Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Welkom op die beste lewensweg!

Welkom op die beste lewensweg!

Welkom op die beste lewensweg!

“Of ons . . . lewe en of ons sterf, ons behoort aan Jehovah.”—ROM. 14:8.

1. Wat het Jesus geleer omtrent die beste lewensweg?

 JEHOVAH wil hê dat ons die beste lewensweg moet geniet. Mense kan verskillende weë in hulle lewe inslaan, maar slegs een weg is die beste. Ons kan niks beters met ons lewe doen as om dit in ooreenstemming met God se Woord te bring en by sy Seun, Jesus Christus, te leer nie. Jesus het sy volgelinge geleer om God met gees en waarheid te aanbid, en hy het hulle die opdrag gegee om dissipels te maak (Matt. 28:19, 20; Joh. 4:24). As ons in ooreenstemming met Jesus se instruksies lewe, behaag ons Jehovah en geniet ons Sy seën.

2. Hoe het baie in die eerste eeu op die Koninkryksboodskap gereageer, en wat het dit beteken om aan “Die Weg” te behoort?

2 Wanneer diegene met “die regte gesindheid vir die ewige lewe” gelowiges word en hulle laat doop, het ons grondige redes om vir hulle te sê: “Welkom op die beste lewensweg!” (Hand. 13:48). Gedurende die eerste eeu van die huidige jaartelling het duisende mense uit verskillende nasies die waarheid aangeneem en openbare bewys gelewer van hulle toegewydheid aan God deur gedoop te word (Hand. 2:41). Daardie vroeë dissipels het aan “Die Weg” behoort (Hand. 9:2; 19:23). Hierdie uitdrukking was gepas omdat diegene wat Christus se volgelinge geword het, ’n lewenswyse gevolg het wat om geloof in Jesus Christus en die navolging van sy voorbeeld gedraai het.—1 Pet. 2:21.

3. Waarom word Jehovah se knegte gedoop, en hoeveel is oor die afgelope tien jaar gedoop?

3 Die dissipelmaakwerk het gedurende hierdie laaste dae momentum gekry en word nou in meer as 230 lande gedoen. Oor die afgelope tien jaar het meer as 2 700 000 mense besluit om Jehovah te dien en hulle toewyding aan hom deur doop te simboliseer. Dit is gemiddeld meer as 5 000 mense per week! Die besluit om gedoop te word, spruit uit liefde vir God, kennis van die Skrif en geloof in wat dit leer. Doop is ’n mylpaal in ons lewe, want dit dui die begin aan van ’n hegte verhouding met Jehovah. Dit is ook ’n bewys van ons vertroue dat hy ons sal help om hom getrou te dien, net soos hy sy knegte van ouds gehelp het om in sy weg te wandel.—Jes. 30:21.

Waarom moet jy gedoop word?

4, 5. Noem ’n paar van die seëninge en voordele wat dit inhou om gedoop te word.

4 Jy het moontlik kennis van God ingeneem, veranderinge in jou lewe gemaak en is nou ’n ongedoopte verkondiger. Sulke vooruitgang is prysenswaardig. Maar het jy jou in gebed aan God toegewy, en hoop jy om gedoop te word? Uit jou studie van die Bybel weet jy nou heel waarskynlik dat jou lewe daarop gerig moet wees om Jehovah te eer en nie bloot om jouself te behaag of materiële besittings bymekaar te maak nie. (Lees Psalm 148:11-13; Luk. 12:15.) Wat is dus ’n paar van die seëninge en voordele wat dit inhou om gedoop te word?

5 As ’n toegewyde Christen sal jou lewe die mees verhewe doel hê. Jy sal gelukkig wees omdat jy God se wil doen (Rom. 12:1, 2). Jehovah se heilige gees sal godvrugtige eienskappe soos vrede en geloof in jou voortbring (Gal. 5:22, 23). God sal jou gebede verhoor en jou pogings om volgens sy Woord te lewe, seën. Jou bediening sal vreugdevol wees, en as jy op ’n manier lewe wat God goedkeur, sal jou hoop op die ewige lewe versterk word. Wat meer is, as jy jou toewy en jou laat doop, toon jy dat jy werklik een van Jehovah se Getuies wil wees.—Jes. 43:10-12.

6. Wat maak ons bekend as ons gedoop word?

6 As ons ons aan God toewy en ons laat doop, maak ons bekend dat ons aan Jehovah behoort. “Trouens, niemand van ons lewe net vir homself nie, en niemand sterf net vir homself nie”, het die apostel Paulus geskryf, “want as ons lewe, lewe ons vir Jehovah, en ook as ons sterf, sterf ons vir Jehovah. Of ons dan lewe en of ons sterf, ons behoort aan Jehovah” (Rom. 14:7, 8). God het waardigheid aan ons verleen deur ons wilsvryheid te gee. Wanneer ons weens ons liefde vir God die vaste besluit neem om hierdie lewensweg te volg, maak ons sy hart bly (Spr. 27:11). Ons doop is ’n simbool van ons toewyding aan God sowel as ’n openbare bekendmaking dat Jehovah ons Heerser is. Dit toon dat ons ons aan sy kant van die geskil van universele soewereiniteit geskaar het (Hand. 5:29, 32). Op sý beurt is Jehovah aan ons kant. (Lees Psalm 118:6.) Doop maak dit ook vir ons moontlik om baie ander geestelike seëninge nou en in die toekoms te ontvang.

Geseën met ’n liefdevolle broederskap

7-9. (a) Watter versekering het Jesus diegene gegee wat alles verlaat het en hom gevolg het? (b) Hoe word Jesus se belofte in Markus 10:29, 30 vervul?

7 Die apostel Petrus het vir Jesus gesê: “Kyk! Ons het alles verlaat en u gevolg; wat sal daar dan vir ons wees?” (Matt. 19:27). Petrus wou weet wat die toekoms vir hom en Jesus se ander dissipels inhou. Hulle het belangrike opofferings gemaak sodat hulle hulle ten volle aan die Koninkrykspredikingswerk kan wy (Matt. 4:18-22). Watter versekering het Jesus hulle gegee?

8 Volgens Markus se parallelle verslag het Jesus aangedui dat sy dissipels deel van ’n geestelike broederskap sal wees. Hy het gesê: “Niemand het huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of landerye ter wille van my en ter wille van die goeie nuus verlaat nie, of hy sal nou in hierdie tyd honderdvoudig kry: huise en broers en susters en moeders en kinders en landerye, met vervolginge, en in die komende stelsel van dinge, die ewige lewe” (Mark. 10:29, 30). Eerste-eeuse Christene, soos Lidia, Aquila, Priscilla en Gajus, was onder dié wat “huise” voorsien het en “broers en susters en moeders” vir medegelowiges geword het, soos Jesus belowe het.—Hand. 16:14, 15; 18:2-4; 3 Joh. 1, 5-8.

9 Wat Jesus gesê het, het ’n selfs groter vervulling vandag. Die “landerye” wat sy volgelinge agtergelaat het, verwys na die lewensbestaan wat baie, insluitende sendelinge, lede van die Bethelgesin, internasionale dienaars en ander, gewilliglik opgeoffer het sodat hulle Koninkryksbelange in verskeie lande kan bevorder. Baie broers en susters het hulle huise verlaat sodat hulle hulle lewe kan vereenvoudig, en dit verbly ons om hulle ondervindinge te hoor wat toon hoe Jehovah vir hulle omgegee het en hoe hulle diens aan hom hulle gelukkig maak (Hand. 20:35). En alle gedoopte knegte van Jehovah kan die seëning geniet om, as deel van die wêreldwye Christenbroederskap, “eers die koninkryk en [God se] regverdigheid te soek”.—Matt. 6:33.

Veilig in “die skuilplek”

10, 11. Wat is “die skuilplek van die Allerhoogste”, en hoe kan ons toegang daartoe verkry?

10 Toewyding en doop bring nog ’n ryk seëning mee—die voorreg om in “die skuilplek van die Allerhoogste” te woon. (Lees Psalm 91:1.) Dit is ’n figuurlike plek van veiligheid en geborgenheid—’n toestand van beskerming teen geestelike skade. Dit is ’n “skuilplek” omdat dit verborge is vir mense wat nie geestelike sig het nie en nie op God vertrou nie. Deur ons toewyding na te leef en ten volle op Jehovah te vertrou, sê ons as ’t ware vir hom: “U is my toevlug en my vesting, my God, op wie ek sal vertrou” (Ps. 91:2). Jehovah God word ons veilige woonplek (Ps. 91:9). Wie kan vir meer as dit vra?

11 As ons toegang tot “die skuilplek” van Jehovah verkry het, dui dit ook daarop dat ons geseën is met die voorreg om ’n hegte persoonlike verhouding met hom te hê. Dit begin met toewyding en doop. Daarna bou ons voort op ons verhouding met God deur nader aan hom te kom deur middel van Bybelstudie, opregte gebed en volkome gehoorsaamheid (Jak. 4:8). Niemand was nog ooit nader aan Jehovah as Jesus nie, wie se vertroue in die Skepper nooit gewankel het nie (Joh. 8:29). Laat ons dus nooit twyfel aan Jehovah of aan sy begeerte en vermoë om ons te help om ons toewydingsgelofte te vervul nie (Pred. 5:4). Die geestelike voorsienings wat God vir sy volk beskikbaar gestel het, is onweerlegbare bewys dat hy ons werklik liefhet en wil hê dat ons moet slaag in ons diens aan hom.

Ons moet ons geestelike paradys as kosbaar beskou

12, 13. (a) Wat is die geestelike paradys? (b) Hoe kan ons nuwelinge help?

12 Toewyding en doop baan ook die weg vir ons om in die geseënde geestelike paradys te woon. Dit is ’n unieke geestelike omgewing wat ons saam met medegelowiges geniet, wat in vrede met Jehovah God en mekaar verkeer (Ps. 29:11; Jes. 54:13). Die wêreld het niks wat met ons geestelike paradys vergelyk kan word nie. Dit word duidelik gesien veral by internasionale byeenkomste, waar ons broers en susters uit baie nasies, tale en etniese groepe bymekaarkom in ’n atmosfeer van vrede, eenheid en broederliefde.

13 Die geestelike paradys wat ons geniet, is in skerp teenstelling met die betreurenswaardige toestande in die wêreld vandag. (Lees Jesaja 65:13, 14.) Wanneer ons die Koninkryksboodskap verkondig, het ons die voorreg om ander te nooi om in die geestelike paradys te kom. Dit is ook ’n seën om diegene by te staan wat onlangs met die gemeente begin omgaan het en wat daarby sal baat vind om in die bediening opgelei te word. Onder leiding van die ouer manne sal ons moontlik geseën word met die voorreg om hulp te verleen aan sekere nuwelinge, net soos Aquila en Priscilla “die weg van God met groter juistheid vir [Apollos] uitgelê” het.—Hand. 18:24-26.

Hou aan om by Jesus te leer

14, 15. Watter grondige redes het ons om aan te hou om by Jesus te leer?

14 Ons het grondige redes om aan te hou om by Jesus te leer. In sy voormenslike bestaan het Jesus tallose millenniums saam met sy Vader gewerk (Spr. 8:22, 30). Hy het geweet dat die beste lewensweg daarop gerig is om God te dien en van die waarheid te getuig (Joh. 18:37). Dit was vir Jesus duidelik dat enige ander lewensweg selfsugtig en kortsigtig sou wees. Hy het geweet dat hy swaar beproef en doodgemaak sou word (Matt. 20:18, 19; Heb. 4:15). As ons Voorbeeld het hy ons geleer hoe om handhawers van onkreukbaarheid te wees.

15 Kort nadat Jesus gedoop is, het Satan hom probeer versoek om die beste lewensweg te verlaat—maar dit was tevergeefs (Matt. 4:1-11). Dit leer ons dat ons, ongeag wat Satan doen, ons onkreukbaarheid kán handhaaf. Hy sal waarskynlik sy aandag vestig op dié wat binnekort gedoop gaan word sowel as dié wat onlangs gedoop is (1 Pet. 5:8). Teenstand kan moontlik van welmenende familielede kom wat verkeerd ingelig is. Maar sulke beproewinge bied ons die geleentheid om goeie Christelike eienskappe, soos respek en takt, aan die dag te lê wanneer ons vrae beantwoord en ’n getuienis gee (1 Pet. 3:15). Hierdie ondervindinge kan dus ’n positiewe uitwerking hê op diegene wat na ons luister.—1 Tim. 4:16.

Bly op die beste lewensweg!

16, 17. (a) Watter drie basiese vereistes vir lewe word in Deuteronomium 30:19, 20 genoem? (b) Hoe het Jesus, Johannes en Paulus bevestig wat Moses geskryf het?

16 Ongeveer 1 500 jaar voordat Jesus aarde toe gekom het, het Moses die Israeliete aangespoor om die beste lewensweg te kies wat destyds moontlik was. Hy het gesê: “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle, dat ek jou die lewe en die dood voorgehou het, die seën en die vloek; en jy moet die lewe kies sodat jy kan bly lewe, jy en jou nageslag, deur Jehovah jou God lief te hê, deur na sy stem te luister en deur hom aan te kleef” (Deut. 30:19, 20). Israel was ontrou aan God, maar die drie basiese vereistes vir lewe wat Moses genoem het, het nie verander nie. Hierdie vereistes is deur Jesus en ander herhaal.

17 Eerstens, ‘ons moet Jehovah ons God liefhê’. Ons toon dat ons God liefhet deur in ooreenstemming met sy regverdige weë op te tree (Matt. 22:37). Tweedens, ‘ons moet na Jehovah se stem luister’ deur God se Woord te bestudeer en sy gebooie te gehoorsaam (1 Joh. 5:3). Om dit te kan doen, moet ons gereeld by Christelike vergaderinge wees, waar die Bybel bespreek word (Heb. 10:23-25). Derdens, ‘ons moet Jehovah aankleef’. Laat ons, ongeag waarvoor ons te staan kom, altyd geloof in God beoefen en sy Seun volg.—2 Kor. 4:16-18.

18. (a) Hoe het The Watch Tower in 1914 die waarheid beskryf? (b) Hoe moet ons vandag oor die lig van waarheid voel?

18 Wat ’n seën is dit tog om in ooreenstemming met Bybelwaarheid te lewe! In 1914 het hierdie betekenisvolle stelling in The Watch Tower verskyn: “Is ons nie ’n geseënde, gelukkige volk nie? Is ons God nie getrou nie? As enigiemand iets beters ken, laat hom dit neem. As enigeen van julle ooit iets beters vind, hoop ons jy sal ons daarvan vertel. Ons weet van niks beters of die helfte so goed as die dinge wat ons in die Woord van God gevind het nie. . . . Geen tong of pen kan vertel watter vrede, watter vreugde en seën ’n duidelike kennis van die ware God in ons hart en lewe gebring het nie. Die Verhaal van God se Wysheid, Geregtigheid, Krag en Liefde voorsien ten volle in die behoeftes van ons verstand sowel as ons hart. Ons soek nie verder nie. Daar is niks begeerlikers as om hierdie wonderlike Verhaal duideliker in ons gedagte te kry nie” (The Watch Tower, 15 Desember 1914, bladsye 377-378). Ons dankbaarheid vir geestelike lig en waarheid het nie verander nie. Trouens, ons het nou selfs groter rede om bly te wees dat ons “in die lig van Jehovah wandel”.—Jes. 2:5; Ps. 43:3; Spr. 4:18.

19. Waarom moet diegene wat kwalifiseer om gedoop te word, nie uitstel om hierdie stap te doen nie?

19 As jy “in die lig van Jehovah” wil wandel, maar nog nie ’n toegewyde, gedoopte Christen is nie, moet jy nie uitstel nie. Doen wat ook al nodig is om te voldoen aan die Bybelse vereistes vir doop—die unieke manier om dankbaarheid te toon vir wat God en Christus vir ons gedoen het. Gee Jehovah jou kosbaarste fisiese besitting—jou lewe. Toon dat jy van plan is om God se wil te doen deur sy Seun te volg (2 Kor. 5:14, 15). Dit is ongetwyfeld die beste lewensweg!

Hoe sal jy antwoord?

• Wat word deur ons doop gesimboliseer?

• Watter seëninge ontvang ons wanneer ons ons aan God toewy en gedoop word?

• Waarom is dit so belangrik om by Jesus te leer?

• Wat sal ons help om op die beste lewensweg te bly?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 25]

Jou doop toon dat jy die beste lewensweg gekies het

[Prente op bladsy 26]

Is jy veilig in “die skuilplek”?