Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bly in God se guns ondanks veranderinge

Bly in God se guns ondanks veranderinge

Bly in God se guns ondanks veranderinge

ONDERVIND jy veranderinge in jou lewe? Vind jy dit moeilik om hierdie veranderinge te aanvaar? Die meeste van ons was al of sal nog in daardie situasie wees. ’n Paar voorbeelde van mense van die ou tyd kan ons help om eienskappe te identifiseer wat nuttig sal wees.

Dink byvoorbeeld aan Dawid en die vele veranderinge wat hy moes verwerk. Hy was maar net ’n herderseun toe Samuel hom as toekomstige koning gesalf het. Toe hy nog jonk was, het hy aangebied om teen die Filistynse reus Goliat te veg (1 Sam. 17:26-32, 42). Jong Dawid is genooi om aan die koninklike hof van koning Saul te gaan woon en is as hoof van die leër aangestel. Dawid sou hom nooit al hierdie veranderinge in sy lewe kon voorgestel het nie; hy sou ook nie kon voorsien wat vervolgens sou gebeur nie.

Dawid se verhouding met Saul het uiters gespanne geword (1 Sam. 18:8, 9; 19:9, 10). Om sy eie lewe te red, moes Dawid jare lank as ’n voortvlugtige lewe. Selfs toe hy as koning oor Israel geheers het, het sy omstandighede drasties verander, veral nadat hy egbreuk en, om hierdie sonde te probeer toesmeer, moord gepleeg het. As gevolg van sy eie sondes was daar rampspoed in sy gesin. Dawid het onder meer die opstand van sy seun Absalom ondervind (2 Sam. 12:10-12; 15:1-14). Maar nadat Dawid berou getoon het omdat hy gesondig het deur egbreuk en moord te pleeg, het Jehovah hom vergewe en is Dawid in God se guns herstel.

Jou omstandighede kan ook verander. Gesondheidsprobleme, ekonomiese ontberinge of gesinsprobleme—selfs ons eie dade—veroorsaak veranderinge in ons lewe. Watter eienskappe kan ons help om beter voorbereid te wees om sulke uitdagings die hoof te bied?

Nederigheid help ons

Nederigheid behels ’n onderdanige gesindheid. Ware nederigheid stel ons in staat om ’n realistiese beeld van onsself en ander te hê. Deur ander se eienskappe en suksesse raak te sien, sal ons ’n beter begrip kry van wie hulle is en wat hulle doen. Net so kan nederigheid ons help om te verstaan waarom iets met ons gebeur het en hoe ons dit kan verwerk.

Jonatan, Saul se seun, is ’n goeie voorbeeld. Sy omstandighede is verander deur gebeure buite sy beheer. Toe Samuel vir Saul gesê het dat Jehovah die koninkryk van hom sou wegneem, het hy nie gesê dat Jonatan as koning sou oorneem nie (1 Sam. 15:28; 16:1, 12, 13). Toe God Dawid as die volgende koning van Israel gekies het, is geen melding van Jonatan gemaak nie. In sekere sin het Saul se ongehoorsaamheid ’n negatiewe uitwerking op Jonatan gehad. Hoewel Jonatan nie daarvoor verantwoordelik was nie, sou hy nie sy vader opvolg nie (1 Sam. 20:30, 31). Hoe het Jonatan op hierdie situasie gereageer? Het hy ’n wrok gekoester weens die verlore kans en jaloers geword op Dawid? Nee. Al was Jonatan baie ouer en meer ervare as Dawid, het hy Dawid lojaal ondersteun (1 Sam. 23:16-18). Nederigheid het hom gehelp om te verstaan wie God se seën gehad het, en hy het ‘nie meer van homself gedink as wat dit nodig was om te dink nie’ (Rom. 12:3). Jonatan het verstaan wat Jehovah van hom verwag het en het Sy besluit oor die saak aanvaar.

Baie veranderinge lei natuurlik tot sekere probleme. Op ’n stadium het Jonatan te doen gehad met twee manne wat na aan hom was. Een was Dawid, die toekomstige koning, sy vriend wat deur Jehovah aangewys is. Die ander was Saul, sy vader, wat deur Jehovah verwerp is, maar wat nog as koning geheers het. Hierdie situasie moes seker baie emosionele spanning vir Jonatan veroorsaak het terwyl hy Jehovah se guns probeer behou het. Die veranderinge waarvoor ons te staan kom, kan vir ons ’n mate van bekommernis en angstigheid veroorsaak. Maar as ons Jehovah se beskouing probeer verstaan, sal ons kan voortgaan om hom lojaal te dien terwyl ons die veranderinge verwerk.

Die belangrikheid van beskeidenheid

Beskeidenheid behels dat ’n mens bewus is van jou beperkings. Beskeidenheid en nederigheid moenie met mekaar verwar word nie. ’n Nederige persoon is moontlik nie ten volle bewus van sy beperkings nie.

Dawid was beskeie. Hoewel Jehovah hom as koning gekies het, kon Dawid jare lank nie die troon bestyg nie. Ons lees nie dat Dawid enige verduideliking van Jehovah ontvang het oor die rede vir hierdie skynbare vertraging nie. Maar al was hierdie situasie dalk frustrerend, het dit hom nie ontstel nie. Hy was bewus van sy beperkings en hy het verstaan dat Jehovah, wat die situasie toegelaat het, sake onder beheer het. Dawid het dus geweier om Saul dood te maak, al sou hy sy eie lewe red deur dit te doen, en hy het gekeer dat sy metgesel Abisai dit doen.—1 Sam. 26:6-9.

Soms ontstaan ’n situasie dalk in ons plaaslike gemeente wat ons nie verstaan nie of wat, vanuit ons oogpunt, nie op die beste of mees georganiseerde manier hanteer word nie. Sal ons beskeie erken dat Jesus die Hoof van die gemeente is en dat hy werk deur die liggaam van ouer manne wat aangestel is om die leiding te neem? Sal ons beskeidenheid aan die dag lê, in die wete dat ons slegs in Jehovah se guns kan bly as ons op hom wag om deur middel van Jesus Christus leiding te voorsien? Sal ons beskeie wag selfs al is dit moeilik?—Spr. 11:2.

Sagmoedigheid help ons om positief te wees

Sagmoedigheid is saggeaardheid. Dit help ons om onreg te verduur met geduld, sonder om geïrriteerd, gegriefd en wraaksugtig te wees. Sagmoedigheid is ’n moeilike eienskap om aan te kweek. Interessant genoeg, in een Bybelvers word die “sagmoediges van die aarde” genooi om ‘sagmoedigheid te soek’ (Sef. 2:3). Sagmoedigheid hou verband met nederigheid en beskeidenheid, maar dit sluit ook ander eienskappe in, soos goedheid en saggeaardheid. ’n Sagmoedige persoon kan geestelik groei as hy toon dat hy bereid is om te leer en hom te laat vorm.

Hoe kan sagmoedigheid ons help om nuwe fases in ons lewe te hanteer? Jy het waarskynlik al gesien dat baie mense geneig is om veranderinge in ’n negatiewe lig te beskou. Maar dit kan in werklikheid geleenthede vir ons wees om verder deur Jehovah opgelei te word. Moses se lewe lig dit toe.

Op 40-jarige ouderdom het Moses reeds uitstekende eienskappe gehad. Hy het die behoeftes van God se volk in ag geneem en ’n selfopofferende gees aan die dag gelê (Heb. 11:24-26). Maar voordat hy deur Jehovah aangestel is om Israel uit Egipte te lei, het Moses voor veranderinge te staan gekom wat sy sagmoedigheid verfyn het. Hy moes uit Egipte vlug en 40 jaar lank in die land Midian woon, waar hy as ’n herder, ver van die kollig, gewerk het. Wat was die gevolg? Hierdie verandering het van hom ’n beter mens gemaak (Num. 12:3). Hy het geleer om geestelike belange bo persoonlike belange te stel.

Moses se sagmoedigheid word toegelig deur wat gebeur het toe Jehovah gesê het dat Hy die ongehoorsame nasie wou verwerp en Moses se nakomelinge ’n magtige nasie wou maak (Num. 14:11-20). Moses het vir die nasie gepleit. Sy woorde toon dat hy besorg was oor God se naam en die welsyn van sy broers, nie sy eie belange nie. ’n Sagmoedige persoon was nodig vir Moses se rol as leier van die nasie en middelaar. Mirjam en Aäron het teen hom gemurmureer, en tog sê die Bybelverslag dat Moses “verreweg die sagmoedigste van al die mense” was (Num. 12:1-3, 9-15). Moses het hulle beledigings blykbaar sagmoedig verdra. Wat sou gebeur het as Moses nie sagmoedig was nie?

By ’n ander geleentheid het Jehovah se gees op sekere manne gerus en hulle laat profeteer. Josua, Moses se dienaar, het gevoel dat hierdie Israeliete nie reg optree nie. Moses daarenteen het dinge sagmoedig vanuit Jehovah se oogpunt beskou en was nie bekommerd dat hy sy gesag sal verloor nie (Num. 11:26-29). Sou Moses hierdie verandering in Jehovah se reëling aanvaar het as hy nie sagmoedig was nie?

Sagmoedigheid het Moses in staat gestel om goed gebruik te maak van die groot gesag wat aan hom gegee is en die rol wat God aan hom toegewys het. Jehovah het hom genooi om teen die berg Horeb op te klim en voor die volk te staan. God het deur ’n engel met Moses gepraat en het hom as middelaar van die verbond aangestel. Moses se sagmoedigheid het hom in staat gestel om hierdie groot verandering in gesag te aanvaar en nogtans in God se guns te bly.

Wat van ons? Sagmoedigheid is onontbeerlik indien ons as individue wil groei. Almal onder God se volk aan wie voorregte en gesag toevertrou word, moet sagmoedig wees. Dit voorkom dat ons trots is wanneer ons voor veranderinge te staan kom en stel ons in staat om situasies met die regte gesindheid te hanteer. Ons reaksie is belangrik. Sal ons die verandering aanvaar? Sal ons dit beskou as ’n geleentheid om te verbeter? Dit kan op die ou end ’n unieke geleentheid wees om sagmoedigheid aan te kweek!

Ons sal gedurig met veranderinge in ons lewe te kampe hê. Soms is dit nie maklik om te verstaan waarom dinge gebeur nie. Persoonlike beperkings en emosionele spanning maak dit dalk vir ons moeilik om ’n geestelike beskouing te behou. Nietemin sal eienskappe soos nederigheid, beskeidenheid en sagmoedigheid ons help om die veranderinge te aanvaar en in God se guns te bly.

[Lokteks op bladsy 4]

Ware nederigheid stel ons in staat om ’n realistiese beeld van onsself te hê

[Lokteks op bladsy 5]

Sagmoedigheid is onontbeerlik indien ons as individue wil groei

[Prent op bladsy 5]

Moses het voor uitdagings te staan gekom wat sy sagmoedigheid verfyn het