“’n Kind se reg op geestelike ontwikkeling”
“’n Kind se reg op geestelike ontwikkeling”
OP 9 Desember 2008 het die Sweedse Akademie vir die Regte van Kinders ’n unieke seminaar gehou met die tema “’n Kind se reg op geestelike ontwikkeling”. Baie menings is gelug deur sprekers wat die Kerk van Swede, ander denominasies van die Christendom, Islam en die humanistiese beweging verteenwoordig het.
Een van die sprekers was ’n geestelike wat gesê het: “’n Mens kan nouliks ’n juiste en regverdige beskrywing gee van hoe belangrik die Bybelverslae vir kinders se geestelikheid is.” Hoe voorsien Skrifgedeeltes in kinders se geestelike behoeftes?
“Die tekste en verhale gee die kinders inligting waaroor hulle self kan nadink en peins”, het die geestelike gesê. Hy het “die verhaal van Adam en Eva, Kain en Abel, Dawid en Goliat, die geboorte van Jesus, die belastinggaarder Saggeus, die gelykenis van die verlore seun en dié van die barmhartige Samaritaan” opgenoem. Dit is aangegee as “’n paar van die verhale wat [’n kind se] denke rig tot die belangrike sake in die menselewe, soos verraderlikheid, vergifnis, versoening, haat, vernedering, vergoeding, asook broeder- en onselfsugtige liefde”. Hy het bygevoeg: “Hierdie tekste bied voorbeelde wat ’n mens in jou eie lewe kan gebruik, wat tot optrede aanspoor en wat praktiese ondervinding word.”
Toegegee, dit is goed om mense aan te spoor om die Bybel te lees. Maar kan kinders werklik “self . . . nadink en peins” oor wat hulle in die Skrif lees en dan tot die regte gevolgtrekkings kom?
Skrifgedeeltes moet selfs aan volwasses verduidelik word. Die Bybel vertel ons byvoorbeeld van ’n man wat nie ware geestelikheid kon vind deur ‘self na te dink en te peins’ nie. Daardie man was ’n Etiopiese amptenaar. Hy het die profesie van Jesaja gelees, maar nie die betekenis daarvan begryp nie. Omdat hy die boodskap van die profeet wou verstaan, het hy die verduideliking verwelkom wat die dissipel Filippus aangebied het (Hand. 8:26-40). Daardie Etiopiër is geen uitsondering nie. Skrifgedeeltes moet aan ons almal—veral aan kinders—verduidelik word.
Die Bybel waarsku ons: “Dwaasheid sit vas in die hart van ’n seun” (Spr. 22:15). Kinders het leiding nodig, en dit is hulle ouers se verantwoordelikheid om sedelike en geestelike opleiding te gee wat gebaseer is op die Bybel en op wat in die Christengemeente geleer word. Kinders het die reg op sulke opleiding. Hulle moet van kleins af gehelp word om ’n stewige Bybelse grondslag vir geestelike ontwikkeling te verkry sodat hulle “volwasse mense [kan word] wie se waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is”.—Heb. 5:14.