Beproewinge het ons vertroue in Jehovah versterk
Beproewinge het ons vertroue in Jehovah versterk
Soos vertel deur Ada Dello Stritto
Ek het so pas die dagteks in my notaboek oorgeskryf. Ek is 36 jaar oud, maar dit het my twee uur geneem om daardie paar reëls te skryf. Waarom so lank? My ma sal verduidelik.—Joel
EK EN my man is in 1968 as Jehovah se Getuies gedoop. Nadat ek aan twee gesonde seuns, David en Marc, geboorte gegee het, het ek ons derde seun, Joel, gehad. Hy is in 1973 voortydig gebore in ’n hospitaal in die dorp Binche in België, omtrent 60 kilometer suid van Brussel. Hy het maar 1,7 kilogram geweeg. Toe ek uit die hospitaal ontslaan is, moes Joel agterbly om meer gewig aan te sit.
Toe ons seun weke later nog steeds geen tekens van verbetering getoon het nie, het ek en my man, Luigi, hom na ’n kinderarts geneem. Nadat hy Joel ondersoek het, het die dokter gesê: “Ek is baie jammer. Dit lyk of Joel al die probleme het wat sy broers nie het nie.” Daar was ’n lang stilte. Op daardie oomblik het ek besef dat ons seuntjie ’n ernstige gesondheidsprobleem het. Toe het die dokter my man eenkant toe geneem en vir hom gesê: “Julle baba het trisomie 21”, wat ook as Downsindroom bekend staan. a
Hartseer oor die kinderarts se diagnose het ons besluit om ’n ander mediese spesialis te raadpleeg. Hy het klein Joel byna ’n uur lank deeglik ondersoek sonder om ’n woord te sê. Dit het vir my en Luigi soos ’n ewigheid gevoel. Uiteindelik het die dokter opgekyk en gesê: “Julle kind gaan baie afhanklik van julle wees.” Toe het hy met deernis in sy stem bygevoeg: “Maar Joel gaan gelukkig wees omdat sy ouers hom liefhet!” Oorweldig deur emosie het ek Joel in my arms vasgehou, en ons het hom huis toe geneem. Teen dié tyd was hy agt weke oud.
Versterk deur Christelike vergaderinge en die bediening
Verdere mediese toetse het aan die lig gebring dat Joel se hart ook erg misvorm is en dat hy ’n ernstige vorm van ragitis het. Omdat sy hart te groot was, het dit teen sy longe gedruk en hom vir infeksies vatbaar gemaak. Kort voor lank, toe Joel vier maande
oud was, het hy brongiale longontsteking opgedoen en moes hy teruggaan hospitaal toe, waar hy in kwarantyn geplaas is. Dit was vir ons hartverskeurend om hom te sien ly. Ons het gewens dat ons hom in ons arms kon vashou en vertroetel, maar tien angswekkende weke lank is ons glad nie toegelaat om aan hom te raak nie. Ek en Luigi kon hom net dophou, mekaar vashou en bid.Gedurende daardie beproewing het ons voortgegaan om gemeentelike vergaderinge by te woon saam met David en Marc, destyds 6 en 3 jaar oud. Wanneer ons by die Koninkryksaal was, het ons gevoel asof ons in Jehovah se liefdevolle hande gehou word. Gedurende die ure wat ons saam met ons Christenbroers en -susters by die vergaderinge deurgebring het, het ons gevoel dat ons ons las op Jehovah kon werp, en ons het ’n mate van innerlike kalmte ervaar (Ps. 55:22). Selfs die verpleegsters wat Joel versorg het, het gesê dat hulle opgemerk het hoe die bywoning van ons Christelike vergaderinge ons gehelp het om gebalanseerd te bly.
Gedurende daardie tyd het ek Jehovah ook gesmeek vir die krag om in velddiens uit te gaan. In plaas van by die huis te sit en huil, wou ek met ander praat en hulle vertel waarom ek versterk is deur my vertroue in God se belofte van ’n wêreld sonder siekte. Elke keer wanneer dit vir my moontlik was om aan die bediening deel te neem, het ek gevoel dat Jehovah my gebede verhoor het.
“Dit is ongelooflik!”
Wat ’n blye dag was dit tog toe ons uiteindelik vir Joel van die hospitaal af huis toe kon bring! Maar net die volgende dag het ons blydskap in droefheid verander. Joel se toestand het skielik agteruitgegaan, en ons moes met hom terugjaag na die hospitaal. Nadat die dokters hom ondersoek het, het hulle vir ons gesê: “Joel het hoogstens ses maande om te lewe.” Twee maande later, toe hy omtrent agt maande oud was, het dit gelyk of die dokters se voorspelling waar gekom het, want Joel se toestand het versleg. ’n Dokter het by ons kom sit en gesê: “Ek is baie jammer. Daar is niks meer wat ons vir hom kan doen nie.” Toe het hy bygevoeg: “Op dié stadium kan net Jehovah hom help.”
Ek het na Joel se hospitaalkamer teruggegaan. Al was ek emosioneel en fisies uitgeput, was ek vasbeslote om nie van sy bed af weg te gaan nie. ’n Paar Christensusters het beurte gemaak om by my te bly, aangesien Luigi vir ons twee ouer seuns moes sorg. ’n Week het verbygegaan. Toe het Joel skielik ’n hartaanval gekry. Die verpleegsters het in die kamer ingehardloop, maar kon niks doen om hom te help nie. Ná ’n paar minute het een van hulle saggies gesê: “Dis verby . . . ” Heeltemal uitgeput het ek in trane uitgebars en uit die kamer uitgegaan. Ek het tot Jehovah probeer bid, maar ek kon skaars woorde vind om my pyn uit te druk. Omtrent 15 minute het verbygegaan, en toe het ’n verpleegster skielik uitgeroep: “Joel kom by!” Sy het my by die arm geneem en gesê: “Kom, jy kan hom nou sien.” Toe ek weer by Joel kom, het sy hart weer geklop! Die nuus oor sy herstel het vinnig versprei. Verpleegsters en dokters het na hom kom kyk, en baie het uitgeroep: “Dit is ongelooflik!”
Verbasende vordering op vierjarige ouderdom
Gedurende die eerste jare van Joel se lewe het die kinderarts dikwels vir ons gesê: “Joel het baie liefde nodig.” Aangesien ek
en Luigi Jehovah se liefdevolle sorg ná Joel se geboorte in besondere mate ervaar het, wou ons ook ons seun met liefdevolle sorg omring. Ons het baie geleenthede gehad om dit te doen, want ons moes hom help met alles wat hy doen.Vir die eerste sewe jaar van Joel se lewe het ons elke jaar dieselfde opeenvolging van gebeure ondervind. Tussen Oktober en Maart het hy die een gesondheidsprobleem ná die ander gehad, en ons is elke nou en dan hospitaal toe met hom. Terselfdertyd het ek soveel tyd as moontlik aan ons seuns David en Marc probeer gee. Op hulle beurt het hulle baie betrokke geraak daarby om Joel te help vordering maak—en met verbasende resultate. Byvoorbeeld, ’n hele paar dokters het vir ons gesê dat Joel nooit sal kan loop nie. Maar eendag, toe Joel vier jaar oud was, het ons seun Marc gesê: “Kom, Joel, wys vir Mammie jy kan dit doen!” Tot my verbasing het Joel sy eerste treetjies gegee! Ons was oorstelp van vreugde, en ons het as ’n gesin saam gebid om Jehovah uit die diepte van ons hart te bedank. Op ander tye, selfs wanneer Joel net ’n bietjie vordering op die een of ander gebied gemaak het, het ons hom altyd hartlik geprys.
Godvrugtige opleiding van kleins af werp vrugte af
Ons het Joel so dikwels moontlik saam met ons na die vergaderinge by die Koninkryksaal geneem. Om hom te beskerm teen kieme wat hom maklik kon siek maak, het ons hom in ’n spesiale stootwaentjie met ’n deursigtige plastiekoortreksel gesit. Maar al het hy agter plastiek gesit, het hy dit geniet om saam met die gemeente te wees.
Ons Christenbroers en -susters was ’n bron van krag vir ons, want hulle het vir ons baie liefde gegee, sowel as praktiese ondersteuning. Een broer het ons dikwels herinner aan die woorde in Jesaja 59:1: “Kyk! Die hand van Jehovah het nie te kort geword om te red nie, en ook het sy oor nie te swaar geword om te hoor nie.” Hierdie bemoedigende woorde het ons gehelp om op Jehovah te vertrou.
Namate Joel groter geword het, het ons Jehovah se diens ’n belangrike deel van sy lewe probeer maak. Ons het by elke geleentheid met Joel oor Jehovah gepraat op ’n manier wat hom sou help om ’n band van liefde met sy hemelse Vader te smee. Ons het Jehovah gesmeek om ons pogings te seën sodat ons godvrugtige opleiding goeie vrugte sou afwerp.
Ons was dankbaar om te sien dat Joel in sy vroeë tienerjare daarvan gehou het om oor Bybelwaarhede te gesels met diegene wat hy teëkom. Toe Joel 14 jaar oud was en ná ’n groot operasie aangesterk het, was ek baie bly toe hy my gevra het: “Ma, kan ek vir die chirurg ’n Paradys op aarde-boek gee?” ’n Paar jaar later moes Joel weer ’n operasie ondergaan. Ons het geweet dat hy dit dalk nie sal oorleef nie. Voor die operasie het Joel vir sy dokters ’n brief gegee wat ons saam met hom geskryf het. Dit het sy standpunt oor die gebruik van bloed verduidelik. Die chirurg het vir Joel gevra: “En stem jy hiermee saam?” Joel het met beslistheid geantwoord: “Ja, Dokter.” Ons was baie trots op ons
seun se vertroue in sy Skepper en sy vasbeslotenheid om Hom te behaag. Die hospitaalpersoneel het ons goed ondersteun, en ons het dit baie waardeer.Joel se geestelike vooruitgang
Op 17 het Joel sy toewyding aan God deur waterdoop gesimboliseer. Wat ’n onvergeetlike dag was dit tog nie! Sy geestelike vooruitgang verskaf ons groot vreugde. Sedertdien het sy liefde vir Jehovah en sy ywer vir die waarheid nie afgeneem nie. Trouens, Joel hou daarvan om vir almal wat hy ontmoet, te sê: “Die waarheid is my lewe!”
In sy laat tienerjare het Joel leer lees en skryf. Dit het baie groot inspanning geverg. Elke woordjie wat hy geskryf het, was ’n oorwinning. Van toe af begin hy elke dag deur die dagteks uit Ondersoek die Skrif elke dag te lees. Daarna skryf hy die Bybelteks met groot moeite oor in een van sy notaboeke, wat nou al ’n indrukwekkende versameling is!
Op vergaderingdae maak Joel seker dat ons vroeg Koninkryksaal toe gaan omdat hy betyds wil wees om almal wat by die saal inkom, hartlik te verwelkom. Hy geniet dit om gedurende vergaderinge antwoorde te gee en aan demonstrasies deel te neem. Hy help ook met die mikrofone en verrig ander take. Elke week, as sy gesondheid dit toelaat, gaan hy saam met ons uit in die predikingswerk. In 2007 is dit in die gemeente aangekondig dat Joel as ’n bedieningskneg aangestel is. Ons het trane van blydskap gestort. Wat ’n liefdevolle seën van Jehovah!
Ons ondervind Jehovah se hulp
In 1999 het ons voor ’n ander beproewing te staan gekom. ’n Roekelose bestuurder het in ons motor vasgery, en Luigi is ernstig beseer. Een van sy bene moes afgesit word, en hy het etlike groot operasies aan sy ruggraat ondergaan. Weer eens het ons, omdat ons op Jehovah vertrou het, die krag ondervind wat hy aan sy knegte gee wat hulp nodig het (Fil. 4:13). Al is Luigi nog steeds gestremd, probeer ons optimisties bly. Omdat hy nie sekulêre werk kan doen nie, het hy meer tyd om na Joel om te sien. Dit laat my toe om meer tyd opsy te sit vir geestelike bedrywighede. Luigi kan ook meer aandag aan die geestelike behoeftes van ons gesin en dié van ons gemeente gee, waar hy steeds as die koördineerder van die liggaam van ouer manne dien.
Weens ons ongewone omstandighede bring ons baie tyd as ’n gesin deur. Met verloop van tyd het ons ook geleer om redelik te wees en nie meer te verwag as wat moontlik is nie. As ons mismoedig is, sê ons in gebed vir Jehovah hoe ons voel. Ongelukkig het ons seuns David en Marc, toe hulle grootgeword het en die huis verlaat het, geleidelik opgehou om Jehovah te dien. Ons hoop dat hulle eendag na Jehovah sal terugkeer.—Luk. 15:17-24.
Deur die jare heen het ons Jehovah se ondersteuning ondervind en geleer om op hom te vertrou in elke uitdaging waarvoor ons te staan kom. Die woorde in Jesaja 41:13 lê ons baie na aan die hart: “Ek, Jehovah jou God, gryp jou regterhand vas, ek wat vir jou sê: ‘Moenie bang wees nie. Ek sal jou help.’” Die wete dat Jehovah ons hand styf vashou, is vir ons ’n bron van vertroosting. Ja, ons kan waarlik sê dat beproewinge ons vertroue in ons hemelse Vader, Jehovah, versterk het.
[Voetnoot]
a Trisomie 21 is ’n aangebore gebrek wat verstandelike vertraging veroorsaak. Chromosome kom gewoonlik in pare voor, maar babas wat met trisomie gebore word, het ’n ekstra chromosoom op een van die pare. Trisomie 21 tas chromosoom 21 aan.
[Prente op bladsy 16, 17]
Joel saam met sy ma, Ada
[Prent op bladsy 18]
Ada, Joel en Luigi
[Prent op bladsy 19]
Joel geniet dit om broers en susters by die Koninkryksaal te verwelkom