Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Weerstaan sataniese propaganda

Weerstaan sataniese propaganda

Weerstaan sataniese propaganda

‘MOENIE bedrieg word nie. Julle God sal julle nie help nie. Gee oor of dra die gevolge!’ Dit is die hoofgedagte van ’n boodskap wat Rabsake, ’n gesant van die Assiriese koning Sanherib, aan die inwoners van Jerusalem oorgedra het. Die koning se leërs het die land van Juda binnegeval. Die gesant se woorde was daarop gemik om die moraal van die mense van Jerusalem te verswak en hulle bang te praat sodat hulle sou oorgee.—2 Kon. 18:28-35.

Die Assiriërs was daarvoor bekend dat hulle onmenslik en wreed was. Hulle het vrees by hulle vyande ingeboesem deur in weersinwekkende besonderhede bekend te maak hoe wreed hulle hulle gevangenes behandel het. Volgens die geskiedskrywer Philip Taylor het hulle gebruik gemaak van “’n terreurbeleid sowel as propaganda om verowerde volke onder beheer te hou en potensiële vyande met vrees te vervul deur middel van eksplisiete propagandabeelde en skoksielkunde”. Propaganda is ’n kragtige wapen. Dit “val die verstand aan”, sê Taylor.

Ware Christene “het ’n worstelstryd, nie teen bloed en vlees nie, maar teen . . . die bose geesmagte”, dit wil sê teen geesskepsele wat teen God in opstand gekom het (Ef. 6:12). Die vernaamste onder hulle is Satan die Duiwel. Ook hy gebruik ’n kombinasie van vrees en propaganda.

Satan beweer dat hy elkeen van ons ons onkreukbaarheid kan laat prysgee. Hy het in die dae van die aartsvader Job vir Jehovah God gesê: “Alles wat ’n mens het, sal hy gee vir sy siel.” Met ander woorde, plaas iemand onder genoeg druk en hy sal vroeër of later sy onkreukbaarheid aan God prysgee (Job 2:4). Is Satan reg? Het elkeen van ons ’n breekpunt—’n punt waar ons ons beginsels sal prysgee om aan die lewe te bly? Satan wil graag hê dat ons so moet dink. Daarom gebruik hy bedrieglike propaganda om daardie idee in ons verstand te plant. Kom ons kyk na ’n paar metodes waarop hy dit doen en ondersoek hoe ons hom kan weerstaan.

Hulle ‘fondament is in die stof’

Satan het Elifas, een van Job se drie besoekende metgeselle, gebruik om aan te voer dat die mens hopeloos swak is. Hy het na mense verwys as “dié wat in kleihuise woon” en vir Job gesê: “[Hulle] fondament [is] in die stof . . . ! ’n Mens verbrysel hulle gouer as ’n mot. Van die oggend tot die aand word hulle verbrysel; hulle vergaan vir ewig sonder dat iemand dit ter harte neem.”—Job 4:19, 20.

Elders in die Skrif word ons vergelyk met “erdehouers”—breekbare potte wat van klei gemaak is (2 Kor. 4:7). Ons is swak weens oorgeërfde sonde en onvolmaaktheid (Rom. 5:12). Op ons eie is ons kwesbaar vir Satan se aanvalle. Maar as Christene is ons nie sonder hulp nie. Ten spyte van ons swakhede is ons kosbaar in God se oë (Jes. 43:4). Verder gee Jehovah heilige gees aan dié wat hom vra (Luk. 11:13). Sy gees kan ons “die krag wat bo die normale is”, gee en ons in staat stel om opgewasse te wees teen enige teëspoed wat Satan oor ons bring (2 Kor. 4:7; Fil. 4:13). As ons die Duiwel weerstaan, “vas in die geloof”, sal God ons standvastig en sterk maak (1 Pet. 5:8-10). Daarom hoef ons nie Satan die Duiwel te vrees nie.

’n Man ‘drink onregverdigheid in’

“Wat is die sterflike mens dat hy rein sou wees, of dat iemand wat uit ’n vrou gebore is, reg sou wees?” het Elifas gevra. Toe het hy geantwoord en gesê: “Kyk! In sy heiliges het [God] geen geloof nie, en die hemele is nie rein in sy oë nie. Hoeveel minder wanneer iemand verfoeilik en verdorwe is, ’n man wat onregverdigheid indrink soos water!” (Job 15:14-16). Elifas het vir Job gesê dat Jehovah geen mens as regverdig beskou nie. Die Duiwel buit ook negatiewe denke uit. Hy wil hê dat ons ons moet kwel oor foute wat ons in die verlede gemaak het, onsself oormatig moet kritiseer en moet dink dat ons sondes nie vergewe kan word nie. Hy wil ook hê dat ons moet dink dat Jehovah te veel van ons verwag en dat ons nie moet besef hoe omvangryk Sy medelye, vergifnis en ondersteuning is nie.

Elkeen van ons het natuurlik “gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God”. Geen onvolmaakte mens kan aan Jehovah se volmaakte standaarde voldoen nie (Rom. 3:23; 7:21-23). Maar dit beteken nie dat ons van geen waarde vir hom is nie. Jehovah weet dat “die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word,” ons sondige toestand uitbuit (Op. 12:9, 10). Omdat God daarvan bewus is dat “ons stof is”, is hy toegeeflik teenoor ons en sal hy ons “nie vir altyd verwyt nie”.—Ps. 103:8, 9, 14.

As ons ’n goddelose weg verlaat en Jehovah met ’n verslae hart en ’n berouvolle gesindheid nader, sal hy ons “ryklik vergewe” (Jes. 55:7; Ps. 51:17). Al sou ons sondes “soos skarlaken wees, dit sal wit soos sneeu gemaak word”, sê die Bybel (Jes. 1:18). Laat ons dus vasbeslote wees om nooit op te hou om God se wil te probeer doen nie.

In ons sondige toestand kan ons nooit ’n regverdige posisie voor God verdien nie. Adam en Eva het volmaaktheid en die vooruitsig op die ewige lewe verloor, nie net vir hulleself nie, maar vir ons almal (Rom. 6:23). Maar weens Jehovah se groot liefde vir die mensdom het hy voorsiening gemaak om ons sondes te vergewe as ons geloof beoefen in die losprysoffer van sy Seun, Jesus Christus (Matt. 20:28; Joh. 3:16). Wat ’n wonderlike blyk van God se “onverdiende goedhartigheid”! (Tit. 2:11). Ons sondes kán vergewe word! Waarom sou ons dan toelaat dat Satan ons anders laat dink?

“Raak tot sy gebeente en sy vlees aan”

Satan het beweer dat Job sy geloof sou prysgee as hy sy goeie gesondheid verloor. Die Duiwel het Jehovah uitgedaag en gesê: “Raak tot sy gebeente en sy vlees aan en kyk of hy u nie in u aangesig sal vervloek nie” (Job 2:5). God se Teenstander sal ongetwyfeld bly wees as hy ons weens swak gesondheid nutteloos kan laat voel.

Maar Jehovah verwerp ons nie wanneer ons nie meer kan doen wat ons voorheen in sy diens gedoen het nie. Sê nou ’n goeie vriend van ons word aangerand en beseer? Sal hy vir ons minder kosbaar wees omdat hy nie meer soveel vir ons kan doen as wat hy voorheen gedoen het nie? Beslis nie! Ons sal nog steeds vir hom lief wees en vir hom omgee—veral as hy beseer is terwyl hy iets vir ons probeer doen het. Sou ons dan enigiets minder van Jehovah verwag? “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het [nie]”, sê die Bybel.—Heb. 6:10.

Die Skrif praat van “’n sekere behoeftige weduwee” wat God se aanbidding moontlik jare lank ondersteun het. Het Jesus, toe hy sien dat sy “twee muntstukkies van baie min waarde” in ’n tempelskatkis gooi, haar en haar bydrae as waardeloos beskou? Nee, hy het haar eerder geprys omdat sy alles gedoen het wat haar omstandighede haar toegelaat het om ter ondersteuning van ware aanbidding te doen.—Luk. 21:1-4.

As ons ons onkreukbaarheid handhaaf, kan ons daarvan seker wees dat ons ’n goeie verhouding met Jehovah sal behou ongeag hoeveel skade ons weens onvolmaaktheid in die vorm van bejaardheid en siekte ly. God sal sy getroue knegte nooit verlaat bloot omdat teëspoed hulle vermoë beperk om hom te dien nie.—Ps. 71:9, 17, 18.

Neem “die helm van redding” aan

Hoe kan ons ons teen Satan se propaganda beskerm? Die apostel Paulus het geskryf: “Hou aan om krag te verkry in die Here en in die mag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle kan vasstaan teen die sette van die Duiwel.” Een deel van hierdie geestelike wapenrusting is “die helm van redding” (Ef. 6:10, 11, 17). Wanneer dit by sataniese propaganda kom, moet ons seker maak dat ons daardie helm aanneem en dit aanhou. ’n Soldaat se helm beskerm sy kop. Ons “hoop op redding”—ons vertroue in die vervulling van God se beloftes oor sy glorieryke nuwe wêreld—sal ons verstand teen Satan se leuens beskerm (1 Tess. 5:8). Ons moet hierdie hoop helder en lewendig hou deur ywerige persoonlike studie van die Skrif te doen.

Job het wrede en hatige aanvalle van Satan deurstaan. Job se geloof in die opstanding was so sterk dat selfs die bedreiging van die dood hom nie afgeskrik het nie. Hy het eerder vir Jehovah gesê: “U sal roep, en ek sal u antwoord. Na die werk van u hande sal u vurig verlang” (Job 14:15). Selfs al sou Job sterf omdat hy sy onkreukbaarheid gehandhaaf het, het hy vertrou dat God se liefde vir Sy getroue knegte Hom sou beweeg om hulle uit die dood terug te roep.

Mag ons dieselfde vertroue in die ware God hê. Jehovah kan enigiets wat Satan en sy agente moontlik oor ons bring, ongedaan maak. Onthou ook Paulus se versekering: “God is getrou, en hy sal nie toelaat dat julle versoek word bo wat julle kan verdra nie, maar saam met die versoeking sal hy ook die uitweg gee, sodat julle dit sal kan verduur.”—1 Kor. 10:13.

[Prent op bladsy 20]

Jehovah waardeer jou getroue diens

[Prent op bladsy 21]

Neem die helm van redding aan en hou dit aan