Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Spreek die Woord van God met vrymoedigheid’

‘Spreek die Woord van God met vrymoedigheid’

‘Spreek die Woord van God met vrymoedigheid’

“Hulle is . . . met die heilige gees vervul en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.”—HAND. 4:31.

1, 2. Waarom moet ons daarna streef om doeltreffend in ons bediening te wees?

 DRIE dae voor Jesus se dood het hy vir sy dissipels gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” Voordat hy na die hemel opgevaar het, het die verrese Jesus sy volgelinge die opdrag gegee om ‘dissipels te maak van mense van al die nasies en hulle te leer om alles te onderhou wat hy hulle beveel het’. Hy het hulle belowe dat hy “al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” met hulle sal wees.—Matt. 24:14; 26:1, 2; 28:19, 20.

2 As Jehovah se Getuies neem ons ywerig deel aan ’n werk waarmee daar in die eerste eeu begin is. Geen ander werk is so belangrik soos die lewensreddende werk om die Koninkryk te verkondig en dissipels te maak nie. Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons doeltreffend in ons bediening moet wees! In hierdie artikel sal ons sien hoe die leiding van die heilige gees ons help om met vrymoedigheid te spreek wanneer ons aan die bediening deelneem. In die volgende twee artikels sal ons sien hoe Jehovah se gees ons kan lei om op vaardige wyse te onderrig en met standvastigheid aan die predikingswerk deel te neem.

Ons het vrymoedigheid nodig

3. Waarom is vrymoedigheid nodig om aan die Koninkrykspredikingswerk deel te neem?

3 Ons godgegewe werk om die Koninkryk te verkondig, is ’n onvergelyklike voorreg. Maar dit is nie sonder uitdagings nie. Terwyl party mense die goeie nuus van God se Koninkryk geredelik aanvaar, tree baie op soos die mense wat in die dae van Noag gelewe het. Hulle “het geen ag . . . geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie”, het Jesus gesê (Matt. 24:38, 39). Dan is daar dié wat ons bespot of teëstaan (2 Pet. 3:3). Ons kry dalk teenstand van mense in gesagsposisies, van skool- of werksmaats of selfs van gesinslede. Voeg hierby ons eie swakhede, soos skaamheid en die vrees om verwerp te word. ’n Menigte faktore kan dit vir ons moeilik maak om “vrymoedigheid van spraak” aan die dag te lê en die woord van God met “vrymoedigheid” te spreek (Ef. 6:19, 20). As ons daarin wil volhard om die woord van God te spreek, moet ons vrymoedigheid hê. Wat kan ons help om dit aan te kweek?

4. (a) Wat is vrymoedigheid? (b) Hoe het die apostel Paulus die vrymoedigheid bymekaargeskraap om met die Tessalonisense te praat?

4 Die Griekse woord wat met “vrymoedigheid” vertaal word, beteken “uitgesprokenheid, openhartigheid, ondubbelsinnigheid”. Hierdie woord dra die gedagte oor van “moed, vertroue, . . . onverskrokkenheid”. Vrymoedigheid beteken nie dat ’n mens kortaf of onbeskof is nie (Kol. 4:6). Hoewel ons vrymoedig is, wil ons ook vreedsaam teenoor alle mense wees (Rom. 12:18). Wat meer is, terwyl ons die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig, moet ons ’n balans handhaaf tussen vrymoedigheid en takt sodat ons niemand per ongeluk aanstoot gee nie. Ja, vrymoedigheid vereis eienskappe wat baie inspanning verg om aan te kweek. Hierdie soort vrymoedigheid kom nie vanself of weens selfvertroue nie. Hoe het die apostel Paulus en sy metgeselle, nadat hulle “minagtend behandel is in Filippi”, “die vrymoedigheid bymekaargeskraap” om met diegene in Tessalonika te praat? “Deur middel van ons God”, het Paulus geskryf. (Lees 1 Tessalonisense 2:2.) Jehovah God kan ons vrese verdryf en ons soortgelyke vrymoedigheid gee.

5. Hoe het Jehovah aan Petrus, Johannes en ander dissipels vrymoedigheid gegee?

5 Toe hulle deur “heersers [van die volk] en ouer manne en skrifgeleerdes” gekonfronteer is, het die apostels Petrus en Johannes gesê: “Of dit regverdig is in God se oë om na julle eerder as na God te luister, moet julle self oordeel. Maar wat ons betref, ons kan nie ophou praat oor die dinge wat ons gesien en gehoor het nie.” Hulle en hulle medegelowiges het nie tot God gebid dat die vervolging moet ophou nie, maar hulle het gesmeek: “Jehovah, skenk aandag aan hulle dreigemente, en gee aan u slawe om u woord met alle vrymoedigheid te bly spreek” (Hand. 4:5, 19, 20, 29). Hoe het Jehovah op hulle versoek gereageer? (Lees Handelinge 4:31.) Jehovah het hulle deur sy gees gehelp om vrymoedigheid bymekaar te skraap. God se gees kan dieselfde vir ons doen. Hoe kan ons dan God se gees ontvang en in ons bediening daardeur gelei word?

Kweek vrymoedigheid aan

6, 7. Wat is die beste manier om God se heilige gees te ontvang? Gee voorbeelde.

6 Die beste manier om God se heilige gees te ontvang, is om daarvoor te vra. Jesus het vir sy toehoorders gesê: “As julle, hoewel julle goddeloos is, dan weet hoe om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Vader in die hemel heilige gees gee aan dié wat hom vra!” (Luk. 11:13). Ja, ons moet voortdurend bid vir heilige gees. As sekere aspekte van die bediening—soos om straatwerk te doen, informeel te getuig of in sakegebied te werk—vir ons intimiderend is, kan ons tot Jehovah bid vir sy gees en hom vra om ons te help om die nodige vrymoedigheid bymekaar te skraap.—1 Tess. 5:17.

7 Dit is wat ’n Christenvrou met die naam Rosa gedoen het. a Eendag by die werk het ’n onderwyseres wat saam met Rosa werk, ’n verslag van ’n ander skool oor die mishandeling van kinders gelees. Die onderwyseres was so ontsteld oor wat sy gelees het, dat sy uitgeroep het: “Wat word van hierdie wêreld?” Rosa kon nie hierdie geleentheid laat verbygaan om ’n getuienis te gee nie. Wat het sy gedoen om die moed te kry om iets te sê? “Ek het tot Jehovah gebid en hom gevra dat sy gees my moet help”, sê Rosa. Sy kon ’n goeie getuienis gee en het reëlings getref om die gesprek voort te sit. Neem ook die geval van Milane, ’n vyfjarige dogtertjie wat in die stad New York woon. Milane sê: “Voor ek skool toe gaan, bid ek en my mamma altyd tot Jehovah.” Waarvoor bid hulle? Vir moed sodat Milane haar standpunt kan inneem en oor haar God kan praat! “Dit het Milane gehelp om haar standpunt oor verjaarsdae en vakansiedae te verduidelik en om nie aan hierdie vieringe deel te neem nie”, sê haar ma. Toon hierdie voorbeelde dan nie dat gebed ons kan help om vrymoedigheid bymekaar te skraap nie?

8. Wat kan ons by die profeet Jeremia leer oor hoe om vrymoedigheid aan te kweek?

8 Dink ook oor wat die profeet Jeremia gehelp het om vrymoedigheid aan te kweek. Toe Jehovah hom as profeet vir die nasies aangestel het, het Jeremia geantwoord: “Kyk, ek weet nie hoe ek moet praat nie, want ek is nog maar net ’n seun” (Jer. 1:4-6). Maar mettertyd het Jeremia sy predikingswerk met soveel dringendheid en ywer gedoen dat baie hom as ’n onheilsprofeet beskou het (Jer. 38:4). Hy het meer as 65 jaar lank Jehovah se oordele met vrymoedigheid verkondig. Hy was so welbekend in Israel vir sy vreeslose en moedige predikingswerk dat mense ongeveer 600 jaar later, toe Jesus met vrymoedigheid gepraat het, gedink het dat Jesus die verrese Jeremia is (Matt. 16:13, 14). Hoe het die profeet Jeremia, wat aanvanklik huiwerig was, sy skugterheid te bowe gekom? Hy sê: “In my hart was [die woord van God] soos ’n brandende vuur, opgesluit in my gebeente; en ek het moeg geword om dit in te hou” (Jer. 20:9). Ja, Jehovah se woord het ’n kragtige uitwerking op Jeremia gehad en hom beweeg om te spreek.

9. Waarom kan die woord van God dieselfde uitwerking op ons hê as wat dit op Jeremia gehad het?

9 In sy brief aan die Hebreërs het die apostel Paulus geskryf: “Die woord van God is lewend en oefen krag uit en is skerper as enige tweesnydende swaard en dring selfs deur tot die skeiding van siel en gees, en van gewrigte en hulle murg, en kan gedagtes en bedoelings van die hart onderskei” (Heb. 4:12). Die boodskap, of woord, van God kan dieselfde uitwerking op ons hê as wat dit op Jeremia gehad het. Onthou, hoewel mense gebruik is om die Bybel op skrif te stel, is dit nie ’n versameling van mensewysheid nie, want dit is deur God geïnspireer. In 2 Petrus 1:21 lees ons: “Profesie is nooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar mense het uit God gespreek namate hulle deur heilige gees meegevoer is.” Wanneer ons tyd inruim om betekenisvolle persoonlike studie van die Bybel te doen, word ons verstand gevul met die boodskap wat deur die heilige gees geïnspireer is. (Lees 1 Korintiërs 2:10.) Hierdie boodskap kan “soos ’n brandende vuur” in ons word, sodat ons dit nie kan inhou nie.

10, 11. (a) Waardeur moet ons studiegewoontes gekenmerk word as ons met vrymoedigheid wil praat? (b) Noem ten minste een stap wat jy beplan om te doen om die gehalte van jou persoonlike studie te verbeter.

10 As ons wil hê dat persoonlike Bybelstudie ’n kragtige invloed op ons moet hê, moet ons dit op so ’n wyse doen dat die Bybel se boodskap ons diepste wese bereik en ’n uitwerking op ons innerlike persoon het. Die profeet Esegiël het byvoorbeeld ’n visioen ontvang waarin hy gevra is om ’n boekrol te eet wat ’n kragtige boodskap bevat het wat aan ’n onontvanklike volk oorgedra moes word. Esegiël moes die boodskap ten volle in hom opneem en dit deel van hom maak. Dit sou die taak om daardie boodskap oor te dra, aangenaam maak—soos die smaak van heuning.—Lees Esegiël 2:8–3:4, 7-9.

11 Ons is in ’n soortgelyke situasie as Esegiël. Vandag wil baie mense eenvoudig nie hoor wat die Bybel sê nie. As ons daarin wil volhard om oor die woord van God te praat, is dit belangrik dat ons die Skrif op so ’n wyse bestudeer dat ons die boodskap daarin ten volle in ons opneem. Ons studiegewoontes moet gekenmerk word deur gereeldheid—nie wisselvalligheid nie. Ons moet dieselfde begeerte hê as die psalmis wat gesing het: “Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart aangenaam word voor u, o Jehovah, my Rots en my Verlosser” (Ps. 19:14). Hoe belangrik is dit tog dat ons tyd opsysit om te peins oor wat ons lees sodat Bybelwaarhede diep in ons hart kan insink! Ons moet sekerlik daarna streef om die gehalte van ons persoonlike studie te verbeter. b

12. Waarom help Christelike vergaderinge ons om deur heilige gees gelei te word?

12 Nog ’n manier om by Jehovah se heilige gees baat te vind, is om “op mekaar ag [te] gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering [na te laat nie]” (Heb. 10:24, 25). Ander uitstekende maniere om deur die gees gelei te word, is om ons in te span om Christelike vergaderinge gereeld by te woon, aandagtig te luister en toe te pas wat ons leer. Dit is immers deur middel van die gemeente wat Jehovah se gees leiding voorsien, nie waar nie?—Lees Openbaring 3:6.

Die voordele daarvan om vrymoedigheid aan te kweek

13. Wat kan ons leer uit wat die eerste-eeuse Christene in die predikingswerk bereik het?

13 Die heilige gees is die sterkste krag in die heelal, en dit kan mense in staat stel om Jehovah se wil te doen. Onder die invloed daarvan het die eerste-eeuse Christene ’n ontsaglike predikingswerk uitgevoer. Hulle het die goeie nuus verkondig “in die hele skepping wat onder die hemel is” (Kol. 1:23). Wanneer ons daaraan dink dat die meeste van hulle “ongeleerde en gewone mense” was, word dit duidelik dat hulle deur ’n sterker krag beweeg is.—Hand. 4:13.

14. Wat kan ons help om te “gloei van die gees”?

14 As ons toelaat dat die heilige gees ons lewe rig, kan dit ons ook beweeg om ons bediening moedig uit te voer. Die gesamentlike voordele daarvan om voortdurend vir die gees te bid, ywerig betekenisvolle persoonlike studie te doen, biddend te peins oor wat ons lees en gereeld Christelike vergaderinge by te woon, kan ons help om te “gloei van die gees” (Rom. 12:11). Aangaande “’n sekere Jood met die naam Apollos, ’n boorling van Aleksandrië, ’n welsprekende man, [wat] in Efese aangekom [het]”, sê die Bybel: “Aangesien hy gegloei het van die gees, het hy die dinge omtrent Jesus met juistheid gespreek en geleer” (Hand. 18:24, 25). As ons “vurig van gees” is, kan ons groter vrymoedigheid aan die dag lê wanneer ons aan die huis-tot-huis-bediening deelneem en informeel getuig.—Rom. 12:11, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.

15. Hoe vind ons daarby baat om met groter vrymoedigheid te spreek?

15 Groter vrymoedigheid in die getuieniswerk het ’n positiewe uitwerking op ons. Ons gesindheid verbeter omdat ons die belangrikheid en waarde van ons werk beter verstaan. Ons word geesdriftiger omdat ons dit meer geniet wanneer ons doeltreffend in die bediening is. En ons word yweriger omdat ons meer bewus is van die dringendheid van die predikingswerk.

16. Wat moet ons doen as ons ywer vir die bediening afgeneem het?

16 Maar sê nou ons het ons ywer vir die bediening verloor of ons is nie meer so geesdriftig daaroor soos voorheen nie? Dan moet ons eerlike selfondersoek doen. Paulus het geskryf: “Toets voortdurend of julle in die geloof is, stel julleself voortdurend op die proef” (2 Kor. 13:5). Vra jou af: ‘Gloei ek nog steeds van die gees? Bid ek vir Jehovah se gees? Toon my gebede dat ek op hom vertrou om sy wil te doen? Bevat my gebede woorde van waardering vir die bediening wat aan ons toevertrou is? Hoe is my persoonlike studiegewoontes? Hoeveel tyd gebruik ek om te peins oor wat ek lees en hoor? Hoe betrokke is ek by gemeentelike vergaderinge?’ As jy oor sulke vrae nadink, kan dit jou help om swakhede te identifiseer en stappe te doen om dit reg te stel.

Laat God se gees jou vrymoedigheid gee

17, 18. (a) Op watter skaal word die predikingswerk vandag gedoen? (b) Hoe kan ons “die grootste vrymoedigheid van spraak” aan die dag lê terwyl ons die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig?

17 Die verrese Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom, en julle sal getuies van my wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Hand. 1:8). Die werk waarmee daar destyds begin is, word vandag op ’n ongeëwenaarde skaal gedoen. Sowat sewemiljoen Getuies van Jehovah verkondig die Koninkryksboodskap in meer as 230 lande en wy bykans 1,5 miljard uur per jaar aan die bediening. Hoe opwindend is dit tog om ’n ywerige aandeel te hê aan hierdie werk wat nooit weer gedoen sal word nie!

18 Soos in die eerste eeu word die wêreldwye predikingswerk vandag onder die leiding van God se gees gedoen. As ons op die leiding van die gees reageer, sal ons “die grootste vrymoedigheid van spraak” in ons bediening aan die dag lê (Hand. 28:31). Laat ons dus deur die gees gelei word terwyl ons die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig!

[Voetnote]

a Name is verander.

b Om die grootste voordeel uit jou Bybellees en persoonlike studie te trek, sien die boek Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool, die hoofstukke “Lê jou daarop toe om beter te lees” en “Studie is lonend”, bladsye 21-32.

Wat het jy geleer?

• Waarom moet ons die woord van God met vrymoedigheid spreek?

• Wat het die vroeë dissipels gehelp om met vrymoedigheid te spreek?

• Hoe kan ons vrymoedigheid aankweek?

• Hoe vind ons daarby baat om vrymoedigheid aan te kweek?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 7]

Hoe kan ouers hulle kinders help om vrymoedigheid aan te kweek?

[Prente op bladsy 8]

’n Kort gebed kan jou help om vrymoedigheid bymekaar te skraap in die bediening