Vrae van lesers
Vrae van lesers
Is Esegiël 18:20, wat sê: “’n Seun sal geen skuld dra weens die oortreding van die vader nie”, ’n weerspreking van Eksodus 20:5, wat sê dat Jehovah “straf vir die oortreding van die vaders oor die kinders bring”?
Daar is geen weerspreking nie. Een stelling vestig die aandag op die individu se aanspreeklikheid, en die ander erken die feit dat ’n persoon se oortreding ’n uitwerking op sy nakomelinge kan hê.
Die konteks van Esegiël hoofstuk 18 toon dat persoonlike aanspreeklikheid bespreek word. “Die siel wat sondig—dié sal sterf”, sê vers 4. Wat van ’n man wat “regverdig is en geregtigheid en regverdigheid beoefen het”? “Hy sal sekerlik bly lewe” (Eseg. 18:5, 9). Elke persoon word dus “volgens sy weë” geoordeel wanneer hy oud genoeg is om aanspreeklik gehou te word.—Eseg. 18:30.
Hierdie beginsel word toegelig deur die geval van ’n Leviet met die naam Korag. Gedurende Israel se tog deur die wildernis het Korag onvergenoeg geword met sy diensvoorregte. In ’n poging om priesterlike pligte te verkry, het Korag en party ander in opstand gekom teen Jehovah se verteenwoordigers, Moses en Aäron. Omdat Korag en sy medeopstandelinge hierdie amp uit vermetelheid vir hulleself probeer toe-eien het—’n voorreg wat hulle nie toegekom het nie—het Jehovah hulle om die lewe gebring (Num. 16:8-11, 31-33). Maar Korag se seuns het nie aan die opstand deelgeneem nie. God het hulle nie aanspreeklik gehou vir hulle vader se sonde nie. Hulle lojaliteit aan Jehovah het daartoe gelei dat hulle lewens gespaar is.—Num. 26:10, 11.
Maar wat van die waarskuwing in Eksodus 20:5, wat deel is van die Tien Gebooie? Kyk weer na die konteks. Jehovah het die Wetsverbond met die nasie Israel ingestel. Nadat die Israeliete die voorwaardes van die verbond gehoor het, het hulle in die openbaar verklaar: “Alles wat Jehovah gespreek het, is ons bereid om te doen” (Eks. 19:5-8). Die nasie as ’n geheel het sodoende in ’n spesiale verhouding met Jehovah gekom. Die woorde in Eksodus 20:5 is dus in wese aan die hele nasie gerig.
Wanneer die Israeliete aan Jehovah getrou gebly het, het die nasie daarby baat gevind en baie seëninge geniet (Lev. 26:3-8). Die teendeel was ook waar. Wanneer die nasie Israel Jehovah verwerp en valse gode aanbid het, het hy sy seën en beskerming onttrek; die nasie is dan deur rampspoed getref (Rigt. 2:11-18). Toegegee, daar was party wat hulle onkreukbaarheid gehandhaaf het en God se gebooie bewaar het ondanks die nasie se afgodiese weg (1 Kon. 19:14, 18). Getroue persone het waarskynlik ook ontberinge deurgemaak weens die nasie se sondes, maar Jehovah het liefderyke goedhartigheid teenoor hulle bewys.
Toe Israel Jehovah se beginsels so onbeskaamd geskend het dat sy naam ’n voorwerp van bespotting onder die nasies geword het, het Jehovah besluit om sy volk te straf deur toe te laat dat hulle in gevangenskap na Babilon weggevoer word. Dit het natuurlik ingesluit dat individue asook sy volk as ’n geheel gestraf word (Jer. 52:3-11, 27). Ja, die Bybel toon dat Israel se gesamentlike skuld so groot was dat drie, vier of moontlik meer geslagte geraak is deur die oortredings van hulle voorvaders, net soos Eksodus 20:5 sê.
God se Woord bevat ook verslae waar individuele gesinne deur ouers se wangedrag geraak is. Die hoëpriester Eli het Jehovah aanstoot gegee omdat hy toegelaat het dat sy onsedelike seuns, wat “deugniete” was, voortgaan om as priesters te dien (1 Sam. 2:12-16, 22-25). Omdat Eli sy seuns meer as Jehovah geëer het, het God bepaal dat Eli se familie afgesny sal word van die hoëpriesterskap, wat vanaf sy agter-agterkleinseun, Abjatar, gebeur het (1 Sam. 2:29-36; 1 Kon. 2:27). Die beginsel van Eksodus 20:5 word ook toegelig deur die voorbeeld van Gehasi. Hy het sy posisie as Elisa se dienaar misbruik sodat hy materieel voordeel kon trek uit die genesing van die Siriese generaal Naäman. Deur middel van Elisa het Jehovah oordeel uitgespreek en gesê: “Die melaatsheid van Naäman [sal] jou en jou nageslag tot onbepaalde tyd aankleef” (2 Kon. 5:20-27). Gehasi se nakomelinge het dus gely weens die gevolge van sy oortreding.
As Skepper en Lewegewer het Jehovah alle reg om te bepaal watter straf regverdig en gepas is. Die bogenoemde gevalle toon dat kinders of hulle nakomelinge die slegte gevolge van hulle voorvaders se sonde kan ervaar. Maar Jehovah “hoor . . . die geroep van die geteisterdes”, en individue wat hulle opreg tot hom wend, kan sy guns geniet en selfs ’n mate van verligting verkry.—Job 34:28.
[Prent op bladsy 29]
Korag en sy medeopstandelinge is aanspreeklik gehou vir hulle dade