joh. 3:16; 1 Joh. 4:9, 10.

5. Wie is die oorsprong van die uitnodiging om te kom en “die water van die lewe [te] neem, verniet”? Verduidelik.

5 Wie is die oorsprong van die uitnodiging om te kom en “die water van die lewe [te] neem, verniet”? Wanneer al die voorsienings vir die lewe gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy deur middel van Jesus ten volle aan die mensdom beskikbaar gestel word, word dit uitgebeeld as “’n rivier van water van die lewe . . . , helder soos kristal”. Daar word gesien dat hierdie rivier “uit die troon van God en van die Lam uitvloei” (Op. 22:1). Jehovah, die Lewegewer, is dus die Bron van die water wat lewegewende elemente bevat (Ps. 36:9). Hy is die Een wat hierdie water deur middel van “die Lam”, Jesus Christus, beskikbaar stel (Joh. 1:29). Hierdie simboliese rivier is die middel waardeur Jehovah al die skade ongedaan sal maak wat Adam se ongehoorsaamheid oor die mensdom gebring het. Ja, Jehovah God is die Oorsprong van die uitnodiging om te “kom”.

6. Wanneer begin die “rivier van water van die lewe” vloei?

6 Hoewel die “rivier van water van die lewe” gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus in die volste sin sal vloei, begin dit vloei in “die dag van die Here”, wat met die hemelse troonsbestyging van “die Lam” in 1914 aangebreek het (Op. 1:10). Gevolglik het sekere voorsienings vir die lewe daarna beskikbaar geword. Dit sluit God se Woord, die Bybel, in, want die boodskap daarin word ‘water’ genoem (Ef. 5:26). Die uitnodiging om “die water van die lewe [te] neem” deur na die goeie nuus van die Koninkryk te luister en daarop te reageer, word aan almal gerig. Maar wie doen die eintlike uitnodigingswerk gedurende die dag van die Here?

“Die bruid” sê: “Kom!”

7. Wie was die eerstes wat die uitnodiging om te “kom” gedurende “die dag van die Here” gerig het, en aan wie?

7 Die lede van die bruidsklas—die geesgesalfde Christene—is die eerstes wat die uitnodiging rig om te “kom”. Aan wie? Wel, die bruid nooi nie haarself om te “kom” nie. Haar woorde word gerig aan dié wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe nadat “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige” gevoer is.—Lees Openbaring 16:14, 16.

8. Wat toon dat gesalfde Christene Jehovah se uitnodiging al sedert 1918 rig?

8 Die gesalfde volgelinge van Christus rig die uitnodiging al sedert 1918. In daardie jaar het die openbare toespraak “Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie” die hoop voorgehou dat baie mense ná die slag van Armageddon die lewe op ’n paradysaarde sal beërf. ’n Toespraak wat in 1922 by die byeenkoms van die Bybelstudente in Cedar Point, Ohio, VSA, gehou is, het die gehoor aangespoor om ‘die Koning en sy koninkryk te adverteer’. Hierdie versoek het die oorblyfsel van die bruidsklas gehelp om meer mense met die uitnodiging te bereik. In 1929 het die artikel “Genadige uitnodiging” in The Watchtower van 15 Maart verskyn, wat Openbaring 22:17 as temateks gehad het. Die artikel het onder andere gesê: “Die getroue oorblyfselklas rig [saam met die Allerhoogste] die genadige uitnodiging en sê: ‘Kom.’ Hierdie boodskap moet verkondig word aan diegene wat regverdigheid en waarheid begeer. Dit moet nou gedoen word.” Die bruidsklas gaan vandag nog daarmee voort om hierdie uitnodiging te rig.

“Laat enigeen wat hoor, sê: ‘Kom!’”

9, 10. Hoe is dié wat die uitnodiging hoor, genooi om ook te sê: “Kom!”?

9 Wat van dié wat die uitnodiging hoor om te “kom”? Hulle word genooi om ook te sê: “Kom!” Byvoorbeeld, The Watchtower van 1 Augustus 1932 het op bladsy 232 gesê: “Laat die gesalfdes almal wat wil, aanspoor om die goeie nuus van die koninkryk te verkondig. Hulle hoef nie van die gesalfdes van die Heer te wees om die Heer se boodskap te verkondig nie. Dit is baie gerusstellend vir Jehovah se getuies om nou te weet dat hulle toegelaat word om die water van die lewe te gee aan ’n klas wat deur Armageddon bewaar kan word en die ewige lewe op aarde gegee kan word.”

10 The Watchtower van 15 Augustus 1934 het op bladsy 249 verwys na die toehoorder se verantwoordelikheid om te sê: “Kom!” en gesê: “Diegene van die Jonadab-klas moet saam met dié van die Jehu-groep, dit wil sê, die gesalfdes, gaan en die boodskap van die koninkryk verkondig, al is hulle nie die gesalfde getuies van Jehovah nie.” In 1935 is die identiteit van die “groot menigte” wat in Openbaring 7:9-17 genoem word, duidelik geopenbaar. Dit het groot momentum gegee aan die werk om God se uitnodiging aan mense te rig. Sedertdien het ’n toenemende groot menigte ware aanbidders—nou meer as sewemiljoen—op daardie uitnodiging gereageer. Hulle het die boodskap met waardering gehoor en het hulle aan God toegewy, is in water gedoop en het by die bruidsklas aangesluit om ander ywerig te nooi om ‘te kom en die water van die lewe te drink, verniet’.

“Die gees” sê: “Kom!”

11. Hoe was heilige gees in die eerste eeu HJ betrokke by die predikingswerk?

11 Toe Jesus in ’n sinagoge in Nasaret gepreek het, het hy die boekrol van die profeet Jesaja oopgemaak en gelees: “Jehovah se gees is op my, want hy het my gesalf om goeie nuus aan die armes bekend te maak, hy het my uitgestuur om ’n vrylating aan die gevangenes te verkondig en ’n herstel van gesig aan die blindes, om die verbryseldes in vryheid weg te stuur, om Jehovah se aanneemlike jaar te verkondig.” Toe het Jesus hierdie woorde op homself toegepas en gesê: “Vandag is hierdie Skrifgedeelte wat julle so pas gehoor het, vervul” (Luk. 4:17-21). Voordat hy na die hemel opgevaar het, het Jesus vir sy dissipels gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom, en julle sal getuies van my wees . . . tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Hand. 1:8). In die eerste eeu het die heilige gees ’n merkwaardige rol in die predikingswerk gespeel.

12. Hoe is God se gees daarby betrokke om die uitnodiging in ons dag te rig?

12 Hoe is God se heilige gees betrokke by die werk om die uitnodiging aan mense in ons dag te rig? Jehovah is die Bron van heilige gees. Hy gebruik die gees om die hart en verstand van die bruidsklas te open om sy Woord, die Bybel, te verstaan. Die gees spoor hulle aan om die uitnodiging te rig en Bybelwaarhede te verduidelik aan diegene wat die vooruitsig het om vir ewig in die Paradys op aarde te lewe. Wat van dié wat die uitnodiging aanvaar, dissipels van Jesus Christus word en dan die uitnodiging aan nóg ander rig? Die gees is ook in hulle geval werksaam. Omdat hulle ‘in die naam van die heilige gees’ gedoop is, werk hulle saam met die gees en vertrou hulle op die gees om hulle te help (Matt. 28:19). Dink ook aan die boodskap wat deur die gesalfdes en die toenemende groot menigte verkondig word. Dit kom uit die Bybel—die boek wat onder die direkte invloed van God se gees geskryf is. Die uitnodiging word dus deur middel van heilige gees gerig. Ons word in werklikheid deur hierdie gees gelei. Watter uitwerking behoort dit op ons deelname aan die uitnodigingswerk te hê?

Hulle “hou aan om te sê: ‘Kom!’”

13. Wat word aangedui deur die woorde “die gees en die bruid hou aan om te sê: ‘Kom!’”?

13 “Die gees en die bruid” sê nie net een maal “Kom!” nie. Die werkwoord wat in die oorspronklike taal hier gebruik word, dui op voortgesette aksie. Met die oog hierop sê die Nuwe Wêreld-vertaling: “Die gees en die bruid hou aan om te sê: ‘Kom!’” Dit toon dat God se uitnodiging gereeld aan mense gerig word. Wat van dié wat die uitnodiging hoor en dit aanvaar? Ook hulle sê: “Kom!” Daar word van die groot menigte ware aanbidders gesê dat hulle ‘dag en nag heilige diens in Jehovah se tempel verrig’ (Op. 7:9, 15). In watter sin dien hulle “dag en nag”? (Lees Lukas 2:36, 37; Handelinge 20:31; 2 Tessalonisense 3:8.) Die voorbeelde van die bejaarde profetes Anna en die apostel Paulus toon dat diens wat “dag en nag” verrig word, op standvastigheid en ywerige inspanning in die bediening dui.

14, 15. Hoe het Daniël getoon dat gereeldheid in aanbidding belangrik is?

14 Die profeet Daniël het ook getoon hoe belangrik gereeldheid in aanbidding is. (Lees Daniël 6:4-10, 16.) Hy het sy geestelike roetine—sy gewoonte om ‘drie keer per dag tot God te bid soos hy gereeld gedoen het’—nie eers een maand lank verander nie, al het dit beteken dat hy in ’n leeukuil gegooi sou word. Hoe duidelik het sy optrede tog vir waarnemers getoon dat niks belangriker is as die gereelde aanbidding van Jehovah nie!—Matt. 5:16.

15 Nadat Daniël ’n nag in die leeukuil deurgebring het, het die koning self daarheen gegaan en uitgeroep: “O Daniël, kneg van die lewende God, was jou God wat jy met standvastigheid dien, in staat om jou van die leeus te red?” Daniël het onmiddellik geantwoord: “O koning, bly lewe, ja, tot onbepaalde tye. My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus gesluit, en hulle het my geen leed aangedoen nie, aangesien daar voor hom onskuld in my gevind is; en ook voor u, o koning, het ek geen skadelike daad verrig nie.” Jehovah het Daniël geseën omdat hy Hom “met standvastigheid” gedien het.—Dan. 6:19-22.

16. Watter vrae moet Daniël se voorbeeld ons ons laat afvra oor ons deelname aan die bediening?

16 Daniël was bereid om eerder te sterf as om sy geestelike roetine te verwaarloos. Wat van ons? Watter opofferings maak ons of is ons bereid om te maak sodat ons die goeie nuus van God se Koninkryk met standvastigheid kan verkondig? Ons moenie toelaat dat ’n maand verbygaan sonder dat ons met ander oor Jehovah praat nie! Moet ons dan nie elke week, indien enigsins moontlik, aan die bediening probeer deelneem nie? Selfs al het ons ernstige fisiese beperkings en kan ons net 15 minute gedurende die maand getuig, moet ons dit rapporteer. Waarom? Omdat ons, tesame met die gees en die bruid, die begeerte het om aan te hou sê: “Kom!” Ja, ons wil alles in ons vermoë doen om gereelde Koninkryksverkondigers te bly.

17. Watter geleenthede om Jehovah se uitnodiging te rig, moet ons nie laat verbygaan nie?

17 Ons moet daarna streef om Jehovah se uitnodiging by elke geleentheid te rig, nie net op tye wat ons vir die openbare bediening opsygesit het nie. Wat ’n voorreg is dit tog om gedurende ander tye, soos wanneer ons inkopies doen, reis, vakansie hou, by die werk is of skool toe gaan, dié wat dors is, te nooi om ‘te kom en die water van die lewe te neem, verniet’! Selfs wanneer die owerheid die predikingswerk beperk, hou ons aan om op oordeelkundige wyse te preek—moontlik deur net ’n paar huise op ’n slag in ’n gebied te besoek of deur meer informele getuieniswerk te doen.

Hou aan om te sê: “Kom!”

18, 19. Hoe toon jy dat jy die voorreg waardeer om God se medewerker te wees?

18 Die gees en die bruid sê nou reeds meer as nege dekades lank: “Kom!” aan enigiemand wat dors na die water van die lewe. Het jy al hulle wonderlike uitnodiging gehoor? Dan word jy aangespoor om hierdie uitnodiging aan ander te rig.

19 Ons weet nie hoe lank Jehovah se liefdevolle uitnodiging nog gerig sal word nie, maar as ons daarop reageer deur te sê: “Kom!” word ons God se medewerkers (1 Kor. 3:6, 9). Wat ’n voorreg is dit tog! Mag ons toon dat ons hierdie voorreg waardeer en “altyd aan God ’n lofoffer bring” deur gereeld te getuig (Heb. 13:15). Laat dié van ons wat ’n aardse hoop het, tesame met die bruidsklas, aanhou om te sê: “Kom!” En mag nog baie meer mense ‘die water van die lewe verniet neem’!

Wat het jy geleer?

• Aan wie word die uitnodiging gerig om te “kom”?

• Waarom kan ons sê dat Jehovah die oorsprong is van die uitnodiging om te “kom”?

• Watter rol speel die heilige gees daarin om mense te nooi om te “kom”?

• Waarom moet ons daarna streef om gereeld in die bediening te wees?

[Studievrae]

[Tabel/Prente op bladsy 16]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Hou aan om te sê: “Kom!”

1914

5 100 verkondigers

1918

Baie sal in die Paradys op aarde lewe

1922

“Adverteer, adverteer, adverteer die Koning en sy koninkryk”

1929

Die getroue oorblyfsel sê: “Kom!”

1932

Die uitnodiging om te sê: “Kom!” word ook gerig aan ander wat nie gesalfdes is nie

1934

Die Jonadab-klas word genooi om te preek

1935

Die “groot menigte” word geïdentifiseer

2009

7 313 173 verkondigers