Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gebruik “die swaard van die gees” op vaardige wyse

Gebruik “die swaard van die gees” op vaardige wyse

Gebruik “die swaard van die gees” op vaardige wyse

“Neem . . . die swaard van die gees [aan], dit is God se woord.”—EF. 6:17.

1, 2. Hoe moet ons op die behoefte aan meer Koninkryksverkondigers reageer?

 TOE Jesus die geestelike behoefte van die skare sien, het hy vir sy dissipels gesê: “Die oes is groot, maar die werkers is min. Smeek dan die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur.” Jesus het sake nie daar gelaat nie. Nadat hy hierdie woorde gespreek het, het hy “sy twaalf dissipels na hom toe geroep” en hulle uitgestuur op ’n predikings-, of ‘oesinsamelings’-reis (Matt. 9:35-38; 10:1, 5). Later het Jesus “sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor hom uit gestuur” om dieselfde werk te doen.—Luk. 10:1, 2.

2 Vandag is daar ook ’n groot behoefte aan meer Koninkryksverkondigers. Die wêreldwye Gedenkmaalopkoms vir die 2009-diensjaar was 18 168 323. Dit is oor die 10 miljoen meer as al die Getuies van Jehovah. Die lande is inderdaad gereed om geoes te word (Joh. 4:34, 35). Ons moet dus bid en vir meer werkers vra. Maar hoe kan ons in ooreenstemming met sulke versoeke optree? Ons kan dit doen deur doeltreffender bedienaars te word terwyl ons ywerig deelneem aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk.—Matt. 28:19, 20; Mark. 13:10.

3. Hoe speel God se gees ’n belangrike rol daarin om ons te help om bekwamer bedienaars te word?

3 Die vorige artikel het gehandel oor hoe die leiding van God se gees ons help om “die woord van God met vrymoedigheid [te spreek]” (Hand. 4:31). Hierdie gees kan ons ook help om vaardige bedienaars te wees. Een manier om doeltreffender in die bediening te word, is om goed gebruik te maak van die uitstekende hulpmiddel wat Jehovah God voorsien het—sy geskrewe Woord, die Bybel. Dit is deur die heilige gees voortgebring (2 Tim. 3:16). Die boodskap daarin is deur God geïnspireer. Ons word dus deur heilige gees gelei wanneer ons skriftuurlike waarhede in ons bediening op vaardige wyse verduidelik. Voordat ons bespreek hoe ons dit kan doen, kom ons kyk presies hoe kragtig daardie Woord is.

‘Die woord van God oefen krag uit’

4. Watter verandering kan God se boodskap wat in die Bybel gevind word, in ’n persoon teweegbring?

4 Hoe kragtig is God se woord, of boodskap, tog! (Heb. 4:12). In figuurlike sin is die boodskap uit die Bybel skerper as enige mensgemaakte swaard, want dit dring as ’t ware deur tot die skeiding van bene en hulle murg. Skriftuurlike waarheid bereik die diepste wese van ’n persoon en dring deur tot sy gedagtes en emosies en stel bloot wat hy werklik as persoon is. Hierdie waarheid kan sy hervormende krag uitoefen en ’n persoon werklik laat verander. (Lees Kolossense 3:10.) Ja, God se Woord kan lewens verander!

5. Op watter maniere kan die Bybel ons rig, en met watter gevolg?

5 Verder is die Bybel ’n boek met ongeëwenaarde wysheid. Dit bevat nuttige inligting wat mense kan help om te sien hoe om in hierdie komplekse wêreld te lewe. Die Woord van God verlig nie net die pad reg voor ons nie, maar ook die pad verder vorentoe (Ps. 119:105). Dit is ’n groot hulp wanneer ons met probleme te kampe het of besluite neem oor ons keuse van vriende, vermaak, werk, kleredrag, ensovoorts (Ps. 37:25; Spr. 13:20; Joh. 15:14; 1 Tim. 2:9). Wanneer ons die beginsels in God se Woord toepas, kan ons goed met ander oor die weg kom (Matt. 7:12; Fil. 2:3, 4). Omdat die pad voor ons figuurlik goed verlig is, kan ons die langtermyngevolge van ons besluite in ag neem (1 Tim. 6:9). Die Skrif voorspel ook God se voorneme vir die toekoms en help ons om ’n lewenswyse te volg wat met hierdie voorneme strook (Matt. 6:33; 1 Joh. 2:17, 18). Wat ’n sinvolle lewe kan ’n persoon tog geniet as hy toelaat dat goddelike beginsels sy lewe rig!

6. Hoe kragtig is die Bybel as ’n wapen in ons geestelike oorlogvoering?

6 Dink ook aan wat ’n kragtige wapen die Bybel in ons geestelike oorlogvoering is. Paulus het God se woord “die swaard van die gees” genoem. (Lees Efesiërs 6:12, 17.) Wanneer die Bybel se boodskap op bekwame wyse oorgedra word, kan dit mense bevry van geestelike slawerny aan Satan. Dit is ’n swaard wat lewens red eerder as om dit te vernietig. Moet ons nie daarna streef om dit op vaardige wyse te gebruik nie?

Hanteer dit reg

7. Waarom is dit belangrik om te leer om “die swaard van die gees” goed te gebruik?

7 ’n Soldaat kan sy wapens slegs op bedrewe wyse in oorlogvoering gebruik as hy geoefen en geleer het om dit goed te gebruik. Dieselfde geld vir die gebruik van “die swaard van die gees” in ons geestelike oorlogvoering. “Doen jou uiterste bes om jou goedgekeur voor God te stel”, het Paulus geskryf, “as ’n werker wat hom oor niks hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg hanteer.”—2 Tim. 2:15.

8, 9. Wat sal ons help om te verstaan wat die Bybel sê? Gee ’n voorbeeld.

8 Wat sal ons help om “die woord van die waarheid reg [te] hanteer” in ons bediening? Voordat ons die Bybel se boodskap duidelik aan ander kan oordra, moet ons dit self goed verstaan. Dit vereis dat ons aandag skenk aan die konteks van ’n vers of ’n Skrifgedeelte. Volgens een woordeboek “bestaan die konteks van ’n woord, sin of teks uit die woorde, sinne of teks wat dit voorafgaan en daarop volg en help om die betekenis daarvan duidelik te maak”.

9 Om ’n Skrifgedeelte reg te verstaan, moet ons die omliggende verse in ag neem. Paulus se woorde in Galasiërs 5:13 lig dit toe. Hy het geskryf: “Julle is natuurlik tot vryheid geroep, broers; moet net nie hierdie vryheid as ’n aanleiding vir die vlees gebruik nie, maar dien mekaar soos slawe deur liefde.” Van watter vryheid het Paulus hier gepraat? Het hy verwys na vryheid van sonde en die dood, van slawerny aan valse leerstellings of vryheid van iets anders? Die konteks toon dat Paulus gepraat het van die vryheid wat die gevolg is wanneer ’n mens “losgekoop [is] van die vloek van die Wet” (Gal. 3:13, 19-24; 4:1-5). Hy het na Christelike vryheid verwys. Dié wat hierdie vryheid waardeer het, het mekaar uit liefde soos slawe gedien. Dié wat liefdeloos was, het betrokke geraak by kwaadsprekery en twiste.—Gal. 5:15.

10. Na watter soort inligting moet ons kyk om die betekenis van die Skrif reg te verstaan, en hoe kan ons te werk gaan om dit te kry?

10 Die woord “konteks” het ook ’n ander betekenis. Sinonieme vir “konteks” is onder andere “agtergrond, omstandighede, . . . situasie”. Om die betekenis van ’n teks reg te verstaan, moet ons na die agtergrondinligting kyk, soos wie die Bybelboek geskryf het, wanneer en onder watter omstandighede dit geskryf is. Dit is ook nuttig om te weet met watter doel die boek geskryf is en, indien moontlik, wat die sosiale, sedelike en godsdiensgebruike van die tyd was. a

11. Waarvoor moet ons versigtig wees wanneer ons tekste verduidelik?

11 Om “die woord van die waarheid reg [te] hanteer”, behels meer as om net skriftuurlike waarhede akkuraat te verduidelik. Ons moet versigtig wees dat ons nie die Bybel gebruik om mense te intimideer nie. Hoewel ons die Skrif kan gebruik om die waarheid te verdedig, soos Jesus gedoen het toe hy deur die Duiwel versoek is, is die Bybel nie ’n stok waarmee ons ons toehoorders slaan nie (Deut. 6:16; 8:3; 10:20; Matt. 4:4, 7, 10). Ons moet ag gee op die apostel Petrus se vermaning: “Heilig die Christus as Here in julle harte, en wees altyd gereed om julle te verdedig voor elkeen wat van julle ’n rede vir die hoop in julle eis, maar doen dit met sagmoedigheid en diep respek.”—1 Pet. 3:15.

12, 13. Watter “sterk verskanste dinge” kan deur die waarheid van God se Woord omvergewerp word? Gee ’n voorbeeld.

12 Wat kan die waarheid van God se Woord vermag as dit reg hanteer word? (Lees 2 Korintiërs 10:4, 5.) Skriftuurlike waarheid kan “sterk verskanste dinge” omverwerp; dit wil sê, dit kan valse leerstellings, skadelike gebruike en filosofieë wat onvolmaakte mensewysheid weerspieël, blootlê. Ons kan die Bybel gebruik om enige idees wat “teen die kennis van God opgerig word”, uit die weg te ruim. Die leringe van die Bybel kan gebruik word om ander te help om hulle denke in ooreenstemming met die waarheid te bring.

13 Neem byvoorbeeld die geval van ’n 93-jarige vrou wat in Indië woon. Sy is van kleins af geleer om aan reïnkarnasie te glo. Toe sy die Bybel per brief met haar seun in die buiteland begin studeer het, het sy geredelik aanvaar wat sy oor Jehovah en sy beloftes geleer het. Maar die reïnkarnasieleer was so diep in haar verstand ingeprent dat sy beswaar gemaak het toe haar seun vir haar oor die toestand van die dooies geskryf het. Sy het gesê: “Ek kan eenvoudig nie verstaan wat jou Bybel sê die waarheid is nie. Alle godsdienste leer dat iets binne-in ons onsterflik is. Ek het nog altyd geglo dat die liggaam sterf en dat ’n onsigbare deel ongeveer 8 400 000 keer in ander liggame gereïnkarneer word. Hoe kan dit nie waar wees nie? Is die meeste godsdienste verkeerd?” Kan “die swaard van die gees” so ’n sterk verskanste godsdiensoortuiging omverwerp? Ná verdere skriftuurlike besprekings oor die onderwerp het sy ’n paar weke later geskryf: “Ek begin uiteindelik verstaan wat werklik die waarheid omtrent die dood is. Dit maak my baie bly om te weet dat ons ons afgestorwe dierbares weer sal sien wanneer hulle opgewek word. Ek hoop God se Koninkryk kom gou.”

Gebruik dit met oorredingskrag

14. Wat beteken dit om dié wat na ons luister, te oorreed?

14 Doeltreffende gebruik van die Bybel in die bediening behels nie net dat ’n mense tekste aanhaal nie. Paulus het met “oorredingskrag” gepraat, en ons moet ook. (Lees Handelinge 19:8, 9; 28:23.) Om te “oorreed”, beteken om “oor te haal”. Die persoon wat oorreed word, is “so oortuig dat [hy sy] vertroue in iets stel”. Wanneer ons iemand oorreed om ’n Bybellering te aanvaar, haal ons hom oor om sy vertroue in daardie lering te plaas. Om dit te doen, moet ons die persoon wat na ons luister, oortuig dat wat ons sê, die waarheid is. Ons kan dit op die volgende maniere doen.

15. Hoe kan jy die aandag op die Bybel vestig op ’n wyse wat respek daarvoor inboesem?

15 Vestig die aandag op God se Woord op ’n wyse wat respek daarvoor inboesem. Wanneer jy ’n teks inlei, moet jy die aandag vestig op die belangrikheid daarvan om te weet wat God se beskouing van die saak is. Nadat jy ’n vraag gevra en die huisbewoner dit beantwoord het, kan jy dalk iets sê soos: ‘Kom ons kyk hoe ons God se denke oor die saak kan kry.’ Of jy kan vra: ‘Wat sê God oor hierdie situasie?’ Deur die teks op dié manier in te lei, beklemtoon jy dat die Bybel van God af kom en help jy die luisteraar om hoë agting daarvoor op te bou. Dit is belangrik om dit te doen veral wanneer ons vir iemand getuig wat in God glo, maar nie weet wat die Bybel leer nie.—Ps. 19:7-10.

16. Wat sal jou help om tekste behoorlik te verduidelik?

16 Moenie tekste net lees nie; verduidelik dit. Dit was Paulus se gewoonte om die dinge wat hy ander geleer het, te “verduidelik en deur verwysings [te] bewys” (Hand. 17:3). ’n Bybelteks bevat dikwels meer as een gedagte, en jy sal dalk die sleutelwoorde moet beklemtoon wat van toepassing is op wat jy bespreek. Jy kan dit doen deur die woorde te herhaal wat die gedagte oordra of deur vrae te vra wat die huisbewoner sal help om dit raak te sien. Verduidelik dan die betekenis van daardie deel van die teks. Daarna kan jy die persoon help om te sien hoe die teks op hom persoonlik van toepassing is.

17. Hoe kan jy op oortuigende wyse uit die Skrif redeneer?

17 Redeneer op oortuigende wyse uit die Skrif. Paulus het hartgrondige versoeke en gesonde logika gebruik om met oortuiging ‘met ander uit die Skrif te redeneer’ (Hand. 17:2, 4). Soos hy, moet jy die persoon wat na jou luister, se hart probeer bereik. Gebruik vriendelike vrae wat persoonlike belangstelling in hom weerspieël, om wat in sy hart is, ‘uit te skep’ (Spr. 20:5). Moenie taktloos wees nie. Redeneer op ’n duidelike en logiese manier. Staaf dit met bevredigende bewyse. Jou stellings moet stewig gegrond wees op God se Woord. Dit is beter om een teks goed te gebruik deur dit te verduidelik en die punt toe te lig as om twee of drie tekste kort ná mekaar te lees. Wanneer jy stawende bewyse gebruik, kan dit ook ‘oorredingskrag by jou lippe voeg’ (Spr. 16:23). Soms is dit dalk nodig om navorsing te doen en bykomende inligting te verskaf. Die 93-jarige vrou wat vroeër genoem is, moes weet waarom die lering van ’n onsterflike siel (of gees) so algemeen is. Voordat sy kon aanvaar wat die Bybel oor die onderwerp leer, moes sy eers verstaan waar hierdie leerstelling vandaan kom en hoe dit in die meeste godsdienste opgeneem is. b

Hou aan om dit op vaardige wyse te gebruik

18, 19. Waarom moet ons aanhou om “die swaard van die gees” op vaardige wyse te gebruik?

18 “Die toneel van hierdie wêreld is aan die verander”, sê die Bybel. Goddelose mense gaan voort van kwaad tot erger (1 Kor. 7:31; 2 Tim. 3:13). Daarom is dit noodsaaklik dat ons aanhou om “sterk verskanste dinge” omver te werp deur gebruik te maak van “die swaard van die gees, dit is God se woord”.

19 Hoe bly is ons tog dat ons God se Woord, die Bybel, het en dat ons die kragtige boodskap daarin kan gebruik om valse leringe uit te roei en om opregtes van hart te bereik! Geen verskanste ding is sterker as daardie boodskap nie. Laat ons ons dus kragtig inspan om “die swaard van die gees” op vaardige wyse te gebruik in ons godgegewe werk om die Koninkryk te verkondig.

[Voetnote]

a Uitstekende hulpmiddele om agtergrondinligting oor Bybelboeke te kry, is die publikasies “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”, Insight on the Scriptures en artikels soos “Jehovah se Woord is lewend” in Die Wagtoring.

b Sien die brosjure Wat gebeur met ons wanneer ons sterf? bladsye 5-16.

Wat het jy geleer?

• Hoe kragtig is die Woord van God?

• Hoe kan ons “die woord van die waarheid reg hanteer”?

• Wat kan die boodskap van die Bybel vermag wat “sterk verskanste dinge” betref?

• Hoe kan jy jou oorredingskrag in die bediening verbeter?

[Studievrae]

[Venster/Prent op bladsy 12]

Hoe om God se Woord met oorredingskrag te gebruik

▪ Boesem respek vir die Bybel in

▪ Verduidelik die tekste

▪ Redeneer op oortuigende wyse om die hart te bereik

[Prent op bladsy 11]

Jy moet leer om “die swaard van die gees” doeltreffend te gebruik