Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Onder watter omstandighede kan herdoop oorweeg word?

Onder sekere omstandighede wonder ’n gedoopte persoon dalk oor die geldigheid van sy doop en oorweeg hy dit moontlik om herdoop te word. Byvoorbeeld, toe ’n persoon gedoop is, was hy miskien in ’n situasie of het hy ’n gebruik beoefen wat hy geheim gehou het en wat tot uitsetting kon gelei het as hy reeds ’n geldige doop ondergaan het. Kon hy hom onder sulke omstandighede aan God toegewy het? So ’n persoon sou slegs in ’n posisie wees om ’n geldige toewyding aan Jehovah te maak as hy die onskriftuurlike gedrag beëindig het. Dit sou dus gepas wees as iemand wat gedoop is terwyl so ’n ernstige probleem bestaan het, oorweeg of dit nodig is om herdoop te word.

Wat van iemand wat nie sonde beoefen het toe hy gedoop is nie, maar wie se latere oortreding vereis het dat ’n regterlike komitee gevorm word? Gestel hy beweer dan dat hy, toe hy gedoop is, nie ten volle verstaan het wat hy gedoen het nie en sê dat sy doop nie werklik geldig was nie. Wanneer die ouer manne met ’n oortreder vergader, moet hulle nie sy doop bevraagteken en hom vra of hy dink dat sy toewyding en doop geldig was nie. Hy het immers na ’n Bybeltoespraak oor die betekenis van doop geluister. Hy het ja geantwoord op die vrae in verband met toewyding en doop. Daarna het hy ander klere aangetrek en is hy fisies in water gedompel. Daarom is dit redelik om te glo dat hy die erns van wat hy gedoen het, ten volle verstaan het. Gevolglik sal die ouer manne hom as ’n gedoopte persoon beskou.

As die persoon die geldigheid van sy doop bevraagteken, kan die ouer manne sy aandag vestig op The Watchtower van 1 Maart 1960, bladsye 159 en 160, en 15 Februarie 1964, bladsye 123 tot 126, waar die onderwerp van herdoop breedvoerig bespreek word. Dit is ’n persoonlike saak as iemand onder sekere omstandighede (soos ’n gebrek aan genoeg Bybelkennis toe hy gedoop is) uiteindelik herdoop word.

Watter faktore moet Christene in ag neem wanneer hulle ’n woonplek met ander deel?

Almal het ’n plek nodig om in te woon. Maar vandag het baie mense nie hulle eie tuiste nie. ’n Persoon se ekonomiese omstandighede, gesondheid of ander faktore vereis dalk dat ’n hele paar familielede, en soms ook ’n aantal lede van die uitgebreide familie, saamwoon. In party wêrelddele woon familielede dalk almal in een vertrek met feitlik geen privaatheid nie.

Dit is nie die verantwoordelikheid van Jehovah se organisasie om ’n lang lys reëls te voorsien oor wat gepaste verblyf vir almal in die wêreldwye gemeente is nie. Christene word aangespoor om aan skriftuurlike beginsels te dink om te bepaal of hulle reëlings vir verblyf vir God aanneemlik is of nie. Wat is party van hierdie beginsels?

’n Vername oorweging is die uitwerking wat dit op ons en ons geestelikheid sal hê as ons saam met ander woon. Wie is hierdie mense? Is hulle aanbidders van Jehovah? Lewe hulle in ooreenstemming met Bybelstandaarde? “Moenie mislei word nie”, het die apostel Paulus geskryf. “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes.”—1 Kor. 15:33.

Die Skrif verduidelik dat Jehovah hoerery en egbreuk veroordeel (Heb. 13:4). Daarom sal enige slaapreëlings wat ongetroude mense van die teenoorgestelde geslag toelaat om saam te lewe asof hulle man en vrou is, ongetwyfeld onaanvaarbaar wees vir God. ’n Christen sal nie in ’n plek wil bly waar onsedelikheid geduld word nie.

Daarbenewens maan die Bybel almal wat God se guns wil geniet, om te “vlug vir die hoerery” (1 Kor. 6:18). Dit sou dus verstandig van Christene wees om enige verblyfreëlings te vermy wat tot versoekings kan lei om onsedelik te wees. Neem byvoorbeeld die situasie waar ’n hele paar Christene in dieselfde huis slaap. Kan so ’n reëling aanleiding gee tot versoekings? Sê nou twee persone wat nie met mekaar getroud is nie, is onverwags alleen omdat ander wat normaalweg teenwoordig sou wees, tydelik nie daar is nie? Net so sal dit sedelike gevare inhou vir ongetroude persone wat ’n romantiese belangstelling in mekaar het, om in dieselfde huis te woon. Dit sal verstandig wees om hierdie soort situasies te vermy.

Dit sal eweneens onvanpas wees vir persone wat van mekaar geskei is, om nog steeds in dieselfde huis te woon. Omdat hulle gewoond is aan intimiteit met mekaar, kan dit maklik tot onsedelike gedrag lei.—Spr. 22:3.

Die laaste punt om in ag te neem, hoewel geensins minder belangrik nie, is hoe die gemeenskap ’n persoon se keuses beskou. Verblyfreëlings wat ’n Christen as aanvaarbaar beskou maar wat tot ongunstige praatjies in die gemeenskap lei, sal ’n rede tot kommer wees. Ons wil nooit hê dat ons gedrag Jehovah se naam tot oneer strek nie. Paulus het dit so gestel: “Sorg dat julle nie oorsake van struikeling vir Jode sowel as Grieke en vir die gemeente van God word nie, net soos ek alle mense in alles behaag en nie my eie voordeel soek nie, maar dié van die meerderheid, sodat hulle gered kan word.”—1 Kor. 10:32, 33.

Om gepaste verblyf te vind, is moontlik ’n ware uitdaging vir diegene wat graag by Jehovah se regverdige standaarde wil bly. Maar Christene moet “[aanhou] om seker te maak van wat vir die Here aanneemlik is”. Hulle moet seker wees dat niks onwelvoegliks in hulle huis plaasvind nie (Ef. 5:5, 10). Dit vereis dat Christene bid vir goddelike leiding en alles in hulle vermoë doen om mekaar se fisiese en sedelike welsyn asook Jehovah se goeie naam te beskerm.