Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Boek wat jongmense help om aan hulle Skepper te dink

’n Boek wat jongmense help om aan hulle Skepper te dink

’n Boek wat jongmense help om aan hulle Skepper te dink

“DINK aan jou Skepper terwyl jy nog jonk is”, het die wyse man Salomo sowat 3 000 jaar gelede geskryf (Pred. 12:1, Today’s English Version). Jong Christene het nou nog ’n middel wat hulle kan help om dit te doen. Die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2, is vrygestel by die “Gerig deur God se gees”-streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies, wat wêreldwyd vanaf Mei 2008 tot Januarie 2009 gehou is.

Op die binneblad van die boek is ’n brief van die Bestuursliggaam aan jongmense. Dit sê onder andere: “Ons hoop van harte dat die inligting in hierdie boek jou sal help om die druk en versoekings te weerstaan waarvoor vandag se jongmense te staan kom, en dat dit jou sal wys hoe jy besluite kan neem wat in ooreenstemming met God se wil is.”

Ouers wil tereg hulle kinders opvoed “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” (Ef. 6:4). Maar wanneer baie jongmense hulle tienerjare bereik, voel hulle onseker van hulleself en smag hulle na leiding. As jy die ouer van ’n tiener is, hoe kan jy jou kind help om hierdie publikasie ten beste te benut? Hier volg ’n paar wenke.

Kry jou eie eksemplaar van hierdie boek en raak goed vertroud daarmee. Dit behels meer as om dit net te lees. Probeer ook vasstel hoe die gedagtes in die boek uitgedruk word. Die boek sê nie bloot vir jongmense wat reg en wat verkeerd is nie, maar probeer hulle “waarnemingsvermoëns” oefen (Heb. 5:14). Dit gee hulle ook praktiese wenke oor hoe om ’n standpunt in te neem vir wat reg is. Byvoorbeeld, Hoofstuk 15 (“Hoe kan ek portuurdruk weerstaan?”) spoor jongmense nie net aan om nee te sê nie. Dit sit Bybelse strategieë en realistiese antwoorde uiteen wat hulle sal help om te leer hoe hulle “elkeen behoort te antwoord”.—Kol. 4:6.

Maak gebruik van die boek se interaktiewe dele. Hoewel hierdie dele bedoel is vir jongmense, kan jy gerus in jou eie boek skryf waar dit gepas is. a Wanneer jy byvoorbeeld na die twee interaktiewe vrae op bladsy 16 oor romantiese verhoudings kyk, kan jy probeer onthou hoe jy gevoel het toe jy jou kind se ouderdom was. Dalk wil jy in die ruimtes wat voorsien word, die antwoorde invul wat jy destyds op die vrae sou gegee het. Dan kan jy jou afvra: ‘Hoe het my gevoelens oor hierdie onderwerp deur die jare verander? Watter insig het ek sedert my tienerjare verkry, en hoe kan ek dit doeltreffend aan my kind oordra?’

Respekteer jou tiener se privaatheid. Die interaktiewe dele van die boek is bedoel om jou kind uit te lok sodat hy ’n antwoord sal neerskryf of aan een sal dink. Jy moet probeer om te sien wat in sy hart is, nie in sy boek nie. Op bladsy 3 van die deel “’n Woordjie aan ouers” stel die boek voor: “Om jou tieners aan te moedig om in hulle boek neer te skryf hoe hulle werklik voel, moet jy hulle ’n mate van privaatheid gee. Later sal hulle jou heel moontlik vertel wat hulle geskryf het.”

’n Hulpmiddel vir gesinsbybelstudie

Jongmense vra, Deel 2, is ’n uitstekende hulpmiddel om gedurende julle Gesinsaanbidding te gebruik. Hoe kan jy dit gebruik aangesien die boek nie studievrae vir elke paragraaf het nie? Jy kan die studie aanpas deur ’n metode te gebruik wat die beste vir jou kinders werk.

Byvoorbeeld, party gesinne sal dalk daarvan hou om oefensessies te hê wanneer hulle die “Portuurdrukplan” op bladsye 132 en 133 bespreek. Die eerste vraag sal jou seun of dogter moontlik help om te identifiseer wat vir hom of haar die grootste uitdaging is. Die tweede vraag identifiseer die situasie waarin daardie druk waarskynlik sal ontstaan. Nadat die boek die gevolge daarvan bespreek het om óf in te gee óf portuurdruk te weerstaan, word jou kind gevra om te dink aan ’n paar antwoorde wat die druk sal absorbeer, afweer of teruggee. Help jou seun of dogter om skeppend te wees en antwoorde voor te berei waarmee hy of sy gemaklik voel en met vertroue en oortuiging sal kan gebruik.—Ps. 119:46.

’n Hulpmiddel vir kommunikasie

Jongmense vra, Deel 2, spoor jongmense aan om met hulle ouers te kommunikeer. Die vensters “Hoe kan ek met my pa of ma oor seks praat?” (bladsye 63-64) en “Praat met jou ouers!” (bladsy 189) voorsien byvoorbeeld praktiese wenke oor hoe om sensitiewe onderwerpe te benader. Een 13-jarige meisie het geskryf: “Hierdie boek het my die moed gegee om met my ouers te praat oor dinge waaroor ek gewonder het—selfs dinge wat ek gedoen het.”

Hierdie boek bevorder kommunikasie ook op ander maniere. Aan die einde van elke hoofstuk is ’n venster met die titel “Wat dink jy?” Dit is nie bloot ’n hersiening nie, maar kan gebruik word as ’n gids vir gesinsbesprekings. Teen die einde van elke hoofstuk is daar ook ’n venster met die titel “Aksieplan!” Hierdie venster gee jongmense ’n geleentheid om spesifieke maniere neer te skryf waarop hulle die inligting kan toepas wat hulle in daardie hoofstuk geleer het. Die laaste deel van die venster “Aksieplan!” sê: “Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra . . . ” Dit kan jongmense help om na hulle ouers te gaan vir waardevolle raad.

Bereik die hart!

As ’n ouer moet jou doelwit wees om jou kind se hart te bereik. Jongmense vra, Deel 2, kan jou help om dit te doen. Kyk hoe ’n vader hierdie boek gebruik het om openhartige kommunikasie met sy dogter te bevorder.

“Ek en Rebekah het ’n paar pragtige plekke wat ons graag te voet, per fiets of met die motor besoek. Ek vind dat dit by sulke plekke in die buitelug vir haar maklik is om met my te praat.

“Die eerste deel wat ons in hierdie boek bespreek het, was die brief van die Bestuursliggaam en ‘’n Woordjie aan ouers’. Ek wou hê my dogter moes weet dat sy, soos bladsy 3 sê, die grootste vrymoedigheid moet hê om in haar boek te skryf. Ek sal nie kyk om te sien wat sy geskryf het nie.

“Ek het Rebekah laat kies watter hoofstukke sy wou bespreek in die volgorde waarin sy dit wou bespreek. Een van die eerste hoofstukke wat sy gekies het, was ‘Moet ek elektroniese speletjies speel?’ Ek sou nooit geraai het dat sy daardie een sou kies nie! Maar sy het ’n rede gehad. ’n Klomp van haar vriendinne het ’n speletjie gespeel wat nogal afgryslik was. Ek het geen idee gehad hoeveel eksplisiete geweld en vuil taal dit bevat nie! Maar dit alles het uitgekom terwyl ons die ‘Aksieplan!’ op bladsy 251 bespreek het. Daardie venster het Rebekah ook gehelp om ’n antwoord voor te berei ingeval enigiemand druk op haar probeer uitoefen om die speletjie te speel.

“Nou vertel Rebekah my vryelik wat sy in haar boek geskryf het. Ons studie is ’n eindelose gesprek. Ons maak beurte om te lees, en dan wil sy oor alles praat, insluitende die prente en die vensters. Dit gee my ’n geleentheid om haar te vertel hoe dit was toe ek haar ouderdom was, en dan vertel sy my hoe dinge vandag is. Sy wil oor alles praat!”

As jy ’n ouer is, was jy ongetwyfeld baie bly toe hierdie boek vrygestel is. Nou het jy die geleentheid om dit goed te benut. Die Bestuursliggaam hoop dat Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2, ’n seën vir jou gesin sal wees. Mag dit almal—veral ons dierbare jongmense—help om ‘aan te hou om deur heilige gees te wandel’.—Gal. 5:16.

[Voetnoot]

a Party van die interaktiewe werkblaaie in die boek is van toepassing op alle ouderdomsgroepe. Byvoorbeeld, die venster “Beheers jou woede” (bladsy 221) kan net so nuttig vir jou wees as vir jou seun of dogter. Dieselfde geld dalk vir “Portuurdrukplan” (bladsye 132-133), “My maandelikse begroting” (bladsy 163) en “My doelwitte” (bladsy 314).

[Venster op bladsy 30]

Wat ’n paar jongmense sê

“Dit is die soort boek wat jy met ’n potlood in die hand peinsend moet sit en lees. Die feit dat dit as ’n persoonlike dagboek saamgestel is, stel jou in staat om persoonlik na te dink met die doel om vir jou die beste lewensweg te skep.”—Nicola.

“Daar word baie druk op my uitgeoefen om met iemand uit te gaan, selfs van mense met goeie bedoelings. Die eerste deel van hierdie boek het my daarvan oortuig dat, ongeag wat enigiemand sê, ek nie gereed is om met iemand uit te gaan nie.”—Katrina.

“Die venster ‘Dink jy daaraan om jou te laat doop?’ het my gehelp om my doop in ’n selfs ernstiger lig te beskou. Dit het gemaak dat ek opnuut kyk na my gewoontes in verband met studie en gebed.”—Ashley.

“Al het my Christenouers my van kleins af geleer, het hierdie boek my gehelp om self te redeneer oor stappe wat ek in my lewe moet doen. Dit het my ook gehelp om meer openhartig met my ouers te wees.”—Zamira.

[Prent op bladsy 31]

Ouers, raak goed vertroud met hierdie boek

[Prent op bladsy 32]

Stel jou dit ten doel om jou kind se hart te bereik